Saturday, February 28, 2009

Dele uit Hanlie se dagboek oor die Drakensberg Dwarsklim: 5 - 9 Des 2005











Dele uit Hanlie se dagboek oor die Dra(n)kensberg Dwarsklim (5 Desember 2005 – 9 Desember 2005)

Uiteindelik sien ons die liggies op die stoep van die Cathedral Peak Hotel. Rye en rye mense sit aan by kerslig en eet hul harte uit! Ons is honger, dors en hoofsaaklik "gatvol", maar veilig deur elke omstandigheid waaraan jy kan dink. Ons is dankbaar dat ons dit gemaak het en wil so vinnig as moontlik terugkom op Drakensville. (Of minstens almal behalwe Nico wat die voorste bakkie moes bestuur) Ons val die bakkies binne en ry...

Nee wag, dis die verkeerde kant van die verhaal. Dit het reeds vyf dae vantevore begin by die Sentinel aan die heel anderkant van die berg. Dertien opgewonde stappers het ingeboek via VIC, laaste draaie geloop en hul sakke geskouer. Party stappers selfs met meer as een sak. Na 'n laaste foto is ons weg. Die styl paadjies uit. Die groep het vinnig weggespring en amper vir Magriet 'n angsaanval besorg. By elke nekkie is sakke neergegooi en oor die bult gaan loer na die uitsig. Ons kon net nie genoeg kry nie. Johan O'Kennedy en Wouter het selfs 'n ompad geklim om die grot te sien waar Johan en sy vrou vroeer in hul staploopbaan geslaap het. Dit word ‘n dag van eerstes: Ons sien ons eerste lammergeiers met hul vlerkspan van meer as twee meter, ons het ons eerste val met Stephan wat op ‘n gladde lys struikel en ons almal geniet nog die vars geur van ons hempies se eerste dag. Ons stryk aan kettingleer toe om meer as 12 verdiepings die lug in te klim. Wat 'n belewenis! Thea se aanmoediging aan Magriet was 'n infame leuen, maar hoe moes sy dit geweet het? Dit was wat elkeen van ons geglo het: Die berg is plat bo-op. Hou net uit tot na die kettingleer dan is die ergste agter die rug! Ha-ha! Toe glad nie so nie!
Aanvanklik stop ons by elke blom en by elke stroom en neem derduisende foto's. Ons stap verby die plek waar mens afdraai Mount Aux Sources toe, maar hou verby. Hierdie keer het ons ‘n ander doel voor oë. Die uitsig oor die eskarp is so mooi soos almal gese het en die Tugela waterval val so ver soos almal belowe het. Ons spandeer baie tyd op die rand en geniet die wonderlike weer wat ons deur genade gekry het. Tommy breek ‘n lansie vir die blindes.

Wat 'n wonderlike God aanbid ons nie? Hoe kunstig moet Hy nie wees om hierdie te kan vorm nie. Met Johann D se geologie les nog vars in ons geheue, weet ons hoe die berg ontstaan het... Maar dis pragtig! Ons eet middagete op die eskarp en begin aanstap na ons slaapplek toe. Baie op en af en die wolke begin saampak en toetrek. Ons eerste donderstorm bo-op die berg is oppad. Wouter is wit in sy gesig en het ‘n naarheid wat hy nie ken nie (hy is net doodseker dis nie van die ekstra rugsak nie!) en ons vermoed hy kort 'n diamox of twee. Hoogtesiekte. Nico en Johann maak beurte om sy sak te dra en die res probeer hom opbeur. Ons kry ons eerste reen en ons eerste aangesig van elkeen se besonderse reenuitrusting!
Twiddle Dee en Twiddle Daa vermaak ons met helder rooi en geel. Francois se reenpak is ook gevaarlik want een oomblik het hy nog gesit en toe kan hy glad nie opstaan nie... Die slaapplek wil nie kom nie (ons het op dag een ongeveer 18 km afgelê) en dis deksels koud en nat, maar ons hou uit en stap aan. Later gee die weer ons 'n kansie en ons slaan tent op langs die rivier. Nou sal ons sien wie se tente is waterdig. Mans bad stroom-af en vrouens stroom-op. Die kosspan (Hanlie, Johann D en Francois) maak vinnig kos (vanaand se spyskaart is kerriemaalvleis met rys en gestoofde vrugte met sjokolade skuim (Vic se suiwer afrikaans inspireer my) en ons het skaars klaar geeet toe die eerste groot blitse slaan en die donderweer klap. Ons het net die ritsluiters toegetrek toe reen dit met mening. Liters en liters water kom op ons tente neer! Die tentbewoners met Fly-sheets het heerlik rustig geslaap en vir hulle was dit nie nodig om met 'n handdoek gewapen die dak benoud dop te hou nie. Ander was minder gelukkig. Wouter wou vanaand niks eet nie en het net ‘n myprodol gedrink teen die kopsere en gaan slaap. Tommy kon later getuig dat hy 01:00 die nag wakker geword het en beter gevoel het. Die enigste pyn wat oor was, was die hongerpyn op sy maag. Al wat daar was om te eet was grondboontjies. Dit was aand en dit was more... Die einde van die eerste dag!

