Sunday, May 31, 2009

'n Kruin van 'n ander kleur


Dis met 'n baie dankbare hart wat ek hierdie week teruggekyk het oor die afgelope drie jaar se studies. Ek het graad gevang! UNISA se Kaapse gradeplegtigheid is in die Cape Town Convention Centre gehou. Hulle is so goed georganiseerd. My Pa en Ma was saam en soos my Pa se: Hy vermoed dis sy laaste kind se laaste graad, so hy wou dit graag bywoon. Hy se hy dink nie hy gaan sy kleinkinders se grade haal nie.


Ek het my MBL graad verwerf. Dis Masters in Business Leadership. Ek het in totaal 16de geeindig uit ons hele groep van meer as 400. Ek is uiters dankbaar teenoor die Here wat my deur baie eksamens en vele ure se studeer gehelp en gelei het. Aan al my familie en vriende wat gehelp het deur gebede, bemoediging en daar wees: Baie dankie! Dis julle wat die lewe die moeite werd maak. Die Munisipaliteit het ook 'n groot rol gespeel. Die eerste twee jaar het ek van 06:00 - 08:00 elke oggend in my kantoor gaan studeer en hulle het ook terugwerkend 'n gedeelte van my studies betaal. Daarvoor is ek baie dankbaar. My PA, Madeleine du Plessis, verdien 'n spesiale woordjie. Haar ondersteuning was van onskatbare waarde.


Ek weet julle wat my ken sit en wag dat ek die volgende graad begin... Vir eers is ek regtig klaar. Ek sien uit na 'n ander/volgende hoofstuk in my lewe.
Vir almal wat besig is met studies en wonder of dit die moeite werd is om so te swoeg... Go for it! 'n Graad is die een ding wat niemand van jou kan wegvat nie. Dit rek jou siening van die wereld. Ek het nou al by drie verskillende Universiteite studeer en dis werklik die moeite werd om diversiteit in jou studies in te bou. Elkeen se uitkyk op die lewe verskil en elke Universiteit bestudeer dieselfde vak uit heeltemal 'n ander hoek. Ek sal lewenslank 'n student van die lewe wees. Mens is werklik nooit te oud om te leer nie. My leuse is: Dare to know! Ek wil werklik elke dag leef met waagmoed om meer te weet en nader aan die waarheid te kom. Hoe meer mens weet, hoe meer weet mens jy weet nog niks nie en dat jou waarheid maar net 'n kant van die waarheid is. Dis die lewe!

Sunday, May 24, 2009

'n Sirkel is voltooi en 'n baie goeie hoofstuk is afgesluit







Ek het agt klippe in Everest Base Camp opgetel op 5 Mei 2009. Groottes en kleintjies. Een was vir Jan. Een was vir my Pa. Een was om op my kliphoop op Botmaskop te sit en die res wil ek hou as aandenkings. Nou weet ek wat julle dink en ja die arme porter het hom byna doodgedra oppad af. Gesamentlik het die klippe seker meer as 'n kilogram geweeg. Op Kathmandu, met die terugvlieg was ons bagasie ook ver oorgewig. (70 kg tussen 14 mense) Qatar Air was baie streng en wou ons 42US$ vra per kilogram ('n totaal van R26 800!!), maar Sean het gesmeek en die res van ons het gepaslik verwese gelyk en siedaar! Ons kan die goed laai.


Op Saterdagmiddag 23 Mei 2009 het ek en Jan weer Botmaskop uitgestap. Dit was besonder lekker om weer in Botmaskop te stap. Dis nou vyf weke sedert ek laas hier was. Die nuwe groen uitloopsels na die brand is pragtig! Ons het ons kliphoop besoek wat ons met die oefenry gepak het. Elke keer as ek daar was met stapmaats het elkeen van ons 'n klip op die hoop gesit. Die oefenry het uitstekend gewerk en baie gehelp in die Himalayas. Nou was dit tyd om dankie te se en fees te vier. Ek wil veral AL my stapmaats hier vereer: Esme, Yolanda, Azanda, Monica, Jan en Sulize. Ek en Jan het 'n Everest bier geknak nadat ek die Base Camp klip by sy Suid-Afrikaanse klipmaats gaan sit het. En julle sal my nie glo nie, maar terwyl ons daar sit en Everest bier geniet en Jan vir ons 'n gebed doen om dankie te se dat ek veilig terug is en dat die Here my so geseen het, lui my telefoon en daar is dit wraggies Lakpa Tamang, ons hoof gids van Nepal wat wil hallo se. Sy "timing" was perfek!
Dis die einde van iets waarna ek baie lank uitgesien het. Nou is die enigste vraag wat oorbly... Wat is volgende?

