Saturday, October 29, 2011

Deur die oë van 'n Ugandees






'n Jaar terug het ek nooit gedink my uitnodiging aan Badru Senkuba om in Suid-Afrika te kom kuier, sou opgeneem word nie. As ek maar geweet het...


Badru was die Ugandese engel wat die Here oor my pad gestuur het toe ek my been gebreek het op 16 Oktober 2010 tydens 'n "river rafting" uitstappie op die Nyl in Jinja, Uganda. As dit nie vir hom was nie...


En toe kom hy kuier. Van 18 September tot 10 Oktober 2011. Ek het so baie by hom geleer en dit was heerlik om ons land deur sy oë te sien. Badru is 27 jaar oud, 'n maatskaplike werker van beroep maar is ook 'n besigheidsman wat tweedehandse motors van Japan af invoer Uganda toe en verkoop. Hy kom van 'n goeie middelklas familie met agt kinders. Sy oudste broer bly in Johannesburg en hy het hom vier jaar laas gesien. Sy ouers is baie beskermend en het elke dag gebel om te hoor of hy okay is. Eers nadat ek met beide ouers en die helfte van die susters en broers gepraat het, was hulle gerusgestel dat ek mooi na hom sal kyk.


Badru het by my aan huis gebly en ek weet nie wat ek die meeste van hom waardeer het nie. Hy is soft spoken en baie dierbaar. Die een middag kom ek by die huis en vind hom met sy kamera voor my skottelgoedwasser besig om die ding van binne en buite af te neem. Dit is die beste uitvinding wat hy nog ooit gesien het. Hy het my twee keer deur die Hugenote Tonnel tussen Paarl en Worcester laat ry en seker 80 fotos geneem in die proses want ons infrastruktuur was vir hom aangrypend. Hy het nog nooit die see gesien nie. Uganda is omring deur land en het net die varswater Victoria meer. Die eerste naweek wat hy hier was is ons Darling toe na die blomme skou en daarna is ons Yzerfontein toe om vir hom die see te wys. Hy kon sy oë nie glo nie en ek het weer besef hoeveel voorregte ons het wat ek as absoluut van self sprekend aanvaar. Dit beteken ook dat hy nog nooit die son sien ondergaan het oor die see nie en dit was ook vir hom fantasties.


Ons kos was vir hom baie snaaks. Ek het my beste spyskaarte uitgeruk en hy het braaf aan alles geproe. Hy is 'n moslem en eet niks varkvleis nie, maar die enigste ander ding wat hy glad nie in sy maag kon kry nie was pannekoek. Hy het omtrent die bord alle kante toe gedraai en 'n halfuur spandeer om die pannekoek heen en weer op sy bord te stoot en toe ewe verskonend gese: You know Hanlie, I am so sorry, but I won't be able to eat this." Dit is te sag. Hy gril vir die tekstuur.


Ons was orals in die drie weke en al my pelle het gehelp om sy tyd baie lekker te maak. My opregte dank aan my familie, die Dieners, Jo, Elmarie, Elize, Teuns en Lizel, my bybelstudiegroep, Azanda en al die mense by my werk. Badru kon elke aand nie uitgepraat raak oor wat hy kon beleef nie.


Verder het ons baie gelag vir sy belewing van ons rasse kwessies. In Uganda het hulle 80 verskillende tribes wat almal verskillende tale praat. Badru praat Luganda. Nogal maklik om 'n paar woorde hier en daar te vang met geen klapklanke nie. Hy het twee van sy weke hier gewerk in Kayamandi by twee organisasies en vra my die een aand ewe uit oor die klapgeluide wat die Xhosas maak. Hy se: Hanlie, you know when they talk they say x, tj, ch en so klik hy voort... Do they also say Txjelephone? Ek kon maar net lag...


Die volgende Saterdag in die Strand het Jo hom leer swem en daar was onderafdelings van "hoe om jou asem op te hou onder water", "hoe om nie water te sluk nie", "hoe om onder deur 'n brander te duik" en vele meer. Na die tyd le ons op die sand en hy se: Hanlie you know these people that you in SA call black, they are very light. In my country I am light brown! Nou moet julle vir Badru ken om dit te waardeer. Hy is amper navy van swartgeid!



