Tuesday, June 12, 2012

Glacier National Park: Montana

Jene, maar julle kan kerm! Maar ek 'like' dit! Dankie vir almal se baie positiewe terugvoer oor my blog. Ek lag lekker vir almal se ongeduld oor meer fotos van Alaska. Die probleem is dat ek nou my Pa en Hannalie se fotos saam met myne op my rekenaar het en sukkel om die tien bestes vir julle uit te soek. Vanaand het ek tyd en ek belowe ek sal nie gaan slaap voordat ek dit vir julle ge'post' het nie.

Gister en vandag het ons baie ver gery. Tussendeur het ons die mooiste goed gesien. Ons is gisteroggend vroeg weg in Moses Lake, Washington State. Die Moses het toe niks met die Bybel te doen soos ons gedink het nie, maar die dorp is vernoem na die meer wat weer vernoem is na Chief Moses, 'n Native Indian leier uit die verlede.

Die dorpie le al langs die meer en elke huis het 'n pragtige meer uitsig. Vanoggend toe ons opstaan skyn die son en ons het blou lug om af te neem. Dit maak so 'n groot verskil!





Ons moet vandag 580 km ry. Dis nie te ver in SA nie, maar hier ry hulle heelwat stadiger as ons op hul paaie en ons kies ook die mooier paaie. Daar is soveel besienswaardighede langs die pad, dat ons kort-kort in en uit en in en uit die motor is. Ons gaan vandag deur drie state. Ons begin in Washington State, ry later Idaho binne en ons slaap vanaand in Montana. Die wit Jeep agter op die Idaho foto is ons nuutste huurmotor. Nogal 'n 4 x 4.


By elke ingang tot 'n nuwe staat is 'n Visitor Center. By Idaho se ingang kry ons gratis tee en koffie met chocolate chip koekies. Dis baie vriendelike ontvangs.


Leesstof oor die drie state wat ons vandag sien.



Die 121 na ons slaapplek in Kalispell is in Myl. Ons verloor ook 'n uur toe ons in Montana ingaan, want ons skuif van Pacific Time na Mountain Time op die Amerikaanse Time Zones.


Van alles wat ons gister gesien het was die Kootenai Falls die grootste verrassing. Wow! Sommer so in die middel van niks is 'n bord en gelukkig besluit ons dis tyd vir 'n stappie en stop ons. Kyk net hoe mooi is dit. Die Kootenai Rivier ontspring in Kanada in die Canadian Rockies, loop deur Montana in die VSA en dan terug na Kanada waar hy in die Columbia Rivier inloop oppad na die Pacific toe.




Ons slaap die volgende drie aande by die Hampton Inn in Kalispell in Montana. Dis omtrent 35 myl van die Glacier National Park af. Hierdie is die uitsig uit ons kamer. Ons kom baie laat in Kalispell aan, maar hier gaan die son eers 22:00 onder.


Vanoggend slaap ons bietjie later en geniet 'n baie lekker ontbyt by die hotel. Dis 'n full spread in teenstelling met die meeste Amerikaanse hotelle wat net 'n donut of 'n wafel gee. Ja, die Amerikaners eet soet goed vir ontbyt. Vanmiddag eet ons by 'n Pizza Hut en vat die 'soup, salad and bread sticks special'. Dis 'all you can eat' vir 6,99 dollar. By hul slaai tafel is sjokolade kits poeding en ingelegde perskes. Hulle eet dit vir slaai! Ons het dit vir poeding geeet na die tyd.

Maar terug by vanoggend... Ons staan op met pragtige weer en baie blou lug. Ons is gereed vir die Galcier National Park. Die hoogste pad deur die park is nog nie oop na die winter nie. Ons gaan hom met 'n paar dae mis. Hulle kyk maar hoe die weer lyk en tans voorspel die koerante dat dit Vrydag sal oopmaak.

Maar die res is net so mooi: Hierdie is McDonald Lake.



Binne-in die Park kan mens met hierdie rooi wa gratis deur die park gery word.


Die water is kristal helder.





Hierdie is Avalanche Creek. Daar is die mooiste Cedar boom woud. Die Amerikaners kry dit reg om mens teenaan die mooiste goed te bring met paadjies en bruggies.


'n Rooi ceder boom.


Hierdie boom het omgeval en sy wortels le soos 'n groot skildery by een van die ruspunte langs die pad. Dit was so mooi!





Vanaand probeer ons bietjie vroeer terug wees by die hotel om ons goed te sorteer en te begin pak. Eintlik wil ons net weet hoeveel plek oor is in die tasse vir inkopies. Ek sorteer al my goed in drie hope. Die wat definitief saam met my gaan San Francisco toe. Die wat definitief saam met my ouers teruggaan en 'n derde hoop vir die wie se toekoms nog onseker is.

