Sunday, April 8, 2012

Opstandingssondag in KL

Gister was nie vir my lekker nie.

Vandag kan ek terugkyk en my verwonder oor hoe vinnig 'n mens broos en pateties kan raak in 'n vreemde land tussen vreemde mense en vreemde tale as iets slegs met jou gebeur. Ek het die grootste deel van gisteraand omgehuil oor my gesteelde selfoon en toe vanoggend baie vroeg opgevlieg en my poffertjie oe uitgewas en klaargemaak! Genoeg is genoeg! Ek is op my wereldtoer wat ek vir jare beplan het. Dit sal meer as 'n gesteelde selfoon kos om my nog een dag te laat mors... There is places to see and people to meet!

Soos so baie keer tevore in my lewe, weet ek dat die enigste manier om vry te kom van so iets wat oor en oor en oor in jou kop afspeel, is om die dief en myself onmiddellik te vergewe en te seen in die naam van Jesus Christus. Dis al manier. Ek moes dit die afgelope tyd baie doen en hoe meer mens dit oefen, hoe makliker raak dit. Probeer dit gerus. Die haat en seer en pyn val soos 'n wet suit van mens af! En dit werk elke keer. En deur te vergewe se 'n mens nie dat dit wat die oortreder gedoen het reg is nie.

Vanoggend se ontbyt was 'n grap, want daar was 'n toerbus van ongeveer 120 chinese (of so het dit gevoel) wat saam met my by die eetsaal opgedaag het. Ek moes voor 7 in die twin towers se ry staan om 'n kaartjie te kon kry en toe los ek maar ontbyt. Oppad uit besluit ek om darem 'n gekookte eier en 'n snytjie brood te vat, want dis my enigste ete vir die dag! So gese, so gemaak. Min wetende dat dit 'n rou eier is wat hulle op die bedieningstafel neersit! Gelukkig was ek naby 'n asblik toe ek hom oopbreek.

Niemand kan mens voorberei vir die Petronas Twin Towers nie! Dit is absoluut asemrowend. Natuurlik nie die hoogste gebou ter wereld nie, die is in Dubai en staan op 828 meter. Die Petronas is die hoogste twin gebou in die wereld en is 452 meter bo straatvlak.


 Kyk hoe mooi klou ek my handsak!



Die kaartjiekryery was nogal 'n ding! Toe ek 7 uur daar kom, staan daar al 91 mense in die ry. Daar is net 400 kaartjies op 'n Sondag (gewoonlik 800) en ek panic, want hulle is op Maandae toe en dan sal ek dit nie weer kan doen nie, want ek vlieg vroeg Dinsdagoggend Singapore toe. Na 'n uur in die ry stap 'n man in uniform van voor af en vra almal hoeveel kaartjies hulle wil he. Daar is toer operateurs ook, maar 6 kaartjies is die maksimum wat iemand kan vat. Ek maak die cut en kry 'n nommer 92! Nou het jy 'n nommer en hulle stuur die res van die tou huis toe om op 'n ander dag weer te probeer.

Nou wag ons en dan gaan die deure om 08:30 oop en moet jy in die ry wag vir 'n spesifieke kaartjie en tyd om te gaan. Die gewilde tye vlieg en toe ek voor kom is daar 1 kaartjie oor voor 15:00! Toe vat ek hom vir die 11:15 trip! Gistermiddag het dit gereen teen 16:00 en dan is die uitsig verby. Die uitsigte was pragtig en ek ontmoet wonderlike mense van die UK en hulle kinders (wat binnekort Botswana toe immigreer). Die vrou stel my voor aan haar dogter asof hulle Paarl toe trek. Vir iemand in die UK is Botswana seker Paarl.