Aan die einde van die drie weke moes ek erken ek het miskien meer geleer as hy. Dit was heerlik om 'n nuwe kultuur te leer ken en om ons land deur hom te ervaar.





Tuesday, August 16, 2011

1 down on my bucket list!





Soms word ek wakker in die nag met 'n glimlag op my gesig. Altyd dieselfde droom... Ek ry met 'n groot swart Harley Davidson motorfiets met die kenmerkende klank op die ooppad. Wind deur my hare, rug teen die sitplek lening, vibrasie op die wiele. Twee Sondae terug het my droom waar geword. Ek en 3 vriendinne het die H-D dag by Tegnopark gaan bywoon. My eerste gedagte toe ek daar instap was: Is 'n mens so en dan koop jy 'n Harley? Of koop jy 'n Harley en word jy so? Dis 'n heel ander kultuur. Die duur blink swart fietse, die leer klere, die accessories, die houding... Aanvanklik voel mens heel uit om in gewone sondagklere daar rond te staan, maar ons het gou opgevang. 'n Standaard Harley kos enigiets van R264 000 af. Die bykomstighede op die fiets kan jou nog R60 000 uit die sak jaag. 'n Sak wat jy dan nog nie het nie, want die klere kos 'n verdere R15 000. Maar jenetjie! Dit lyk cool!


Iewers in my toekoms gaan ek iewers 'n regte Harley reg ry...

Saturday, July 16, 2011

Die braafste onder ons...



"The brave are simply those with the clearest vision of what is before them."


Die volgende paar maande gaan bepalend wees. Ek moet groot besluite neem wat my lewe direk raak. Dit verg tyd vir gebed, tyd vir luister en tyd vir dink.


Opwindende tyd.

Sunday, June 19, 2011

Gevriesde vrede + vriendskap




















Die Transkaroo was vir my nog altyd net 'n trein... Tot verlede Donderdag. Ek het 'n langnaweek gemaak saam met Jeugdag en Woensdag vertrek om vir Jan in Colesberg te gaan kuier. Hy bly sedert Maart 2011 daar. Ek het in Laingsburg oorgeslaap en in papnat weer en baie koue vertrek Colesberg toe. Jan kon nie wag om vir my die dorp te wys nie. 'n Uitstappie wat minder as 6 minute geneem het. Al sy gunsteling eetplekke was toe op die vakansiedag. By die Barracks het die eienaar spesiaal vir ons oopgesluit en ons getrakteer op 'n rooiwynglas vol medium cream sjerrie. En dit nog voordat die vliegtuig ordentlik oor was.

Jan bly op 'n heerlike plaas 30km buite Colesberg. Hy is daar om nuwe brue en paaie op die N1 en N9 kruising te bou. Hy is goed met padbou en geniet dit. Hulle kantoor is in die ou hospitaal op Colesberg. Ons vertrek later die middag om die Transkaroo Voetslaanpad te gaan stap. By Noupoort gaan niks meer aan nie. Dit het 'n spookdorp geword. Al die paaie rondom Noupoort word aan gewerk. Rietfontein plaas van Lindo en Elmarie van der Merwe is 'n verrassing en hulle oorlaai ons met gasvryheid. Ons basiskamp is so 8 km van hul huis af in die kloof op. Ek vergeet weer my Touran is nie 'n 4x4 nie en ons ry elke klipperige driffie asof dit die N1 is. Die plaashuis waar ons uitstappie begin en eindig, is 'n pragtige ou plaashuis met 'n groot stoep, geen krag, heerlike kaggel en baie spasie vir niksdoen.

