Monday, March 22, 2010

Kreefroete Dag 2 van stap






















Ons begin weer 8hr stap en is aangenaam verras om weer vir Daleen as gids te he. Tannie Cornelia bederf ons met bacon, eiers, warm toast en muesli en yoghurt vir ontbyt. Ons moet vandag tot by Lambertsbaai stap. Dis net 12 km en ons sien uit daarna. Dis weer heerlik om op die harde sand te stap. Sommer vinnig vinnig is ons by die Muisbosskerm en kan ons heerlik rus in die skadu. Ons eet ons orige kreefpote en lok pragtige voels met die doppe. By Lambertsbaai swem ek, Shelley en Ina in die laagwater poel. Dis vriesend. Ons besoek Bird Island. Daar is 17 000 malgasse (dis wat die gids se - ek weet nie wie dit getel het nie, maar het geen rede om nie hul woord te aanvaar nie) en baie ander seevoels. Ons eet heerlik by Isabellas en loop daarna in die dorpie rond. Ben die taximan kry ons en vervoer ons na Doornbaai. Ons sien ook vir Correen vir omtrent twee minute by Isabellas. Sy is in beheer van die kreefroete, maar ons hoor al meer by die gasouers dat sy nie so 'n goeie poging maak van die bestuur daarvan nie.
By Doornbaai bly ons in Innis se strandhuis. Dis baie groot en elkeen van ons kry ons eie kamer met 'n en suite badkamer. Ek, Pat en Ina stap deur die dorp en ek neem mooi fotos. Vanaand maak Debbie en haar dogter vir ons aandete. Ons is nog so versadig van Isabellas se heerlike kos en kaaskoek dat ons vra vir net slaaie en Debbie kwyt haar uitstekend van haar taak. Ons gaan slaap weer vroeg nadat ons heerlik in die sitkamer kuier.

Saturday, March 20, 2010

Kreefroete, Weskus, Suid Afrika, 13 - 18 Maart 2010 Dag 1

























Agtergrond:
Ons vier (Shelley van der Nest, Pat Raab, Ina Redelinghuys en ek) het ontmoet toe ons Everest Base Camp toe is in April/Mei 2009. Toe nooi Pat ons om reunie te hou en ons besluit om die kreefroete langs die weskus van SA aan te durf. Intussen het ons besluit dit behoort 'n jaarlikse instelling te wees en beplan ons reeds aan volgende jaar se trip.
Dag 1: Dis met groot verwagting dat ek eers vir Pat en toe vir Shelley op 13 Maart 2010 op Kaapstad Internasionaal ontmoet. Ons gesels soos ou vriende en die elf maande tussen Everest Base Camp en vandag voel soos 'n week. Ons ry gesels gesels tot by Blouberg, eet middagete by Primi Piati en kyk oor die see. Ons is oppad Langebaan toe om vir Ina op te tel by haar niggie Wiena en haar familie. Toe is ons voltallig en maak ons dit vir Elandsbaai waar ons die eerste nag in die Vleihuisie slaap en heerlik onthaal is deur Marie, Louise en Daleen. Ons voel dadelik tuis met hul egte weskus gasvryheid. Elandsbaai is pragtig, maar ook met baie armoede. Die mense is dierbaar en baie gasvry en ons is gul ontvang en onthaal. Saam met Daleen gaan kyk ons die boesmantekeninge in die grot ver bo die see. Ons stop by die hotel en leen die enigste DSTV kanaal op die dorpie om die bulle teen die highlanders te kyk. Die bulle wen ver en Shelley is gelukkig! Ek het my sit en verkyk aan die mengelmoes van mense wat saam die rugby gekyk het. Baie interessant. Ons koop 8 krewe by Daleen se buurman vir net R100 en Mari maak dit gaar vir ons saam met heerlike gebakte snoek en slaaie. Ons is vroeg in die bed nadat ek die gasvrouens en hul helpers by hul huise afgelaai het. Dis grafstil langs die vlei en ons slaap heerlik.
Dag 2:
Ons het die eerste dag van stap van hieraf (Elandsbaai) vertrek en moes 18 km langs die see afle tot by Steenboksfontein. Ons los my motor by die polisiestasie op Elandsbaai regoor die hotel. Die weer was baie goed en ons kon heerlik stap. Die dik sand met hoogwater was 'n uitdaging en daar was nerens 'n skadu kolletjie in sig om middagete by te hou nie. Ons kry 'n ou yskas op die strand en draai hom so dat ons bietjie skaduwee het. Regte survivors!
Pat tel ons aantal tree met haar medisiefonds masjientjie en ons vorder omtrent 3,5 km per uur op die sand. Aanvanklik stap ons baie maklik op die harde sand onder die hoogwater merk, maar hoe later hoe moeiliker. Later stap ons baie moeilik op die sagte sand ver bo die hoogwatermerk. Ons verstom ons oor hoe goed ons 4 oor die weg kom. Ons ken mekaar eintlik swak en is nie vriende in die normale verloop van die lewe nie. Ons is ook uiteenlopende persoonlikhede en ouderdomme wat wissel tussen 40 en 60, maar ons kan heerlik saam ekspidisies aanpak.
Net toe ons wil moedeloos raak van die dik sand sien ons die plaashuis waar ons vanaand oorbly by Cornelia Burger op Steenboksfontein. Sy verras ons met koffie/tee en hertzogkoekies by 'b gedekte tafeltjie onder die bome. Ons stort, rus en maak gereed om half sewe aandete te geniet by die plaaskombuis op dieselfde plaas. Die restaurant lyk soos 'n museum. Ons kry skaapvleispastei met anys soetpatats en slaaie. Koeksisters vir nagereg en heerlike koffie/tee. Wat 'n fees?

