Tuesday, April 10, 2012

New York op steroids...

My grootste vrees vanaand is dat julle sal dink ek oordryf as ek julle van Singapore vertel. Genugtig! Wat 'n stad! Ek het vir ses ure die stad ingevaar en 13 457 tree gestap. My meeste sover vir enige dag op my toer. Ek kon net nie stop nie. Ek was al in 'n paar wereldstede in my lewe en tot dusver was Washington DC, London, New York, Parys, Toronto, Seattle, Chicago en Boston hoog op my lys. Maar kyk, hierdie is soos New York op steroids. Hoe kan ek dit verduidelik?

Hier is 'n vibe in die lig wat elektries en aansteeklik is. Daar is energie en lewe in elkeen wat ek sien. Ek het vandag baie daaroor gedink en ek dink die weste is in vir 'n verrassing! Die hoofstad van die wereld gaan baie binnekort in die Ooste wees en nie die Weste nie. Dis vir my so helder soos daglig. "Die oes is groot en die arbeiders min..." Want die lewe in die mense is nie noodwendig die LEWE nie.

Hulle treine is maklik om te kry en te ry en baie veilig en uiters skoon en netjies. Die mense hier is gesofistikeerd en eerste werelds. Ek stap van my hotel af so sewe blokke na die Kallang MRT (Mass Rapid Transport) stasie en koop 'n driedagpas vir 20 SD. Mens kan dit ook op die busse en monorail gebruik.

Van Kallang af sit ek af hawe toe om eers die grootste attraksie in SP te gaan kyk, naamlik die Sands Skypark. Dis 'n baie funny gebou met drie sluise wat bo-op verbind is met 'n boot! Hier is geen tekort aan argiteksvryheid nie en ek verkyk my. Toe ons bo kom, slaan daar 'n heerlike donderstorm uit. Als is watersopnat, maar heerlik koel. Ek wys graag vir julle fotos met 'n paar beskrifte, dan sal julle beter verstaan.

NS: En daar laat weet Choppie my sowaar dat hy ook more verjaar en dat ons ons verjaarsdae kan vier as ek hom gaan opsoek in Hong Kong.

Fotos:


Hulle noem dit Marina Bay Sands. Dis in hulle waterfront. Marina Bay Sands is 'n hotel wat bestaan uit drie suile wat verbind is bo met 'n ding wat soos 'n boot lyk. Op die voorste punt is die Sands Sky Park en dis waar ek was. Mens gaan op met 'n lift en kan mooi fotos van bo af neem oor die stad. Ek het 'n nice video geneem met my (nuwe) selfoon. Die funny wit gebu links is die Art Science Museum. Die hotel het 'n convention centre, casino, binnehuise waterkanale waarop bootjies vaar, 'n teater, 'n event plaza, cristal pavilions, 'n ysskaatsbaan, baie winkels en baie restaurante in. Ek het my vergaap!


Binne in die Marina Bay Sands is hierdie "water feature". Van buite af lyk dit soos 'n reuse glas slaaibak en as jy binne kom, sien jy die water swaai soos 'n reuse brander daarin rond en val deur die dak. Onder is 'n dam waarop bootjies roei (dis die draaipunt van die bootjies wat in die waterkanale deur die winkelsentrum vaar!)



In 2010 is die Youth Olympics in Singapore gehou. By hulle waterfront is 'n hele plantasie bome geplant met 'n bordjie van elke land in wie se eer die spesifieke boom geplant is. Ek het my omtrent vrek gestap om ons s'n te soek. En dit gekry!


Die finansiele hub van Singapore hawe. Daar is 'n PWC ook.


Park kuns!

Ek en 20 000 "Singapoere" in die ondergrondse trein. Die ander 20 000 staan voor die deur as die trein stop en druk om in te kom. As mens hier engte vrees het, sal dit nag raak!


Dis hoe mens weet 'n stad kan WARM word. Oral in die waterfront staan hierdie publieke waaiers.


Die volgende drie fotos is geneem van bo van die skypark af:




Daars 'n hele sokkerveld in die hawe. Ek is bly ek hoef nie die bal te gaan soek as die 'goalie' hom misgevang het nie.

Ek ontmoet twee Sweedse mense bo in die skypark. Ons staan saam onder die afdak en wag dat die donderstorm verbytrek. Die oom vra of ek van Duitsland af kom. Toe hy hoor ek is van SA se hy hulle was al daar. En hy beduie vir my met wild swaaiende hande van die wind in PE wat hulle deurstaan het en dat hulle die tweede oggend by mespunt beroof is van al hul geld en kamera. Ek het maar namens ons president en alle inwoners van SA omverskoning gevra en ek het so mooi as moontlik vir hom probeer verduidelik dat as mens nou een keer SA toe kom vir 'n kort rukkie, dan is PE nou nie die plek van eerste keuse nie! Hy en sy vrou is beide liries oor China se mense en natuurskoon.  Hulle was al in die Guilin vallei waar ek en Lean gaan fietsry van 1 - 7 Mei 2012 en hulle se dit is fantasties en iets om na uit te sien.

