Sunday, June 24, 2012

'n Dag van vreemde gesigte!

Jong, laat ek eers omverskoning vra vir die lang stilte. Hierdie keer is dit nie die Chinese regering wat my verhinder om te skryf nie. Ons kuier net so 'n hond uit 'n bos uit dat ek stokflou in die aand op my bed neerval. Ons het ons laaste twee aande in San Francisco gehad en nou omtrent als gesien wat daar te sien is. Elizan, Matthys en Daniel het veilig aangekom en ons geniet mekaar verskriklik. Elizan is my beste vriendin van Universiteit af. Sy en haar gesin bly in New Market naby Toronto in Kanada. Daniel is hulle seuntjie en hy is 6 jaar oud en te slim en oulik vir woorde.

Gister was ons op twee toere. Die eerste een was fantasties. Ons was Muir Woods toe. Dit is 'n Nasionale Park wat die groot Red Woods bewaar. Dit was heerlik om te sien. Oppad soontoe stop die busbestuurder vir ons by 'n mooi uitkykpunt vir die Golden Gate brug. Die weer is fantasties. Ja, julle is reg. Ek en Elizan moes 'n hele paar probeerslae doen om hierdie foto reg te kry. Goeie oefening in kommunikasie.


Ons kry hierdie Bard Owl in die Muir Woods Forest.


Die bome kan baie oud word. Die oudste een in Muir Woods is 1200 jaar oud.







Die kleur van die Golden Gate brug is International Orange. Dit is gekies omdat skepe dit die maklikste sal sien in enige weersomstandighede. Die brug was vanjaar 75 jaar oud.



Een van die mooiste uitsigte oor die stad is van Twin Peaks af. Die mooigeid van die dag hou net nie op nie. Die helderheid in die lug is ongekend aan SF. Dis immers die stad waar die jaarlikse Fog Festival plaasvind. Hierdie pienk vra vir verduideliking: SF is sekerlik die gayste stad in die wereld. Hierdie naweek is die jaarlikse Pride Parade. Hier teen Twin Peaks is 'n groot pienk driehoek opgesit wat kilometers ver gesien kan word. Dit vertel van die vernedering wat gays deurgemaak het in Duitse konsentrasiekampe. Daar is blykbaar pienk driehoeke om hul nekke gehang.


Ons monde hang oop sover as wat ons ry en loop. Ons het meer ongewone mense en dinge gesien die afgelope twee dae as op my hele toer. Dit vat kreatiwiteit om Daniel se gesig in die regte rigting gedraai te hou dat hy die opwinding mis. En nog meer kreatiwiteit om sy onskuldige vrae te antwoord: Mom, why is he dress like that? ...


Vanoggend woon ons 'n erediens by in die middestad van SF. Daar is egter meer eer gebring aan justice, peace en civil rights as aan Jesus Christus. Miskien is dit net omdat dit vandag die Pride Parade is, maar ek was maar bekommerd oor die tekort aan evangelie.


Daniel se vakansie persent van sy ouers is 'n klein kameratjie. Ai en is hy in sy noppies! Hy kon nie ophou goed afneem nie. Ons het eintlik 'n probleem gehad in Alcatraz, want elke keer as hy 'n foto wil neem, sit hy sy oudio vertelling af. Mans kan waarskynlik van kleins af al nie twee goed gelyk doen nie. Later het ons meer gefoto as gevorder! Maar ons wou nie sy opwinding demp nie.


Daniel op die plein voor die Ferry Building besig om als wat beweeg op film vas te le.


Later ry ons die bekende Cable Car op en af en op en af! Dit was stunning! Nou kan ons maar SF verlaat! As mens die Cable Car gery het, het jy SF gedoen! Wow, dis 'n belewenis.



Kyk net die uitsigte. Die strate is vrek steil, maar die Cable Car doen sy ding!


China Town.



Daar is werklik nie baie fotos van die Pride Parade wat ek graag op my blog wil sit nie. Dis onbegrylik hoekom gay issues so dikwels met eksplisiteit gepaard moet gaan. Ons het als gesien. Van heeltemal kaal mans, tot onbeskaamd geklede vrouens, baie dronk mense en 'n groot groep grapjaste wat so snaaks as moontlik probeer aantrek het.

