Thursday, December 31, 2009

Karoo Nasionale Park: 26 - 29 Desember 2009











Ek weet wat julle dink... Wie wil in Desember in Beaufort Wes vakansie hou as mens eerder by die see kan wees. Wel, ek het ook so gedink totdat ek die goudgeel blomme op die karoo soetdoringbome gesien het en die pragtige veld in die Karoo Nasionale Park (KNP). My Pa, Ma, my ousus Corne en ek is net na 'n heerlike familiekersfees op Stellenbosch Wellington toe om finaal te pak en het die 26ste Des 2009 vroeg vertrek na die KNP. Ons het drie nagte gekamp en baie voëls gekyk. Ek is 'n totale novis as dit by voëlskyk kom en het my voëlboek in November hierdie jaar deur leserskring aangeskaf. Na die KNP staan my lys op 95 nuwe soorte. Dit was absoluut pragtig en 'n heerlike ondervinding. Dit help om saam met drie baie ervare voëlkykers te ry, want hulle mis niks.


Op ons laaste dag vat Japie ons om voëls te kyk. Hy is 'n groot kenner op voëls en spesifiek karoo voëls en ken elkeen se geluid en vliegpatrone. Dit was baie interessant. Ons kon ook sien hoe hy 'n baba grootrooivalk ring. (foto)
Nou is ons in Pretoria by my ander sussie, Christa en haar familie. Ons ry die 4de na Mpungupwe op die Botswana grens en daarna na die Kruger Wildtuin.

Friday, November 27, 2009

As ek hulle weer moes kies...



Daar is nie baie van my vriende wat mal is oor hulle familie nie. Hulle sal eerder grond eet as om 'n naweek saam met familie te kuier...

My familie is anders... Ons "like" mekaar kwaai. Natuurlik is te veel van 'n goeie ding nooit goed nie en dis juis hoe ons resep werk. Ons hou ons genoeg uit mekaar se sake om mekaar se geselskap ten volle te geniet as ons saam kuier.

Verlede naweek was dit weer so. My Pa het by Goudini Spa (met moeite) vir ons ingekry met tente en ons het die beste staanplekke in Goudini gehad. Ek hou maar die nommers geheim, sodat dit weer beskikbaar sal wees in die toekoms. Ons was almal daar behalwe Christa en haar familie in Pretoria en Braam wat 'n begrafnis van sy Ouma bygewoon het in Kimberley.

Daar is baie om te doen in Goudini en ons het hoofsaaklik tussen die verskillende swembaddens roteer. Die kinders het dit veral gate uit geniet. Handre en Lounet was braaf genoeg vir die water-wurm en die res het die koudste warm bad die meeste geniet. Veral die wat "goggles" het. Melindie het leer spring van die rand af en ons moes net keer want sy is baie braaf en onverskrokke. Die drie H's het die berg geklim na die Goudini Spa letters toe. Dis nou Hans, Handre en Hanlie. Ons het mooi voels, 'n bokkie en 'n skilpad gesien.

As ons saam kamp is elkeen verantwoordelik vir een ete vir die naweek en dit werk baie goed. Pa en Ma het afgeskop Vrydagaand met 'n pastapot uit die boonste rakke, met Elna en Santie wat Saterdag se etes verskaf het. Die middag met heerlike kouevleis broodjies en slaai en die aand met braaivleis en slaaie. Ek en Corne het Sondag se brunch gemaak.

Ek is lief vir my familie en as ek hulle weer moet kies, kies ek hulle enige dag! Die beste!

Sunday, November 15, 2009

To Hell and Back: 7 en 8 Nov 2009







Dis my sewende keer dat ek die bergfiets "extreme challenge" in die Gamkaskloof gedoen het. Dis 60 km in en die volgende dag 60 km uit. Nou 60 km is nie baie ver vir 'n fietsryer nie, maar hierdie is 'n perd van 'n ander kleur. Mens begin by De Hoek net buite Oudtshoorn en klim die eerste 20 km tot bo-op Swartbergpas. Dis pragtig, maar die laaste twee draaie is regtig steil. Na skelmdraai begin die pret en stap ek maar te heerlik langs my fiets op die stukke wat my bene nie meer wil trap nie. Die agterkant van Swartbergpas is kort en dan draai mens links op die witpad. Van daar af is dit nog 40 km se op en af tot in die Hel. Dis 'n pragtige natuurreservaat en die veld is regtig mooi. Hulle het baie reen gehad en ons kruis die rivier minstens drie keer. "Heart break hill" is weer 'n "bogger" en na 5 en 'n half ure se harde ry is ek onder in die hel.

