Kallang is net sewe blokke ver. My tas weeg vandag 24,6 kg. Gelukkig is dit op wiele en kan ek dit sleep. Hierdie deel van Singapore is nie baie gestremd vriendelik nie en dit sukkel sypaadjie op en af, maar die sushi was steeds die moeite werd. Elke verkeerslig gaan staan ek eers en vee myself met 'n tissue droog. Die warmste wat ek al in my lewe gekry het was eendag in Washington DC toe ons gesin daar getoer het in 1997. Hulle het 'n hittegolf beleef en ons het byna gevrek! Hierdie is nie so 'hitte' warm nie. Die weerberig se dis maar 33 grade celsius in Singapore, maar die humiditeit is net iets aller verskrikliks. Mens moet min of meer gewoond raak om dag en nag met papnat klere rond te loop.
Ek is nou gereed om die ewenaar te verlaat!
'n Uur later sit ek in die Priority Lounge vir julle en tik. My kolonel in die weermag was toe al die tyd reg: sy het altyd vir ons gese: Ladies, this too shall pass! Die gesukkel na die stasie was oor en verby en ek is ingeboek (lekker venstersitplek voor die vlerk), deur doeane en het my vierde priority pass gebruik van tien. Dis die beste ding wat ek kon doen voor my toer. Ek het by ABSA 'n priority pass gekry. Dit bring jou gratis in 'n lughawe lounge met wifi, gratis kos en drank en heerlike stoele om op te slaap. In hierdie een mag mens 5 ure bly. Daar is storte en 'n gym. Dis die heel laaste ding wat ek hier gaan doen!
Op die oomblik sit ek met 'n 500 ml botteltjie water, 'n glas ystee en 'n glas lemoensap voor my. Ek sukkel om genoeg vloeistof terug te sit in my lyf en wil dit terugsit voor ek moeilikheid kry. Ek board eers 08:50.
Gisternag 02:00 (20:00 SAse tyd) het my wekker my wakker gemaak. Ek het dit gestel om gou my familie te bel. Hulle was almal by Elna-hulle in Stellenbosch waar Corne vir hulle ons Thailand fotos gewys het. Dis een van ons familie tradisies: Elkeen wat iets interessants gedoen het, moet fotos wys as hulle terugkom. Ek weet net nie hoe ek gaan kies tussen myne nie. Ek bel toe na Elna en Braam se huis toe en kan net 'n paar sekondes met Elna praat toe gaan die foon dood. My 'pay as you go', 'go' nie vreeslik ver nie! Gelukkig kon ons toe 'skype' aan die gang kry en kan hulle my hoor en hulle kan met my chat in skrif! Ag dis heerlik om familie te he en dis heerlik om tegnologie te he om by mekaar uit te kom. Ek hoop julle het die fotos baie geniet! Ek mis julle!
Ek het die mooiste dvd geneem met my selfoon van die laser vertoning by Marina Bay in Singapore gisteraand. Dis ongelooflik. Moeilik om te beskryf en ek wil nie die pret bederf deur te vertel hoe hulle dit doen nie. Ek het verskeie maniere probeer om dit op die rekenaar te laai, maar sonder sukses. Die wifi in die hotel was so stadig dat dit 6670 minute sal neem om dit op te laai op 'you tube'. Volgens my berekeninge is dit 4 en 'n half dae! Wel dan is ek al anderkant Vietnam.
Asof Singapore my nie al genoeg beindruk het nie, lees ek nou by die lughawe dat Changi lughawe al 390 internasionale toekennings gekry het vir die beste lughawe in die wereld!
Ek het nou uitgefigure hoekom dit so skoon en netjies hier is: hulle is baie streng en daar is boetes vir enigiets. Jy mag nie eet of drink op enige trein, in enige stasie of openbare plek wat nie 'n eetplek is nie. Ek sien op die t-hemde in Chinatown dat daar lekker gespot word met die boete-kultuur. Maar dit word nie net ingestel nie, dit word afgedwing. Eergister is ek so natgesweet en moeg toe ek van die trein afklim dat ek skoon vergeet ek mag nie eet of drink op die stasie nie. Ek gryp my botteltjie water uit my sak en voordat ek die eerste sluk kon vat het 'n lid van die publiek my arm gevat en beduie dit is ontoelaatbaar. Ek het geskrik en net vinnige gese 'sorry, from SA, we eat and drink anywhere'.
Hulle is hiper streng (ook met kougom kou) maar dit maak dat dit een van die heel skoonste stede is wat ek nog ooit in my lewe gesien het.
No comments:
Post a Comment