Ek moet myself maan: Een dag op 'n slag!

Baie dankie vir almal se e-posse en sms'e. Julle maak dat ek voel ek toer saam met almal van julle. Dankie daarvoor. Ek kry vandag nog 'n stukkie slegte nuus van Michelle. Een van my geliefde vorige raadslede, Sophia Gordon, is oorlede. Ek en Jo was op 11 Maart 2012 nog by haar 80ste verjaarsdag. Sy is in haar slaap oorlede. Michelle stel dit baie mooi: Ons is op geleende tyd.

Ek lees tans 'n baie goeie boek oor die tweede helfde van ons lewens. Dis vir 40 plussers geskryf en gaan oor die sprong van suksesvol na 'significant'. Sophia het juis so 'n mooi toespraak gemaak op haar verjaarsdag oor hoe sy haar lewe vir 'significance' gelewe het in die gemeenskap.

Mag ons almal 'n verskil maak daar waar ons is! Ek hier en julle daar!

Lief vir julle
Hanlie


Monday, April 9, 2012

Skoon, skoner, skoonste!

Nee, kyk, so iets het ek nog nooit gesien nie. Sover het alles in Singapore my nog net beindruk. Ons het 'n baie goeie vlug gehad en ek vind ook uit dat my "boarding pass" vir my vir sewe dae in die stad allerhande afslag beteken. Van toegang na plekke tot hulle "hop-on-hop-off" bus wat ek more oggend 09:00 tot more-aand 21:00 gaan vat.

Ek het by die venster gesit en kon pragtige foto's neem. Die eerste een is die opstyg in Kuala Lumpur. Twee tot vier is Singapore. Kyk al die bote in SP hawe!





Ek gaan maklik deur doeane en kry my tas. Nou soek ek vervoer! Ek wil nie met my tas op die treine sukkel nie en dit het begin reen hier. Ek sien die aanwysings vir "shuttle to city" en is aangenaam verras. Dit kos 9SD (R63) en vat my tot reg voor my hotel. Die drywer dra nog my tas ook gratis. (Daar het vanoggend 'n klein wonderwerk gebeur. Ek het my Malaysian Ringgat gaan omruil vir SD op die lughawe. Net voor my in die ry staan 'n man en hy laat val 50 malaysian sent. Ek tel dit vir hom op en gee dit vir hom. Toe ek voor kom, vra die man of ek nie dalk nog 50 sent het nie, want dan kan hy vir my 9 SD gee en nie net agt nie. Ek is toe dadelik spyt dat ek so eerlik was en nie die 50 sent gehou het nie. Ek skud my kop en hy besluit hy gee wel vir my 9 SD en nie net agt nie. Ek het net 21 MR gehad. Toe het ek die totaal van 9 SD in my besit en sowaar is dit die regte bedrag vir die transport!

Die hotel is cheap maar goed genoeg. Ek spandeer die minimum op verblyf, want ek is nooit in my kamer nie. Die kamer is piepklein, maar goed. En ek kry elke dag 24 uur per dag gratis wifi toegang. Wat wil ek meer he?

Nou gaan ek die strate verken! Sterkte vir almal terug by die werk na Paasnaweek! Dankie Petrus vir die sms en Corne vir al jou hulp met admin stuff. Dis moeilik om niemand se nommers te he nie.

Regte, egte earl grey tee: Van sy ma af!


10 April 2012

Na my derde beker sterk, goeie suiwer engelse earl grey tee by die Plaza Lounge op KL lughawe, is ek gereed vir die dag. Die ooste weet net mooi niks van Earl Grey tee nie. Ek en Corne het orals in Thailand gesoek en een klein pakkie Twinings Earl Grey (baie flou) in ‘n winkel gesien vir R50! In Malaysia het hulle nog nooit daarvan gehoor nie. As ek ooit eendag hier moet bly, sal ek my eie fabriek moet begin of invoer vanaf die UK. Maar vanoggend s’n is super, eersteklas, wonderlike earl grey tee asof die ‘earl’ homself hier langs my sit. Heerlik!

Ek is oppad Singapore toe. My vlug is eers 10:25 en ek moet 09:40 deur C3 aanboord gaan. Maar ek is reeds 05:30 by die hotel weg. Hoekom weet ek nie, want die verkeer in Malaysia en KL word so goed gereguleer en hulle publieke vervoer is in ‘n ander klas as wat ek al gesien het. Daar is duisende taxi’s wat almal skoon, netjies, goedkoop en met vriendelike bestuurders nie kan wag om jou op te laai nie. Vanoggend se taxi was dieselfde. Jy kom skaars buite die hotel, dan stop die eerste een. Almal werk streng volgens die meter en 7 Ringgat is die minimum. My trip vanaf die hotel tot by die sentrale stasie was 21 Ringgat. (20 minute se ry) Dit sluit ‘n diensfooi en ekstra fooi in omdat my tas meer as 20 kg weeg. Jip, my tas is 23,5 kg. Ek het op 17,8 kg begin in Johannesburg. Het al amper 5 kg se persente gekoop!