Ek dink en beplan en droom nog. Dis deel van die avontuur.

Saturday, May 9, 2009

Lukla: 'n wonderwerk nodig om te kan uitvlieg more

9 Mei 2009: Ons het vanmiddag twaalf uur in Lukla aangekom nadat ons omtrent 8 uur vanoggend in Phakding vertrek het. Vanoggend was die weer baie goed en alles was so groen na gistermiddag se donderweer en heerlike reen. Ons was skaars in Lukla toe begin die donderweer en val die reen kliphard. Nou is ons bietjie op ons senuwees dat die weer asb moet opklaar anders kan ons nie more-oggend uitvlieg Kathmandu toe nie. Dit sal baie sleg wees want hier is bitter min om te doen in Lukla. Die hele dorp is so groot soos die helfte van Brandvlei. Die vertreksaal van die lughawe is 2 meter (letterlik - ek het 'n foto om dit te bewys) van ons lodge se voordeur af. Ons moet sewe uur more-oggend op die lughawe wees sodat ons die eerste vlug kan probeer haal. Hier is 'n baie groot groep Japanese wat ook hier bly, so ons sal hulle moet probeer voorspring.

Die afgelope twee dae was baie lekker. Ons het gestap van Namche Bazar na Phakding en toe van Phakding na Lukla. Elke dag was omtrent vier ure se stap. Dis korter as die res van ons toer (dis immers afdreand in dik lug en ons is fikser) so ons het tyd gehad om die plaaslike gemeenskap dop te hou en te geniet. Namche Bazar le op 'n baie groot berg en vandaar was steil afdraande wat omtrent twee ure geneem het. Ons het skaars begin met die afdraende toe sien ons rook in die bos langs ons en sowaar daar is die porters besig met 'n tipiese SAse braai. Hulle het 'n groot dier net daar afgeslag en gebraai. Ons sherpa/gids 2de in bevel (Dawa) beduie dat dit 'n "water buffalo" is, maar vir my lyk dit meer na 'n lui, ou Yak. Nou het ek julle nog nie baie van 'n Yak vertel nie, en voordat ek hierheen gekom het, het ek nog nooit van 'n Yak gehoor nie. 'n Yak is 'n baie groot trekdier en hoe hoer jy opgaan teen die berg hoe langer is hul hare. Hulle is eintlik pragtig. Hier is die paadjie waarop mens stap ongeveer 1 meter wyd en mens deel dit met enige iets wat kan beweeg en wat kan goedere vervoer. Daarvan is die Yaks die beste en sterkste diere.

Ons is vroeg in die stap al gewaarsku dat Yaks gevaarlik is (hoofsaaklik omdat hulle bietjie klein breintjies het en jou onderste bo sal stap sonder om dit te bedoel) en dus wanneer enige groeplid 'n yak gewaar skreeu ons "yak attack" en dan vlei jy jouself oor die naaste rots aan die berg se kant en laat die yak aan die afgrond se kant by jou verbykom. Die Yaks dra BAIE goed op hulle rug. Alles wat Basecamp toe moet gaan vir al die ekspidisies word deur die Yaks gedra. Alles! Die wyfie/koei van 'n Yak is 'n Nak en mens kry Nak kaas, nak melk en nak botter. Mens kry ook Yak steak, maar ons is ernstig gewaarsku teen vleis eet op die berg, want die afgeslagte vleis word deur die porters gedra en is erg ryp as mens dit eet. So ek is nou twee weke sonder enige vleis (behalwe die 100gram biltong wat ek ingepak het). Ek sal baie gee om een steak met slaai/groente te kan eet.

Op die oomblik is agt van ons in 'n Duitse bakkery in Lukla. Langs my by die tafel sit die ander sewe en bespiegel of hulle hierdie uitstappie weer sal doen. Die oorwegende gevoel is: nee!

Ons moet nou eers gaan, want ons hou ons afskeidseremonie met ons porters. Ons moes elkeen 80 US dollars vir Sean gee vanmiddag wat onder die gidse en porters verdeel word as "tips". Elke porter word 15 US dollars betaal per dag en elke gids kry tussen 40 - 60 US dollars per dag. Nogal goeie geld om saam met aangename mense te toer. Lakpa kry 65US$ per dag. Hy is die hoofgids.