Na die trip op in die toring, gaan soek ek vir my 'n nuwe selfoon. Die lewe gaan aan. Vandag ry en nie weer trein nie. Die taxi's is duurder, maar gister se "goedkoop" trein het my R7000 gekos aan 'n foon! So in daardie sin is enige taxi steeds 'n bargain. My nuwe "pay as you go" foon se nuwe nommer vir nou is: 0192971087. Met die landskode is dit 00 60 19297 1087.  Kan almal van julle asb vir my 'n sms stuur na hierdie nommer en asb jou naam onderaan sit sodat ek jou nommer kan he. (Ivan, jy hoef nie bekommerd te wees nie, jou iphone ekstra laaier is nog veilig in my tas, hy was gelukkig nie op my foon nie) Ek sien uit om van julle te hoor!

Die res van die dag het ek rondgeloop. 10426 tree later is ek deur die Central Market, die parlements-gebou en Merdeka Square, hulle plaaslike sondagmark en elke park en fontein wat ek langs die pad kon sien. KL is ongelooflik skoon vir 'n groot stad. Hulle tuine en fonteine is besonders en tot hulle straatlampe is versier. Hulle nuwe koning word Woensdag 11 April op my verjaarsdag ingelyf en die stad is besig om voorbereidings te tref daarvoor.


Central Market

Parlementsgebou

Merdeka Square



Nou groet ek eers. Onthou ons Here leef! Hy het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan. Elsje, die dagstukkie boekie wat jy my gegee het, is vir my goud werd. Die stuk by vandag is presies dieselfde woord wat Corinne my gegee het vir my trip: "I called a peculiar people to make known My Name." Ons wat Christus ken moet uitstaan en anders wees.

Mag ons almal die moed he om saam met Christus op te staan vandag! Ek weet ek het.

Saturday, April 7, 2012

Kuala Lumpur: 'n Stad van uiterstes

Ek weet nie eers waar om te begin om iets oor KL te se nie.

Voor 4 uur vanmiddag wou ek vir julle vertel dat KL die stad is wat die 6de meeste besoekers per jaar kry. Dis een van die skoonste stede wat ek al gesien het, tropies groen, baie skoon, vriendelike mense, ongelooflike hoe en mooi moderne geboue. Voor 4 uur wou ek julle vertel dat ek 'n fantastiese dag gehad het. Ek is vroeg weg by my kamer op die lughawe (KLIA Concordia Inn) en na 'n heerlike ontbyt het ek die KLIA Express gevat stad toe. Die lughawe is 100 km buite die stad en die express trein doen dit in 28 minute!

Voor 4 vanmiddag sou ek nou vir julle die pragtige dvd gelaai het wat ek geneem het. Gelukkig het my hotel my tien uur al laat inboek in my kamer en ek het net neergesit en is Petronas Twin Towers toe. Amptelik die hoogste twin-gebou in die wereld! Dit is 451,9 meter hoog. Hulle laat net 800 mense per dag toe om in die gebou op te gaan en vandag was ek te laat. Ek sal more gaan. Ons moet 7uur begin toustaan om 'n kaartjie te kry. Ek sal more-oggend 'n teksi (ja hulle spel dit so) vat net na 'n vroee ontbyt.  Die linkerkanste toring is vol van die wonderlikste winkels denkbaar. Elke groot naam in die wereld het 'n winkel daar. As ek nou terugdink onthou ek: Levi, Harrods, Marks and Spencer, Guggi en vele vele meer. Ek het gaan fliek net om twee ure lank in aircon te wees en 'n mooi love story, romantic comedy van Julia Roberts gekyk: mirror, mirror. Dis die moderne weergawe van sneewwytjie en die sewe dwergies. Daarna is ek na die Aquarium in die Petronas Torings. Wow! Wat 'n belewenis. Ek het soveel mooi dvd's geneem met my selfoon om vir julle te wys. Dit was voor 4 uur vandag.

En 4 uur vanmiddag steel iemand my Iphone S4 uit my handsak uit op KL Sentral underground. Dit was ongelooflik vinnig. Ek moet seker bly wees dit was nie my beursie of my kamera nie! Maar ek was so kwaad (is eintlik nou nog!) Hulle kondig die hele tyd af: wees versigtig vir pick pockets en ek kom van SA af. Ons klou aan ons goed meer as enigiemand anders, maar hulle is so vinnig en slim en uitgeslape. Daar was duisende mense in die underground en ek het niks gevoel nie. Net tien minute later gesien my foon is weg. Ek besluit nog wat ek aan die saak moet doen. Op die oomblik kan ek niks doen nie, want Ashley my verskaffer is op paasnaweek. Ek sal vir hom 'n mail stuur.