Vanaf die sentrale stasie in KL vat mens die KLIA Express na die lughawe. Dis 100 km, maar die trein doen dit in net 28 minute sonder om iewers te stop. Ons kan baie by hulle leer. Die treine en busse en taxi’s is hiper skoon, niemand rook nie. Wat my die meeste beindruk op KL lughawe is hoe goed alles gemerk is, presies op die plek waar jy dit wil sien. Die persoon (seker ‘n vrou!) wat dit uitgedink het, het baie common sense gebruik. Mens weet heeltyd presies waarheen om te gaan.

Ek het gisteraand heelwat navorsing gedoen op die internet oor Singapore. Die Malaysiers se dat Singapore baie duur is. Dit klink vir my mense sukkel om bekostigbare vervoer daar te kry, maar ek sal sien as ek daar kom. Ek het 'n paar tree om in te haal, nadat die hitte in Malaysia my na taxi's laat gryp het. Daar is ‘n City Shuttle vanaf die lughawe wat nie te duur is nie. Die Singapore dollar is 80 sent teen die US dollar en daarom vir ons omtrent 6,5 tot 7 rand op elke SD. Bloedgeld!

Sover op my lys van goed wat ek wil sien, is Sentosa Island, Marina Bay, en Sands Skypark (dis die gebou wat op drie torings staan en bo verbind is met iets wat soos ‘n skip lyk). Wat hulle nie nog alles sal uitdink nie. Hulle het ook ‘n orgidiee tuin, botaniese tuin en ‘n voelpark, maar ek dink ek het dit nou gesien. Blykbaar is Singapore se aquarium baie goed. Singapore is nog nader aan die ewenaar en ja ek is ewe naar as ek daaraan dink dat ek nog warmer gaan kry. Ek sien vanoggend op die KLIA Express se weerberig dat dit net 16 grade maksimum in China is en net 12 grade maksimum in Japan. Ek kan doen met 'n ligte koeltetjie!

Vir die Wellingtonners: Ek het vir Choppie Chamberlain opgespoor. Hy bly nou in Hong Kong en ek gaan hom opsoek as ek daar is. Hy het al sy besonderhede vir my gestuur en ek sien uit na ‘n kuier in afrikaans. Hy se hy bly al 7 jaar daar en het sy eie konsultatsie besigheid. Gelukkig is ek oor 'n naweek in HK, so dit sal kan inpas in sy skedule. Lekker!

Nou moet ek my laaste draai gaan loop voor ek moet vlieg. Die vlug na Singapore is net 'n uur, so ek is nou-nou daar. Barend, baie dankie vir die fotos en lekker brief. Dit was so lekker om van jou te hoor.

Groete aan almal. Mag die tweede kwartaal vir almal baie geseend wees.
Ek mis julle.
Hanlie

My beste dag nog op die toer!

Hallo almal. Baie dankie vir almal se terugvoer en sms'e. Ek waardeer dit meer as wat ek hier kan verduidelik. Vandag was fantasties. Ek is vroeg weg uit die hotel na 'n veel beter en stiller ontbyt. Ek het nou al geleer "stil" in die Ooste beteken die afwesigheid van 120 chinese.

Ek is per taxi eerste na die voelpark by Lake Gardens in Kuala Lumpur. My vriendin Annetjie het bevestig dat sy en haar ma ook 'n paar jaar terug daar was en dit is die moeite werd! En was dit nie! Wow, ek het dit so baie geniet. Vir 45 minute was dit net ek en 3000 voels (meer as 200 verskillende soorte). Dit is 'n massiewe area van 21 hektaar wat toegespan is onder net ("The Worlds largest free-flight walk in aviary"). Ek was eerste in by die hek toe dit 9 uur oopmaak en vir eers alleen. Mens sien glad nie die net van binne af nie en dit voel of jy in 'n oop park stap en voels soek en KRY! Ek het die mooiste fotos geneem van baie snaakse en nuwe voels. Die enigste voels wat by ons ook is, is die volstruis en 'n paar ooievaars en flamink. Miskien 'n paar ander. Van die voels het ek nog nooit in my lewe gesien nie. Die Malay uiltjie links onder in die hoek van die collage was my gunsteling.



Die voelpark self is ook baie mooi en dit was so lekker om die stilte en koelte van die oggend te geniet.




Maar na 45 minute stop daar toe vyf skoolbusse en storm daar troppe 10 - 13 jariges die park binne. Hulle skree, gil, hardloop, druk en jaag al die voels op hol en terug in hul gate. Die Tannie was nie lus daarvoor nie. Net daar maak ek soos beesmis en val in die pad. Ek stap verby die skoenlapper park (lyk effens verwaarloos) en deur die Botaniese Tuin.

Ek het laas in 1997 so gevoel toe ons gesin in Disney World in Florida, VSA was. Jy kan net nie glo wat jou oe sien nie. Na 'n halfuur wil jy iewers gaan vra of jy asseblief kan betaal, want dis onmoontlik dat hulle al hierdie wonderlike goed vir jou gratis kan wys!