Ek het vanoggend loop en dink wat ek geleer het op hierdie toer. My grootste wens en doel vir die stap was om oorweldig te word deur die grootheid van God. Dit het ek elke liewe dag ervaar. Ek het 'n dvd geneem in Basecamp en is eintlik skaam dat iemand dit sien, want ek was so emosioneel... Hierdie skaal van berge is net ongelooflik en ek kon nie anders as om die grootheid van God en God te sien nie. Ek sou baie graag meer christene rondom my wou he wat weet waaroor die lewe gaan. Ek het swaar gekry in die groep, want 17 van die 19 het geen geloof in enige God nie en dink Christene is uiters naief en "narrow minded".

Ek groet eers! Mag dit met elkeen van julle baie goed gaan. My antwoord verskil van die van die groep. Ek het die Himalayas en die Khumbu Vallei ongelooflik geniet. Ek sal enige tyd terugkom, maar dan met vriende/familie (net 'n grappie julle Lindes) met wie ek graag hierdie sal wil deel.

Baie geluk aan Lizel Kok wat vandag verjaar. Jammer dat ek vanoggend die sms so vroeg gestuur het. Eers toe ek "send" druk het ek onthou ons is 4 ure voor SA. Maar ek hoop die dag was baie spesiaal en geseend en dat die jaar wat voorle baie spesiaal sal wees.

Liefde vir almal

Thursday, May 7, 2009

Terug in redelike beskawing: Namche Bazar 3440m

Vanmiddag net na twee het ons in Namche Bazar aangekom waar ons sewe dae terug ook was. Toe het ons glad nie geweet wat voorle nie, nou wil ons graag elke prentjie perfek onthou van wat agter ons le. Ongelooflike tye: Moeilike tye, baie steil, baie dun lug, baie klim en klim, maar ongelooflike gesigte! Soos wat ek nog nooit gesien het nie. Ek wens so elkeen van julle wat hierdie lees kan sien wat ek kon sien die afgelope tien dae. Dis ongelooflik mooi en net mooi ongelooflik.

Maar ek weet nou waar die ou/vrou wat die bekende liedjie geskryf het "all I need is the air that I breath ..." sy/haar inspirasie vandaan gekry het. Dis so lekker om weer te kan asem haal. Op 5380m bo seevlak is daar net niks om in te neem en vir jou longe te gee nie.

Ek mis drie goed uit die beskawing en kan nie wag om dit weer te he nie: 1) Om te kan sit as jy toilet toe gaan. Verskoon die goary detail, maar hier is alle toilette net 'n gaatjie in die grond met hout oor en jy sit op jou hurke (met seer bene en al) 2) om 'n knoppie te kan druk nadat jy by die toilet was en woeps daar flush dit. Hier moet jy 'n beker water self agterna in die gaatjie gooi. en 3) ek mis dit dat mens 'n kraan kan oopdraai en daar kom water uit. Sjoe! Dis drie goed waaroor ek nooit eers in SA dink nie en hier is miljoene mense wat nooit eers daaraan dink dat daar so iets kan wees nie. Oja! En ek sou baie graag my hande wou was. Net een keer. Hier is drinkwater en warm water so skaars soos hoendertande. Alles word kilometers ver gedra en daarom is daar nie gas/brandstof om water warm te maak nie. Hulle enigste vorm van hitte is die Yak-dung wat hulle brand.

Verder gaan dit baie goed. More stap ons na Phakding en dan na Lukla en dan wag ons om te sien of die weer goed genoeg is om uit te vlieg vanaf Lukla na Kathmandu Sondagoggend. Bid asb saam met my vir mooi weer. So ver was die Here uiters getrou. Ons het vandag vanaf Tengboche die mooiste weer gehad en kon Everest vir oulaas van alle kante bekyk. Dit was voorwaar pragtig! Karma se woordeskat in Afrikaans groei. Hy kan nou al "pragtig" en "bakgat" se en 'n hele paar ander nie sulke mooi woorde nie wat die klomp op die span vir hom leer. Sy beste uitdrukking het hy by my geleer: "Jo! Baie mooi!"

Dis nogal interessant om te hoor hoe die klomp nie-christene na ons kyk. Hulle sien christene as uiters eng denkend en baie konserwatief. Ek bid maar net vir hulle en hou myself uit die argumente uit. Vanoggend vroeg stap Nikki langs my vir 'n hele ent en sy vra of sy vir my iets kan se, maar ek moet dit nie verkeerd opvat nie: Ek se toe: ja, go for it! Sy se sy kan Jesus in my sien! Wow! Ek was baie dankbaar en prys die Here dat Hy slegs mens se lewenswyse as getuienis kan gebruik.