Vandag was stunning! Die natuurskoon in Montana is asemrowend. Daar is so baie van my vriende wat se hulle wil nie VSA toe kom nie. Dan vertel hulle dat hulle dink dis plasties en aangeplak. Wel ek moet getuig dat van alles wat ek die afgelope drie weke in Washington, Alaska en Montana gesien het, was net mooi niks plasties of aangeplak nie. Dit is PRAGTIG en definitief die moeite werd om te sien.

Oppad terug vandag sien ons die mooiste perfekte reenboog net om my te herinner dat die Here in beheer is en altyd goed na ons sal kyk soos Hy belowe het.



Monday, June 11, 2012

Alaska, jou wonderskone ding!

Nadat ons maande, weke, dae lank uitgesien het na ons boot 'cruise' na Alaska, het dit uiteindelik aangebreek op Sondag 3 Junie 2012. Ons slaap 7 nagte op die boot en vaar die 'Inner Passage' van Seattle na die suid-oostelike deel van Alaska. Oppad doen ons aan by drie klein dorpies naamlik Ketchican, Juneau en Skagway. Van al drie is Skagway vir my die heel mooiste.

Die storie van Alaska wat deur al drie hierdie dorpies uitgebeeld word, is die van duisende stormlopers wat aan die einde van die 19de eeu op Alaska toegesak het opsoek na goud. Goud is ontdek in 1896 en teen 1898 was als oor. Nie net het die stormlopers elke liewe denkbare 'moose' (baie groot bok wat ook in Skagway voorgekom het) opgevreet oppad agter die goud aan nie, maar hulle het 3000 perde vermoor en baie mense het ook omgekom in hul onkunde en geldgierigheid.

Die goudsoekers het nie rekening gehou met die elemente nie. Natuurlik was niemand van hulle nog daar nie en hulle wou nie na raad van die Native Indians luister nie. Daar was net twee roetes vanaf Suid-Westelike Alaska en dit was of via Skagway of via Dyea. Beide roetes was 'bad news' en die stormtroepe moes letterlik kies tussen die duiwel of die hel. Albei was onbegaanbaar. Maar die pad vanaf Skagway was oor 'n laer sneeupas as vanaf Dyea en die meeste goudsoekers het dit probeer. Maar hulle moes steeds oor White Pass kom oor die Klondyke. Die een deel van die pas staan nou nog bekend as Dead Horse Valley omdat so baie perde daar dood is. Die stories word vertel dat van die perde self daar afgespring het om verdere marteling te voorkom. Die hartseerste was dat toe die menigtes by die goudvelde aankom, was al die kleims reeds afgesteek en het hulle al die ontberings oorleef net om om te draai of vir iemand anders te werk teen minimum loon. Praat van 'n teleurstelling!!

Die skoonheid van Alaska sal my altyd bybly. Elke oomblik op die boot was soos 'n National Geographic  film wat voor jou oe afspeel. Ek het honderde fotos geneem en wens ek kon elke liewe een hier op die blog sit. Maar julle sal nou eers geduldig moet wees.
Vanaand slaap ons in Moses Lake oppad Montana toe. Ons is 180 myl oos van Seattle. Ons was nog besig om ons weer te vergaap oor die duisende grasgroen bome rondom Seattle toe gaan ons deur 'n pas in die Cascade berge en ry die klein karoo binne, met geen bome of gras nie. Net die reuse Columbia Rivier vloei hierdeur en maak dit baie goeie landbou grond. Vir 14 myl (aan die familie: nie Pa se 14 nie - regtig 14 myl) is daar orals langs die pad bordjies wat aandui watse produk op die lande staan. Daar is baie aartappels, alfalfa, ertjies, koring, hawer en kersies in hierdie wereld.

Ek het die volgende op die boot geskryf. Ek sit fotos by sodat julle kan sien wat ek die afgelope week beleef het. Fantasties!!


5 Junie 2012

17:00

Ons is nou al meer as 48 uur op die plesierboot ‘Star Princess’ oppad met die Inner Passage van Alaska en ek het nog niks blog geskryf nie. Ek wou baie graag wifi op die boot kon gebruik, sodat julle kan saam toer, maar twee goed weerhou my daarvan...

By die internet desk op dek 6 verneem ek dat dit 79 US sent kos vir 1 minuut op wifi en die ou is eerlik genoeg om te erken dat die sateliet wifi baie stadig is. Met die rand wat al geval het na R8,58 teen die dollar is dit al R6,77 per minuut. Ek gebruik omtrent 45 minute per dag om die blog op te dateer en as ek fotos wil oplaai – wat hier ‘n absolute moet is!- dan het ek minstens ‘n uur nodig. Dit beteken R406,20 per dag. Nou wil ek julle nie in die gesig vat nie, maar ek is tans werkloos en dit is ver buite my 'budget'. Nie dat dit moeilik is op hierdie boot om soveel per dag te spandeer nie!

