Saturday, October 12, 2024

Nog fotos en ervarings van Frankryk

 Ons is nou terug in La Chappelle in Mauzens-et-Miremont. Die uitstappie na Domme en La Roque was fantasties. 

Hier is nog ‘n paar fotos en ervarings uit Frankryk:

Vanoggend stap ons gou die klein markie in Domme se dorpsplein. Die winkeltjies maak laat oop. Die een eers 11:00. Europa het ‘n baie duidelike kultuurverskil tussen winter en somer. Die somerseisoen is verby en almal gaar hout en kos op vir die winter. Almal maak reg om te hiberneer. 

Ek het gedink die spanjaarde is erg, maar die Franse siesta net so lekker of selfs meer. Alles is toe tussen 12:00 en 14:00. 

Net in die twee weke wat ek hier is, beleef ek duidelik hoe dit later en later lig word soggens. Winter is oppad. 

In Frankryk praat mense Frans. Niks anders nie. Maar hulle is vriendelik en tegemoetkomend en op ‘n manier verstaan ons mekaar. Ek het ‘n hele paar Franse woorde geleer en dit help. Uitspraak en spelling het NIKS met mekaar te doen nie. 

Die chips in Frankryk het interessante geure. Ons hou die meeste van Mutard (mosterd). Regtig lekker!

In my hele twee weke in die suide van Frankryk het ek nie een keer op ‘n reguit snelweg gery nie. Klein kronkelende teerpaadjies tussen baie bome met verkeersirkels is algemeen. Aanwysings is duidelik en maklik. In die meeste dorpsgebiede is die spoedbeperking 30-50 km/uur. Die mense ken van rustig wees. 

Ek besef net weereens die waarde van ‘n betroubare, veilige en netjiese publieke vervoerstelsel. Dis iets wat SA dringend nodig het. Christa het my vanoggend in die pikdonker om 05:40 afgelaai by Perigueux se Sentrale Stasie. Ek vat die 6:05 trein na Bordeaux. Die trein vertrek stiptelik 6:05, is blinkskoon en ek was nie vir een oomblik bang nie. Vandaar vat ek die 30 min direkte bus na Bordeaux Lughawe vir 8 Euro. Vanoggend se trein was 25 Euro en 80 sent. Ek vlieg via Frankfurt en beplan om ‘n paar uur in die stad deur te bring. 

Die stasiegebou in Bordeaux met die lughawe bus. Ek moes vir Elna die presiese opklimplek aanstuur, want sy doen die trippie môre. Perigueux is 35 min se ry van La Chappelle. 

Vroegoggend voor die stasiegebou in Perigueu met my bagasie wat gereed staan. 

Koffie in Frankryk is meestal ‘n 30 ml espresso. Hierdie was ‘n wegneem een in La Roque.

Die aantal vliegtuie in Europa se lugruim is ontelbaar baie!

Ons espresso langs Domme se plein. 

Dis herfs in Dordogne! Hierdie is geneem in Rouffignac voor die Marié (Munisipaliteit). 

Die wat my goed ken, sal weet hoekom hierdie foto geneem is. 

Ek, Christa en Elna kruis die Camino roete in Perigueux. 

Die bakkery in La Bluce was fantasties. Toe ons gister weer daar kom is hulle toe en op die venster is geskryf dat hulle met vakansie is tot einde Oktober! 

Was ‘n wonderlike kuier by wonderlike mense op ‘n wonderlike plek. 



Wednesday, October 9, 2024

La Roque-Gageac

 Net gisteraand dink ek Domme moet die mooiste dorpie in die suide van Frankryk wees. Het ek maar geweet wat vandag sou inhou. Ons vertrek vroeg na La Roque-Gageac. Dis net 5 km weg. Ek gaan op ‘n bootrit na Castlenaud. Die res het dit al gedoen en stap een van die staproetes. 







La Roque is prentjiemooi! Ek geniet die bootrit op die Norbert verskriklik baie. Ons sien ook mooi reiers en kolmorante. 





In 1957 het dit uitsonderlik koud geword -20, en het die rivier gevries. Toe val ‘n groot stuk van die boonste rots op die dorp en verwoes 11 huise. 3 mense is dood ook. 



Ons maak piekniek op die oewer van die Dordogne. 


Die nuwe VW Touran. Dit is volop in Europa maar VW SA het besluit om dit by ons te staak. Beste voertuig wat ek ooit gehad het. As enigeen met invloed in VW hier lees… bring die Touran terug SA toe!!! 



Tuesday, October 8, 2024

Domme, Perigord, Frankryk




Omtrent ‘n uur se ry suidoos van Mauzens-et-Miremont  lê die pragtige dorp van Domme. Dit is in 1207 gestig. Ons kon net nie genoeg fotos neem vandag nie. Elke gesig is onthoubaar. Ons ry eers tot by ons Gite (Jeet - gastehuis) en los ons gehuurde motor daar. Dan vaar ons die dorpie in. Nie baie groot nie, maar baie skuins. Ons vergaap ons aan die uitsig oor die Dordogne-riviervallei en die Domme-grotte. 












Ons kry middagete by ‘n plaaslike restaurant en probeer ‘n plaaslike bier. 





Kaart van die dorp. Alles in Frans. 


Vandag ry ons verby die afdraaipad na Lalinde. Dis ‘n dorpie tussen Bourdeaux en Perigueux. Ook ‘n toerisme-dorpie met ‘n mooi kerk. 



Soos ek hier sit en skryf, speel Elna en Christa monopoly in frans. Google translate speel saam.