Dis op die oomblik hulle orgidiee skou in die tuin en die hele stad het sy blinkste baadjie aan omdat hulle nuwe koning Woensdag ingelyf word. Ek hoor vanoggend by die taxi bestuurder dat dit Woensdag hier 'n openbare vakansiedag is. Die rede: 11 April is die nuwe koning se verjaarsdag! Hys in goeie geselskap!

Wat ek die meeste van die park geniet is die feit dat jy van die vloere af kan eet. Ek het werklik nog nie in my lewe 'n skoner stad as KL gesien nie. Singapore sal moet uithaal en wys.




Na ure in die botaniese tuin en heerlike rondstap en waardeer wat my oe sien, vat ek 'n taxi na die Manera toring. Dit is hulle telkom toring en mens kan opgaan tot op die 2de hoogste vlak (observation deck) op 250 meter. Heelbo is die restaurant. Toe ek daar kom het hulle 'n middagete special vir RM88 en ek koop dadelik 'n kaartjie. Dan gaan jy op in die toring en eet in 'n draaiende 360 grade restaurant! Wat 'n bargain. Nogal 'n buffet met sushi en alles. Waarde vir geld.



Ek is so uitgehonger vir slaai en groente dat ek baie gesond eet. Tot groentesop ook. Ek eet ook dennepitte en dink terug aan standerd 6 toe Fifi my leer dennepitte eet het op hulle plaas in die Agter-Paarl. Daar is olywe, parmesaan kaas, gewone internasionale kosse en natuurlik Malayse spesialiteite om van te kies. Die interessantste ding is 'n goudgeel waatlemoen. Dit smaak net soos ons waatlemoen, maar is helder geel. (Foto)

Ek sien vandag hoe die mans in Malaysia mekaar groet. Hulle skud met die regterhand, maar hulle voorste vier vingers is omgekrul waarmee hulle die ander persoon se hand vasvat (nie plat palm soos by ons nie). Dan begin beide stadig hulle hand terugtrek en bring elkeen sy hand terug na sy ken totdat die duimkussing die ken raak. Dit gebeur terwyl beide mekaar in die oe kyk. Nogal mooi om te sien. Dit verskaf 5 - 10 sekondes wat die partye mekaar in die oe kyk. Ek het dit gesien toe ek by die Memorial was van hul tweede eerste minister, Tun Abdul Razak. Hy het in Malaysia regeer van 1970 - 1976. Hulle was duidelik baie mal oor hom, want 'n groot gedeelte van Lake Gardens word gewei aan 'n memorial area vir hom.



Miskien sal dit nog beter met ons in SA gaan as ons tyd maak om mekaar so te groet en aandag te gee aan die persoon wat jy groet. Dit laat my dink aan die fliek Avatar, waar hulle mekaar gegroet het met die woorde: ek sien jou!

Vanaand is my laaste aand in Malaysia. More-oggend vat ek 'n take-away ontbyt om 05:30 en kry 'n taxi na KL Central (waar my foon gesteel is) en dan klim ek op die KLIA Express terug na die lughawe. My vlug is net na 10:00.

Mag julle almal 'n wonderlike einde van Paasnaweek he en veilig terugreis na julle huise. Ek het gister so lekker gesels per e-pos met Blyda Hotnannas, Annetjie, Esme, Elmarie, Corne, Christa, Andre en Stephan en Carina in Japan. Dankie julle! Dit laat my voel asof ek nie alleen toer nie. Dankie vir almal se baie positiewe terugvoer oor my blog! Ek is bly julle geniet dit.

Lief vir julle
Hanlie


Sunday, April 8, 2012

Opstandingssondag in KL

Gister was nie vir my lekker nie.

Vandag kan ek terugkyk en my verwonder oor hoe vinnig 'n mens broos en pateties kan raak in 'n vreemde land tussen vreemde mense en vreemde tale as iets slegs met jou gebeur. Ek het die grootste deel van gisteraand omgehuil oor my gesteelde selfoon en toe vanoggend baie vroeg opgevlieg en my poffertjie oe uitgewas en klaargemaak! Genoeg is genoeg! Ek is op my wereldtoer wat ek vir jare beplan het. Dit sal meer as 'n gesteelde selfoon kos om my nog een dag te laat mors... There is places to see and people to meet!

Soos so baie keer tevore in my lewe, weet ek dat die enigste manier om vry te kom van so iets wat oor en oor en oor in jou kop afspeel, is om die dief en myself onmiddellik te vergewe en te seen in die naam van Jesus Christus. Dis al manier. Ek moes dit die afgelope tyd baie doen en hoe meer mens dit oefen, hoe makliker raak dit. Probeer dit gerus. Die haat en seer en pyn val soos 'n wet suit van mens af! En dit werk elke keer. En deur te vergewe se 'n mens nie dat dit wat die oortreder gedoen het reg is nie.