Dis koud! Ons stook daai kaggeltjie vir 'n vale en sleep ons beddens tot voor die vuur. Die volgende dag is dit 'n besonderse mooi dag sonder wind en ons begin stap. Die pad is goed gemerk en ons pad vat ons in 'n pragtige kloof op met die skoonste water en heerlike swempoele. Ja, julle het reg gehoor, Jan durf toe die swempoel aan en my motor het 'n halfuur van te vore nog 3 grade gewys! Die uitsigte later op die roete is asemrowend en ons geniet dit baie. My been geniet sy eerste ernstige uitstappie na hy gebreek het in Okt 2010. Als gaan goed. Ons slaap die tweede aand in 'n ou skuur en ek vergaap my later aan die pragtige sterre en die volmaan. Die Karoo is besonders! Dis windstil en yskoud en ons weet dit gaan ryp. Ons maak vuur, braai vleis en probeer so lank as moontlik die onvermydelike uitstel - om in 'n koue bed te gaan klim. Jan gebruik 'n lee OBS bottel (ja ons het hom kaf gedraf!) met kookwater in as 'n warmwatersak en ek gebruik my Nelgena bottel. Dit help. Die volgende oggend is die wereld spierwit gevries. Die longdrop is ver van die huis af en yskoud. Ons stap eers amper 12uur want dis te koud. Die derde aand slaap ons terug by basiskamp.

Die transkaroo voetslaanpad is 'n aangename verrassing en baie lekker. Goeie gasvryheid, goeie roete, baie atmosfeer en die mooiste omgewing. Dit is regtig die moeite werd en waarde vir geld.

Ek het amper 1600km gery om drie dae in rus en vrede saam met 'n goeie vriend die karoo te gaan beleef... Ek het die bossies geruik, die vleis geproe, die sterre en maan gesien, die koue gevoel, die stilte gehoor en die vrede ervaar. En ek sal nooit weer dieselfde wees nie...

Saturday, June 11, 2011

Franschhoek Cook Festival 11 June 2011













Franschhoek is 'n ongelooflike dorp. Ek werk sedert Maart 2011 daar as Munisipale Bestuurder en het vinnig besef hierdie dorp en sy mense kruip baie vinnig diep in 'n mens se hart.



Vandag is ek genooi deur Jenny Prinsloo om saam met haar die Cook Festival by te woon. Ons het die geleentheid by Ryan's Kitchen bygewoon waar hulle ons gewys het hoe om Potbelly en koejawel souffle te maak. Die sjef, Ryan, is in vennootskap met Niel Patterson van Anthonij Rupert wyne. Ons proe wyne wat perfek by die kos pas. Ons begin met 'n Pinot Grigio en kry ook kans om hul nuutste Cape of Good Hope reeks te proe. Dis heerlik. Ons eindig met Anthonij se 1984 muscadel. Saam met die heerlike wyn en baie goeie geselskap aan tafel 13 kom die heerlikste kos.



Eers leer Ryan ons om koejawel souffle te maak. Die trick se hy is om nie eiers vars te skei en te dink die eierwit gaan 'n goeie souffle lewer nie. Nee, jy moet hulle gister skei en in die yskas hou tot vandag en dan opklits. Hoe ook al... dis heerlik. Daarna volg 'n voorgereg van snoek mousse in 'n komkommer en appel jassie met wasabi mayo en wasabi meringue. Onverbeterlik! Die hoofgereg is pot belly met bazil balletjies en kapokaartappel hopies met brocolli. Wow! Die nagereg is broodpoeding met marmalade en karamel.



Baie dankie aan tafel 13 vir die heerlike geselskap. Onthou ons het 'n reunie afspraak by die Bastille Fees op 17 Julie 2011.

Sunday, June 5, 2011

'n Naweek van uitsigte...
























Ek sit op my leerbank in my woonstel en dink terug oor die naweek wat verby is. Dit was al weer net te vinnig verby. Vir my was dit 'n naweek van uitsigte. Tannie Joan verjaar Woensdag wat kom en word 71. Ek en Tannie Florrie vier haar vooruitsig vir die nuwe lewensjaar saam met haar by Moyo op die Spier wynplaas in Stellenbosch. Sy is altyd so waarderend vir elke klein bederfie en dis heerlik om te sien hoe goed sy nog lyk op 71.