Coos en Johann Diener het saam met my gegaan (of ek saam met hulle). Coos was na net drie ure onder en het vir ons 'n baie gesogte kampplek uitgesoek. Ek het 'n fisio sessie bespreek by die registrasie tafels en nou is ek bly. Vandag kyk mens die hele tyd terug na die pas wat ons more-oggend eerste ding moet uit. Dis 5 km se baie steil opdraend. Dit vat my 'n uur en ek stoot die meeste van die pad.

Wat 'n voorreg om gesond genoeg te wees om hierdie te kan ry. Ek is deel van 'n klein groepie mense wat al met hul fietse tot in die hel en terug was. Dankie Here, vir gesondheid! Dankie vir 'n sterk wil wat net nie wil ophou as ek swaar kry nie. (Dit help dat ek in die weermag was!)

Dis hard maar lekker!

Thursday, October 29, 2009

Watsonias in Jonkershoek


Ek bly in die mooiste dorp in die land! Jonkershoekvallei is altyd baie mooi, maar hierdie tyd van die jaar is dit net asemrowend. Die pienk Watsonias staan in volle blom en laat die hele vallei na 'n opgemaakte matriekafskeid saal lyk. Ons moes net gaan kyk... Die Here het sy beste kwaste uitgehaal en ons geseen met kleure en geure wat jou laat besef dat Hy in beheer is. Dankie, Monica dat jy saam gestap het.

Agt goeie vriende in Driehoek: Cederberge


Vier van ons het saam Kilimanjaro geklim in 2005. Sedertdien het baie water in die see geloop en het ons mekaar min gesien. Toe besluit ons... dit is tyd. Ons nooi aangetroudes, amper aangetroudes en vriende saam en is reg vir 'n baie goeie naweek van kuier, lag, fietsry en lekker eet. Baie dankie vir elkeen wat saam gekuier het. Dit was heerlik.

Sunday, October 18, 2009

Seweweekspoort Bergfiets Uitdaging 17 Oktober 2009




Die Aspros is 'n wonderlike groep vriende van Stellenbosch wat graag fietsry. Ek was die naweek saam met hulle Ladismith toe om Seweweekspoort se 80km bergfiets marathon aan te durf. Dit was 'n heerlike naweek met baie goeie geselskap, heerlike kos (dankie Cornelie!) en lekker oefening. Ons het baie gelag, swaar gekry op die roete en veral baie lekker saam gekuier. Dankie julle. Ons maak weer so...

Monday, September 28, 2009

Die lewe gaan ook oor dit wat ons nie doen nie

Ek is vanoggend diep geraak deur opleiding oor die hantering van "Human Trafficking" slagoffers. Ons is opgelei deur Marge Ballin van Inter Outreach Ministries. Sy werk al dekades met slagoffers van seksuele geweld. Daar het so baie dinge so gelyk deur my kop gehardloop dat ek steeds besig is om daaraan te verwerk. Ek wonder deurentyds waarheen die Here hiermee oppad is in my lewe.

Ek dink tans gereeld aan die aanhaling van Vader Lapsley, naamlik: "Those who think of themselves as victims, give themselve permission to do horroble things to others because of what happened to them." Dit laat my wonder oor ons mooi land met sy wonderlike mense. Hoeveel van ons beskou ons self as slagoffers? Van apartheid, van verkragting, van geweld en misdaad, van gesinsgeweld, plaasmoorde, motor kapings? As al hierdie slagoffers onuitspreekbaar aaklige dinge doen aan ander omdat hulle self benadeel is, waar sal ons wees in die toekoms?