Vanoggend se ontbyt was 'n grap, want daar was 'n toerbus van ongeveer 120 chinese (of so het dit gevoel) wat saam met my by die eetsaal opgedaag het. Ek moes voor 7 in die twin towers se ry staan om 'n kaartjie te kon kry en toe los ek maar ontbyt. Oppad uit besluit ek om darem 'n gekookte eier en 'n snytjie brood te vat, want dis my enigste ete vir die dag! So gese, so gemaak. Min wetende dat dit 'n rou eier is wat hulle op die bedieningstafel neersit! Gelukkig was ek naby 'n asblik toe ek hom oopbreek.

Niemand kan mens voorberei vir die Petronas Twin Towers nie! Dit is absoluut asemrowend. Natuurlik nie die hoogste gebou ter wereld nie, die is in Dubai en staan op 828 meter. Die Petronas is die hoogste twin gebou in die wereld en is 452 meter bo straatvlak.


 Kyk hoe mooi klou ek my handsak!



Die kaartjiekryery was nogal 'n ding! Toe ek 7 uur daar kom, staan daar al 91 mense in die ry. Daar is net 400 kaartjies op 'n Sondag (gewoonlik 800) en ek panic, want hulle is op Maandae toe en dan sal ek dit nie weer kan doen nie, want ek vlieg vroeg Dinsdagoggend Singapore toe. Na 'n uur in die ry stap 'n man in uniform van voor af en vra almal hoeveel kaartjies hulle wil he. Daar is toer operateurs ook, maar 6 kaartjies is die maksimum wat iemand kan vat. Ek maak die cut en kry 'n nommer 92! Nou het jy 'n nommer en hulle stuur die res van die tou huis toe om op 'n ander dag weer te probeer.

Nou wag ons en dan gaan die deure om 08:30 oop en moet jy in die ry wag vir 'n spesifieke kaartjie en tyd om te gaan. Die gewilde tye vlieg en toe ek voor kom is daar 1 kaartjie oor voor 15:00! Toe vat ek hom vir die 11:15 trip! Gistermiddag het dit gereen teen 16:00 en dan is die uitsig verby. Die uitsigte was pragtig en ek ontmoet wonderlike mense van die UK en hulle kinders (wat binnekort Botswana toe immigreer). Die vrou stel my voor aan haar dogter asof hulle Paarl toe trek. Vir iemand in die UK is Botswana seker Paarl.

Na die trip op in die toring, gaan soek ek vir my 'n nuwe selfoon. Die lewe gaan aan. Vandag ry en nie weer trein nie. Die taxi's is duurder, maar gister se "goedkoop" trein het my R7000 gekos aan 'n foon! So in daardie sin is enige taxi steeds 'n bargain. My nuwe "pay as you go" foon se nuwe nommer vir nou is: 0192971087. Met die landskode is dit 00 60 19297 1087.  Kan almal van julle asb vir my 'n sms stuur na hierdie nommer en asb jou naam onderaan sit sodat ek jou nommer kan he. (Ivan, jy hoef nie bekommerd te wees nie, jou iphone ekstra laaier is nog veilig in my tas, hy was gelukkig nie op my foon nie) Ek sien uit om van julle te hoor!

Die res van die dag het ek rondgeloop. 10426 tree later is ek deur die Central Market, die parlements-gebou en Merdeka Square, hulle plaaslike sondagmark en elke park en fontein wat ek langs die pad kon sien. KL is ongelooflik skoon vir 'n groot stad. Hulle tuine en fonteine is besonders en tot hulle straatlampe is versier. Hulle nuwe koning word Woensdag 11 April op my verjaarsdag ingelyf en die stad is besig om voorbereidings te tref daarvoor.


Central Market

Parlementsgebou

Merdeka Square



Nou groet ek eers. Onthou ons Here leef! Hy het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan. Elsje, die dagstukkie boekie wat jy my gegee het, is vir my goud werd. Die stuk by vandag is presies dieselfde woord wat Corinne my gegee het vir my trip: "I called a peculiar people to make known My Name." Ons wat Christus ken moet uitstaan en anders wees.

Mag ons almal die moed he om saam met Christus op te staan vandag! Ek weet ek het.

Saturday, April 7, 2012

Kuala Lumpur: 'n Stad van uiterstes

Ek weet nie eers waar om te begin om iets oor KL te se nie.

Voor 4 uur vanmiddag wou ek vir julle vertel dat KL die stad is wat die 6de meeste besoekers per jaar kry. Dis een van die skoonste stede wat ek al gesien het, tropies groen, baie skoon, vriendelike mense, ongelooflike hoe en mooi moderne geboue. Voor 4 uur wou ek julle vertel dat ek 'n fantastiese dag gehad het. Ek is vroeg weg by my kamer op die lughawe (KLIA Concordia Inn) en na 'n heerlike ontbyt het ek die KLIA Express gevat stad toe. Die lughawe is 100 km buite die stad en die express trein doen dit in 28 minute!