Die tweede rede het niks met geld te doen nie. Dis nou letterlik na 48 uur die eerste 10 minute wat ek op my bas sit en niks doen. Hier is net so baie om te sien. En soos ek hier sit en tik, is my Pa bo-op die dek besig om 'humpback' walvisse te besigtig en het hy reeds aan my deur kom klop net om my te laat verstaan ek mis alles. Gelukkig het die boot ‘n 'webcam' voorop met lewendige kommentaar op kanaal 47 sodat die wat in hul kamers le en rus ook iets kan sien van wat buite aangaan! Ons toer teen ‘n spoed. Maar soos ek nou hier sit, is ek op volspoed vir die oomblik.

Een van die wonderlike goed van 5 Junie 2012 is die Transit of Venus. Die suidelike halfrond kan niks daarvan sien nie, maar hier waar ons is, kan ons van 14:00 - 21:00 dit sien. As daar nie wolke is nie. My Pa het baie navorsing gedoen voor die tyd en die regte toerusting gekry sodat ons dit sal kan sien. En toe is daar baie wolke vandag. Met uiterse selfdissipline en geduld het my Pa die hele middag op die dek gesit en wag dat die son deur die wolke moet beur. Hy is beloen met 'n wonderlike foto wat hy deur die sonkykbrilletjie kon neem. Hierdie verskynsel gaan niemand van ons wat nou op aarde is, ooit weer in ons lewens sien nie.

Die swart kolletjie voor die son is die planeet Venus wat tussen die son en die aarde verbybeweeg het op 5 Junie 2012.

Foto geneem deur Hans Linde - ge'crop'



Die boot is massief! Daar is alles waaraan jy kan dink en dis meer soos ‘n klein stadjie as ‘n boot. Hier is 17 verdiepings. Ons is 2800 passasiers aan boord en 1200 personeellede. Meer as tien van hulle is van SA. Ons ontmoet vir Jacomine en Conrad, Justin, Thys, Lauren, Judy, Carla en Douw Steyl van Winburg. Dan is daar nog 'n hele paar wat ons nog nie raakgeloop het nie. Douw het die mooiste brei in sy stem en mens kan nie mis dat hy van SA is nie.

Op die boot is verskeie restaurante, waarvan ons by 7 mag eet. Drie van hulle is op die dek en vier onderdak. Daar is kunsgalerye, ‘n biblioteek, winkels, ‘n teater, ‘n big screen op die dek, ‘n disko, buite en binne swembaddens, jacuzzi’s, ‘n casino, verskillende lounges, ‘n musiekkamer, ‘n gym, ‘n haarsalon, ‘n spa, 7 bar’s, ‘n sport court en golf simulator, ‘n wynwinkel, ‘n mediese sentrum, internet kafee, jeugsentrum, en ‘n ‘wedding chapel’! Ons ontdek elke dag nog ‘n gang waarin ons nog glad nie was nie.

Genugtig! As iemand vir my gese het ‘cruise’ is soveel pret, het ek lankal ‘n plan gemaak. Ons was vandag vasgemeer by Ketchican en kon van die boot afklim van 06:30 vanoggend tot 15:30 vanmiddag. Dit was heerlik! ‘n Pragtige klein dorpie met baie om te sien. Ons soek dadelik ‘n bus na die Totum Bight State Park so 10 myl noord van Ketchican waar hul die spesiale kunsvorm wat die ‘natives’ hier gebruik ten toon stel. Dit is teen die see en ons kry ook mooi fotos met oop berge. Ketchican is die reendorp van die wereld. Hier meet hulle hoeveelheid reen in voet en nie in millimeters nie. Dit reen meer as 250 dae per jaar. Die voorspelling was dat dit vandag sou reen, maar deur groot genade van Bo is dit ‘n baie lekker dag. Ons besoek ook die Potlatch net langs die state park en vat toe die bus terug dorp toe. Ons klim af by Creek Street en bekyk alles van hoek tot kant. Daar is eindelose salmon winkels, want Ketchican is selfs nog meer bekend vir hul salmon as vir hul reen. Op die boot het ons elkeen ‘n coupon boek gekry en ons is amper soos mense in ‘n skattejag. Ons jaag die een 'bargain' na die ander. Hulle ken nie vir ons nie, maar hulle ken ons tipe! By die Diamond International winkel kry ons ‘n gratis bracelet en toe ons iets koop by die Tongoss klerewinkel, kry ons ‘n paar varswater oorbelle gratis! Ek het dit selfs in my tande getoets en dit is regte perels. Die dorp het ontstaan tydens die stormloop na goud en was later bekend vir sy hout. Tans is toerisme een van die groot geld-inbringers en die dorpenaars weet hoe om toeriste te bederf. Almal behalwe die vrou in die plaaslike biblioteek wat wyer dat Hannalie ‘n tweede 15 minute gratis internet toegang gebruik al is daar niemand anders wat dit wil gebruik nie.