Dag twee het sonnig begin. Ons kon die lammergeiers in die kranse hoor roep en veral die geskreeu van die kleintjies was kenmerkend. Ons staan vyf-uur op en pak so vinnig as wat ‘n nat tent mens toelaat en staan half sewe reg vir ‘n “briefing” vir die dag. Ons bid saam en begin die dag met mening! Daar is geen paadjies hierbo wat aandui waarheen mens moet stap nie. Dis alles kaartgedrewe en min of meer op aanvoeling. Ons eerste stop sal by Incidi wees en verkieslik op die eskarp sodat ons kan uitsigte hê. Ons gee nie eens om vir die digte miswolke wat daar lê oor die eskarp nie, want dit gee dit ‘n heel anderse gesig, maar baie mooi en selfs sprokiesagtig. Ons sien Cathedral Peak en Giant’s Castle in die verte en weet nou waarnatoe ons mik. Nico maak kookwater vir die hele groep en kook mieliepap vir homself. Na ‘n heerlike ontbyt pak ons op en begin aanstryk oor die berge en dale. Orals was God! Die weer wissel van helder sonskyn tot mistig en koud. Vic en Nico vang ‘n swempie by ‘n rusplekkie. Die res swem by middagete langs die rivier. Ons sien vir die eerste en enigste keer op die staptog ander stappers. Ons tel sewe met rugsakke en wonder waarom hulle die heel hoogste punt van die berg kies om oor te kom. Magriet en Hugo maak Risotto. Dis heerlik en gelukkig is daar genoeg dat Vic ‘n halwe kastrol aan die res van die groep kan uitdeel. Al is ons mae vol, is daar nie tyd vir ogies toe nie, want ons het nog ver om te loop. Dit begin reen net toe ons oppak, maar ons stryk voort. Niemand kla nie. Ons was mos voorbereid hierop. ‘n Rukkie verder begin dit hael. Ons stap vinnig. Die hael slaan jou bene van agter en dis glad nie lekker nie. Ons probeer skuiling soek langs ‘n hoë rots, maar besluit later dis beter om te stap. Net daarna skyn die son weer. Hierdie weer is regtig onvoorspelbaar hierbo. Ons stuur vir Vic, Nico, Louis en Johann om die slaapplek te gaan soek en die res wag langs die rivier in die vallei. Terwyl hulle weg is, besluit ons dis ‘n heerlike plek om te kamp en deur die genade van Bo besluit hulle ook so en daar kamp ons net daar langs die rivier. Nie baie gelyk nie, maar ‘n pragtige plek. Vic, Thea en Johan OK is op kosspan en verras ons met heerlike springbokwors in ‘n tamatiebredie met smash en kerriewortels vir groente. Die poeding is butterscotch geur van die kitssoort. Vanaand maak ons ‘n benzene verbranding en offer die afgelope twee dae se vullis aan die berg. Johann D kom met al sy vingers daarvan af, maar ook net net. As Thea met sy Ma praat: Daar was geen onverantwoordelikhede ter sprake nie. Dit was ‘n blote ongeluk wat die benzene bottel te naby die warm as gebring het. Maar geskrik het ons geskrik.

Ons valleitjie is toe onder die mis toe ons gaan slaap. Dit het bepaalde voordele soos dat mens nie te ver hoef te loop om ‘n draai te loop nie. Iewers in die nag het dit ook gereën, want ons tente was papnat toe ons opstaan. Dag twee was net so lekker soos dag een en almal is nog in ‘n goeie bui en met goeie gesondheid en almal het nog presies geweet waarheen ons oppad was... Vir nou in elk geval.