Voor 4 vanmiddag sou ek nou vir julle die pragtige dvd gelaai het wat ek geneem het. Gelukkig het my hotel my tien uur al laat inboek in my kamer en ek het net neergesit en is Petronas Twin Towers toe. Amptelik die hoogste twin-gebou in die wereld! Dit is 451,9 meter hoog. Hulle laat net 800 mense per dag toe om in die gebou op te gaan en vandag was ek te laat. Ek sal more gaan. Ons moet 7uur begin toustaan om 'n kaartjie te kry. Ek sal more-oggend 'n teksi (ja hulle spel dit so) vat net na 'n vroee ontbyt.  Die linkerkanste toring is vol van die wonderlikste winkels denkbaar. Elke groot naam in die wereld het 'n winkel daar. As ek nou terugdink onthou ek: Levi, Harrods, Marks and Spencer, Guggi en vele vele meer. Ek het gaan fliek net om twee ure lank in aircon te wees en 'n mooi love story, romantic comedy van Julia Roberts gekyk: mirror, mirror. Dis die moderne weergawe van sneewwytjie en die sewe dwergies. Daarna is ek na die Aquarium in die Petronas Torings. Wow! Wat 'n belewenis. Ek het soveel mooi dvd's geneem met my selfoon om vir julle te wys. Dit was voor 4 uur vandag.

En 4 uur vanmiddag steel iemand my Iphone S4 uit my handsak uit op KL Sentral underground. Dit was ongelooflik vinnig. Ek moet seker bly wees dit was nie my beursie of my kamera nie! Maar ek was so kwaad (is eintlik nou nog!) Hulle kondig die hele tyd af: wees versigtig vir pick pockets en ek kom van SA af. Ons klou aan ons goed meer as enigiemand anders, maar hulle is so vinnig en slim en uitgeslape. Daar was duisende mense in die underground en ek het niks gevoel nie. Net tien minute later gesien my foon is weg. Ek besluit nog wat ek aan die saak moet doen. Op die oomblik kan ek niks doen nie, want Ashley my verskaffer is op paasnaweek. Ek sal vir hom 'n mail stuur.

Laat vanmiddag is ek na die Batu Caves. Dit is baie hoog op in die berg en ek moes 391 trappies klim op en weer 391 trappies af. Nou is ek mooi fiks vir more se Twin Towers. Hulle is 88 verdiepings!

Bid asb steeds vir my veiligheid en my eiendom. Ek haat dit as mense my goed steel, want ek pas my goed mooi op. Dit beteken ek het nou nie meer 'n foon waar julle my kan kontak nie. Ek sal laat weet as ek 'n ander plan kon maak.







Verder gaan dit goed met my. Die internet tegnikus wat my in my kamer kom help het om toegang tot die hotel se wifi te kry, vra wraggies of hulle net my selfoon gesteel het. Ek begin toe sommer huil en vra of dit nie erg genoeg is nie. Hy het so sleg gevoel dat ek nou hierdie op komplimentere wifi tik. Die standard express kamer wat ek geboek het sien nie baie mense wat wifi gebruik nie en ek sit nou letterlik voor my badkamertjie langs die deur van my kamer om die sein te kan opvang. 'n Boerin maak 'n plan!

Friday, April 6, 2012

Veilig in Kuala Lumpur

Malaysia hier kom ek! Die vlug was baie lekker. Ons was so min mense in die vliegtuig dat ons elkeen meer as 'n ry vir onsself gehad het en amper 'n kelner net vir jouself. Terwyl ek eet het hulle drie glasies koeldrank by my kom neersit en met sulke "asb tog ons het dit klaar geskink" gesiggies na my gekyk. Ek help graag. Die trippies toilet toe en terug is goed vir die bloedsomloop. Ons vlug was 1 uur en 50 minute vanaf Bangkok. Ek kon wraggies die hoogste twin gebou in die wereld uit die vliegtuig sien en wil dit baie graag in die volgende drie dae gaan klim. Hy is mooi verlig in die aand en dit sal 'n pragtige uitsig oor die hele stad gee.

Die kokkerotte in die hotel se gratis shuttle vanaf die lughawe het my bietjie senuweeagtig gehad oor die stand van die hotel, en ek het maar besluit om my kontaklense uit te haal soos wat ons in die army gemaak het as ons op vreeslike plekke moes slaap. Maar ek was verniet bekommerd. Die kamer is pragtig. Dis nou 23:55 plaaslike tyd en ek is klaar gestort met 'n koppietjie tee in die hand. Ek gaan nou kyk wat hulle kabel TV oplewer. Hulle kragpunte lyk heeltemal anders en ek sal eers more so een moet kry voor ek weer my rekenaar kan gebruik.


Malaysia is heelwat nader aan die ewenaar as Phuket en dis wraggies heelwat warmer hier as daar! Ek het nie gedink dis moontlik nie. Teen 23:00 vanaand was dit nog 30 grade celsius! Die van julle wat my goed ken sal weet dat ek maklik warm kry. So hier loop ek nou maar van aircon na aircon. Vanaand in die vliegtuig vee ek net sweet af (dankie Elna vir die pakkie lappies!) en sowaar daar vra die chinese vrou langs my vir 'n Thai Air kombersie! Ek het amper 'n floute gekry. Nou weet ek nie hoe warm China gaan wees nie, maar duidelik is hierdie vir Chinese koud!