Laat vanmiddag is ek na die Batu Caves. Dit is baie hoog op in die berg en ek moes 391 trappies klim op en weer 391 trappies af. Nou is ek mooi fiks vir more se Twin Towers. Hulle is 88 verdiepings!

Bid asb steeds vir my veiligheid en my eiendom. Ek haat dit as mense my goed steel, want ek pas my goed mooi op. Dit beteken ek het nou nie meer 'n foon waar julle my kan kontak nie. Ek sal laat weet as ek 'n ander plan kon maak.







Verder gaan dit goed met my. Die internet tegnikus wat my in my kamer kom help het om toegang tot die hotel se wifi te kry, vra wraggies of hulle net my selfoon gesteel het. Ek begin toe sommer huil en vra of dit nie erg genoeg is nie. Hy het so sleg gevoel dat ek nou hierdie op komplimentere wifi tik. Die standard express kamer wat ek geboek het sien nie baie mense wat wifi gebruik nie en ek sit nou letterlik voor my badkamertjie langs die deur van my kamer om die sein te kan opvang. 'n Boerin maak 'n plan!

Friday, April 6, 2012

Veilig in Kuala Lumpur

Malaysia hier kom ek! Die vlug was baie lekker. Ons was so min mense in die vliegtuig dat ons elkeen meer as 'n ry vir onsself gehad het en amper 'n kelner net vir jouself. Terwyl ek eet het hulle drie glasies koeldrank by my kom neersit en met sulke "asb tog ons het dit klaar geskink" gesiggies na my gekyk. Ek help graag. Die trippies toilet toe en terug is goed vir die bloedsomloop. Ons vlug was 1 uur en 50 minute vanaf Bangkok. Ek kon wraggies die hoogste twin gebou in die wereld uit die vliegtuig sien en wil dit baie graag in die volgende drie dae gaan klim. Hy is mooi verlig in die aand en dit sal 'n pragtige uitsig oor die hele stad gee.

Die kokkerotte in die hotel se gratis shuttle vanaf die lughawe het my bietjie senuweeagtig gehad oor die stand van die hotel, en ek het maar besluit om my kontaklense uit te haal soos wat ons in die army gemaak het as ons op vreeslike plekke moes slaap. Maar ek was verniet bekommerd. Die kamer is pragtig. Dis nou 23:55 plaaslike tyd en ek is klaar gestort met 'n koppietjie tee in die hand. Ek gaan nou kyk wat hulle kabel TV oplewer. Hulle kragpunte lyk heeltemal anders en ek sal eers more so een moet kry voor ek weer my rekenaar kan gebruik.


Malaysia is heelwat nader aan die ewenaar as Phuket en dis wraggies heelwat warmer hier as daar! Ek het nie gedink dis moontlik nie. Teen 23:00 vanaand was dit nog 30 grade celsius! Die van julle wat my goed ken sal weet dat ek maklik warm kry. So hier loop ek nou maar van aircon na aircon. Vanaand in die vliegtuig vee ek net sweet af (dankie Elna vir die pakkie lappies!) en sowaar daar vra die chinese vrou langs my vir 'n Thai Air kombersie! Ek het amper 'n floute gekry. Nou weet ek nie hoe warm China gaan wees nie, maar duidelik is hierdie vir Chinese koud!

Op Kuala Lumpur lughawe staan ek vir die gratis shuttle en wag van die KLIA Concordia Inn en daar bederf die Here my met 'n pragtige 'couple' wat langs my staan en wag en met my begin gesels. Hy is Europees en sy van die Filipyne. Hulle bly nou in Singapore vir 5 jaar al, maar hy het eers in Wes-Afrika gebly en gereeld in Johannesburg gekom vir werk. Hy kan selfs 'n paar sinne in Afrikaans uitkry. Ek vra sommer vir hulle wat ek moet sien in Singapore en waar ek moet bly. Hulle se my hotel in die rooi lig distrik is pragtig en glad nie 'n probleem nie. Wel, ek het hom klaar gekanselleer. Hulle stem gelukkig saam dat die een wat ek nou het beter is.