Sunday, March 7, 2010

'n Pragtige dag, 'n lekker stap en goeie geselskap


6 Maart 2010 was 'n pragtige dag in die Kaap. Ons het besluit om in Helderberg Natuurreservaat te gaan stap en dit was heerlik. Daar was nogal baie mense, ook 'n groep jong kinders wat baie verbaas was toe ons voor hulle bo was. Wel, of so bo soos wat ons wou stap. Ons was nie bo nie, maar ver genoeg. Gerhard het saamgestap en die geselskap was net so goed soos die helder sonskyndag. Na baie lag, baie sweet en baie gesels is ons onder vir 'n piekniek ontbyt. Dis so lekker om in die Kaap te kan woon. Ons is so naby die natuur en ek geniet elke stappie terdee.


Sunday, February 21, 2010

Vriendskap


Ek het die voorreg gehad om Vrydagaand saam met baie goeie vriende te kuier by die Twaalf Apostels Spa en Hotel tussen Kampsbaai en Houtbaai. Het jy al 'n vriendskap gehad wat jy net so waardeer dat jy wil pyn daarvan? Ek en Jo is sulke pelle. Dis net altyd GREAT om in sy geselskap te wees. Hy is een van daardie raar mense wat mens so goed laat voel dat sy teenwoordigheid eintlik verslawend is. Jo, jy is die beste! Mag die lewe vir jou net geluk en voorspoed bring. Jy verdien dit.
Die "deal" by die hotel werk soos volg: Jy begin met lang cocktails op die sondek terwyl die son in die weste sak. Die shef bederf jou met iets spesiaals en jy bestel solank jou voorgereg, hoofgereg en nagereg. Die kos is uit die boonste rakke. Na 'n heerlike bederf ete skuif jy oor teater toe vir 'n fliek. Voor in die teater staan glaspotte vol "sweats" waarmee jy jouself kan help. As jy nog plek het na die milkshake wat jy gehad het toe die fliek begin het, na die heerlike ete...
Ons het heerlik gekuier en as ek eerlik is sal ek moet bieg dat ek lanklaas 'n aand so geniet het. Ek kan dit vir enige een aanbeveel. Ek kry vir Karin Vosloo (nee Gerrits) ook in die restaurant. Ons was saam op skool. Hulle vier haar verjaarsdag en gaan oorslaap in die hotel. Hulle het 'n verjaarsdagkoek en egte shampanje in hul kamer gekry. Mens voel ge"treat" hier.
Regtig die moeite werd!

Thursday, January 28, 2010

Ter nagedagtenis aan 'n vriendin Marili van der Merwe


'n Vriendin van my is verlede Sondag (24 Jan 2010) oorlede nadat sy in Junie 2009 gediagnoseer is met bloedkanker. Ons het geweet sy gaan vinnig agteruit en kon in Desember al sien haar liggaam is moeg, maar tog was die skok groot. Dis nooit lekker om iemand so jonk aan die dood af te staan nie. Sy was maar 32 jaar oud.
Op die foto is ons almal saam op die Oranjerivier in Jan 2009. Marili is die een heel regs.
Ek het die volgende vir haar geskryf:
Ek kyk vanaand op in die hemel
en wonder of jy ons kan sien
Ek sien jou gesig skyn
lydingloos
verdrietvry
vreesloos
tuis
Ek hoor weer jou lag op die rivier
As Toit in 'n wateroorlog tier
Ek sien jou speel op die strand
met jou tone in Stilbaai se sand
Ek onthou jou vriendelike groet
vir elkeen wat jy by jou huis ontmoet
Jy het jou hartseer stil gedra
alleen
dapper
verskuil
'n Jaar terug het ons gewonder hoekom jy soveel ure op jou bed spandeer
miskien het die kanker jou toe reeds gekeer
Nou is jy tuis
eerste daar
gelukkig
vreugdevol
met die lig van die Lig in jou mooi oe.
Ek gaan jou mis.