Op Kuala Lumpur lughawe staan ek vir die gratis shuttle en wag van die KLIA Concordia Inn en daar bederf die Here my met 'n pragtige 'couple' wat langs my staan en wag en met my begin gesels. Hy is Europees en sy van die Filipyne. Hulle bly nou in Singapore vir 5 jaar al, maar hy het eers in Wes-Afrika gebly en gereeld in Johannesburg gekom vir werk. Hy kan selfs 'n paar sinne in Afrikaans uitkry. Ek vra sommer vir hulle wat ek moet sien in Singapore en waar ek moet bly. Hulle se my hotel in die rooi lig distrik is pragtig en glad nie 'n probleem nie. Wel, ek het hom klaar gekanselleer. Hulle stem gelukkig saam dat die een wat ek nou het beter is.

Hoop elkeen van julle geniet die vakansie en paasnaweek. Laat weet asb hoe dit met julle gaan. Stuur mail na hanlinde@gmail.com Dit sal erg waardeer word.

Lief vir julle
Hanlie

VIP lounge Bangkok lughawe

Nou sit ek en Corne ewe grand in die VIP lounge op Bangkok lughawe. Ek board oor 'n uur en Corne vele ure later. Sy vlieg terug Johannesburg toe en ek na Malaysia. Ek is 22:20 vanaand in Kuala Lumpur. Ek het die Priority Pass by ABSA gekry en is nou baie bly. Ons drink druiwesap en groen koejawelsap en eet kaas toebroodjies.

Ons vlug vanaf Phuket was 1 uur en 5 minute en ons kon baie mooi deur die venster sien. Corne het amper 50 fotos vanuit die vliegtuigvenster geneem en neem my nou af waar ek sit en tik. Die mense agter ons dink ons is niks gewoond nie. Ons is nie!

Nou begin my wereldtoer eintlik eers... Nou gaan ek alleen deur die wereld toer. Toe ek nou my rekenaar aansit het ek 'n baie lang brief van my ma gekry en was ek vir 'n oomblik baie lus om saam met Corne op die vlug na SA te klim! Maar nee, ek moet sterk wees en aangaan. Ek het te lank hieraan beplan. Ek sal okay wees.

Mag elkeen van julle 'n baie geseende paasfees he.
Baie liefde
Hanlie

Thursday, April 5, 2012

Laaste dag in Phuket

Jip, alle goeie dinge kom ook tot 'n einde... Gelukkig begin my wereldtoer nou eers en gaan ek aan na Malaysia en Singapore. Corne gaan terug. Dit was so lekker om my sussie hier in Phuket te he. Ons het dit baie geniet. As ek terugdink oor die afgelope 9 dae, wil ek graag die volgende oor Thailand se:

Hulle ken die Here Jesus Christus glad nie. Soos in heeltemal nog nooit van so iets gehoor nie. Vanoggend is Paas Vrydag en as dit nie was dat ek dit in e-posse van die huis af gehoor het nie, sou mens dit nooit se nie. Daar is wel 'n Gideon's bybel in ons hotelkamer in engels en thai. Hier is geen kriminele aktiwiteite nie. Jy kan jou sak, beursie, sonbril, kamera en als wat jy besit net so op die strand los en gaan swem en ure later terugkom en niks is weg nie! Ek mis dit in SA!

Gister het ek 'n slot vir my tas gaan soek, want Thai air het myne afgebreek met die kom slag, maar hulle ken glad nie so iets nie. Ons het in 9 dae nie een bedelaar gesien nie. Almal het werk, want almal het inisiatief en maak iets, verkoop iets of doen iets! Dis heerlik.

Hulle musiek sluit baie bamboes blaasinstrumente in wat soos panfluit en blokfluit klink. Die mense is vriendelik en baie onderdanig en nederig. Dis warm! Humied, met groot donderstorms. Die eiland is baie meer bergagtig as wat ek my voorgestel het.


Nou het ons ons laaste ontbyt geeet en geswem by Peach Blossom. Nou gaan ons stort en pak, want ons taxi kry ons 12:15 oppad lughawe toe. Ek vlieg 15:35 na Bangkok en weer 19:10 vanaf Bangkok na Malaysia. Vanaand 10:15 is ek daar! (Op die foto sit ek in die restaurant langs die swembad my blog en skryf.)

Ek se vanoggend vir Corne: ons doen sekerlik iets verkeerds dat ons so warm kry. Hier sit ons en die sweet tap ons af; elke paar minute duik ons eers weer in die swembad en langs ons in die eetsaal sit 'n arabiese oom met 'n dik tulband om sy hele kop. Daar is ook 'n tannie met 'n lemmetjiegroen wolmus op. Hulle moet van baie warmer plekke af kom. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek raai net die hel is warmer as hier...


Wednesday, April 4, 2012

Thaise kookkuns


4 April 2012

Haar naam is Kelly. Sy is piepklein en het eers ‘n gastehuis bestuur. Nou gee sy kookklasse en vandag het ek een by haar gehad! Ek het besluit om in soveel lande as moontlik ‘n kookklas te neem. Thailand se kos is besonder geurig en hulle gebruik soveel meer speserye as ons. Sekerlik ook die Malayse invloed.