Die opstaan en regmaak vir stap en tent opslaan word nou al ‘n ritueel wat ons goed leer ken. Elkeen weet presies wat om wanneer te doen en dit gaan al vinniger. Die opdrag vanoggend tydens die “briefing” was maklik. Ons stap tot op die nekkie, draai dan regs en stap op die kontoer tot na die Mweni Insnyding (Cutback) Niks moeilik daaromtrent nie. As ons geweet het wat voorlê sou ons seker in ons gebed ook gevra het dat die Here ons kaartlesers sal seën met insig en rigting en so aan, maar ons het nie... Ons was skaars weg, toe kry ons te warm in al ons klere en stop ons om van baie daarvan ontslae te raak. Die nekkie is te vroeg vir ontbyt en ons draai regs af, hou op die kontoer en begin die insnyding van ‘n kant af stap. Dis later ongemaklik skuins, maar Vic het baie navorsing gedoen en almal in die boeke was dit eens dat mens nie moet daal na die rivier toe nie. Hou op die kontoer. Ons hou op die kontoer. Later sien ons die "black and tan wall" en neem talle foto’s daarvan. Dis ‘n pragtige vallei. Groot rivierkronkels met mooi groen walle. Ons sien krale met skape en beeste en ‘n tipiese Lesotho huisie op die oorkantste wal. (En nog raak ons nie agterdogtig nie) Die meeste van die kaartlesers was op een of ander stadium van die oggend effens ongemaklik oor die rigting en bakens wat hulle sien of nie sien nie. Met uiterste wil en oorredingsvermoë het hulle mekaar aangemoedig om die kaart by die realiteit te laat aanpas of andersom. Aanmoediging soos: “ignoreer nou eers die kronkels in die rivier” het sommige van die ander groepslede erg ongemaklik gestem, maar diegene het liewers niks gesê nie. Iewers het ons ons vasgeloop in ‘n baie styl en hoë rotswand en Vic het gaan ondersoek instel en beduie dat ons boontoe moes klim. Met groot vertroue en sonder enige teenspraak is dit gedoen. Toe ons egter bo kom, wou almal weet waarheen nou... en hoekom. Vic het ons verseker dat hy net twee dinge weet: Die eerste is dat ons definitief op die regte pad is en die tweede is dat ons op die kontoer moes bly. Teen die tyd wou die meeste afsak rivier toe.

Na lang redekawel met die kaart in die hande van baie, is die GPS uitgeruk as hulpmiddel. (Met groot dank aan Stephan wat dit saamgedra het) Elke kaartleser het geraai waar ons nou volgens hom op die kaart was en uiteindelik het Johann OK die slegte nuus gebring. Volgens die GPS was ons baie ver van waar hulle gedink het ons was. Geen wonder dat die selfoontoring van waar ons kon opvang “Letsing Mine” gewys het nie. Dit is Brett Kebble se myn diep in Lesotho in. Geen wonder dat die kronkels in die rivier so groot soos rugbyvelde is wat nie geignoreer behoort te word nie. Ons was verdwaald. Maar nie mismoedig nie. Wat ek altyd van die groep mense sal onthou, is die feit dat hulle kan “roll with the punches”. Daar was ons ‘n halwe dag se stap van koers af en almal besef net nie een van ons ander sou dit beter kon doen nie, so draai om en stap... Ons moes soos die wyse manne van ouds ooswaarts stap agter die maan aan om weer op ons regte pad te kom. As die res van ons beter kon doen met die kaart, sou ons, so ons kan niemand blameer nie. Stap moes ons stap. Francois en Louis het ‘n liedjie uitforseer. Die enigste liedjie in my kop was: "Moet op prinse nie vertrou nie", maar ek het dit nie hardop gesing nie.

Toe eet ons middagete nader aan gisteraand se slaapplek as waar ons met ontbyt was. Die wind waai kwaai en ons is ver van water af, maar in ‘n diverse groep soos ons s’n is daar altyd ‘n paar wat lig op brandstof is en hulle vat al ons waterbottels en gaan haal water. Ons eet heerlik en vat die regte pad. Links van die nekkie af, op die kontoer langs, verby die insnyding. Die wind word al sterker en by tye moet jy klou om nie oor die rand gewaai te word nie. Die uitsigte is briljant mooi. Ons stap besonder vinnig en wen vinnig weer alles terug wat ons verloor het. Later klim ons ‘n baie steil bult en daarna ‘n steil afdraende tot by ons kampplek aan die voete van die Rockeries (of is dit die Twaalf Apostels?) Almal wat voorheen selfversekerd was oor alles is nou sku om te vinnig te seker te klink. Hierbo is dinge meestal nie soos hulle lyk nie. Vanaand is Magriet, Hugo, Louis en Nico op kosspan. Die spyskaart bestaan uit seekos pasta met beetslaai en sjokolade poeding. Almal is honger. Vic sê ons het minstens 18 km gestap. Dit voel soos meer as 20. Vanaand se kampplek is heerlik en vir baie die beste van die hele toer. Ons kry ook nie reën nie, maar dis koud en toe ons opstaan kan ons selfs plek-plek ryp op die gras sien. Nico en Vic het vroeg opgestaan en die noordwestelike wal bo die kampplek uitgeklim om foto’s te neem van die sonsopkoms oor die vallei. Die van ons wat later slaap (tot 05:00 toe) sien die sonsopkoms uit ons tente. Hoe bevoorreg kan mens wees?