Toe ons ons voete aan wal sit by Ketchican is dit 'n baie groot oomblik vir my Pa en Ma. Hierdie toer is 'n bucket list event vir hulle. Hulle het net Alaska gekort om nou in al 50 VSA state te gewees het. Wat 'n prestasie vir nie-Amerikaners. My Pa is 50% Amerikaans en hy en my ma het in 1986 vir die eerste keer Amerika toe gegaan en nooit opgehou nie.

Ek en Hannalie oorhandig aan hulle 'n sertifikaat namens al 750 miljoen Amerikaners. Ek het al in Januarie 2012 die idee vir die sertifikaat uitgedink en dadelik vir die Withuis 'n brief geskryf en die hele storie vertel. Toe ek in Maart nog nie te veel van hulle gehoor het nie, het ek en my sussie, Corne ons eie sertifikaat ontwerp. Dit is onderteken deur Barak Obama homself. Moenie te veel vrae vra nie!

Ons eerste voet aan wal in Alaska op Ketchican - 6 Junie 2012


Ek en Hannalie by 'n massiewe swart beer voor een van die winkeltjies.






Die natives hier is baie klein en die ingang na hul gesamentlike winterhuis is so klein om die koue uit te hou.


Creek Street se oorspronklike huisies. Die een in groen is Molly se plek en dit was 'n bordeel in die goudstormloop.





Die mooiste plek op ons toer bereik ons vroeg die volgende oggend voordat ons by Juneau uitkom. Dis ‘n baie smal ‘vinger’ waarin die boot opvaar. Dit word Tracy’s Arm genoem. Ek weet nie wie Tracy was nie, maar sy het ‘n baie mooi arm! Ons vaar tot so naby as moontlik aan die Sawyer gletser en neem talle fotos. Dis vrek koud op die dek, maar dis die moeite werd. Die ys is nog te dik om nader te vaar. Die boot is 750 miljoen dollar werd en die kaptein vat nie kanse nie.






Op Juneau (6 Junie 2012) het ons baie goeie weer en ons gaan op met die kabelkarretjie na Mount Roberts. Van daar af kan mens pragtige fotos neem van die ysvelde en dorpie. Juneau is die hoofstad van Alaska en die enigste staatshoofstad in Amerika wat nie met ‘n motor bereikbaar is nie. As jy in Juneau wil wees, kom jy met ‘n vliegtuig of ‘n boot. Met ander woorde als wat ons in die dorp sien is met ‘n boot of vliegtuig hier aangebring. Ongelooflik! Na die berg vat ons ‘n bus na die Mendenhall Glacier. Dis die blue galcier express bus en potblou. Die glacier is pragtig en daar is ook ‘n massiewe waterval. Hierdie glacier is meer as 12 myl lank en strek van die Juneau ysvelde tot by die Mendenhall Meer. Die glacier is ‘n halwe myl breed en 100 voet hoog (bo die water). Op die diepste is die glacier tot 2000 voet diep. In die Juneau ysvelde is 38 groot en meer as ‘n 100 kleiner glaciers. Sedert die midde 1700’s is hierdie glacier al besig om te krimp.





Ek sit nog fotos op later. Die wifi hier is te stadig nou.

Ek wou so baie graag ‘n bald eagle sien in Seattle en in die Olimpiese berge. Ons het orals gesoek. Sedert ons in Alaska aangekom het, het ons 5 minute nadat ons in Ketchican afgeklim het ons eerste een gesien en sedertdien is hulle amper so volop soos rooibokke in die wildtuin. Mens kan hulle amper alweer-arende noem soos ons die rooibokke ‘alweer-bokke’ noem.



Die mooiste dorp waar ons afklim op 7 Junie 2012 is Skagway. Ons is bespreek om die Klondyke Summit te gaan kyk met ‘n bus. Die bus vat jou 3200 voet die pas op.

‘n Groot gebeurtenis waarvan ek niks geweet het voordat ons in Noord-Wes Amerika aangekom het nie, is die groot goud stormloop wat hier plaasgevind het in die laat 19de eeu. Sedert daar goud ontdek is in 1896 in Dawson noord van Skagway, het duisende amerikaners en mense van ander lande gestroom na die goudvelde om kits rykdom te soek. In Skagway, Juneau en Ketchican word die storie vertel deur museums, vertellings, restoreerde huise en salonne en vele meer. Dis ongelooflik om te sien hoeveel mense bereid was om te ontbeer vir die hoop op rykdom. Hier is ‘n pas in Skagway wat die Deadhorse pass genoem word omdat 3000 perde gesterf het van uithongering, oorlading, uitputting en gly op ys. Die enigste twee min of meer begaanbare paaie oor die sneeu was van Skagway of Dyea. Die ene van Skagway was 35 myl langer, maar die pas was nie so hoog nie. Van hier is hulle oor die White Pass. Elke goudsoeker moes 2000 pond se voorraad saam met hom vat om Kanada te kon binnegaan en dit is teen die White Pass opgedra. Die meeste mense moes tussen 40 en 50 keer die roete doen. Daar was geen paaie nie en hulle het met ontoereikende klere en patetiese skoene die roete aangepak! En dit vir niks, want toe die meeste mense daar kom, was al die kleims klaar afgesteek en is die meeste mense lee hande huis toe.