Hoop dit gaan goed met almal. Dankie vir Corne, Jan, Barend en almal wat sms'e stuur. Dit help regtig!

Groete uit Namche Bazar, Nepal.

Tuesday, May 5, 2009

Everest Base Camp 5380m




Op 5 Mei 2009 om 11:15 plaaslike tyd het 18 van ons 19 in die groep Base Camp binnegestoom! Wat 'n belewenis. Ek het regtig nie woorde om dit te beskryf nie. Vandat ek laas geskryf het, het ek 'n ernstige griep opgedoen en my hartklop opgehad na 118 in plaas van 62. Te sleg vir loop. Ons was in Dingboche en moes vir 'n akklimatisasie stap van 4300m tot op 4900m gaan. Ek kon myself net nie die laaste 100m by die berg opkry nie en het omgedraai met een van die sherpas en dadelik in die bed gaan klim met 'n med-lemon. BAIE medisyne later en meer gebed as medikasie, is ek gesond genoeg om vanoggend in Base Camp te kon wees! Prys die Here! Dis 'n ongelooflike gevoel. Daar is 35 ekspidisies wat vanaf 5 Mei 2009 die weer sal dophou en sal poog om op te gaan. Een uit elke vier van die mense wat ek vanoggend ontmoet het, sal dit nie berg-op of berg-af maak nie. En ek bedoel nie hulle sal net omdraai nie, nee, hulle sal met hulle lewe betaal vir die avontuur wat hulle aangepak het. Terwyl ons in Base Camp is hoor ons dat David Tait en 'n paar sherpas die eerste ekspidisie geword het om in 2009 die top van die wereld te haal. Maar daar is ook slegte nuus. Daar is 'n avelanche in die khumbu icefall en drie mense is dood.

Hier is dit soos 'n begraafplaas. Orals is hope klippe gepak vir mense wat hul lewens hier verloor het. My suurstofverbrandingsvermoe is nog op 78%, maar dis werklik moeilik om asem te haal. Shelley moes omdraai vanoggend want haar telling was 50% en Sean wou nie kanse vat nie. Dit was so moeilik om haar te sien omdraai en te groet. Sy wag vir ons by Pheriche. Sy wou so graag saam Base Camp toe gaan.

Die res van ons is fine! Ek het 5 dae laas gebad, maar gaan definitief nou my half liter warm water vir R90 koop om my hare te was en die belangrikste plekkies af te vee. Dit net nadat ek die R45 se Coke gedrink het! Hier is alles peperduur, want alles moet baie ver gedra word. Ons het vanoggend vir Louis Carstens ontmoet. Hy is in die SAse span wat Everest gaan aandurf.

Ek hoop dit gaan goed met elkeen van julle! Ek leef! Ek het gekom, ek het gesien, en ek het oorwin! Dankie vir almal se gebede. Ek twyfel nie vir een oomblik waar my Krag vandaan kom nie.

Baie lief vir julle. Mis julle.

Hanlie

Friday, May 1, 2009

29 April 2009 - 1 Mei 2009

Ek skryf hierdie van 4358m bo seespieel. Dis nog nie te koud nie en ons haal nog asem. Sean het 'n apparaat wat die persentasie toets waarteen jou longe suurstof verwerk en myne is nog 93%. Op 65% moet jy ondertoe gaan, so ek is nog fine.