Daar is ‘n opwinding in die groep wat aanvoelbaar is. Gister se verkeerd stap het ons nader aan mekaar gebring. Ons ken ook nou al die dril en het by mekaar aangepas met stapspoed en gesinkroniseerde stoppe. Met almal gaan dit goed. Stephan se maag was gister nie lekker nie, maar na ‘n goeie nagrus is hy ook weer reg. Vandag gaan ‘n lekker dag wees. Ons mik vir die oorsprong van die Oranjerivier. Elke keer as ons die eskarp kan sien, wyk ons uit soontoe en neem nog ‘n paar foto’s. Ek kan nie besluit wat nou eintlik vir my die mooiste is nie. Hier waar die Oranjerivier ontstaan is dit die Senque-vallei. Mens kan amper nie glo dat so ‘n magtige rivier in ‘n klein moerasdingetjie ontstaan nie. Wouter is baie opgewonde en wil vir sy skoonma ‘n botteltjie egte suiwer Oranjerivierwater tap. Ons eet ontbyt op die walle van die Senque en stryk aan eskarp toe, waar ons die mooiste uitsigte oor die rand het. Baie mis en wind, maar ook baie lammergeiers. Ons neem nog talle foto’s. Van hier af volg ons die eskarprand en kan net nie genoeg sien van die mislae wat ingewaai kom oor die eskarp en dan net verdwyn as dit met die boonste lug in aanraking kom nie. Dis opdraend en nog opdraend, maar ons hou. Na baie op en affe en nadat ons ook lank met die kontoer langs geloop het, volg ons die rivier teen ‘n wal uit en wil so hoog as moontlik teen sy hang die rivier kruis en daar middagete maak. Ons kry ‘n baie mooi poel met ‘n waterval en alles en saal af. Wouter, Vic, Stephan, Hanlie en Louis swem. Louis maak ook van gisteraand se orige poeding. Magriet sê dis die mooiste poel waarby sy nog ooit was. Mens voel so klein hier bo-op die berg. Die natuur is net so ongelooflik mooi en groot. Mens voel eintlik heel uit plek uit.

Ons kampplek vanaand is nog nader aan die afgaanplek. Ons moet die weer bekyk en dan besluit of ons die ekstra draai gaan stap na die orrelpype en of ons die oorspronklike afgaanplek gaan hou. Die mis is dig en ons het net by ons kampplek aangekom, toe is dit op ons. Binne ‘n paar minute heeltemal toe. Vanaand is Stephan, Wouter, Tommy en Hanlie aan diens om die kos te maak. Ons het die lekkerste spyskaart vir laaste gehou en maak biltongpasta met soutkoekies oor gekrummel. Die bygereg is drieboneslaai en daar is warm sjokolade en “marsmallows” vir poeding. Tot hier toe was dit amusant om sulke mooi afrikaans te praat, maar malvalekkers klink net nie so lekker soos “marsmallows” nie.

Ons probeer om die gaspotte kuier, want tot hier toe het ons elke aand vroeg gaan inkruip, omdat dit of gereën het of baie koud was. Ons hou twee seiltjies om die groep en staan so lank as moontlik en grappies maak en stories uitruil. Dit begin later saggies reën en ons gaan tente toe. Toe ek in my slaapsak sit en reg is vir bed, kyk ek teleurgesteld op my horlosie en sien dat dit 18:30 is. Wat ‘n lang nag lê nog voor! Môre is ons laaste dag van stap. Die orrelpype is nou buite die kwessie. Ons enigste taak is om nou veilig by hierdie berg af te kom. Ons moet 1600m vertikaal sak oor ongeveer 12 km. Ons staan later op as die ander dae. Die tente is baie nat en dit reën nog onophoudelik, maar sak moet ons sak. Ons pak nat tente in en begin. Stephan doen ‘n aangrypende gebed wat my altyd sal bybly. Here, hoe groot is U? Hoe groot is U?
Net om eers die nekkie te kry waar ons moet afgaan, is al moeiliker as wat ons gedink het. Ons stap voetjie vir voetjie agter die GPS aan want mens kan niks voor jou sien nie. Ons kry die nek en neem vir oulaas ‘n groepsfoto op die berg. Toe begin ons sak...

Van die hele sakkery wil ek nie baie sê nie. Net dat dit miskien die dag is wat maak dat vier van die mense in ons groep wat ook al Kilimanjaro geklim het, dink dat die Dwarsklim veel moeiliker is as die hoogste berg in Afrika. Ons stap hoofsaaklik in ‘n rivier. Vic vang al die spinnerakke voor in die tou. Stephan loop val-val sonder Vibram sole en Hugo dans saam net ‘n paar plekke agtertoe. Hanlie gee Myprodols aan vir almal wat wil hê en Nico en Johann D loop heel agter en kla oor die stadige spoed van die res van die groep. Louis neem foto’s. Wouter ken die bome uit en Tommy gooi Wouter se skoonma se water on-seremonieël teen die kranse uit. Ons vorder vrek stadig. Ons stop nooit lank nie, want dis nat en koud en onaangenaam. Dis lankal nie meer lekker nie en ons moet nou net onder kom. Ons is mos vrywillig hier! Dit vat ons byna agt ure om uit die rivier te kom onder op die rokspante van die berg en ons kry ‘n tipe van ‘n kontoerpaadjie om op te stap. Die kaartlesers redekawel weer woes, maar op die ou end is ons min of meer op die regte plek. Die hotel wil net nie kom nie. Ons is moeg. Ons is honger. Ons wil nie meer stadig loop nie. Dit was ‘n moeilike dag. Uiteindelik sien ons die liggies op die stoep van die Cathedral Peak Hotel. Rye en rye mense sit aan by kerslig en eet hul harte uit! Ons is honger, dors en hoofsaaklik gatvol, maar veilig deur elke omstandigheid waaraan jy kan dink. Ons is dankbaar dat ons dit gemaak het en wil so vinnig as moontlik terugkom op Drakensville. (Of minstens almal behalwe Nico wat die voorste bakkie moes bestuur) Ons val die bakkies binne en ry...