Hierdie groep veg vir veiliger skole, maar lyk self soos iets waarteen ek my kind sal wil beskerm!


Die groepie kry ons voor die 'water feature' in Market Street. Duidelik net daar vir die pret.


Die street cars in SF is net so bekend soos die Cable Cars en vandag ry ons hulle ook.


Ons was nie seker of hierdie tannie haar dag so begin het of net so geeindig het nie. Sy moes maar eerder na haar Ma geluister het!


Die spulletjie kry ons op die bus. Liefske loven! Oom Johann Gebardt van Wellington se ma sou gese het: And when you're 85, you still don't do it!


Ons slaap vanaand by die pragtige kusdorp Pacifica. Toe ons inry gaan die son net onder. Dis 'n wonderlike einde aan 'n fantastiese dag.

Ek weet daar is baie van julle wat wag vir die fotos van Alcatraz. Ja ons was vanmiddag daar. Ek het egter nog 'n dag nodig om dit wat ek daar beleef het te verwerk, voordat ek daaroor kan skryf. Dit raak mens diep.


Ek dink vandag weer baie oor vriendskap en hoe geseend ek is om sulke wonderlike vriende te he. Ek en Elizan het in 1993 ook saam oorsee getoer en hierdie is eintlik ons reunie. Daar is min mense saam met wie ek so lekker vakansie hou.

Friday, June 22, 2012

City Sightseeing Bus: SF

So warm soos wat dit gister was, so koud is dit vandag. Dit help veel dat ek al my warm klere saam met my ouers teruggestuur het SA toe. California gaan warm wees! So het ek gedink! Wel, ek was verkeerd. Dis vrek koud. Gaan so wees tot Dinsdag. Elizan, red jouself. Bring baie warm klere!

Ek is vroeg op en weer met die gratis shuttle na die lughawe om die BART trein te vat na Powell stasie by Union Square. Union Square is pragtig. Ek moet die City Sightseeing Bus hier kry. Dis 'n dubbele opelug bus wat vier verskillende roetes ry en jou als in die stad wys en oulike stories oor als vertel. Ek is nie so seker of alles 100% die waarheid is nie (party goed klink shaky), maar dit is minstens interessant. Ek doen die groen, pers en rooi roetes vandag. Ek wou ook bly vir die blou aandrit vanaf 18:00, maar dis net te koud daarvoor.


My koppie earl grey tee vir die dag. Vroegoggend op Union Square.


Op drie plekke in Union Square staan hierdie hart-kunswerke. Sedert 2004 word daar elke jaar vier van hierdie harte op dieselfde patroon gemaak en vir vier kunstenaars gegee wat dit verf en dan word dit opgeveil ten bate van die plaaslike hospitaal. Dis regtig indrukwekkend. Chicago se koeie is op dieselfde prinsiep gebaseer.





Die 30 meter hoe standbeeld op Union Square het sy eie storie. Dit is in 1903 op die plaza geplaas ter viering van die oorwinning oor Spanje in 'n seegeveg. Die model vir die standbeeld was Alma de Bretteville. Sy is later getroud met Adolph Spreckels. Hy was die rykste man in SF op daardie stadium en hoof van al die suiker plantasies en suiker raffinaderye. Hy was ook 29 jaar ouer as Alma en die mense in SF het na hom verwys as haar 'sugar daddy'. Dis waar die term die eerste keer gebruik is.

In Pacific Heights (een van die spogbuurte in SF) bou hy vir haar 'n massiewe huis met 56 kamers en 26 badkamers. Ons ry verby die huis. Later behoort die huis aan die skrywer Danielle Steel. Sy bly daar saam met haar twee volwasse kinders en haar vyfde ex-man. Soveel vir roman skrywer! Sy het die huis twee jaar terug verkoop aan nog 'n bekende (wie se naam ek nou vergeet het) vir 65 miljoen dollar.