Die oplossing het soos 'n wolk mis oor my kom le en ek weet net die Here moet ons help om slagoffers te bevry van die leuen dat hulle slagoffers is en daarom die reg het om seer te maak soos wat hulle seergemaak is. En die genade om te kan vergewe.

Sunday, September 27, 2009

Ken jy die spore wat loop deur die droe Karoo?


Hoe beskryf mens een van die lekkerste naweke in jou lewe? Klipbanksfontein is presies waar dit klink om te wees... In die middel van nerens. Mens ry vanaf Ceres in die rigting van Sutherland en draai regs af as Isak se verduideliking so se. Dan maak mens twaalf of meer hekke oop en weer toe en kom uiteindelik by Bettie se beskeie huisie, waar sy en Kammies die plaas onder beheer het. Wat 'n verrassing is die spoeltoilette en die warm water nie? Net genoeg gadgets om baie gerieflik te wees, maar ook min genoeg om simplisties en BAIE lekker te wees. Geen selfoon ontvangs, geen krag. Net tente en kilometers se Karoo bossies en pragtige veld. Baie goeie geselskap, fietsry, kampvure met kitaarsang en ure se rus en rus en nogmaals rus.
Isak en Blyda het ons saamgenooi en Jan, Petrus en Surette het saamgekom. Ook Mike en Suretha met klein David. Ons elkeen doen net soos wat jou gees en siel jou lei. Party slaap laat, ander stap, party ry en ander sit en staar die vertes in. Hier is iets vir almal. Ek wonder opnuut hoekom ek toelaat dat die lewe my so jaag. Hoekom raak ons so gou vasgevang in die rotte resies? Weet ons nie dat die wenner van die resies nog maar 'n rot is nie? Hier is suurstof, wonderlike uitsigte, skape wat naby jou verby wei, voels wat jou wakker kwetter, die wind wat sy eie musiek verskaf en 'n kruis op die horison wat jou heeltyd herinner dat jy op heilige grond is.
Ons is terug. Verfris, verkwik, uitgerus en reg vir die week wat voorle.

Karoo 2 Coast


Om van Uniondale af Knysna toe te ry is vet pret... met 'n motor! Met 'n bergfiets is dit steeds pret, maar ook harde werk. Hierdie jaar het ons perfekte weer gehad en het die uitsigte opgemaak vir die harde werk wat jou bene moet doen.
Sewe van ons is Saterdagoggend 19 Sept 2009 in Stellenbosch weg met twee Diener-bakkies van Pa-Pieter en Johann. Ons moes eers by Flandria stop want George het tot 2 uur laas nag gedans en was effe onvoorbereid. Op Barrydale het ons perongeluk die sleutel van die een bakkie binne-in toegesluit. Gelukkig het dieselfde brein hom weer daaruit gekry. Ek en Pieter het ons hele fietstoer van twee jaar terug weer beleef op Route 62.
By Uniondale aangekom wag 'n groot skare fietsryers en ondersteuners ons in. Meer mense as wat ek verwag het en minstens 6 keer meer as toe ek dit gery het in 2004. Meer as 3000 ryers. Wow! Ons soek kampplek op die sportterrein en verken die wereld. Ons registreer en kry ons pasta en maak alles reg vir more. Om halfagt spring die eerste groep weg. Ek, Johann en Coos is in groep 5. Ek geniet die ryery terdee. Bult af is my kos en bult op moet jy net jou mond hou, moed hou en TRAP.
Pieter en Dorette ry die voertuie om. 7 km van die einde af kry ek 'n papwiel en baie tyd gaan verlore. Ek sal moet leer om 'n wiel om te ry. Wat 'n heerlike dag en heerlike reis. Louis Botha van Stellenbosch ry saam met ons terug. Hy het nou 1400 km met sy fiets gery tot op Uniondale (met 'n detour via Plett) en toe lekker fiks gewees vir die K2C.
Nou moet ons verder oefen vir To Hell and Back op 7 en 8 November 2009.

Sunday, September 6, 2009

Train hard, fight easy!