Saterdagmiddag ry ek Bloubergstrand toe om by Boetie en Magdaleen te gaan kuier in hul dogter Anneke se woonstel. Dis voor op die see op die sewende verdieping met die mooiste uitsigte op die see, tafelberg, robbeneiland en die hele blouberg. Behalwe vir baie raserige bure, is die kuier heerlik. Ek en Boetie stap vanoggend tot by Blue Peter in die reën en sien 'n dubbele volledige 180 grade reënboog.



Sondag laat oggend kry ek vir Lizel, Azanda en Monica by die Deli van Tokara in die Helshoogte pas buite Stellenbosch. Die herfskleure is asemrowend, die uitsig onverbeterlik en die kuier onvergeetlik.



Vanmiddag verniel Nadal enige vooruitsigte wat Federer kon gehad het om Roland Garros te wen.



'n Heerlike naweek het verby gevlieg.

Thursday, May 26, 2011

15 jaar se nuwe lewe...

Vandag 26 Mei 2011 is dit presies 15 jaar sedert ek dood moes gewees het. Ek het op 26 Mei 1996 van Vredendal na Potchefstroom gery met my Ford XR3. Ek was nog voltyds in die weermag en moes die volgende oggend aanmeld vir 'n Inligtingskursus. Net buite Loxton het ek agter die stuur aan die slaap geraak, van die pad af gery en toe ek wakker skrik die stuurwiel geruk en my kar gerol. Die hele kar was opgefrommel en afgeskryf en ek moes definitief doodgewees het. Maar ek was nie.

Op daardie stadium het ek geweet ek het 'n tweede kans op lewe gekry, maar nog nie geweet hoekom nie. Nou 15 jaar later weet ek presies hoekom en geniet ek elke oomblik. Dis genade! Ek is elke dag opreg dankbaar vir die tweede kans. Ons God is immers 'n God van tweede kanse. Ek het myne gekry.

Sunday, May 22, 2011

Vir Morgan...

Jou ma het op 16 by 'n dronk man gelê.
Vir een nag se plesier moes sy jou toe hê.
Drie maande later is jy verkoop,
maar die polieste en die welsyn
het met jou weggeloop.
'n Interdik en 'n hofsaak later
is jy Lena s'n.
Kan 'n mens se lewe so begin?

Friday, May 20, 2011

'n Lift vir Lena

Ons is al buite Stellenbosch. Ek jy en Morgan, toe jy vir my vra of jy ons op die pad kan sit. Ek was nog besig om te dink wat dit beteken, toe bid jy al. Ek luister oopoe hoe jy in nederige woorde met ons God praat. Dat hy ons sal beskerm op die pad, dat hy my nugter sal hou... Jy praat later onophoudelik. Jou oudste suster is dood. Julle was ook vyf. Jy moet Klawer toe gaan vir die begrafnis. Jy is op Victoria-Wes gebore en werk nou op Stellenbosch en verder was jy nog nêrens. Dit is Malmesbury sê ek. Jy was nog nooit daar nie. Dis Moorreesburg sê ek en jy sê jy het al daarvan gehoor. By Piketberg stop ek vir tee. Jy drink koffie en skut die stukkende koekies van die motorsitplek af wat Morgan verfrommel het. Hy sal later vanjaar twee wees sê jy. Hy is jou pleegkind. Ek vra uit. Dis ‘n kind in jou familie se kind. Sy wou hom verkoop toe vat die welsyn hom. Almal in die familie is ingeroep en die familie het jou gevra om hom te vat. Morgan is gestremd. Verstandelik en fisies. Jy klou aan hom en hy aan jou.

Jy vergaap jou aan Piekenierskloofpas en sing saam met elke Juanita du Plessis liedjie op my Ipod. Kyk al die groot trokke sê jy. Kyk die lemoene. Kyk die groot dam. Is hy altyd so leeg? Clanwilliam gaan verby in stilte. Jou suster moet jou kry by Klawer se garage maar sy antwoord nie haar sel nie. Jou airtime is op en ek maak oproepe in die ry. Ons kry niemand tuis nie.