Toe ek laas geskryf het was ons in Namche Bazar. Intussen het ons in Khumjung geslaap en ook in Duboche en nou is ons in Dingboche. 'n Boche is 'n klein dorpie en elke klein dorpie het net 'n ander variasie vir 'n naam. Khumjung is een van die mooiste klein dorpies. Daar is die eerste Hillary skool gebou in 1961. Die kinders hier gaan skool van 10 - 4 in die middag. Dis 'n hoerskool en daar is baie kinders wat letterlik ure stap om daar uit te kom. Daar is ook 'n baie mooi standbeeld van Edmund Hillary. Hy het baie teruggeploeg in die vallei en is ietwat van 'n hero. Ons besoek ook die monesterie. Wat 'n belewenis. Daar sit ongeveer 100 rooigeklede monikke en prewel van stukke lap af. In die monesterie is ook 'n yeti kopbeen. Gaan kyk bietjie op google wat 'n yeti is. Dis baie funny. In ons groep is net twee christene. Baie dankie vir almal wat gebid het vir 'n geesgenoot vir my. Shelley is great en lid van die Every Nation Kerk in Pretoria. Ons is die enigstes tussen 19 mense wat glo daar is redding in Jesus Christus. Ons vermy tans nog die onderwerp, want dit het twee oggende terug 'n hewige debat uitgelok aan ontbyttafel. Bid asb saam met ons vir die groep. Hulle is almal ontnugterd deur christenskap op die een of ander manier en is so oop vir Boeddhisme, dis net nie snaaks nie. Hulle koop boeddha beelde en gebedstringe en laat die lama by Tengboche hul serpe seen en wat se funny goed nog alles. Ek hou my skaars. Ek gaan geen lama my laat seen nie. By elke monestry loop ek om die plek en bid kliphard en spreek die naam van Jesus Christus oor hulle uit. Bid asb saam met my. Die een baie oulike gids se naam is Dawa en hy is baie hoog op in Boeddhisme.

In Khumjung is ons by die hospitaal begroet deur die nuus dat 'n 29 jarige gids van Nepal oorlede is aan altitude siekte. Hy is dieselfde middag begrawe. Al ons gidse het hom goed geken. Dit was baie "sad". Vanaf Khumjung is ons na Duboche via Tengboche. Dit was baie ver opdraend en ons was baie moeg maar die staproete is prentjiemooi deur hul rhodadendrum woud. Dis hul nasionale blom. Vanaf Tengboche het ek gou vir Pappa kon bel van 'n satelietfoon af wat R20 per minuut vra. Ons het ook pizzas geeet by die bakkery en dit baie waardeer. Ons betaal R25 per aand vir warm water om in te stort. Om jou kamera se battery te herlaai kos R60 en ek het so pas vanmiddag 'n R30 se Coke gedrink, maar verder gaan dit met my baie goed. Hoe hoer mens opgaan in die vallei, hoe duurder word alles.

Ons weer is nog wonderlik. Die Here is regtig goed vir ons. Ons slaap nou twee aande in Dingboche en gaan vandaar na Loboche en dan na Kala Patar (dis die hoogste punt op 5600m) en dan na Base Camp. More is 'n akklimatisasie dag en ons gaan 'n berg hier by Dingboche uitklim en dan 90 minute bo bly en afkom. Ons uitsigte vandag was fantasties. Ek het al 4 gig se foto's geneem. Ek het omtrent die beste kamera in die groep en my bynaam het vandag gig geraak. Ek het al seker 400 foto's geneem, maar alles hier is net te mooi om nie foto's te neem nie.

Ek verlang na julle en sou graag wou hoor hoe dit gaan, maar ons sal eers weer selfoon ontvangs he in Namche Bazar op 8 Mei 2009. Aan Monica wat vandag verjaar: Baie gelukkige jaar word jou toegewens. Mag jy 'n heerlike dag he. Baie liefde

Groete van huis tot huis. Waardeer wat julle het.

NS: Ons het vandag twee van die baie skaars en bedreigde Mask Deers gesien. Dit was pragtig en ek kon 'n mooi foto neem. Ek is besig om vir Karma (die een gids) afrikaans te leer. Hy kom nou al om elke draai en wys na die naaste sneeu bedekte piek en se: Sjoe! Baie mooi!

Tuesday, April 28, 2009

28 April 2009: Namche Bazar na Syangboche


Eerste fantastiese uitsigte op Everest! Ek het geen woorde nie. Die van julle wat my goed ken sal weet ek huil nie maklik nie, maar vanoggend was anders. Die trane het net oor my wange gestroom want ek kon nie glo wat ek sien nie...


Vanoggend het ons 7 uur aangesit vir ontbyt en 8 uur vertrek na 'n hotel 400 meter hoer as wat ons geslaap het. Dis nodig vir akklimatisasie. Ons het baie stadig gestap want die lug is vrek dun. Dit het ons 1 uur en 45 minute gevat om die 400 vertikal meter (en seker maksimum twee tot drie kilometer in afstand) te klim. Dis koud, maar ons was so opgewonde om Everest vir die eerste keer volledig te sien, dat ons nie omgegee het nie. Ek toe is ons daar en sien drie van die agt hoogste pieke in die wereld. Die ander twee is Lotshe en Lotshe Shar. Hulle le regs van Everest van waar ons gestaan en direk Noord gekyk het. Ek het net gese: Here, ek is jammer dat ek soms so klein oor u dink. Die hotel is nog 50 km weg vanaf Everest en die top van Everest le ongeveer 5000 m hoer as die hotel. Dis 5 km! Net om julle wat in Stellenbosch bly in perspektief te bring... dis meer as drie keer die Pieke bo op mekaar!