9 Junie 2012

Dis 18:23. Ons is ‘all dressed up with no where to go’! Letterlik. Ons was net besig om ons laaste lipstiffie aan te sit, toe die Kaptein se stem in ons staterooms weerklink. Jammer, se hy dat hy ons steur, maar die wind is te sterk en ons sal nie vanaand hierdie reuse boot in Victoria Hawe kan inkry nie. En as die wind gaan le en hy probeer inkom, is die moontlikheid daar dat hy dit nie weer sal kan uitkry nie. Ons boot is meer as 320 meter lank. Daar het spesiaal ‘n tweede kaptein op die boot geklim toe ons die hawegebied binnekom, wat die plaaslike omstandighede baie goed ken en hulle twee het saam die besluit geneem. Natuurlik bevestig hy, is veiligheid altyd die oorwegende rede vir sy besluite! Gelukkig was ons vier al almal in 2004 in Victoria, maar daar is hope mense wat nog nooit daar was nie. Nou vergryp ons ons aan die Patter om iets anders te vind om te doen vanaand. Daar is beperkte opsies, want almal sou van die boot af wees. Ons het nou ongelukkig klaar geeet, maar miskien sal ons maar weer ietsie moet afwurg :-).


Sunday, June 10, 2012

Oppad na Alaska


2 Junie 2012

Die goed gebeur nou so vinnig aan hierdie kant dat ek amper nie tyd kry om te skryf nie. Ons is by Monica Simmons in Seattle. Dis die vriendin wat ek verlede jaar by ‘n konferensie in SA ontmoet het. Sy is die Stadsklerk van Seattle en baie gasvry en gaaf. Ons kuier heerlik. Sy buig agteroor om ons alles te laat ervaar.

Maar laat ek begin waar ek laas opgehou het. Ons het toe middernag vir Hannalie op die lughawe gekry. Sy vlieg met Jet Blue. Dis ‘n binnelandse lugredery in die VSA. Hannalie kon die hele vlug (insluitend opstyg en land) skottel TV op die vlug kyk! Een van die dae hoef niemand in SA 7de Laan te mis nie. Hannalie is ‘n bondel vreugde en vertellings. My ma bring vir haar duisende drukke uit SA van al haar vriende en familie. Sy is ‘n arbeidsterapeut wat al haar groen kaart in Amerika het. Sy bly in Waterville in Maine aan die ooskus en het ‘n lang vlug gehad vanaf Boston. Ons klim eers na 01:15 in die bed en probeer bietjie later slaap, maar ons is by ‘n lughawe hotel en die mense beweeg vroeg, so 07:45 is ons wakker en gereed vir die dag.

Die winkels in Amerika maak meestal eers 10:00 oop, maar bly oop tot 20:00 of 21:00. Daar is heelwat wat ‘n 24 uur diens gee. So jy kan shop net wanneer jy wil. Vanoogend gaan ons na South Center. Dis ‘n baie groot Mall. Ons eerste lekkerte is om te gaan fliek. My ouers het ‘The best exotic Marygold Hotel’ gesien en wil dit vir ons ook wys. Dis ‘n baie goeie fliek. Gaan kyk dit asb. Julle almal, groot en klein, manlik en vroulik, sal daarvan hou. Dis diep, snaaks, goeie vermaak en sommer net ‘n lekker fliek. Die hero van Slumdog Millionnaire speel een van die hoofrolle.

By middagete eet ek Mexikaans, my Pa Amerikaans, Hannalie Indies en my ma Chinees. Ons doen ‘n wereldtoer net daar om die tafel en proe almal se alles. Die Amerikaners het lekker winkels en betaal oor die algemeen goedkoper vir goed as ons in SA (selfs al het die rand verswak van 8 na 8,60 in die laaste maand!) Hannalie het ‘n coupon vir Payless en wil ‘n paar skoene koop. Ek is onder instruksie van my sussie, Elna vir ‘n jean en ‘n paar bloese van hierdie kant af en ons takel die winkel. In een van die gange is ‘n klomp masseer stoele. Jy betaal 1 dollar vir 15 minute dan masseer die stoel jou.