Hier staan 'n afbeelding van Alma op die oorwinnings-standbeeld in Union Square San Francisco.


The Painted Ladies:

Daar was 48 000 huise in SF wat uit die Victorian en Edwardian eras dateer het. Die groot aardbewing in SF in 1906 en die Twee Wereldoorloe in die Twintigste eeu het redelik onder hulle gemaai. Laasgenoemde omdat daar net 'battleship grey' verf beskikbaar was en alle huise so geverf is.
Sedert die 1970's is daar wetgewing wat hulle beskerm en terugvat na hul vroeere glorie. 'n Huis mag bekendstaan as 'n 'painted lady' as dit minstens drie kleure bevat wat die argitekturele aspekte beklemtoon.

Julle sal onthou dat die huis wat in die TV reeks Full House gebruik is, so 'n huis was. Hy staan vandag nog in SF. Ook die Mrs Doubtfire huis is hier. Ons sien beide vanuit die bus.


Hierdie 7 huise is die bekendste 'painted ladies' reg oor Alamo Park en staan bekend as Postcard Row. Dis regtig pragtig! Ma, ek het so aan ma se tapeserie gedink. Is dit van hierdie huisies?


Een nuwe ding waarvoor ek liefgeraak het op my toer is Mexikaanse kos. Dis lekker as mens eers weet wat om te bestel. Nou geniet ek dit baie. Hierdie is 'n soft taco met steak, avocado en twee brandsousies.



Die civic centre was baie mooi om te sien. Die interessante is dat daar geen duiwe of duifmis op die koepel is nie. SF het 'n massiewe probleem gehad daarmee en het twee valke in die koepel laat nes maak. Nou is die duiwe permanent weg. Hoe slim is dit? Ek dink 'n hele paar besienswaardighede in SA kan hierdie plan volg.


Daar is elke dag talle troues in die civic centre. Dis mode om in SF te trou. Terwyl ons daar was, was daar drie groepe. Julle sal my nie glo nie, maar 'n 'couple' op ons bus is dieselfde oggend hier getroud! Nou ry hulle die sightseeing bus vir hulle honeymoon!! Oookkkaaaayyyyy....

Die rooi blom is 'n baie groot nagemaakte lotus blom. Dit is sedert Mei 2012 hier geplaas en sal bly tot September 2012. Dit word genoem 'the breathing flower' en is deur 'n Koreaanse kunstenaar gemaak as deel van 'n groot Oosterse uitstalling "Phantoms of Asia" in die Asian Art Museum naby die Civic Center. Dit is 24 voet hoog en die blare is meganies en beweeg oop en toe. Dit word verlig in die nag.

Die koepel - jammer oor die lamppaal. Dis uit 'n bewegende bus geneem!


Starbucks is nie net my comfort zone vir Earl Grey Tee nie. Almal hier is mal oor Starbucks. Daar is 85 verskillende Star Bucks winkels net in SF alleen!


Die 'cable cars' in SF het 'n baie interessante geskiedenis. SF is die tweede mees bergagtige stad in die wereld. in 1852 het 'n man met die van Hallidie na SF gekom vanaf Brittanje. Sy Pa het die eerste patent geregistreer vir wire-rope wat toe nog net gebruik is in die myne en om spanningsbrue oor water te sit. Hy het een dag in die winter van 1869 gesien hoe 'n perd vrek toe hy gly op 'n geplavyde steil straat terwyl hy 'n swaar karretjie trek. Net daar het Hallidie sy familiekennis ingespan en in 1873 word die eerste cable car getoets in Jones Straat. Daarvandaan is die res geskiedenis. Dis 'n heerlike manier om die steil strate op en af te gly. In ons bus het ek eers werklik besef wat die verskil is. Die bus het so gesukkel om teen die steiltes uit te kom, maar die trollies ry glad en maklik.