Hoop elkeen van julle geniet die vakansie en paasnaweek. Laat weet asb hoe dit met julle gaan. Stuur mail na hanlinde@gmail.com Dit sal erg waardeer word.

Lief vir julle
Hanlie

VIP lounge Bangkok lughawe

Nou sit ek en Corne ewe grand in die VIP lounge op Bangkok lughawe. Ek board oor 'n uur en Corne vele ure later. Sy vlieg terug Johannesburg toe en ek na Malaysia. Ek is 22:20 vanaand in Kuala Lumpur. Ek het die Priority Pass by ABSA gekry en is nou baie bly. Ons drink druiwesap en groen koejawelsap en eet kaas toebroodjies.

Ons vlug vanaf Phuket was 1 uur en 5 minute en ons kon baie mooi deur die venster sien. Corne het amper 50 fotos vanuit die vliegtuigvenster geneem en neem my nou af waar ek sit en tik. Die mense agter ons dink ons is niks gewoond nie. Ons is nie!

Nou begin my wereldtoer eintlik eers... Nou gaan ek alleen deur die wereld toer. Toe ek nou my rekenaar aansit het ek 'n baie lang brief van my ma gekry en was ek vir 'n oomblik baie lus om saam met Corne op die vlug na SA te klim! Maar nee, ek moet sterk wees en aangaan. Ek het te lank hieraan beplan. Ek sal okay wees.

Mag elkeen van julle 'n baie geseende paasfees he.
Baie liefde
Hanlie

Thursday, April 5, 2012

Laaste dag in Phuket

Jip, alle goeie dinge kom ook tot 'n einde... Gelukkig begin my wereldtoer nou eers en gaan ek aan na Malaysia en Singapore. Corne gaan terug. Dit was so lekker om my sussie hier in Phuket te he. Ons het dit baie geniet. As ek terugdink oor die afgelope 9 dae, wil ek graag die volgende oor Thailand se:

Hulle ken die Here Jesus Christus glad nie. Soos in heeltemal nog nooit van so iets gehoor nie. Vanoggend is Paas Vrydag en as dit nie was dat ek dit in e-posse van die huis af gehoor het nie, sou mens dit nooit se nie. Daar is wel 'n Gideon's bybel in ons hotelkamer in engels en thai. Hier is geen kriminele aktiwiteite nie. Jy kan jou sak, beursie, sonbril, kamera en als wat jy besit net so op die strand los en gaan swem en ure later terugkom en niks is weg nie! Ek mis dit in SA!

Gister het ek 'n slot vir my tas gaan soek, want Thai air het myne afgebreek met die kom slag, maar hulle ken glad nie so iets nie. Ons het in 9 dae nie een bedelaar gesien nie. Almal het werk, want almal het inisiatief en maak iets, verkoop iets of doen iets! Dis heerlik.

Hulle musiek sluit baie bamboes blaasinstrumente in wat soos panfluit en blokfluit klink. Die mense is vriendelik en baie onderdanig en nederig. Dis warm! Humied, met groot donderstorms. Die eiland is baie meer bergagtig as wat ek my voorgestel het.


Nou het ons ons laaste ontbyt geeet en geswem by Peach Blossom. Nou gaan ons stort en pak, want ons taxi kry ons 12:15 oppad lughawe toe. Ek vlieg 15:35 na Bangkok en weer 19:10 vanaf Bangkok na Malaysia. Vanaand 10:15 is ek daar! (Op die foto sit ek in die restaurant langs die swembad my blog en skryf.)