Maphungubwe en die Kruger Wildtuin: 4 - 13 Januarie 2010




Daar is seker niks wat naby 'n vakansie saam met jou familie kom nie. Veral as daar gekamp word op twee pragtige plekke in ons mooi land. Ek was nog nooit voorheen in Maphungubwe nie en was verstom oor hoe groen en mooi dit is. Maphungubwe is die heel noordelikste punt in SA en op die grens tussen Botswana, SA en Zimbabwe waar die Limpopo en die Sashiriviere saamvloei. Ons was baie geseend met die weer en het teen alle verwagtings in lekker koel weer gehad. Ons het gebid daarvoor, so alle eer aan die Here wat Sy kinders liefhet. Vriende van my ouers, Oom Frans en Tannie Magriet was ook saam. Hulle is goed ingerig vir kamp en ons het heerlik saam gekamp.

Die voels in Maphungubwe is veral fantasties. Daar is heelwat somervoels wat ek nog nooit gesien het nie. Hulle het ons baie vroeg in die oggend begin wakker sing en veral die bosveldvisvanger was vir my baie mooi. Die lekkerste van Maphungubwe was die voelskuiling wat uitkyk op 'n watergat. Ek en Corne het ure daar gesit een middag en heelwat diere gesien wat kom drink het.

Daarna is ons Kruger Wildtuin toe en het in Punda Maria gekamp vir 5 nagte en toe in Letaba vir een nag, voordat ek teruggevlieg het Kaap toe vanaf Phalaborwa. Ons het in een middag 4 van die groot 5 binne 'n uur gesien. Die wildtuin was ook koeler as wat ons gevrees het en dit is pragtig groen.

Aan al my familie... julle is die beste. Ek is baie lief vir julle. Dankie vir 'n heerlike vakansie.

Thursday, December 31, 2009

Karoo Nasionale Park: 26 - 29 Desember 2009











Ek weet wat julle dink... Wie wil in Desember in Beaufort Wes vakansie hou as mens eerder by die see kan wees. Wel, ek het ook so gedink totdat ek die goudgeel blomme op die karoo soetdoringbome gesien het en die pragtige veld in die Karoo Nasionale Park (KNP). My Pa, Ma, my ousus Corne en ek is net na 'n heerlike familiekersfees op Stellenbosch Wellington toe om finaal te pak en het die 26ste Des 2009 vroeg vertrek na die KNP. Ons het drie nagte gekamp en baie voëls gekyk. Ek is 'n totale novis as dit by voëlskyk kom en het my voëlboek in November hierdie jaar deur leserskring aangeskaf. Na die KNP staan my lys op 95 nuwe soorte. Dit was absoluut pragtig en 'n heerlike ondervinding. Dit help om saam met drie baie ervare voëlkykers te ry, want hulle mis niks.


Op ons laaste dag vat Japie ons om voëls te kyk. Hy is 'n groot kenner op voëls en spesifiek karoo voëls en ken elkeen se geluid en vliegpatrone. Dit was baie interessant. Ons kon ook sien hoe hy 'n baba grootrooivalk ring. (foto)
Nou is ons in Pretoria by my ander sussie, Christa en haar familie. Ons ry die 4de na Mpungupwe op die Botswana grens en daarna na die Kruger Wildtuin.

Friday, November 27, 2009

As ek hulle weer moes kies...



Daar is nie baie van my vriende wat mal is oor hulle familie nie. Hulle sal eerder grond eet as om 'n naweek saam met familie te kuier...

My familie is anders... Ons "like" mekaar kwaai. Natuurlik is te veel van 'n goeie ding nooit goed nie en dis juis hoe ons resep werk. Ons hou ons genoeg uit mekaar se sake om mekaar se geselskap ten volle te geniet as ons saam kuier.

Verlede naweek was dit weer so. My Pa het by Goudini Spa (met moeite) vir ons ingekry met tente en ons het die beste staanplekke in Goudini gehad. Ek hou maar die nommers geheim, sodat dit weer beskikbaar sal wees in die toekoms. Ons was almal daar behalwe Christa en haar familie in Pretoria en Braam wat 'n begrafnis van sy Ouma bygewoon het in Kimberley.