SF se Golden Gate Park was ook vir my baie interessant. Dit is 'n reusagtige park 20% groter as Central Park in New York. Toe dit ontwikkel is in 1860's, het die stadsraad die ontwikkeling eers toegeken aan 'n Mnr Hall. Hy het die grond een kyk gegee en gese hulle is laf. Dit is sanderige seegrond en niks sal daar groei nie. Toe is die projek gestop en later toegeken aan John McLaren. Hy het geweet van 'n groot probleem wat die stad op daardie stadium gehad het met perdemis. Daar was soveel perde wat gebruik is vir transport dat hulle nie geweet het wat om met al die mis te doen nie. John McLaren het twee en twee bymekaar gesit en die stadsraad gevra om 'n wet te maak dat al die perdemis op die 412 hektaar park gestort moes word. So gese so gedaan. In die volgende paar jaar is al die seesand uitgery en al die perdemis ingewerk. Vandag staan daar 'n massiewe groot groen park wat deur 13 miljoen mense van reg oor die wereld jaarliks besoek word. Ek sou dink mnr Hall het 'n 'mis'take gemaak.



Soos ons ry op die bus vertel hulle vir ons dat 60% van die Marina Area van SF op 'landfill' gebou is. Ja, niemand daar kan aardbewingversekering kry nie. In SA het Munisipaliteite groot probleme om hul stortingsterreine binne wetgewende bepalings te hou. Ek dink ons moet 'n mensgemaakte eiland in Valsbaai bou met al die 'landfill' wat die Wes-Kaap in die afgelope 30 jaar opgebou het. Dit sal 'n reuse toeriste attraksie kan wees waarheen mense vaar as hulle klaar Robbeneiland gesien het. Of dit kan gebruik word om vir Atlantis 'n spogbuurt in die see uit te bou waar skatryk mense duur huise koop. Probleem opgelos!

SF het vele interessanthede. Die volgende paar fotos vertel elkeen sy eie storie: Geniet dit!

Advertensiebord van 'n sigaarwinkel:


Lekkergoed bikini by It's sweets.


Die Levi jean is in SF ontwikkel. Hier is hulle 'outlet store'.



'n Mosaik muur by een van die skole. Dit is deur die kunsklas gemaak en die kinders se eie gesigte is daarop.

Nee, ek het nie van geloof verander nie. Dis net vrek koud op die bus!


Hier hang 'n vrou halflyf by die venster uit.


As SF nog nie op jou bucket list was nie... maak 'n plan. Jis, dis 'n lekker stad!

Mag elkeen van ons vandag 'n perdemis-plan uitdink wat nuwe geleenthede vir ons bring en parke vol blomme oplewer. 

Wednesday, June 20, 2012

Op berge en in dale!

Vanoggend word ek wakker met Darth Vader wat voor my bed staan. Vir die van julle wat soos ek nie Star Wars te gereeld kyk nie... Darth Vader is een van die hoofkarakters in Star Wars. Moenie sleg voel nie, ek moes ook gou op google gaan kyk hoe mens dit spel. Colin het 'n Darth Vader kostuum en vanoggend is hy Darth homself. Hy weet als van hom af en is erg gefrustreerd met my wat hom nie ken nie en wat nie eers kan se watse karakter in Star Wars ek wil wees nie.

Hy is net opvreetbaar oulik!


Die helmet is nog te groot en die oe sit waar sy neus is. Hy kan nie wag vir Halloween om dit op die buurt uit te probeer nie. Gister vertel hy vir my: I can count to 1000, but not in one day! It is tiring!


Cobus laai my af by die 11:30 ferry en ek vaar terug SF toe. Vandag doen ek downtown San Francisco! As jy ooit bagasie in SF downtown moet los, daar is net een plek en dit is die Visitor Center in Fisherman's Warf. Dit kos 5 dollar per stuk en vandag los ek my rugsak ook. Ek gaan ver stap. Ek is slimmer vandag en loop nie weer die afstand tussen die Ferry Building en Fisherman's Warf nie. Dis net te ver en vandag is warm. Ek ry met die Muni. Dis die Municipal Street Car en kos 2 dollar vir 5 ure se ry so veel soos jy wil. Die vrou by die Visitor Center ken my nou al en ons gesels lekker.

Ek begin by China Town en eet eers sushi vir middagete. Dis heerlik soos altyd. China Town vat my gedagtes baie ver terug en ek geniet dit vreeslik. Daar is iets van alles.