Ek se vanoggend vir Corne: ons doen sekerlik iets verkeerds dat ons so warm kry. Hier sit ons en die sweet tap ons af; elke paar minute duik ons eers weer in die swembad en langs ons in die eetsaal sit 'n arabiese oom met 'n dik tulband om sy hele kop. Daar is ook 'n tannie met 'n lemmetjiegroen wolmus op. Hulle moet van baie warmer plekke af kom. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek raai net die hel is warmer as hier...


Wednesday, April 4, 2012

Thaise kookkuns


4 April 2012

Haar naam is Kelly. Sy is piepklein en het eers ‘n gastehuis bestuur. Nou gee sy kookklasse en vandag het ek een by haar gehad! Ek het besluit om in soveel lande as moontlik ‘n kookklas te neem. Thailand se kos is besonder geurig en hulle gebruik soveel meer speserye as ons. Sekerlik ook die Malayse invloed.

Sy kom laai my op by die hotel om 13:45. Haar kookskool is in Kata Noi. Dis net langs ons deel van Kata en beteken "die nuwe gedeelte" van Kata. Haar assistent is Sammy. Ek leer om drie tradisionele disse te maak: green curry, tom yum en pad thai. Die laaste een is my gunsteling. Sy begin deur vir my al die resepte te gee en ek moet dit eers deurlees. Ek doen en ons begin. Sy wys my al die bestanddele en dis nogal nodig, want hulle gebruik ander goed as wat ons ken. Ek kook ook vir die eerste keer met tofu en leer hoe om dit reg te gebruik. Dis verbasend lekker as mens weet hoe.

Tom Yum is ‘n sop en daar kom suurlemoen blare in wat hulle “kaffir lime leaves” noem. Toe sy hoor ek is van SA se sy dadelik dat ek dit nie so kan noem nie, maar net moet praat van lime leaves. Duidelik was daar al SAners by haar kookklasse. Ek leer baie. Hulle kook in ‘n “wak” (ronde tregtervormige pot) op lae hitte. Die disse is vinnig. Ons gebruik vandag eiervrug, spruit bone en garlic chives en gemengde groente. Die eiervrug hier is klein groen goedjies wat meer herinner aan 'n albino skorsie met 'n sagter skil. Hulle gemengde groente kom in ‘n pakkie en lyk soos duitse “sour crout”. Als kry coconut melk of carnation melk in om die speserye af te koel. Sy gooi een lepel carnation melk in die green curry en vra of ek kan sien hoe romerig dit is! As sy maar weet wat ons in SA romerig noem! Hulle eet baie gesonder as ons.

Op die foto van die disse is dit kloksgewys van links bo af green curry, tom yum en pad thai in daardie volgorde:






Coriander en Cumin saadjies is ook baie gewild. Sy droog dit op haar stoep. Sonkrag is hier volop! Die snaakste spesery wat sy gebruik wat ek nog nooit gesien het nie, is Galangal. Dit lyk soos ‘n vars gemmerwortel, maar smaak heel anders. Sy laat my proe en ek begin dadelik onbeheers nies vir seker 10 – 12 keer. Sterk! Ek kry ‘n sjef hoed en koop ‘n voorskoot by Kelly, want haar patroon is anders en baie meer prakties. Ek vat al die kos in verseelde plastieksakkies terug hotel toe dat Corne my kan help eet en alles proe.

Corne het intussen ‘n “fruit carving” klas by die hotel gedoen en dit ook baie geniet. Sy leer om tamaties, komkommer en spanspek pragtig te versier. Van nou af sal sy alle vrugteborde vir elke Linde saamkuier moet voorberei! Sy kry ook die carving knife ingesluit en ‘n mooi sertifikaat!



Die aand loop ons rond in Kata Noi en soek ‘n lekker restaurant op die see. Ons is lus vir pizza. Almal swem nog in die warm water en ons besluit om dit ook more-aand (ons laaste aand hier) te doen. Ons kry ‘n baie besonderse restaurant onder ‘n massiewe boom en op die see. Daar is ‘n oom en tannie by die tafel langs ons wat sjampanje drink en mens kan sien die tannie maak ‘n mooi (lang) toespraak en toe die oom. Ons spekuleer dat hulle seker 50 jaar getroud is. Ek gaan bied aan om vir hulle ‘n foto te neem van die geleentheid en was skaars terug by ons tafel toe staan die oom daar met ‘n groot Toblerone Switserse sjokolade om vir my dankie te se. Dis die tannie se 71ste verjaarsdag. Hyself is 73. Hulle is van Switserland en het dit baie waardeer dat ek hulle kom afneem het. 