Op Drakensville kry ons heerlike aandete, warm storte en lekker matrasse. Ons is terug in die beskawing. Dit waarna ons nou maande uitgesien het, is al weer verby. Ons sal dit altyd onthou en nog baie lank daaraan herkou! Maar van die dwarsklim herklim weet ek nie so mooi nie!

Hanlie

Oranjerivier roei 29 Desember 2008 - 2 Januarie 2009


So roei die vriende lag lag so…

Hanlie se storie oor die Oranjerivier
29 Desember 2008 – 2 Januarie 2009

Oppad Stilbaai toe die volgende dag luister ek vir die soveelste keer na Theuns en Juanita wat sing: “Ken jy die pad na ‘n plek wat ‘n merk op jou hart laat…” en ek besef dat dit is wat in die afgelope week gebeur het: Ek het die pad leer ken na ‘n plek wat ‘n merk op my hart laat saam met ‘n groep vriende wat merkers in my lewe is.

Dit het alles begin toe Teuns na die Visrivier stap in Augustus “non-chalant” aankondig dat hy en Lizel ‘n groep vriende nooi om die Oranjerivier te gaan roei oor Nuwe Jaar. Die vriende was dadelik reg vir aksie want ons ken die Tier in Teuns en het al so baie gehoor van die aksie op die Oranje. Natuurlik is Du Toit die hulpgids en spoedig was daar 17 mense wat wou en kon.

By Abiqua is die onbekendes voorgestel aan almal en het die pret begin. Ons het die 30ste Desember 2008 ons eerste dag op die rivier gehad. Die bootindelings het min of meer vanself gebeur. Teuns roei alleen en vervoer die tafel, roosters, hout, kos en vele ander benodighede, ook later al die rommel. Lizel roei saam met Melanie, Hanlie saam met Johann, Barend saam met Magdel Combrinck, terwyl die Visagie susters, Annemarie en Rene, Charles en Julia, Chris en Monica en Toit en Marili die rivier saam aandurf. Elke boot moes een yskas inpak met drinkgoed en middagetes en twee emmers per persoon moes al jou slaapgoed, dragoed en speelgoed vervoer. Teuns se veiligheidslesing is met ‘n gebed en ‘n piepie afgesluit en ons is ter water gelaat. Die eerste wit watertjies is wankelrig en met min selfvertroue aangepak en almal kon hul roeivaardighede oefen deur agter die “frisbee” aan te roei as ‘n “shaky” gooier die pad beister geraak het. Ons stop langs die oewer om ‘n draai te loop, teetyd te vat, middagete te maak en na omtrent 22 km op die rivier kamp ons aan SA se kant op ‘n pragtige oewer. Die wind waai en ons skuif die bote op die oewer rond vir skuiling vir ons slaapplek. Lizel en Teuns braai hoender met heel gekookte aartappels en heerlike wortelslaai wat ons met die skillertjies rasper omdat die rasper vergete gebly het. Almal wat gelei voel om te help met die aandete het aangemeld. Ons sukkel om die verskil tussen “gelei” en “verlei” vir Toit te verduidelik. Ons gebruik die badtyd met grasie - stroomaf vir die girls en stroomop vir manne (is dit omdat dit tipes is vir mans of hoekom sou Teuns dit kies?)

Laat die aand gaan die wind le en ons vergaap ons aan die sterre en hoe naby hulle lyk. Ek sien ster formasies waarvan ek nog net gehoor en gelees het. Dis ‘n belewenis!

Dag 2 begin goed. Almal staan vroeg op en is in ‘n vrolike luim. Met eerste lig het Teuns klaar die vuur aan die gang en is daar spoedig kookwater vir koffie en beskuit. Ons sorg elkeen vir ons eie ontbyt maar die “leftover” hoender en aartappels gaan ook goed af. Vanmiddag moet ons die magtige shambok aandurf. Dis die grootste rapid op die trip en die meeste van ons weet nog nie waarvoor ons in is nie. Ons begin vroeg en dryf sommer eers ‘n bietjie. Op die manier kan mens baie naby aan voëls verby vaar. Ons sien die mooiste reiers, arende en vele meer. Die reuse reier is veral vir my pragtig. Ons sien ook ‘n king fisher wat ‘n vis vang!

