Saturday, October 5, 2024

Die Saterdagmark in Sarlat


 Dis wat die Franse doen… elke dorp het markdag en die inwoners weet wie se mark is wanneer. Saterdag is Sarlat. (Uitgespreek Sa-la). Christa kry ons 09:30 by die Gite (soos Jeep, maar met ‘n t - jeet). Ons kom eers na hulle huis toe, breek die beskuit oop wat Elna gistermiddag gebak het, vat een dakplankbord op boontoe vir Pine se werk vir die dag, kry ons winkellysie in order en sit af Sarlat toe in ons gehuurde Opel Corsa GV186FF. Die rede hoekom ek nou die registrasienommer ken, is as gevolg van hul parkering. Ons betaal 6,40 Euro vir drie ure se parkering naby die mark en kry een uur parkering gratis.


Ons doen ‘n truffle proe in die truffle winkel. Sjoe! Dis heerlik.

Die ligte truffle was vir my die lekkerste. 



Sarlat is die foie gras en eend hoofstad van Dordogne. Hier poseer ons by hulle goue eende. 

Ons gaan met ‘n hysbak op in die katedraal tot bo en kyk die dorp van bo af. Ons sien die ou muur en die huis waar die mense destyds tereg gestel is. 

Die mark in Sarlat is besonders. 

Die hysbakskag.

Die dorp se ‘akwaduk’ waar almal kom vars water haal. 

Die pragtige kerk!


Ons koop massas vars prawn vir 14 Euro by InterMarche (uitgespreek untermarchee). Eric het al sy dae gehad met ons franse uitsprake. Ons maak die heerlikste prawn pan met paella rys. 


 


Friday, October 4, 2024

Grotte du Grand Roc en Château de Commarque

Vandag was absoluut fantasties. Ek is moeër as moeg, maar uiters vervuld en dankbaar. Ek het sulke wonderlike goed beleef en ook vrek hard gewerk. 

Die Commarque Kasteel buite Sireuil (oos van Les Eyzies) was ‘n groot verrassing. Christa en Elna was ook nog nie daar nie. Dis gebou in 1250 nC en is ‘n pragtige bouval wat oop is vir die publiek. Dis 382 trappe tot bo in die toring. My fitbit sê ek het 156 vloere geklim, maar dit sluit die opklim na die grot by Grand Roc in. 

Dis ‘n pragtige sonskyndag in die suide van Frankryk. 


Die kapel van die Kasteel. 





Ons moes darem iets drink na al die sweet!

Die wifi wil nie nou saamwerk nie. Ek post môre fotos van die grotte en Periqueux.

Mens stap 15 min deur hierdie woud na die Kasteel.


Grand Roc Grotte

Hierdie stallagtiet groei teen een druppel per jaar. So nog so ‘n honderd jaar dan kan dit ‘n kolom word!


Die toergids praat ses tale en is nie van Frankryk nie. Dis ongewoon vir hulle. Alle toere wat toeriste hier kan doen is net in Frans. Nogal weird. Toe sy hoor ek is van SA vra sy wat maak ek hier want niks wat sy my kan wys kom naby wat SA in Kango het nie. Goed om te hoor!


Vandag gaan ons Sarlat toe. Nog verder suid as waar ons gister was. 








Wednesday, October 2, 2024

Fois gras, gedroogte eend en alles wat ek nog net op Masterchef Australia gesien het

 Hierdie Dordogne area waarin ons nou is, is baie bekend vir hul eend-geregte. En deesdae sonder die geforseerde eetgewoontes.  Gisteroggend is ons in Le Bugue. Dis omtrent 20 minute se ry verder suid. Daar is ‘n mark met als wat eend is. Ook die uiters spesiale fois gras. My word Johanna! Nou het ek dit ook geproe. Te ryk, maar delikaat verby. My gunsteling is die gedroogte eendborsie. Iets tussen biltong en salami. Uiters heerlik. 

Hier is ons by die Le Bugue mark en die fransman wat die spesialis eendgeregte maak kon net Frans praat. Eric het alles vertaal. Dit is nie verniet dat almal so aangaan oor Franse cuisine nie. 
Le Bugue is ‘n pragtige dorpie langs ‘n rivier. 

Gedroogte eendborsie met foir gras in die middel. 

Die een links was my gunsteling. 

Selariac

Truffle produkte is ook orals te sien. 



In die supermark kry ons rooibostee van SA. 

Dit reën vanmiddag en ons hou onsself besig met lekker kuier. 

Eric is ook opgelei as ‘n shef en maak tipiese franse mossels vir ons. 

Ons besoek ‘n franse bakkery en kies elkeen een om later te deel. Hierdie is geëet oor drie dae. 


Nou weet ek ook waar die gesegte vandaan kom van jou kastaiings uit die vuur krap. Kastaiings is chest nuts en hulle word in die vuur gebraai. Hulle stekels maak seer!!


Ons eendgereg vanaand was een van die heerlikste borde kos wat ek ooit in my lewe geëet het. 

Ons besoek nog ‘n mooi dorp Les Eyzies nadat ons nog ‘n grot gaan besoek het. Hierdie keer Gouffre De Proumeyssac. 



Die uitsig uit Christa se kombuis. 

Deel van my ‘boarding en lodging’ is dat ek ‘n paar egte wolsokkies brei oor 5 naalde vir Christa op Elna se Ma se geheime patroon. Dis uiters hoërgraad, maar nou het ek ‘n nuwe vaardigheid bygeleer! 

Vandag is ons oppad na Perigueux! Ek vertel later. 




Monday, September 30, 2024

The cave of the hundred Mammoths

Christa is ‘n baie goeie kok en ek het die voorreg om langs haar te staan en te kyk hoe alles gedoen word. Ja, ek het geskil, gekap en gesny ook. Vanaand is dit die plaashoender van die Rouffignac mark met knoffel, aartappels, seldery, leek, wortels en bietjie rissie en tamatie. Dit was asemrowend. 

Voorgereg was salm met salmon roe. Ons het ‘n kittie gemaak en deel die kostes. 

Pine het sy beste Franse wyn uitgehaal. 

Ek besoek vanmiddag die Rouffignac grotte. Hierdie streek Dordogne is bekend vir hul grotte. Hierdie een is ‘n netwerk van 8 km se grotte wat ons met ‘n elektriese treintjie besoek. Regtig interessant met tekeninge van meer as 100 Mammoths, die wollerige renosters, bisons, perde en nog baie meer. Die hele toer was in Frans en ek en twee Amerikaners het ‘n selfoon met Engelse byskrifte. Baie interessant!

Eric en Christa moes vanoggend talle oproepe maak na EDF (Electricite du France) 🇫🇷 om hul kragvrag op te gradeer. Dit is moeilik om in ‘n vreemde land huis op te sit. 



Die plaaslike supermark.





Die stasie in Bordeaux. 

Ek geniet die Franse sover. Die platteland is pragtig. Ook pikdonker! Die eerste aand het ons ons buitelig aangelos om te kan sien as ons hier aankom in die aand. Gisteraand wou dit nie aankom nie. Toe ons kyk hoekom nie, sien ons ons landlord het die gloeilamp uitgedraai! 🙈