Terug in die kamer kry ek ‘n boodskap van Hannelie Lategan (oud kollega) en e-pos van Birgit. Albei dra slegte nuus. Hannelie laat my weet dat ‘n kollega van my wat in my direktoraat gewerk het, Charmaine Moses, skielik oorlede is. Sy was jonger as ek! Birgit laat weet dat sy ‘n vriend van haar in Singapore gemail het en vertel het van my wat daar gaan wees en dat hy en sy gesin hulle oor my moet ontferm. Sy noem die naam van my hotel en hy laat weet dat dit nie ‘n goeie keuse is nie. Dis in die middel van ‘n rooi lig distrik en ‘n hotel wat by die uur uitgehuur word. Oeps! Ek sal more-oggend dringend kanselleer en ‘n ander blyplek soek. Dankie Luke en Birgit vir die waarskuwing! Gelukkig kan ek nog tot 7 April 2012 kanselleer met volle terugbetaling.

Nog ‘n heerlike dag is agter die rug! Ons het nog net een vol dag oor en sal dit maksimaal benut. My gedagtes is by Charmaine se familie. Ons lewe is kort en ons moet die tyd wat ons oor het optimaal benut en goed wees vir mekaar en ander.

Tuesday, April 3, 2012

Reen, reen lieflike reen!

Vanoggend toe ons wakker word is die wereld sopnat rondom ons. Uiteindelik na die drukkende hitte van vyf dae bars donderstorms, blitse en baie tropiese reen uit. Waar ek nou sit en tik in die Peach Blossom restaurant kyk ek uit op berge en palmbome, maar al wat ek kan sien is 'n gordyn van water. As dit hier reen REEN dit hoor! Nou verstaan ons hoekom daar twee sambrele in die kamer was. Dit sous! Maar dit is so welkom en koel dat ons dit baie geniet. Als wat ons vandag wil doen is onderdak, so die reen sal ons nie pla nie. Ek het bespreek vir 'n Thai cooking class by die Cooking School in Kata. Hulle kom my by die hotel oplaai om 13:45. Corne wil 'n "fruit carving" klas doen wat hier in ons hotel aangebied word deur die sjef van Peach Blossom Restaurant. Dit lyk ongelooflik en sy sal 'n kerf mes en sertifikaat kry na die tyd.

Maar laat ek julle eers van die afgelope twee dae vertel. Dit was ongelooflik!

2 April 2012

‘n Lui-lekker dag by die hotel...

Vandag doen ons niks nie. Geen mens kan teen ons spoed aanhou toer vir meer as 5 dae nie en vandag geniet ons die talle swembaddens en fasiliteite van die hotel. Hier is vier swembaddens by ons hotel en twee restaurante. Ons trek sommer swembroeke onderaan ontbyt toe en geniet ontbyt by die Peach Blossom Restaurant by die boonste deel van die hotel. Dis ook hier waar ons die gratis wifi kry. (Foto)


Die personeel sit die jacuzzi spuite in die swembad aan en dit raak al hoe lekkerder. (Foto) Later is ons voos geswem en klaar met die son en sit af na ons aircon kamer toe om te gaan rus. Ons gaan vanaand saam met Heather eet. Sy het op ons toer na Phi Phi eiland gese sy gee nie om om alleen te toer nie, maar aandetes is vir haar sleg, so nou kuier ons saam met haar. Sy kies ‘n restaurant naby aan haar hotel waar sy ook die vorige aand baie lekker geeet het en ons is "game". Ons begin 17:30 al wandel om haar 19:30 te kry, want dit is uiters warm en humied en ons wil stalletjie vir stalletjie loop en tussenin by elke mini mark inloop vir aircon.