Die eerste watergeveg het half onverwags op baie afgekom. Toit was aan die voorpunt met Marili wat so graag droog wil bly, maar geen kans het nie. Kort-kort hoor met net “Roei Marili! Roei!” en dan is Toit besig om met sy regterhand die bailer goed aan te wend om vreemde vyandige bote aan te val. Barend en Magdel en die Visagie sussies loop veral deur, maar Marili en Toit is nie te kieskeurig nie. Enige vyand sal doen. Soms kry Marili dit ook sommer van vriendelike vuur. Dit is dan wat sy so ‘n gilletjie los wat enige klein Visarend na sy Ma sal laat verlang en die res van ons hul koppe laat omruk om die roepende visarend van nader te beskou. Ons lag aanhoudend en die grappies raak al hoe spitsvondiger hoe langer ons mekaar ken. Verder speel ons frisbee en bats tussen die bote. Teuns roei rustig voor en laat enige stel “obstacles” soos ‘n kinderpartytjie lyk. As ons geweet het wat later vanoggend sou gebeur, sou ons moontlik minder vrolik gewees het. Dis ook maar goed dat mens nie weet nie…

Ons kry ‘n ander groep op die rivier en besluit om eers stil te hou langs die kant dat hulle kan verbykom. Ek sien my skoolvriendin, Fifi, wat ‘n hulpgids is by hulle groep en dis heerlik om mekaar weer te sien. Ons hou ‘n lang tee breuk by ‘n mooi baai en swem en speel bats en geniet net mekaar se geselskap en die pragtige natuur.

By die ou myn hou ons stil en klim die berg uit om floor-spar klippies op te tel om met die oujaar te kan vuurwerke maak. Ons bekyk shambok uit die lug en kyk hoe die groep van Bushwack die rapid aandurf. Teuns verduidelik hoe mens die s-vormige vinnige water moet benader. Ons neem talle foto’s en toe vertrek ons. Die nou reeds bekende oproep van “single file!” en “life jackets” weerklink in ons ore. Met vinnig kloppende harte en knaende senuwees dryf ons nader en nader en wag nog dat die laaste boot van die vorige groep afgaan. Teuns gaan rustig deur en toe volg die res van ons. Dis nie vir sissies (lees pissies) nie en wonder bo wonder bly ons boot met sy bo kant bo. Ons skep wel baie water en stop langs die kant om die boot leeg te skep. Teuns se boot begin afdryf en ek swem om dit te keer. Teuns help die mense wat omgeval het. Net toe kom Lizel en Melanie op die rapid af en kry nie hulle draai nie. Hulle pyl reg op ‘n rots af en tref die rots met mening. Die yskas skuif terug en kap Lizel baie hard op haar been. Lizel ervaar onmiddellik baie pyn, maar sou eers later sien dat sy ‘n yslike sny in haar linker onderbeen het. Barend help haar uit die water en Teuns besef dadelik dat die sny diep is en steke moet kry. Hy hou die sny bymekaar terwyl Toit sy noodhulpsak deursoek vir alkohol swaps. Daar is niks. Jana van Bushwack kom help en ons verbind die sny. Besluite word vinnig geneem en Lizel moet saam met Bushwack van die rivier af kom om by die kliniek in Noordoewer te kom. Later sou ons hoor dat sy Springbok toe was vir binne en buite steke. Deur die genade is Buschwack oppad uit en het hulle ‘n “raft” wat ses mense roei wat Lizel met grasie en gemak kan vervoer en genadiglik kan hulle haar vervoer na Abiqua. Die Here is goed vir ons.

Teuns slaag die toets met meer as vlieënde vaandels en neem die besluit met sy kop en nie sy hart nie. Hy bly by ons. Selfs nadat die groep hom probeer oortuig dat ons “fine” sal wees in Toit se hande! Dankie Teuns!

Dis ‘n redelike “shaky” groep wat saam middagete hou. Ons bespreek die rapid en almal lei bietjie aan skok na die ongeluk. Melanie sal nou saam met Magdel C roei en Barend roei die stukkende boot. Ons is almal net dankbaar dat Lizel okay sal wees. Van die res van die middag onthou ek nie veel nie. Ons ontmoet ‘n Pa en twee seuns op die rivier en Teuns nooi hulle om by ons te kamp en saam met ons aandete te maak. Hulle erken dat hulle “severely undercatered” is en kan een blikkie bier en ‘n pakkie “roamary creams” vir die ete skenk. Ons is vroeg aan wal en daar is baie tyd vir swem, bad, lees, vuur maak en lekker kuier. Teuns se spesialis dis is vanaand op die spyskaart. Hy maak ontbeende rib wat hy met chutney, knoffel en olyfolie vryf en in tin foelie toedraai en in die vuur sit. Daarby maak ons groente en knoffelbrode met sjokolade mousse as poeding. Ek het Lizel se kosrol oorgeneem. Ons spring popcorn op die vuur en die ouens maak baie hout bymekaar om 24:00 te kan haal.