By Klawer kry ons ‘n adres. Iemand het gehoor iemand anders het gesê dis net agter die polisiestasie. Ek ry. Agter die polisiestasie is Klawer se hele plakkerskamp. Stukkende halfklaar strate met vullis en riool. Baie honde, harde musiek, kinders orals. Die derde man vir wie ons aanwysings vra is nugter en klim in om saam te ry. Dis dan 'n hok! fluister jy. By die derde straat links laai ek jou af. ’n Klein sinkplaathuisie vir vier susters en hul gesinne. More is begrafnis. Jy het kos gebring, brood en sap en vrugte. Ja sê jy dit is reg, jou broer sal jou garage toe bring Sondag. Ek ry en los jou en Morgan tussen die chaos. Jou suster sê sy wil ook in die kaap kom werk... tot ’n chauffeer ook, magtig dis lekker sê sy.

Ek ry die sirkelpad uit die plakkerskamp en vat die pad Vredendal toe. Ek wil huil. Oor jy wat ’n pleegkind vat, jy wat niks het nie, wat nog nerens was nie, wat jou ousus verloor het en wat halleluja liedjies in my kar sit en sing omdat jy so dankbaar is dat die Here so vir jou sorg.

Ek dink oor die telkemale die afgelope maande wat ek opstandig was oor my droom nie waarheid word nie en weet summier my ondeurdenkte lewe is jou en duisende se droom.

Tuesday, May 17, 2011

'n Dag om te onthou

18 Mei 2011 sal onthou word as miskien die laaste plaaslike verkiesing in sy huidige vorm. Ek het vroeg gaan stem en sommer my stemmery ingewerk in my oggend stappie. Toe ek 07:15 by die stemlokaal kom was daar reeds 'n langerige ry. Duidelik is daar baie meer belangstelling as in die verlede. Ons wyk het sewe verskillende kandidate wat vir die wyk staan, maar net een kandidaat het 'n stalletjie buite die lokaal gehad. Waar was die ander ses? Die IEC in ons lokaal was goed georganiseerd en alle shet glad verloop. 15 minute in en uit. My grondwetlike plig vir die dag is afgehandel...

Nou sit ek voor die TV en kyk hoe die res van die land stem. Vuyo en Leanne van Morning Live gee realiteits televisie 'n nuwe betekenis. Ek kan nou in my eie sitkamer sit en kyk hoe Helen Zille en Jacob Zuma se nuutste vrou stem.

My dag is nog lank nie verby nie. My familie plig na afloop van my grondwetlike plig, le voor. Ek brei vir Babajana 'n trui. Dit is Melindie se pop. Nadat ek gisteraand Melindie (my sussie Elna se jongste van 3 jr oud) se trui afgelewer het, is ek summier ingelig dat Babajana dieselfde trui moet he. Nou gelukkig is Babajana se mates omtrent 5cm by 7cm so dit sal nie te veel van vandag opneem nie.

Mag elkeen van ons 'n goeie ervaring he van ons stemmery vandag. Dit gee my 'n sin van mag en die heerlike ervaring dat jy 'n verantwoordelikheid het en "a sense of achievement" as mens deelgeneem het. In my dorp raak die verkiesing my werk direk. Ons kry die politieke verteenwoordigers wat ons verdien en vir die afgelope tien jaar was dit min of meer chaos. Mag vandag anders wees.

Monday, March 28, 2011

Breakfast in Bloemfontein






Ses van ons het Vrydag 25 Maart 2011 uit die Kaap gery Bloemfontein toe vir Kallie en Olivia se troue. Isak, Blyda, Jo en ek met my motor en Ulie en Inette met skoonma se wa. Ons is eers half 3 uit Stellenbosch uit en het in Colesberg geslaap. Dankie Blyda vir die muskietmasjientjie! Dit het ons gered.

Ons kosborg was Wimpy en na vele Wimpy's langs die pad moes Isak dringend rennies in die hande kry. Die reis was elke oomblik net so lekker soos die bestemming. Dit was heerlik om saam te kuier, baie te lag, stories te luister en te vertel en beter vriende aan die anderkant uit te kom.