Ons kom ook af op ‘n plaaslike 'food fair' en selfs nog snaakser groente, vrugte en gediertes. Op die foto sal julle die kokkerotte sien wat hulle eet. Ek kan dit nie glo nie. Ons sien en proe ook nuwe snaakse vrugte waarvan hulle nie ‘n engelse naam het nie en die thaise naam onuitspreekbaar is vir ons. Ons koop twee flieks langs die pad: Iron Lady en Money Ball vir R15 elk (60 baht). Dis definitief afgetape en vals, maar ons kan nou nie langer thaise TV uitstaan nie. Ons het selfs ‘n stukkie van “shrek” en “friends” in ‘n swak thaise vertaling besigtig!





Dis lekker om vir Heather te sien. Sy het per ongeluk in die son aan die slaap geraak en is seer gebrand. Ons stap na Mama Restaurant en alles lyk wonderlik. Ons bestel twee voorgeregte elk en deel als om alles te proe.  Thaise kos is regtig lekker. Ons doen ook Vietnamese spring rolls en witwyn van Chili. Daar is twee wit wyne op hulle hele spyskaart. Die een van Chili (Ramirana Sauvignon Blanc) en ‘n Douglas Green van SA. Corne vra vir die kelner hoe die SAse wyn smaak en sy is heel eerlik deur te se sy weet glad nie, maar die Chili een is lekker. Ons oortuig haar toe dat SAse wyn wonderlik is en dat sy dit enige tyd kan aanbeveel. Sy voel toe baie sleg toe sy hoor ons is van SA...

Die ander geregte was Thai satay pork (met grondboontjiebotter sous), gemengde vleis voorgereg met vis, vark en hoender, Larb Gai, Andaman Seafood Salad en Rosti Sandwich. Daar is ook ‘n gratis slaai buffet om jouself by te help. Hulle is groot op komkommer. Nie ons engelse komkommers nie, maar daai regte komkommers wat ons geet het as kinders. Dis regtig lekker. Vir nagereg doen ons Banana Fritters (die beste!), Bua Loi Num Khing en Crepes Suzette. Die onuitspreeklike een in die middel is sesame dumplings in gemmer sous. Nogal okay as jy verby die slymgevoel gekom het. Die hele ete, alles ingesluit van wyn tot nagereg kos ons R125 elk. Heather het aangedring om die wyn te betaal want Australiese dollar is 26 baht op elke dollar terwyl ons maar 4 vir ‘n rand kry! (Fotos)











Ons vind dit snaaks dat daar geen aircon in die restaurant is nie, net ‘n waaier of twee, maar die klein badkamertjies het groot aircons in. Raai hoeveel keer moes ons ‘n draai loop net om te oorleef?

Oppad terug geniet ons die naglewe in die straatjies. Dis baie veilig hier en alles is baie laat oop. Dis so warm dat almal laag le in die dag tot omtrent 18:00 en dan begin alles weer lewe.

Heather werk vir ‘n Australiese telekommunikasie maatskappy wat fokus op die Ooste. Sy moet in haar werk daagliks met China, Japan, Singapore en Malaysia skakel en deel met ons haar ervarings van die Ooste. Wat ek glad nie geweet het nie, is dat Australie Japan sien as hul naaste groot ekonomie en daarom leer die kinders in skole in Australie Japanees as tweede taal. Ons leer ook van die Australiese kultuur en hul uitkyk op die wereld. Dis baie interessant.

3 April 2012

“Ko kung ka!” Dit beteken "hallo" in Thai en dis wat hoe 'n vrou groet. 'n Man se weer iets anders.

Vandag was die beste nog! Ons was terug op Win Chawin se taxi vir die hele dag en het in Chalong en Rawai (spreek uit: Lawaai) gaan rondloop. Vandag ry Heather ook saam met ons. Haar ma kom more-aand Phuket toe om nog 5 nagte saam met haar te toer en vandag is ons laaste kuier saam. Haar ma kom vir ‘n vriendin se 50ste verjaarsdag. Dis hoe die Australianers dit doen!