Dis 16:00 voordat ons afskeid neem van die winkels en die pad vat na die Four Seasons in die hawe van Seattle om ons intrek by Monica te neem. Ons het baie bagasie tussen die 4 van ons, maar daar is genoeg fancy helpers om dit te hanteer. Ons gaan van ons goed by Monica los vir die week op die boot. Ons wil nou nie die boot laat sink as gevolg van wereldtoer aankope nie.

Monica treat ons met als wat lekker is. Ons begin sommer met ‘n Stella Bier van Belgie en Ina Garten Roast Nuts wat sy self gemaak het. Sy bly een blok van Pike’s Market af en koop baie interessante goed daar. Toe spring ons in haar ‘van’ en gaan verken die stad verder. Sy is ‘n nuwe ‘local’ hier en kom oorspronklik van Nevada (Las Vegas) af. Haar familie bly steeds daar. Ons eerste stop is Carrie Park in Queens. Toe ons stop sien ons daar is ‘n ‘camosion’ aan die gang. Dis ‘n klomp matrieks wat kom fotos neem vir die ‘prom’. Van hier af het mens ‘n baie mooi uitsig van die stad en die needle. Ons neem later meer matrieks af as die uitsig, want dis skreesnaaks. Ons sien nog vele plekke en toe laai sy vir my en Hannalie af by haar gunsteling pedicure plek “Seattle Nails’. Dis wonderlik om iets te kan doen aan my voete. 790 000 tree het hul tol geeis. Die plek gee vir ons sulke snaakse pienk skoentjies om na die tyd aan te trek en Hannalie moet die hele 10 blokke na Monica se woonstel terugstap op hulle, want sy het net toe skoene gebring en wil nie haar nuutgeverfde tone opmors nie. Ai, die prys van vanity! Maar as mens wil mooilyk moet jy uithou.

Ons sit aan vir ‘n heerlike aandete en toe gaan sit ons lekker by die swembad-area van die hotel. Dis eintlik al toe, maar Monica weet net hoe om ons daar in te kry. Daar is ‘n groot gas vuur waarrondom ons kan sit. Dis ‘n pragtige windstil aand en ons sit en kyk oor die hawe van Seattle met ‘n goeie glas rooiwyn in ons hand! Hoe onwerklik is dit!

Laat die aand loop ons rond in Seattle en Monica wys ons al haar gunsteling plekke. By die waterfront op Union Lake staan hierdie pragtige watermeul boot wat plesier-ritte op die meer doen. In die agtergrond is die Seattle Space Needle.


Ek en Hannelie wil ons voete laat doen voor die bootrit en Monica vat ons na haar voete plek toe. Chinese plek en natuurlik baie goedkoper as die res van Seattle se la-di-da plekke. Hulle gee vir ons hierdie pragtige pienk spons skoentjies om na die tyd aan te trek sodat ons eie skoene nie ons tone opmors nie. Viva China Viva. My voete is nou nog mooi!


Die uitsig vanuit Monica se woonstel. Sy bly in die residence gedeelte van die Four Seasons Hotel reg op die voorkant van Seattle Downtown. Dit was heerlik!!


Ons prop die oggend van 3 Junie nog vol aksie voordat ons 13:00 aanboord gaan vir die cruise. Monica wys ons vele plekke in en om Seattle. Monica wys ons hoe sy elke dag by Pike's Place inkopies doen en dit is 'n baie ander ervaring as om dit te sien as 'n toeris. Ons geniet dit gate uit. Hierdie is die vrugte mark waar sy haar vars vrugte en blomme koop.


By die flieks in Amerika kom die popcorn in drie grotes: Massief, belaglik groot en ondoenbaar! Ons het die middelste een tussen ons almal gedeel.


Die winkelsentrum bied masseerstoele vir groot en klein. Vir 1 dollar kan jy 'n paar minute in 'n stoel gepamperlang word. Daar is 'n ry!


Hannalie in die skoenwinkel. Ja, sy het die swartnommertjies gekoop.


Ons bagasie oppad na Monica se woonstel. Gelukkig kan ons drie van ons bagasiestukke by haar los terwyl ons op die boot is.


Monica Simmons. Gasvrou 1000!


Seattle se middestad vanaf Carry Park. Toe ons by die uitkykpunt aankom, is daar 'n hele bus van skoolkinders wat oppad is Prom toe. Hulle gebruik die sonsondergang en uitsig vir hul foto's. Ons het dit baie geniet om hul dop te hou.


Hierdie twee is darem nie oppad Prom toe nie. Wel Star Princess toe more!

Ons het ons verkyk aan die rokke en houdings!


Hoekom almal in een rytjie afgeneem moet word, is nou nog nie vir ons mooi duidelik nie. Kyk die wit pak en baseball cap!