Wat 'n gesig! Ek het dit laat inbrand in my geheue en hoop om dit nooit weer te vergeet nie. Die Here was ons baie genadig met die weer. Ons moes minstens 90 minute daar bly om ons longe te laat rek (eintlik is dit die rooibloedselle wat moet meer word) en ons het boulle gespeel en lemon tea gedrink. Die groep maak baie grappies en ons geniet nog almal mekaar se geselskap.


Wat ek die meeste geniet van alles is my nuwe kamera! Baie dankie Pappa! En Ilze, die gear wat ek by jou gekoop het werk baie goed. Gisteraand het ek my eerste 300 foto's op 'n CD laat laai by die Cyber Cafe in Namche Bazar en toe die ou my First Ascent baadjie sien is hy baie opgewonde en weet dadelik dit kom van SA af. Daar is 'n groep van SA in basecamp wat poog om te summit. Ons gaan hulle groet as ons daar kom. First Ascent borg hulle glo. Hier is die "gear" verspot goedkoop, maar definitief tuisgemaak. Hulle verstaan glad nie kopiereg nie en elke tweede jas hier is "The North Face", maar kos driehonderd rand en aan die stiksels kan mens sien dis tuisgemaak. Ek het vanmiddag twee langmou "quickwick" hemde gekoop vir R60 elk. Dis darem in Korea gemaak en 100% poliester. My kortmou hemde gaan dit nie maak in hierdie koue nie.

Ek geniet hierdie uitstappie baie meer as wat ek gedink het.

Dit wat ek die meeste bewonder van die Sherpa's is hulle eenvoud. Hier word niks as van selfsprekend aanvaar nie. Ons is op 3440 meter tans en alles wat hulle hier gebruik van 'n eier tot die rekenaar waarop ek tik, word deur porters hier in die vallei opgedra met hul lywe. Ons het gister 'n ou gesien wat 102kg se hout op sy rug, nek en kop dra. Hulle word betaal per kg. Ek het mooi foto's daarvan geneem, want dis ongelooflik. Ek is definitief besig om iets te leer oor eenvoud.

Verder is die kos iets om te aanskou. Dis heerlik. Ons menu bestaan uit veg fried rice, chips en eiers, toasted broodjies, gisteraand was daar hoender stew oor rys wat baie lekker was. Daar was tot groente in.

Sunday, April 26, 2009

Sondag 26 April 2009: Lukla en Phakding

"I am a Lukla airstrip survivor!!!" Ook maar net! Dit was onbeskryflik!. Die kortste aanloopbaan in die wereld en ons het vandag daar geland met 'n Twin Otter Vliegtuig. Die vlug van Kathmandu was ongeveer 45 minute lank en ek het groot stukke daarvan met my dvd kamera afgeneem. Ons was almal lekker senuagtig, maar geseend met die weer. Ons het die berge pragtig gesien uit die vliegtuig, maar dit skud so in die lugstrome dat dit feitlik onmoontlik is om af te neem. Ek was by 'n venster. Die vliegtuig het net 17 sitplekke. Die vlieeniers is 18 en 24 jaar oud en lyk soos vegvlieeniers sonder die "ray bans". Een van die meisies in ons groep het sommer begin huil na ons geland het en Mike het gese hy kon sweer die co-pilot het ook sy bene vas teen die voorkant geskop met die remtrapslag. Die aanloopbaan is net meer as 300 meter lank en dit lyk heeltemal onmoontlik om daar te land as mens op volspoed aankom in 'n vliegtuig. Ons het dit almal oorleef en hardop gejuig toe ons buite gevaar blyk te wees. Wow! Dis erg! Ek het nie foto's daarvan nie, want ek het dvd geneem, maar sal by die ander kry.

Ek sit ook nie foto's by hierdie blog nie. Die internet hier is soooooo stadig dat elke foto 10 minute vat om te laai. Ek hou dit as 'n verrassing. Maar glo my dit is hemels!!!