Die tema van die troue was "vintage" en ons het groot gegaan. Die vraag is net waaroor lag Blyda so in die foto van Isak? Jo was mal oor die kussing in die Southern Sun, Isak was mal oor die rennies in die Memosa Mall, Blyda was mal oor nuwe plots uitdink in ons langverhaal in die motor en Hanlie was mal oor almal wat die naweek onvergeetlik gemaak het.

Dankie Kallie en Olivia dat ons julle groot dag kon deel.

Tuesday, March 1, 2011

Stilbaai branders en goeie vriende!


Omdat ek Desember nog op krukke was en nie eintlik kon swem by Stilbaai nie, moes ek net teruggaan voordat die somer verby is om in Stilbaai se branders te gaan swem. Daar is nie nog so 'n strand nie. Onvergeetlik. Vyf... nee ses van ons is Vrydag Stilbaai toe. Ek, Jo, Jan, Petrus en Surette en natuurlik Lomarie wat amper 1 jaar oud is.
Ons het als gedoen waaroor ons lank gedroom het... Gerus, geoefen, geswem, yahtzee gespeel, TV gekyk, saam met kitare gesing, nog Yahtzee gespeel, gebraai, gestap, voels gekyk en nog yahtzee gespeel.
Dit was heerlik en net te kort soos altyd, maar mens moet maar altyd ophou terwyl dit nog lekker is. Die weer was briljant. Windstil, warm met die mooiste somersaande. Ons het ook 'n tafeltennis toernooi gehou en niemand kon by Jo kers vashou nie. Hierdie tyd van die jaar is so lekker op Stilbaai. Dit is nie oorvol mense nie, maar met genoeg mense om die vakansie gees te kry. Jan het beide oggende gaan fietsry om te oefen vir die Argus! Die res van ons het verlore slaap ingehaal en Lomarie geniet. Sy is so ongelooflik cute en soet.
Aan almal wat saam was... dankie vir 'n briljante naweek. Dit is so lekker om goeie vriende, goeie kos en 'n goeie vakansieplek bymekaar te bring. Altyd 'n wenresep!
Jo onthou dit so...
"Die yahtzee koningin met haar yahtzees!
Die stilte van Stilbaai in die oggend - wel buite die huis.
Die ongelooflike branders met onophoudelike lekkerte.
Die geluid van 'n vuurtjie buite so tussendeur die ping pong houe.
Saam lag en die vriendelikheid van egte mense wat mekaar wil verstaan."
Johan Visagie

Tuesday, January 4, 2011

Cederberge oor Nuwejaar 2011




Annelie van Rooyen se liedjie "soos ou vriende" is die eerste wat by my opkom as ek nou in my warm kantoor sit en terugdink aan die pas afgelope naweek se kuier in die Cederberge. Ek het gaan saam kamp saam met 'n rits gesinne wat al jare lank vriende is en saam vakansie hou in die Cederberge oor Kersfees en Nuwe jaar. En ek was nie teleurgesteld nie!
Dit was heerlik. Ons het gekuier, geswem, geeet, gelag, yatshee gespeel, stories en grappies vertel, hulle het fietsgery (my been is nog te shaky) en verder doen elkeen net wat hy/sy wil. Dit was 'n fees! Jo sou saamgegaan het, maar kry toe somer griep die dag voordat ons moet ry en ek ry alleen. Ek het by Amanda en Tielman en hul kinders en kleinkinders tent opgeslaan. Ons het elke seisoen denkbaar beleef en moes Saterdag bontstaan om die hael en reen uit ons beddegoed en tente te hou. Ek het Sondag met 'n baie swaar hart teruggekom om Maandag te begin werk en wou so graag nog kuier. Maar daar is altyd 'n volgende keer. Aan almal wat dit so 'n onvergeetlike ervaring gemaak het... BAIE DANKIE! Julle doen werklik soos ou vriende doen en julle sit gemaklik aan my lyf...