Stadig sussie, jy gaan sy nek breek!

Die 'stretched' hummer wat prom-poppies vervoer.

Een van die interessantste plekke wat ons ook vanoggend besoek, is die Chittenden locks waar die groot bote trappe klim tussen die watervlak van Lake Union en die Puget Sound. (Dit is die seekanaal langs Seattle) Dis ongelooflik om dit te sien. Hulle gebruik swaartekrag en bewegende kanaalmure om die water van een lock na die ander te laat vloei. Die boot vaar in 'n geslote lock in en dan lig of laat sak hulle die water (wat ook al nodig is) totdat die watervlak dieselfde is as die plek waarnatoe die boot verder vaar. Dan maak hulle die lock oop en daar gaan hy.


Langs die locks is die pragtigste tuin. Ek het hierdie geneem vir die botaniste en tuinliefhebbers in my vriendekring. Tannie Sanette, Lizel, Merida en Tannie Jean: Enjoy!





Om 13:00 laai Monica ons af by ons boot! Ons bewe van opgewondenheid.


Saturday, June 2, 2012

Honey I shrunk Hanlie!


In China het ek gereeld soos 'n reus gevoel tussen al die klein mensies. Japan was selfs erger. Ek kon nie wag om in 'n Amerika te kom nie. Hier is die mense GROOT en rond. Vandag kry ons hierdie uitstalling van 'n reus se ontbyt tafel by die Seattle Pacific Science Center net langs die Spaceneedle in Seattle. Ek kon lanklaas my voete swaai op 'n stoel.

Ons het ook 'n IMAX fliek by dieselfde plek gaan kyk wat handel oor 'To the Arctic'. Dis baie interessant. Hulle vertel die storie van hoe aardverwarming die pole beinvloed en hoe dit inspeel op die oorlewing van diere. Hulle fokus veral op ysbere en vertel die verhaal van 'n ma met twee kleintjies wat sukkel om aan die lewe te bly en wat die Ma als sal doen om haar kleintjies te beskerm. Dis werklik pragtig en die moeite werd om te sien. Die verbruikerskultuur in Amerika is erg en slaan mens amper elke dag teen die bors. My Pa se neef en sy vrou bly in Florida en kry baie son, maar sy maak hulle klere winter en somer in 'n droer droog. Hulle aircons is dag en nag aan dwarsdeur die jaar. By elke eetplek is ons verstom oor die hope en hope papier en goeie sterk weggooibare borde wat net weggegooi word.



In die Science Center is 'n Hurricane Simulator. Ons het staan en kyk hoe 'n paar seuns dit uitprobeer en dit was baie snaaks. Daai wind waai hoor!


'n Uitsig oor Seattle nadat ons 16 blokke gestap het om by REI uit te kom. REI staan vir Recreational Equipment Incorporated. Dit is 'n massiewe buitelewe winkel met alles waaraan jy kan dink. Hulle hoofkantoor is in Seattle. In 2004 het ek al my toerusting hier kom koop vir Kilimanjaro. Ons het baie ver gestap met die verwagting dat ek vir my 'n stap-broek kan koop. Ek het een oor die internet bestel en hulle het dit in SA by my huis afgelewer vir halfprys van wat ons in SA betaal. Gister was ek egter teleurgesteld. Na baie ver stap om daar te kom, is dit wraggies goedkoper om iets oor die pos te bestel as wat dit in die winkel is.


Oppad terug na ons hotel klim ons van die trein af by Chinatown en stap deur 'n paar winkels net vir die snaaksigheid.


Ons kry vanaand 23:52 vir Hannalie op die lughawe. Ons beplan om almal met die shuttle na die lughawe te gaan en haar te ontmoet.

Ons kan nie wag vir die cruise na Alaska nie!

Thursday, May 31, 2012

Shop 'til you drop!

Ja, nee - dit is toegetrek en dit reen vandag in Seattle. Ons kan maar 'n besoek aan Mount Rainier op ons magies skryf. Net daar verander ons dag in 'n 'shopping spree'. Te heerlik! My Pa soek 'n Wal-Mart Superstore in sy Rand McNally boek (dis 'n straatkaart boek van Amerika wat ons gebruik). Dit word deur Wal-Mart uitgee en agterin is alle WM's aangedui. Die Superstore is so 30 minute se ry van ons af.

Nou moet ek vir julle verduidelik wat 'n WM superstore is. Dis 'n belewenis op sy eie. 'n Mens kan ure en ure daarin rondloop en als kyk. Jy kan jou kar laat diens, al jou kwekery benodighede koop, jou hare laat knip, eet, als koop waaraan jy kan dink en dan sal jy nog nie deur die hele plek wees nie. Toe ek in 1997 vir die eerste keer in die VSA gekom het, kon ek nie glo wat my oe sien nie. Nou is ons al meer gewoond aan al die goed wat nou ook by ons beskikbaar is. Amerika se WM is net baie goedkoper as by ons. Maggies, hulle kry goeie kwaliteit badhanddoeke vir onder 4 dollar! En dan is dit die reuse 'bath sheets'. Dis net meer as R30! As ek net dink wat ons vir goed in SA betaal!