Oor net twee weke is dit ek en die Karoo to Coast. Dit is 'n bergfiets uitstappie van 100 km op rowwe paaie vanaf Uniondale na Knysna. Ek het nou al drie weke gespin in die oggende en op Sondag 6 September was dit tyd vir langer in die saal sit. Ek en Elmarie is net voor 13:00 by my huis weg, oor Helshoogte, deur die padwerke by Pniel en met die wind van agter Franschhoek toe. Daar het ons 'n GU breuk gevat op die gras voor die Vrouemonument en is ons met dapper en stapper die Franschhoek Pas uit. Daar was twee groot bobbejane langs die pad. Amper bo neem ons foto's van 'n honeymoon couple van Mpumalanga en stoom voort. Daar kom 'n CV mercedez verby en toet, draai toe om en wraggies hou Willem, Alida en die kinders langs my stil. Dit was so lekker om hulle te sien. Ons was saam Kilimanjaro uit in 2005. Die afdraend was baie makliker en ons het 'n knoffel pizza geeet in Franschhoek. Toe tref ons die wind oppad terug! Wow, dit was nie maklik nie, maar soos hulle se in die fliek Karate Kid: Train hard, fight easy. Ons het na 18:00 eers tuis gekom. 'n Lang en lekker dag.

'Cause somewhere in the crowd there's you...



Wie onthou nog ABBA se lekker musiek? Met die Mamma Mia fliek nog vars in ons geheues, is dit makliker. Ek kon nog nooit stilstaan as ABBA speel nie. Wil altyd net dans. Wel, nou was dit ons beurt om te dans op ABBA en dit nogal op 'n verhoog met mikrofone en alles. Dit het so begin... Birgit Andrag is 'n vriendin van my. Sy is iemand wat groot dink oor die lewe en soms goed uitdink wat net nie doenbaar lyk nie. Sy word hierdie jaar vyftig en het haar vriendinne genooi om saam met haar te sing. Ons is afgerig deur Koba Wicomb en haar dogter Saskia het die koriografie en klere gedoen. Wat 'n fees! Dit was skreeu-snaaks, maar baie pret. Ons het Woensdagaand 2 September 2009 opgetree by Paul Roos se ouer en onderwyser konsert. Ons het Super Trouper gesing en gedans vir 'n vale. Ons was so bang dat hulle ons sal "ancore", want op ons ouderdom kan mens net nie daai passies twee keer na mekaar doen nie. Dis lekker om mens te wees.

Saturday, August 15, 2009

If you can dream it...

Ek het die wonderlike voorreg gehad om vanoggend met 120 matrieks en ouers van Weltevrede Sekondere Skool in Wellington te praat by 'n matriek tee wat die Dameskring op Wellington gereel het. Dit was 'n heerlike geleentheid en ek het dit baie geniet. Dreamteam het ook opgetree. Hulle is 'n christelike dansgroep wat Hester van Velden begin het in Paarl-Oos. Die groep bestaan uit pragtige energieke jongmense wat 'n jaar of meer van hul lewe spandeer om die Evangelie uit te dra.

Toe Philippa my vra of ek by die geleentheid sal praat het ek dadelik ja gese, maar ek het ook dadelik vir die Here gese dat ek, Hanlie, regtig niks het om vir hierdie matrieks en hul ma's te se nie, want ek was baie lanklaas matriek en ek het nie eens kinders nie, maar as Hy 'n boodskap het wat Hy vir hulle het, sal ek graag die boodskap gaan lewer. En so was ek vanoggend die spreker by die tee. Die Here het 'n spesiale boodskap vir Wellington gehad en het alles weer so presies uitgewerk, dat elke spreker, van Lettie wat die oggend geopen het, tot die danse van die Dreamteam, saam met my praatjie almal net een boodskap gehad het. God het 'n droom vir jou lewe. Ons moet bereid wees om dit te droom en om hard te werk om die droom te laat realiseer. Ek het saam met wonderlike mense aan die tafel gesit en ook van my oud-onderwysers daar gesien. Dit was omtrent 'n trip-down-memory-lane. Ook het ek die geleentheid gehad om weer lekker by my ouers op Wellington te kuier. Heerlik!