Monday, July 30, 2012

Ons Wellington-huis

Een van die baie voordele van werkloos wees is om tyd te he. Baie daarvan. Ek sit vanoggend en wag dat my hare droog word in die son. My gedagtes draal lui terug na my kinderjare. Seker om al die gedink oor die toekoms af te wissel.

Ek dink terug aan ons huis in Wellington. Voordat my ouers na 'n kleiner huis getrek het. Ons huis in Uitsig. Ek was 4 toe ons daar ingetrek het en het meer as 18 jaar daar gebly. Die prentjies vlieg voor my geestesoog verby. Daar was 'n baie groot boom in die agterplaas. Elna het haar arm gebreek toe sy klein was omdat sy oor een van die boom se wortels gestruikel het. So groot was hy. In my gedagtes het die agterplaas net bestaan uit die boom, die wasgoeddraad, 'n pakkamertjie agter ons garage, Bettie se toilet, 'n draad met 'n grenedella rankplant en 'n muur met gaatjies in waardeur ons die agterste bure se swembad kon sien. Agter ons het die Bothmas gebly. Danie Bothma was 'n stout klein seuntjie wat kon vloek soos 'n matroos. Partykeer het ons hom geterg net om sy stortvloed woorde te hoor. Sy sussie Erika is gereeld in haar kamer toegesluit in 'n poging om beter akademiese prestasie te verseker en ons was telkens getuie van haar ontsnappingspogings.

Tussen ons garage en die agterdeur was 'n prieel met wilde druiwe op. Ek kon die ou braaivleisplek gebruik om op die prieel te klim en kon lang ure op die garagedak deurbring as ek wou ontsnap van die gewoel. Natuurlik nie in die somer nie. Die sinkdak en Wellington se hitte het nie somerbesoekers toegelaat nie. Ons garagepad is geplavei. My Pa het een middag van die werk af gekom en begin bakstene le. Elke middag na werk het ons hom gehelp bakstene pak, sement aanmaak, toue span om die bakstene in reguit rye te kry. Later het ons die groen mos uit die skadukolle gekrap met 'n ou mes. Dit was ons huis...

Ons het twee badkamers gehad. Met vyf dogters klink dit meer as wat dit is. Ons het streng reels gehad oor hoe om die badkamer te gebruik, anders het al vyf nie betyds skool of kerk gehaal nie. As jy jou hare was, mag jy nie die deur sluit nie, want iemand anders moet kan inkom om tande te borsel of die toilet te gebruik. Vele Sondae moes ons oppad kerk toe oorbelle en grimering aansit.

Toe ek hoerskool toe is, wou ons so graag 'n swembad het. Almal in die buurt het reeds een gehad. Na erge onderhandelings is besluit: Ons sal self grawe. Moedig het ons begin en die hele doodloopstraat se omdraaisirkel gebruik om kleierige grond te bewerk. Dae later het my Pa 'n 'digger loader" laat kom om die projek in een seisoen af te handel. Ek onthou hoe ons aandetes van broodjies en vrugte by die swembad sou geniet. My eie matriekafskeid "after party" is by daai einste swembad gehou. My seuns klasmaats moes elke Vrydag hare-parade staan. Ek onthou 'n hele paar Donderdae aande wat Daan Spamer en Verlep gou hul hare in ons swembad kom natmaak het dat ek dit met die sker kan bykom!

Ons kombuis is uitgebrei en later weer uitgebrei om die tuisnywerheid bedrywighede te kan akkommodeer. As ek 'n rand kan he vir elke keer wat my Ma 'n pen gesoek het in die oggende, het ek nie nou sit en dink aan die verlede om nie te worry oor die toekoms nie. Haar naaldwerkkas was ook "off limits"vir ons. 'n Naaldwerksker mag net gebruik word om lap te knip! Maar die versoeking was telkens groter as die gehoorsaamheid.

Ons het 'n sitkamer gehad, maar net die klavier het gereeld daar gesit. Ons plek was die TV kamer. As dit dooi warm was soos net Wellington kan raak, het ons as gesin saam in die TV kamer voor die lugverkoeler geslaap. Daar was 'n ou platespeler wat die hele een kant voor die venster toegestaan het. Sondae middae het ek daar gaan le en met oorfone op Don Francisco geluister totdat die naald krap in die middel gly. Die TV kamer was ook die plek waar ons huisgodsdiens gehou het 06:45 voordat ons 07:00 by die deur uit is skool toe. As ek eerlik moet wees onthou ek meer hoeveel ons baklei het om betyds daar te wees as oor wat ons gelees het.