Ek kry 3 langbroeke (onder andere 'n jean) wat baie mooi pas. By ons 'cater' die klerewinkels nie vir minderheidsgroepe nie en ek sukkel om broeke te kry wat ordentlik pas. In die VSA kom my Amerikaanse bloed handig te pas en kan ek instap en broeke koop wat perfek pas. Lekker!

Enumclaw waar ons bly, is 'n baie mooi kleiner plek naby Seattle. More gaan ons terug Seattle toe. More-aand laat land die vierde lid van ons boot-ekspidisie na Alaska. Hannalie van der Westhuizen het saam met my sussie Santie studeer en later saam met my sussie Corne 'n huis gedeel. Sy is reeds meer as 15 jaar woonagtig in die VSA in Waterville, Maine (heel noord aan die ooskus net onder Kanada). Sy is 'n arbeidsterapeut. Ons sien baie uit daarna om haar te sien. Sy is 'n tonik en dis heerlik om saam met haar te toer. Ons kry haar more-aand half 12 op die lughawe. Saterdagaand slaap ons in Seattle by die Munisipale Bestuurder van Seattle, Monica Simmons. Ek het haar verlede jaar in SA ontmoet by 'n Plaaslike Regering Konferensie waar ek 'n spreker was. Sy het genooi dat ek moet kom kuier en toe ons besluit ons vat die plesierboot na Alaska, het ek haar gekontak. Die boot vertrek van naby haar huis af.

Sondagoggend klim ons op die boot vir 7 nagte. Ons doen die 'inner passage' na Alaska. Ek kan nie wag nie. Dit gaan heerlik wees! Ek is nie seker wat die wifi-situasie op die boot sal wees nie, so as julle niks van my hoor nie, weet ek le iewers langs 'n swembad met 'n pina colada in my een hand.

Maar nou eers terug na die inkopies. Die snaakste ding wat ek vandag gesien het, is 'n sak marsmallows die grootte van klein kussings. Dit is spesiale reuse marsmallows wat die Amerikaners oor die vuur braai. Ek het my vrek geskrik toe ek dit die eerste keer sien. Dis reusagtig! Ek wou vandag 'n foto neem in Wal-Mart, maar het gewonder of die mense sal dink ek is mal om marsmallows in 'n winkel af te neem. Ek geniet hulle kosafdeling baie. Daar is allerhande snaakse goed. Die Amerikaners is lui en alles is reeds gemaak. My ma vertel vir my dat sy spesiaal 'n paar jaar terug 'n elektroniese resepteboek van Amerika gekoop het om 'n 'hashbrown' resep te kry. Toe sy die resep lees staan daar wraggies: Take a packet of hashbrowns...! Hulle kry alles kits, klaar en reg vir gebruik.

Later in Junie gaan ek aansluit in San Francisco by my beste vriendin. Elizan, en haar gesin. Ek ken vir Elizan van Universiteit af. Ek soek 'n paar geskenkies vir haar seuntjie. Elizan, as jy hierdie lees, moenie vir Daniel se nie. Wal-Mart het die wonderlikste kinder speelgoed.

Hierdie pragtige standbeeld staan regoor ons hotel in Enumclaw. Dit vertel van die 'logging legacy' wat hierdie dorp het. Hier is hout so volop en ons sien bome orals.




Vanaand pak ons al ons tasse uit en weer in. Nee ons soek nie iets om ons mee besig te hou nie! Ons probeer die goed wat nie saam op die boot gaan nie, een kant sit. Ons kyk 'n fliek op die TV en eet sommer 'n broodjie in die kamer. Ek brei 'n truitjie vir Elna se nuutste baba, Janko en my Ma hekel 'n baadjie vir die tweede jongste. Na 'n stappie deur Enumclaw is ons reg vir die bed. Dit word baie laat donker hier waar ons nou is. Dit is heerlik. Jy kan na 21:00 nog buite wees. Natuurlik help die feit dat hulle nie te veel kriminele aktiwiteite het nie. Dit was 'n baie rustige dag. Ons is reg vir die boot!

Baie sterkte aan al my vriende wat die naweek die Comrades hardloop in SA. Baie sterkte! Mag dit goedgaan met elkeen en mag julle bereik waarvoor julle geoefen het. Ek dink aan julle. Dankie vir elkeen se e-posse en sms'e. Ek waardeer dit baie. Al kan ek nie almal persoonlik antwoord nie. Ivan en Esme, ek dink in die besonder aan julle. Sterkte!