Daar is baie om te doen in Goudini en ons het hoofsaaklik tussen die verskillende swembaddens roteer. Die kinders het dit veral gate uit geniet. Handre en Lounet was braaf genoeg vir die water-wurm en die res het die koudste warm bad die meeste geniet. Veral die wat "goggles" het. Melindie het leer spring van die rand af en ons moes net keer want sy is baie braaf en onverskrokke. Die drie H's het die berg geklim na die Goudini Spa letters toe. Dis nou Hans, Handre en Hanlie. Ons het mooi voels, 'n bokkie en 'n skilpad gesien.

As ons saam kamp is elkeen verantwoordelik vir een ete vir die naweek en dit werk baie goed. Pa en Ma het afgeskop Vrydagaand met 'n pastapot uit die boonste rakke, met Elna en Santie wat Saterdag se etes verskaf het. Die middag met heerlike kouevleis broodjies en slaai en die aand met braaivleis en slaaie. Ek en Corne het Sondag se brunch gemaak.

Ek is lief vir my familie en as ek hulle weer moet kies, kies ek hulle enige dag! Die beste!

Sunday, November 15, 2009

To Hell and Back: 7 en 8 Nov 2009







Dis my sewende keer dat ek die bergfiets "extreme challenge" in die Gamkaskloof gedoen het. Dis 60 km in en die volgende dag 60 km uit. Nou 60 km is nie baie ver vir 'n fietsryer nie, maar hierdie is 'n perd van 'n ander kleur. Mens begin by De Hoek net buite Oudtshoorn en klim die eerste 20 km tot bo-op Swartbergpas. Dis pragtig, maar die laaste twee draaie is regtig steil. Na skelmdraai begin die pret en stap ek maar te heerlik langs my fiets op die stukke wat my bene nie meer wil trap nie. Die agterkant van Swartbergpas is kort en dan draai mens links op die witpad. Van daar af is dit nog 40 km se op en af tot in die Hel. Dis 'n pragtige natuurreservaat en die veld is regtig mooi. Hulle het baie reen gehad en ons kruis die rivier minstens drie keer. "Heart break hill" is weer 'n "bogger" en na 5 en 'n half ure se harde ry is ek onder in die hel.

Coos en Johann Diener het saam met my gegaan (of ek saam met hulle). Coos was na net drie ure onder en het vir ons 'n baie gesogte kampplek uitgesoek. Ek het 'n fisio sessie bespreek by die registrasie tafels en nou is ek bly. Vandag kyk mens die hele tyd terug na die pas wat ons more-oggend eerste ding moet uit. Dis 5 km se baie steil opdraend. Dit vat my 'n uur en ek stoot die meeste van die pad.

Wat 'n voorreg om gesond genoeg te wees om hierdie te kan ry. Ek is deel van 'n klein groepie mense wat al met hul fietse tot in die hel en terug was. Dankie Here, vir gesondheid! Dankie vir 'n sterk wil wat net nie wil ophou as ek swaar kry nie. (Dit help dat ek in die weermag was!)

Dis hard maar lekker!

Thursday, October 29, 2009

Watsonias in Jonkershoek


Ek bly in die mooiste dorp in die land! Jonkershoekvallei is altyd baie mooi, maar hierdie tyd van die jaar is dit net asemrowend. Die pienk Watsonias staan in volle blom en laat die hele vallei na 'n opgemaakte matriekafskeid saal lyk. Ons moes net gaan kyk... Die Here het sy beste kwaste uitgehaal en ons geseen met kleure en geure wat jou laat besef dat Hy in beheer is. Dankie, Monica dat jy saam gestap het.

Agt goeie vriende in Driehoek: Cederberge


Vier van ons het saam Kilimanjaro geklim in 2005. Sedertdien het baie water in die see geloop en het ons mekaar min gesien. Toe besluit ons... dit is tyd. Ons nooi aangetroudes, amper aangetroudes en vriende saam en is reg vir 'n baie goeie naweek van kuier, lag, fietsry en lekker eet. Baie dankie vir elkeen wat saam gekuier het. Dit was heerlik.

Sunday, October 18, 2009

Seweweekspoort Bergfiets Uitdaging 17 Oktober 2009




Die Aspros is 'n wonderlike groep vriende van Stellenbosch wat graag fietsry. Ek was die naweek saam met hulle Ladismith toe om Seweweekspoort se 80km bergfiets marathon aan te durf. Dit was 'n heerlike naweek met baie goeie geselskap, heerlike kos (dankie Cornelie!) en lekker oefening. Ons het baie gelag, swaar gekry op die roete en veral baie lekker saam gekuier. Dankie julle. Ons maak weer so...