Ons eerste stop vanoggend is ‘n uitkykpunt oor Kata baai. Dis pragtig. Daar is ‘n vrou wat ‘n see-arend aanhou en mens betaal 100 baht (R25) om hom op jou arm te laat sit. Hier is amper geen werkloosheid hier nie, want almal verkoop iets, of dit nou ‘n olifantrit, ‘n arendvryf, ‘n tradisionele stukkie kos of wat ook al is. Hulle is goeie entrepreneurs.






Daarna stop ons by die olifant-ritte en voer die klein olifantjies met piesangs. Daar is twee peuter olifante. Die kleintjie wat ons voer is een jaar oud en baie cute. Hy blaas deur sy neus as hy naby mens se gesig kom en julle kan self aan die uitdrukking op my gesig oordeel oor die resultaat! Van Corne wou hy sommer ‘n happie vat.

Chalong village is Win se tuisdorp en hy ken die area goed. Ons vereistes is maklik. Ons wil na die spa gaan, die tempel sien, die cashew neut fabriek besoek, iets eet en die uitkykpunte besoek. Die spa waarheen ons gaan is Tran Tara Spa en is baie grand, maar met beter pryse want Chalong is nie so op toeriste ingestel nie. Ons al drie kies dieselfde pakket en dit sluit in 30 minute in die stoomkamer en jacuzzi, 1 uur thai massering en 1 uur aromaterapie massering. Corne en Heather kies die Jasmyn olie terwyl ek vir die suurlemoen olie gaan. Ons word al drie in een kamer masseer deur drie maseuses. Hulle is regtig goed. Die Thai massering sluit ook rek en strek in en hulle klim letterlik bo-op jou om genoeg drukking toe te pas.

Ons het eers ‘n yskoue lappie en gemmertee in die voorportaal gekry en toe is ons begelei na die vroue ruskamer waar ons elkeen ‘n locker gegee is vir jou klere. Jy kry slippertjies en ‘n sarong om om te draai. Toe is ons na die stoomkamer vir 15 minute en die jacuzzi vir 15 minute. Ons moes noodgedwonge vinniger die jacuzzi verlaat as gevolg van ‘n Chinese inval, en toe is ons na ons massage kamer. Twee ure later en vry van enige stres is ons begelei na die teekamer waar ons heerlike gemmertee en alomteenwoordige pynappel en waatlemoen bedien is.





Toe is ons na die tempel in Chalong. Dis die grootste Buddiste tempel in Phuket en op die heel boonste vlak is ‘n snaakse glas sirkel waarvoor almal neerkniel. Ons vra in die motor vir Win en hy verduidelik dat dit een van Buddha se bene is wat hulle van Sri Lanka af gekry het nadat hy dood is. Nou aanbid almal dit. Die tempel is verguld deur en deur en oral kniel mense voor baie snaakse beelde. Ons was maar vinnig in en uit.




Toe vat Win ons na Lam Thalay Seafood Restarant op die see met ‘n uitsig op Lone Island.  Die naam beteken seebries en dis werklik koeler hier. Ons het net gesit toe sak daar ‘n heerlike bui reen uit. Ons bestel twee voorgeregte om te deel. Vark kaiings en garnale. Vir hoofgereg doen ek Garnale in ‘n heerlike Tamarind sous en Corne s’n is seekos stirfry in green curry met coconut melk bedien in ‘n coconut. Heather doen gestoomde vis wat heerlik gelyk het.

Toe kom die verrassing van die dag en ons besoek ‘n cashew neut fabriek. Ons was baie moeg en het nie veel verwag nie, maar wow! Buite in die tuin staan ‘n cashew boom met vrugte. Die lyk soos rooi en geel soet pepers met ‘n neut aan die bo-end. Elke vrug dra net een neut. Wanneer dit ryp is, breek ‘n vrou per hand elke neut oop en dan droog hulle dit en verwerk dit in allehande geure en produkte. Daar is tot sportdrankies, cocktails en cashewneutsap! Ons is elkeen met die nodige inkopies daar uit. Dit was baie interessant.