Sy kom laai my op by die hotel om 13:45. Haar kookskool is in Kata Noi. Dis net langs ons deel van Kata en beteken "die nuwe gedeelte" van Kata. Haar assistent is Sammy. Ek leer om drie tradisionele disse te maak: green curry, tom yum en pad thai. Die laaste een is my gunsteling. Sy begin deur vir my al die resepte te gee en ek moet dit eers deurlees. Ek doen en ons begin. Sy wys my al die bestanddele en dis nogal nodig, want hulle gebruik ander goed as wat ons ken. Ek kook ook vir die eerste keer met tofu en leer hoe om dit reg te gebruik. Dis verbasend lekker as mens weet hoe.

Tom Yum is ‘n sop en daar kom suurlemoen blare in wat hulle “kaffir lime leaves” noem. Toe sy hoor ek is van SA se sy dadelik dat ek dit nie so kan noem nie, maar net moet praat van lime leaves. Duidelik was daar al SAners by haar kookklasse. Ek leer baie. Hulle kook in ‘n “wak” (ronde tregtervormige pot) op lae hitte. Die disse is vinnig. Ons gebruik vandag eiervrug, spruit bone en garlic chives en gemengde groente. Die eiervrug hier is klein groen goedjies wat meer herinner aan 'n albino skorsie met 'n sagter skil. Hulle gemengde groente kom in ‘n pakkie en lyk soos duitse “sour crout”. Als kry coconut melk of carnation melk in om die speserye af te koel. Sy gooi een lepel carnation melk in die green curry en vra of ek kan sien hoe romerig dit is! As sy maar weet wat ons in SA romerig noem! Hulle eet baie gesonder as ons.

Op die foto van die disse is dit kloksgewys van links bo af green curry, tom yum en pad thai in daardie volgorde:






Coriander en Cumin saadjies is ook baie gewild. Sy droog dit op haar stoep. Sonkrag is hier volop! Die snaakste spesery wat sy gebruik wat ek nog nooit gesien het nie, is Galangal. Dit lyk soos ‘n vars gemmerwortel, maar smaak heel anders. Sy laat my proe en ek begin dadelik onbeheers nies vir seker 10 – 12 keer. Sterk! Ek kry ‘n sjef hoed en koop ‘n voorskoot by Kelly, want haar patroon is anders en baie meer prakties. Ek vat al die kos in verseelde plastieksakkies terug hotel toe dat Corne my kan help eet en alles proe.

Corne het intussen ‘n “fruit carving” klas by die hotel gedoen en dit ook baie geniet. Sy leer om tamaties, komkommer en spanspek pragtig te versier. Van nou af sal sy alle vrugteborde vir elke Linde saamkuier moet voorberei! Sy kry ook die carving knife ingesluit en ‘n mooi sertifikaat!



Die aand loop ons rond in Kata Noi en soek ‘n lekker restaurant op die see. Ons is lus vir pizza. Almal swem nog in die warm water en ons besluit om dit ook more-aand (ons laaste aand hier) te doen. Ons kry ‘n baie besonderse restaurant onder ‘n massiewe boom en op die see. Daar is ‘n oom en tannie by die tafel langs ons wat sjampanje drink en mens kan sien die tannie maak ‘n mooi (lang) toespraak en toe die oom. Ons spekuleer dat hulle seker 50 jaar getroud is. Ek gaan bied aan om vir hulle ‘n foto te neem van die geleentheid en was skaars terug by ons tafel toe staan die oom daar met ‘n groot Toblerone Switserse sjokolade om vir my dankie te se. Dis die tannie se 71ste verjaarsdag. Hyself is 73. Hulle is van Switserland en het dit baie waardeer dat ek hulle kom afneem het. 





Terug in die kamer kry ek ‘n boodskap van Hannelie Lategan (oud kollega) en e-pos van Birgit. Albei dra slegte nuus. Hannelie laat my weet dat ‘n kollega van my wat in my direktoraat gewerk het, Charmaine Moses, skielik oorlede is. Sy was jonger as ek! Birgit laat weet dat sy ‘n vriend van haar in Singapore gemail het en vertel het van my wat daar gaan wees en dat hy en sy gesin hulle oor my moet ontferm. Sy noem die naam van my hotel en hy laat weet dat dit nie ‘n goeie keuse is nie. Dis in die middel van ‘n rooi lig distrik en ‘n hotel wat by die uur uitgehuur word. Oeps! Ek sal more-oggend dringend kanselleer en ‘n ander blyplek soek. Dankie Luke en Birgit vir die waarskuwing! Gelukkig kan ek nog tot 7 April 2012 kanselleer met volle terugbetaling.

Nog ‘n heerlike dag is agter die rug! Ons het nog net een vol dag oor en sal dit maksimaal benut. My gedagtes is by Charmaine se familie. Ons lewe is kort en ons moet die tyd wat ons oor het optimaal benut en goed wees vir mekaar en ander.