Nou's my hare droog en my gemoed vol. Lank lewe die familiehuis vol herinneringe!

Thursday, July 19, 2012

'n Mondvol en 'n hartvol

Gisteraand bly ek by my Santie-sussie se drie kinders in Kuilsrivier. Santie is in Gauteng vir werk en studie. Katriena het heerlike boontjiesop gemaak. Dis tyd vir sop-kluitjies soos my ma dit altyd gemaak het.

"Sulize, bring die resepteboek", roep ek. DIE RESEPTEBOEK is alombekend in ons hele familie. Elke dogter en kleinkind weet daarvan. My Ma het 'n paar jaar terug gaan sit en vir elkeen van haar 5 dogters al haar gunsteling resepte op rekenaar gesit, geprint en as geskenk gegee. Daar is als waarvoor ons as kinders oor en oor gevra het asook die groter familiewenners soos Ant Nolte se karringmelkbeskuit, Ouma Linde se vrugtekoek, Tannie Bessie se kaastert, Tannie Hannetjie se souttert en Mev Visser van Arcadia se growwe bruinbeskuit. Ek het mev Visser nog nooit ontmoet waarvan ek kan onthou nie. Ek was 4 jaar oud toe ons van Arcadia in Pretoria af getrek het Wellington toe, maar haar beskuit ken ek goed!

My Ma se geheime resep waarmee sy meer as 'n miljoen koeksisters vir 'n tuisnywerheid gebak het, is ook ingesluit. So ook die fudge en semelbeskuit resep waarmee ek elke vakansie as kind betaal het deur te help bak en brou vir Woeker en Woel in die Paarl teen ekstra sakgeld.

Elke familie het sulke resepte. Ek is seker joune ook. Dis daai resepte wat mens met geen vreemde sinvol kan deel nie, want dit bevat "die witlepel" hoogvol dit en "die bloubakkie" vol dat. My Ma het selfs vir Stilbaai so 'n boek gemaak om daar te gebruik. Dit was so gewild dat dit voete gekry het! Ons weet nou nog nie wie bak waar daarmee nie.

Elke resep in die boek roep ander herinneringe by my op. Katie Barnard se gemmerbier. Hulle was ons bure in Wellington en Tannie Katie is lankal oorlede. Tannie Huipie se melktert. Dis my Christa-sussie se skoonma en sy kan goed bak! Ek proe nou nog die melktert wat ek by haar en Oom Gert in George gekry het toe hulle daar gebly het. Ons het op die stoep gesit onder die afdak met die groen tafeldoek oor die lang tafel. My Ouma Linde wou ons nooit in haar klein woonstelkombuisie toelaat nie. Ons wou so graag sien hoe sy dit doen, maar moes sitkamer toe.

Toe ons kinders was en vir 'n langvakansie in Desember Stilbaai toe is, het ons 4 soorte koekies gebak vir die see. Dit sou saam met 'n fles tee op Lappiesbaai geniet word as jou lippe van die sout brand na 'n swemsessie. Daai tyd was die duin nog hoog en terug kar toe was ver. Almal moes help dra aan die sambrele, branderplanke en die gevlegde mandjie met die teegoed in. Daar was soetkoekies, gemmerkoekies, grondboontjiebotterkoekies en woelies. Die een jaar het die woelies so lank gebak en hard geword dat dit sedertdien as klippe bekend staan in ons huis. Die een aan diens vir die dag kon kies watse soort koekies saamgaan see toe. Die grondboontjiebotterkoekies was my gunsteling!

Die lekkerste is dat die resepteboek nie klaar is nie. Daar kom weekliks nog resepte by wat iemand iewers geproe het en uitprobeer het. Dis heerlik om een van 5 susters te wees en 'n ma te he wat graag bak. Ons sal mekaar bel en se: Daai pampoentert van Christa is heerlik by braaivleis. Maak net die suiker minder. Dis vreeslik soet.

Nerens in die wereld kry mens SAse beskuit nie. Die naaste is seker Europa se Biscotte. Ek het dit en mieliepap die heel meeste gemis op my wereldtoer.

So draai my gedagtes deur die jare en die geure terwyl die sopkluitjies gaarstoom in Katriena se sop.

Voor in my Ma se resepteboek staan: Bak en brou soos Ma. Vir Corne, Christa, Santie, Hanlie en Elna: Julle is nog steeds 'n hartvol!