Die hoogste gebou in die SF skyline is die Transamerica Pyramid. Dis een van die eerste geboue wat mens sien van orals af. Dit is gebou in 1972 as die hoofkantoor van die Transamerica Corporation en is steeds op hulle logo. Dit is 260 meter hoog en toe dit gebou is was dit een van die vyf hoogste geboue in die wereld. Nou kom dit seker nie naby die hoogste 1000 nie. Dis net jammer dat die gebou geen publieke toegang het nie en mens kan nie opgaan om die stad te sien nie.


China Town

Aan die onderkant van China Town staan hierdie verwaarloosde gebou. Ek dog vir 'n oomblik ek is op die Kaapse Vlakte.



Ek loop soos my voete my vat met geen plan nie. Hannalie het my gewaarsku dat SF baie op en af is, maar ek het nie geweet dis so erg nie! Maggies straatskantore! Dis berge en dale.

In Washington Square gebruik die mense die son om bietjie te 'tan' voor die kerk. Ons het dit in Central Park in New York ook gesien.


Russian Hill in SF.


Op en af en op en af!


Daar le Alcatraz in die baai. Ons gaan die tronk Sondag besoek. Dan vertel ek meer daarvan.


In die steilste strate parkeer die motors 'side ways'. Dis net te steil. By party het ek gesukkel om selfs afdraend te stap. Dis regtig steil. Ons het 'n Krielstraat in Wellington wat ons moes uitstap na skool in die middag. Krielstraat is steil, maar hierdie in SF is nog veel steiler. Dit voel soos meer as 45 grade. Handrem wegtrekke moet baie moeilik wees!


Dis nie net die mense in SF wat skeef is nie. Hierdie staan bekend as die 'skeefste straat in die wereld'. Duidelik was hulle nog nie in Kayamandi of Smartie Town nie. Maar laat ons nou nie hare kloof nie.


Die bekende Lombard Straat. Ek was daar! My Seattle tone wat ek saam met Hannalie laat opsit het voor ons op die boot geklim het, hou nog!




SF is nog baie bekend vir hulle 'cable cars' wat die steil strate op en af ry. Ek het hulle vandag gery.


Die Golden Gate brug van ver af. Ek gaan dit besoek saam met Matthys, Elizan en Daniel so ek het nog nie soontoe gegaan nie. More gaan ek op die rooi bus ry en sal ons oor die brug ry.


Terug by Fisherman's Warf kry ek al my bagasie en koop 'n 48 uur kaartjie vir die rooi topless busse. More en oormore gaan ek dit doen. Ek stap met my bagasie tot oorkant die straat om die street car terug te vat na die BART stasie. BART is SF se treine. Dit staan vir Bay Area Rapid Transport. Hulle het ook gratis wifi op die treine. Dit kos 8 dollar 10 tot op die lughawe waar ek die gratis shuttle kry na my hotel. Ons wag en wag en wag vir die street car en niks kom nie. Later kom daar 'n ou op 'n pedi taxi (die fiets taxi's) en kom se vir ons daar was 'n brand by Pier 29 en die street cars gaan nie weer vandag ry nie. Hy bied aan om my te trap tot by die BART vir 20 dollar. Ek het dit vlugtig oorweeg, want my tas het twee ekstra bottels wyn in, maar dis darem net te veel geld. Ek stap!

By die brand is al wat 'n uniform eenheid is. Die pad is toe. Die pragtige ou gebou by Pier 29 is halfpad afgebrand.


My bagasie!




Ek is behoorlik OP vanaand en le en TV kyk. Nog net twee slapies dan sien ek vir Elizan. Sy het my nou net per e-pos laat weet dat ons probleme het. Haar seuntjie Daniel het my fotos gesien van die Dragon's Breath en reeds vir almal in sy klas vertel hy gaan dit doen as hy in SF is. Nou soek ons dit! Dringend! As iemand kan help, laat weet asb. Cobus, weet jy of daar so iets in SF ook is?

Groete uit 'n pragtige SF.