Lukla het heerlike gemmer suurlemoen tee (dink aan Med Lemon) opgelewer en toe vertrek ons. Ons het twintag porters wat alles dra. Hulle dra tussen 45 - 60 kg op hul nek, kop en skouers. Party so jonk soos 15 jaar. Ongelooflik om te sien. Ons dra ongeveer 6 - 10 kg elk. Vandag het ons net 7 km gestap maar in omtrent 4 ure. Ons moes baie stadig stap. Ons is nou op ongeveer 2600 meter bo seevlak en ons asems jaag.

Die mense van Nepal is great. Baie vriendelik. Ons hoof plaaslike gids is Lakpa. Hy is 'n oupa met 'n konstante glimlag. Dawa is die eerste hulp in bevel. Dan is daar baie ander wie se name ek nie ken nie. Hulle is baie besorg en dink seker ons het nog nooit gestap nie, want hulle gee raad van sokkies, tot om nie te naby aan die afgrond te stap nie. Hulle word meer betaal as ons almal veilig bo kom en hulle gaan dit regkry kom wat wil.

Ons kos is baie interessant. Hier in die Khumbu vallei (ek kan nog nie glo ek is regtig hier nie) is baie groente tuine en graan en rys. Ons het vanmiddag Dalbat gehad. Dis rys met 'n lensie sousie en groente. Baie min sout maar verder heel smaaklik. Vanaand is dit knoffelsop en nan. Dis brood wat gebraai word met 'n sousie.

Ek het nou heerlik warm gestort. Hier is wraggies solar heating. Nou gaan ons met die aandprogram begin. Dis kaartspeel, baie lag en gesels en aandete eet. Tussen-in vat ons 'n everest bier. Mens het nie eintlik 'n eetlus bo 3000m nie en Sean dwing ons om alles te eet wat ons kan afkry. Pas my!

Groete en liefde vir almal. Ek weet nie vir hoe lank ek nog internet toegang sal he nie. Dit raak baie duur soos mens opgaan in die vallei. More stap ons na Namche Bazar. Dis op 3440m. 'n Baie steil klim na middagete, maar ons sal daar kom. "The distance is nothing, it is only the first step that counts."

Dankie, Pappa, vir die verkiesingsuitslae. Ons hoor Angus Buchan het inmekaar gesak na sy praatjie Saterdag by Meighty Men. Laat weet asb of hy alraait is. (Comment op die blog.)

Bid asb vir mooi weer. Die gradient van hierdie berge is ongelooflik. Ek dink vanmiddag terwyl ek stap dat ek kan sien dat die mense wat die bybel geskryf het nie in die himalayas was nie, want dan sou die psalmdigter nie geskryf het : "ek slaan my oe op na die berge nie". As mens hier jou oe opslaan sien jy nog niks nie. Jy moet jou nek agteroor rol na die berge en dan jou oe opslaan. Uit die vallei waar ons nou is, is die eerste ry berge wat mens sien seker op 3500m. Dis hoer as Suidelike Afrika se hoogste Mount Auxsources in die Drakensberge. Ek verkyk my en is so dankbaar dat ek hierdie kan doen. Laat dit met elkeen van julle baie goedgaan. Liefde Hanlie

Friday, April 24, 2009

25 April 2009: Kathmandu


Wat kan ek se oor Kathmandu! Wow! Miljoene mense in baie vuil strate met geen verkeersreels of bouregulasies nie, maar 'n "vibe" wat vir niks skrik nie. Ons ry met 'n taxi na Tahmel. Dis die toeriste mecca van Kathmandu. Nou moet julle asb nie die waterfront voor julle geestesoe oproep nie... Dis iets soos 'n kruising tussen Kayamandi se Suqukulo Straat en die groentemarkplein in Kaapstad. Die mense is arm (60% werkloos) en toerisme is hulle enigste inkomste. Hulle oorval jou met aanbiedinge en almal wil jou vervoer. Die rygoed wissel van fietse, riksas, bromponies, motorfietse, baie ou karre en hier en daar 'n 16 sitplek taxi. Ek het reeds 50% van my lewensversekering opgebruik van na Tahmel en terug ry! Maar wat 'n belewenis. Ons eet in die Rum Doodle Restaurant. Almal wat al Everest tot bo geklim het mag daar verniet eet. Sean vat dus al sy toergroepe soontoe. Yak steak e Tandoori Hoender was op die spyskaart en jou doori was daai hoender sterk!