Na ete begin ons wag en wag en wag vir nuwe jaar. Melanie probeer ons oortuig om nuwe jaar twee ure te vervroeg maar die grootste deel van die groep bly hardnekkig wakker om die nuwe jaar in te wag. Ons oefen om met starlights van die Visagie sussies die syfers van 2009 gekoordineerd te maak en Charles, Teuns en Monica lê dit op film vas. Barend hou vir ons ‘n oujaar diens en ons almal deel ons hoogtepunt saam met die Here in 2008. Dis opvallend hoe baie van ons geliefdes aan die dood afgestaan het in die afgelope jaar, maar bemoedigend om te hoor hoe die Here die verskillende families gedra het deur baie moeilike en hartseer tye.

Die wolkformasies wat ons inwag toe ons ons oë oopmaak op 1 Januarie 2009, is iets om regtig oor huis toe te skryf. Dis pienk en alle skakerings van blou en grys. Ons wens mekaar weereens voorspoed vir 2009 en klim vroeg op die rivier. Ons mis vir Lizel en bid dat sy okay sal wees. Na ‘n vinnige ontbyt en oppak is ons oppad. Vanoggend is lang gladde stukke en ons dryf en swem langs die bote. Ons speel lank in die water en hoef nie veel te roei nie. Dis heerlik. Later die middag kom die wind egter op en ons moet hard roei om verby Aussenkeer te kom. Dis harde werk en teen middagete onder ‘n doringboom slaap die meeste van ons terwyl Melanie hardnekkig gesels en min reaksie van die groep kry. Ons kom agter al die ouens behalwe Johann snork heerlik as hulle moeg is en op hul rug lê. Na ete roei ons weer wind-in en struggle tot by die laaste vinnige water wat ons na die kampplek vat.

Ons stop vir laat middag tee en Melanie se ma se koekies gaan baie goed af. Toit wen drie eerstejaars met ‘n kolskoot in frisbee gooi en die res van ons geniet die water voordat ons vir oulaas die bote bestyg vir die dag.

Ons kampplek is weer aan SA se kant. Daar is ‘n hele trop bokke op ons slaapplek en ons jaag hulle bietjie aan. Die bokwagters kom verby met drie pasgebore bokkies wat net te oulik is. Vannaand is dit tjops en butternut met vrugte en vla op die spyskaart. Die tjops smaak vorentoe gemarineer in die goedkoop soet rooiwyn wat Abiqua vir ons geskenk het vir die Oujaar. Dankie Johan! Ons kampvuur word voorafgegaan deur jogaklasse wat Melanie aanbied vir ‘n groot deel van die groep wat hou van strek en rek. Die res sit en lag van die vuur se kant af. Dit gaan goed af. Veral die boompie move prikkel almal se (lag)spiere.

Ons kuier lank en lekker langs die vuur en gaan slaap met die wete dat dit al weer ons laaste nag langs die rivier was.

Die volgende oggend kom kuier ons reisgenote vroeg vir ons en is verbaas oor die afstand wat ons nog die vorige dag geroei het na middagete. Ons is bly en kan vanoggend rustig roei. Ons moet vanoggend deur nog ‘n baie groot rapid gaan. Gamkap is self nie grappies nie en na ons ondervinding by Shambok is die meeste van ons maar skrikkerig. By die rapid stop ons eers en stap met ‘n paadjie langs die oewer om die rapid van nader te bekyk. Teuns gee raad en ons trek weg. Teuns roei deur soos iemand wat in die bad speel en daarna is dit Barend wat maklik deurgaan. Die meeste van ons kies die perfekte lyne en net die Visagie-sussies dop om nadat hulle ook ‘n pragtige lyn geroei het. Magdel Combrink eindig hul triomf met ‘n staande ovasie wat Barend en Monica pragtig op foto vaslê. Ons is erg verlig en vergeet skoon dat daar nog water wag. Ons ry die rapid nog ‘n paar keer met “life jackets” aan en kyk hoe almal wat wil op die brander speel met die rubberducks van ons reisgenote. Ons vergaap ons aan Teuns se skills. Dis goed om te sien. Hy is werklik ‘n tier.

Net daarna verras ‘n stuk vinnige water ons en my en Johann se kano skep baie water in die hoofbrander en tip om. Daarna sou ons hoor dat dit “surprize rapid” genoem word. No kidding!