Verlustig jou aan die familieresepte in jou huis. Ek is seker daar is nou 'n hele paar waaraan jy kan dink. Moet net nie kwyl by die werk nie!

Tuesday, July 3, 2012

Veilig terug in Stellenbosch

Hierdie ongelooflike prentjie begroet my deur my voordeur op my eerste dag terug! Stellenboschberg op 'n mooi wintersdag! Dis regtig lekker om terug te wees by die huis. Ek sal my ervarings en beleweninge van die afgelope drie maande vir niks in die wereld verruil nie, maar ek geniet dit ook om weer tuis te wees.

My eie bed, my eie TV, my familie en vriende! Dis wonderlik om terug te wees.



Op Kaapstad Internasionale Lughawe wag drie van my sussies met hul mans en kinders my in. Wat 'n verrassing! Daar is kaartjies, verwelkomingsgeskenke, liedjies, baie soene en gelukkige gesigte. My hart is die gelukkigste van alles. Kan een mens so geseend wees?

Dis 93 dae sedert ek hier weg is. Ek was in 11 lande. Het 1 164 328 gemeterde tree gestap. Ek het meer as 50 000 km gevlieg, 6 dae op lughawens en vliegtuie spandeer. Daar het 15 mense saam met my getoer op verskillende tye.  Gemiddeld 180 mense per dag het my blog gelees.

Die volgende fotos is in geen kronologiese volgorde nie. Om een of ander rede gooi my rekenaar dit rond. Seker ook maar genoeg gehad die afgelope tyd:

Hierdie is Bay Bridge in San Francisco wat verlig is in die nag. Dis die langste staalbrug in die wereld.


Sacramento bo uit die lug uit. Ek het die wonderlikste uitsigte gehad uit die vliegtuig oppad terug.




Baie van julle vra waar my registrasienommer soektog staan... Jip, ek het Hawaii gekry! Maar ek kort twee state om die 50 vol te maak. Rhode Island en Dalaware se mense ry net nie aan die weskus van Amerika rond nie! Wel, dit beteken net ek sal weer moet gaan. Ek het immers 'n 10 jaar Amerikaanse visum en daar is baie wat ek nog moet sien.


Hierdie Mule Dears was so mak binne in Yosemite (uitgespreek Joe se mi tie) waar hulle besig was om die tuin te plunder, dat ek 'n mooi foto kon kry.


Ek, Mathhys, Elizan en Daniel het baie lekker gelag oppad terug van Yosemite af oppad terug SF toe. Skielik in 'n dorp (waarvan ek nie nou die naam kan onthou nie) staan hierdie lee stoele en piekniekkomberse al langs die straat en in die parke. Ek dog vir 'n oomblik die wegraping het reeds in die VSA gebeur. Toe sien ons advertensies dat daar daai aand 'n opelugkonsert plaasvind en hierdie is mense wat hul plekke gaan uitsit het. Ons is laatoggend daar verby. Ek sidder om te dink wat sal gebeur as ons dit op die Braak in Stellenbosch doen... Jy sal jou stoel en kombers nooit weer sien nie!


Die Baseball Stadion in SF. Home of the SF Giants! Die Park is gebou nadat die bekende Candlestick Stadion verwoes is in 1986 deur 'n aardbewing. Dit is veral bekend omdat daar 'n wedstryd aan die gang was wat landswyd deur duisende mense gekyk is, toe die aardbewing plaasvind.


Basebale is nou nie eintlik my gunsteling sport om te kyk nie, maar die toeskouers is baie interessant. Die Giants het baie ver verloor teen die Cincinnati Reds.



Dis lekker om nie uit 'n tas te leef nie. Dis opwindend om 'n nuwe begin te kan maak. Ek wag op die Here om te hoor waar Hy my wil gebruik. In die volgende paar maande gaan ek werk soek. Mag die Here my seen met geduld, goeie ore om Hom duidelik te hoor en baie wysheid. Hy is in beheer. Laat Hy doen soos Hy goeddink.

Dankie vir almal wat saam getoer het. Ek is stadig maar seker besig om almal te groet (die wat natuurlik naby genoeg is) en geniet dit so om te hoor wat in elkeen se lewe gebeur het. EK BESEF ELKE DAG OPNUUT DAT ONS HELE LEWE 'N REIS IS. Jy kan kies hoe jy toer en saam met wie en waar. Jy kan kies hoeveel jy hou van waar jy is. Mag dit vir elkeen 'n opwindende reis wees. Lekker toer!