Vanoggend vroeg is ons na die tempel langs die hotel. (Foto aangeheg) Ek verkyk my aan die Hindu en Boeddhistiese gebruike. Almal is so bygelowig en daar is letterlik duisende mense reeds 06:00 by die tempel. Hulle stap om die tempel, prewel gebede, steek kerse op en gooi mieliepitte vir die duiwe. Maar almal se oe is leeg. Jy sien niemand glimlag nie.


Ons ontbyt was heerlik. Vandag "shop" ons in Kathmandu en kry al ons heel laaste goed. More-oggend baie vroeg vertrek ons na Lukla. Die weer is tans baie goed. Die stad is in mis gehul, maar dis eintlik stof en rook. Dis te snaaks om te sien dat die mense met stofmaskertjies in die strate loop. Ons stadsingenieur sal 'n hartaanval kry oor hierdie paaie en die rommel le orals. Miskien moet ek oorweeg om hier by die Munisipaliteit te werk. Ek sien vanoggend in hulle Kathmandu Post dat hulle 'n pos adverteer vir 'n bouinspekteur. Mens sal nooit aan die geboue se dat hier sulke poste is nie. :-)

Thursday, April 23, 2009

Vanaf Doha lughawe: 24 April 2009

Julle sal my nou nie glo nie, maar die keyboard waarop ek tik is in Arabies en ek moet blind tik. Daarom vat elke sinnetjie baie lank, maar tyd het ons. Ons het heerlik gevlieg. Qatar lugredery is werklik goed. Ek moet nou min skryf en vinnig baai se want die rekenaar gaan dood na tien minute. Gaan baie goed. Heerlike groep. Doha is langs Abu Dabi. Baie sand en sand. Ek het lekker geslaap op die vlug. Ons vlieg nou Kathmandu toe. Die rekenaar skerm werk van regs na links! Baie funny.

Lief vir julle almal. Groete

Hanlie

Nou is dit sulke tyd...

23 April 2009: Maande en maande se uitsien en oefen is skielik hier. Ek is vreemd senuweeagtig. Ek weet nie waarna sien ek die meeste uit nie. Ek moet myself telkens dwing om diep asem te haal en dag vir dag te dink. Ek sien so uit hierna dat ek alles gelyk wil inneem en doen.

Voor in my toerdagboek staan twee goed: 1) "Ek is tot alles in staat deur Christus wat vir my krag gee." Ek bid vanoggend saam met Abraham (ek dink dit was hy) wat gese het dat as die Here nie saam met hom en sy gesin trek nie, wil hy nie eers van daardie plek af begin trek nie.

2) Die tweede ding het ek gekry by die nuwe groenpunt stadium wat in aanbou is:

"Impossible is just a big word thrown around by small people who find it easier to live in a world they have been given than to explore the power they have to change it.

Impossible is not a fact. Its an opinion.

Impossible is not a declaration. It's a dare.

Impossible is potential.

Impossible is temporary.

Impossible is nothing!


Ek is diep onder die indruk van almal by die werk en vriende en familie wat bel om sterkte te se. Wow! Ek vat Stellenbosch se 2010 vlag saam Everest toe en sal dit daar plant en klomp foto's neem. Natuurlik die SAse vlag ook.

Tuesday, April 21, 2009

"Ready or not..."


Twee slapies... eintlik slaap ek nie meer nie. Ek is te opgewonde. My sak staan gepak op my rusbank en ek koop die laaste drie goed. Onder andere 'n pakkie "cable ties" want dit werk vir alles. Ek het ook "ducktape" ingepak. Mens weet nooit... Gisteraand vir oulaas al my 6 lae klere aangepas om te sien of dit werk. Gelukkig was Stellenbosch bietjie koeler, want mens sal beswyk. Vandag verras 'n klomp vriende en familie my met e-pos op e-pos waarin hulle ons toerplan aanvra. Hulle wil saam met my bid. Gisteraand by my bybelstudiegroep is almal dadelik reg om die Here se seen te smeek op hierdie lewensdroom van my. Hoe wonderlik is dit nie om sulke ondersteuningsnetwerke te he nie?




Ons het die naamlys ontvang van wie saamgaan. Ons is 19 in die groep en ek ken niemand nie. Dis nog net name vir my, maar ek weet dat binne drie weke ons lewenspelle sal wees, want as mens eers saam swaargekry het, kan niks mens se waardering vir mekaar keer nie.

Geniet die bergtop in jou eie lewe. Onthou: "The distance is nothing, it is only the first step that counts!"

Die foto is van Lukla Airstrip. Dis die kortste aanloopbaan in die wereld en ons moet Sondagoggend daar land om te begin stap.