Kort voor lank kan ons uitspan vir ons laaste middagete en dis toe dat die Visagie-sussies ons verras met ‘n heerlike grappie. Hierdie is my weergawe daarvan: Magdel en Glandy kom aangeroei na die uitklimplek vir middagete maar dis nie ‘n geleidelike wal nie mens kan nie daar uitklim nie. Glandy is later uit die boot en sleep die boot na vlakker water. Magdel sit steeds in die boot. Glandy wil graag hê dat Magdel haar moet help om die boot op die regte plek te kry en in haar moedeloosheid merk sy op: Jy sit net daar soos ‘n lady! Magdel is nie op haar mond geval nie en antwoord onmiddellik: “Nou hoe wil jy hê moet ek sit? Soos ‘n tert?” Ons het dit almal baie geniet. Middagete was lank en lekker en behalwe vir die veldbrand wat ons gestig en toe weer uitgesit het (met die enorme bydrae van Toit wat met ‘n baie klein stokkie die vlamme probeer doodslaan het), was dit insidentloos en baie lekker. Ons besef dis nou ons laaste 300 meter op die rivier en roei dit met traagheid. Ons laai die bote uit en maak vir oulaas sports voordat Johan en Lizel opdaag om ons op te laai. ‘n Heerlike trip op die rivier is verby en ons is spyt dit het so vinnig verby gegaan, maar ons het dit almal baie geniet. Dit was ‘n heerlike groep met goeie leierskap, wonderlike weer en omstandighede en overall ‘n baie lekker en geseënde trip.

Dis lekker om vir Lizel te sien en goed om te hoor hoe die Here haar geseën en bewaar het oor die drie dae wat sy op haar eie was.

Teuns maak vir ons heerlike potjiekos terug by Abiqua. Hanlie vermorsel vir Barend op die tafeltennisbaan (dit was my beurt om die storie te vertel) en wen ‘n pizza. Toit, Marili en Chris is oppad Vic Valle toe en ons gaan laai hulle op Noordoewer af om die bus te haal. Ons slaap ons laaste aand op Abiqua en vertrek vroeg terug Kaap toe. Ons eet ontbyt op Springbok en is dankbaar dat almal later veilig terug is in die Kaap.

As ek nou terugkyk was dit ‘n luilekker vakansie sonder selfoonontvangs, tussen great pelle en met wonderlike natuurskoon. Alles goeie bestanddele vir ‘n wenvakansie! Dankie aan Teuns, Lizel en elkeen wat deur hul daarwees deel was hiervan.

Ek het dit baie geniet!

Groete aan elkeen

Hanlie

Friday, February 27, 2009

Besig met voorbereiding vir Everest Basecamp



Op 23 April 2009 gaan ek saam met 16 ander vreemde mense Khatmandu toe in Nepal om Everest Basecamp toe te klim. Ek gaan saam met Sean Wisedale. Hy is die eerste Suid Afrikaner wat al sewe hoogste pieke op die sewe kontinente kon klim. Ek ken niemand in die groep nie, maar dit maak my eerder opgewonde as bekommerd. Ek het nog altyd maklik met nuwe mense om gegaan. Op die oomblik lees ek alles wat ek in die hande kan kry oor Nepal en die Everest Berge. Ek soek goeie "bargains" vir al die klere en toerusting wat nodig is en pas my geleende donsbaadjie aan in 40 grade celsuis in Stellenbosch! Ek kan amper nie glo dat ek iewers binnekort koud genoeg sal kry om hierdie en veel ander lae klere aan te trek nie.

Vir oefening klim ek drie keer per week Botmaskop in Stellenbosch saam met vriende en loop oor naweke 'n langer ent. More-aand wil ek en 'n pel weer Botmaskop uit.


Verlede naweek het ek saam met die Bergklub in Stellenbosch (Teuns Kok as leier) en nege wonderlike en interessante mense gaan disas soek in Jonkershoekberge. Ons is die Panorama roete uit en het afgedraai Victoria Peak toe. Teuns ken die berg baie goed en ons het "bundu bashing" gedoen in 'n rivierloop af en die mooiste en meeste disa's gesien wat ek nog ooit in my hele lewe aanskou het. Daar was aangrypende koningsprotea's ook op die spyskaart. Dit was 'n fees.

Amper reg vir die Argus

Hierdie is my 13de jaar wat ek die Argus gaan ry. Wat begin het as 'n "dare' tussen pelle het 'n instelling geword. Ek het al twaalf keer op my eie nommer gery met my beste tyd van 3:39 met 'n bergfiets. maar toe was ek baie fikser as nou. Hierdie jaar gaan ek gelukkige 13 doen. En as dit my meer as 5 ure vat, is dit ook goed. Ek gaan die pad geniet en veral Chapman's Peak. Dis 'n voorreg om hierdie pragtige roete saam met 40 000 mede-fietsryers met 'n fiets te kan ry. Ek het vandag, as deel van my werk, met 76 fisiese gestremdes gesels. Ek was opnuut dankbaar dat ek gesond is en kan fietsry. Dit het my laat dink aan die spreekwoord: "Ek het gehuil omdat ek nie skoene het nie, toe sien ek iemand wat nie voete het nie." Ek sal volgende Sondag op my fiets sit en net wanneer ek wil begin kla (gewoonlik nog lank voor Smitswinkel) sal ek onthou van die 76 mense wat alles sou gee om nou hier te kan sit. En ek sal glimlag en my gate uit geniet! Vir elkeen wat gaan saamry... geniet elke oomblik.