Saturday, June 19, 2021

Pretoria hier kom ek











Dit is eers toe ek Cape Town International Airport op Iphone maps intik dat die gevoel my amper oorweldig. Ek het lanklaas gevlieg! Ek laat toe dat die elektroniese stem my lei. Blindelings deur onbekende woongebiede. Die sypaadjies is vuil en onversorg. Grief my. Die reuse bitcoin advertensiebord heeltemal uit sy plek uit. Ek laat my kar by een vd die parkering entrepreneurs. Eers raas Suzaan toe ek hulle bel. Mevrou is hopeloos te vroeg. Ja Suzaan dis wat opgewondenheid aan jou doen. Na ‘n bietjie redekawel stuur sy tog vir Dickens op die 1,2 km roete lughawe P2 toe. Hy is
vinnig daar. Ek gee my kar af en check vier vyf ses keer of ek alles gevat het by die voorste sitplek. Ek voel soos iemand wat die eerste keer ooit vlieg. Ek is senuagtig oor Covid, drie laag masker vir die vlug, en elke stukkie raad van mense wat probeer help om Covid vry deur my kort vakansie te kom. Later stap ek aan Terminaal toe. Ek voel ek het iets vergeet en kyk weer in my handsak. Beursie check, ID check, boarding pass uitdruk check. Dis toe ek my verkyker in my handsak gewaar en vies dink hoekom ek hom nie in my handbagasie gesit het nie, dat dit my vierkantig voor die kop slaan: MY BAGASIE! Beide my tasse lê nog knus agter in my ‘boot’. Ek vlieg om en hardloop terug. Dickens sien net arms swaai en vou hom dubbeld soos hy lag! Oak Madam, ek het gedink Madam travel darem lig!! Hanlie, jy sal moet kop hou suster, dink ek!


Die lughawe is besiger as wat ek gedink het. Die lounge is oop. Met Covid sit ons net een op ‘n slag in ‘n vierkant stoele en dis heerlik. Die gin en tonic ook.

Ek het nooit onveilig gevoel op die vlug nie. Almal se maskers is op en ons sit net een per ry. Daar is minder as die helfte van die vliegtuig se kapasiteit op die vlug. Ons verlaat die vliegtuig in klein groepies op ‘n keer. Ek is hier om my sussie te verras vir haar verjaarsdag Sondag. 


Sover ‘n baie lekker kuier...





‘n Sappige storie












 

Tuesday, March 2, 2021

Piket-Boberg produktemark








 “As my kinders moet weet waar ek nou is, sal hulle hulle afsonder in gebed vir my veiligheid.” Dis Tannie Colla se woorde oppad terug van die saagseltoilet af na die hart van die mark op Piket Boberg. Ek bars kliphard uit van die lag. Dit klink of ek en sy aan ‘n yspiek iewers in die Himalayas oor ‘n afgrond hang! Maar ek verstaan ook haar woorde. Vir ‘n 90 jarige is ‘n uitstappie mark toe ‘n groot avontuur wat Tannie Colla met grasie en baie lag kafdraf. Vanoggend se mark is besonder lekker. Covid het die mark vir ‘n paar maande parkeer en dis weer baie lekker om almal te sien. Februarie is ook ‘n besonderse mark met al die vars vrugte en blomme.  Waar anders koop mens nog pragtige proteas vir net R5 per steel?  Die vye, turksvye, kwepers, organiese groente, sagopoeding, amandels, varsgedrukte lemoensap, vetkoek met kaiings, tuisgebakte brood, plante en vele meer is te kies en te keur. Die vrolike plaaslike musiek, vriendelike gesigte en heerlike atmosfeer sorg elke maand vir ‘n onvergeetlike uitstappie. As jy nog nie die mark besoek het nie, maak ‘n plan! Jy mis baie!


Hoor my hart. Ek is reg vir reis. Mag die dag spoedig kom.

Monday, February 15, 2021

Wat is hoop?







Reinet se versoek is eenvoudig: “Kan ek asseblief iets vir die Gemeentenuus skryf. Sommer ietsie oor hoe dit met my gaan, my vakansie en vooruitsigte vir 2021.”  Maar ek het iets heel anders op die hart.  Iets wat ek nie langer kan binnehou nie en graag met julle deel.

Ons het gister ‘n interessante gesprek gehad in die Wes-Kaapse Kabinet Bosberaad saam met Provinsiale en Munisipale Leiers in die Wes-Kaap. Ons het die grootste uitdagings tans bespreek (mid en post Covid) en aksieplanne geformuleer om dit aan te spreek.  Een van die 18 grootste uitdagings het my veral geraak en ek is gevra om ook tydens die wegbreek-gesprekke in verskillende MS Teams virtuele kamers hieroor verdere insette te lewer.  Die gesprek het gegaan oor “hooploosheid” wat mense tans ervaar, wat dit veroorsaak en wat daaraan gedoen kan word.  Natuurlik is dit baie kompleks met uiteenlopende insette uit alle kante. 

Die gesprek het my weer diep en lank laat dink oor “hoop”.  Joe Black sing ‘n pragtige lied: Bring die hoop weer terug” wat begin met “Hoop, wat is hoop? Dis die wens dat die son weer opkom. Hoop, wat is hoop? Dis dat vrede by ons uit kom. Dis as ons harte na mense terugdraai".  Ek en Tannie Colla ry verlede Vrydag ‘n draai en ons speel Joe se lied kliphard in my motor en sing uit volle bors saam. Beide pynlik bewus van hoeveel hoop ons tans nodig het. 

Barry Wood het gesê: “We need three things in our lives - something to do, someone to love and something to look forward to - those three elements can bridge most challenges”.  

In Psalm 31: 24 en 1 Korintiers 13:13 lees ek van Hoop.  Dat dit nie iets is nie, maar Iemand. Dit is nie vaag of ver of onbereikbaar nie. Dit is konkreet en hier by ons. In ons! Dit is Jesus Christus wat aan ‘n kruis vir ons gesterf het en die vaste seker wete dat God Sy beloftes sal hou.  As ons rondom ons kyk, die media glo, na ongelowiges (en soms gelowiges) rondom ons luister, sal ons gereeld genoeg redes kan vind om hooploos te wees.  Maar as ons aanhou opkyk en vashou aan die Hoop wat die Weg en Waarheid en die Lewe is, sal ons weet dat Hy in beheer is en van ons draers van Hoop maak wat Hoop versprei en Hoop bring na elke moeilike situasie.

 

Die toon in Joe Black se lied verander na die tweede strofe. Van sy soeke na “wat is hoop” verander die woorde na “wees die hoop". "Steek jou hande uit na mekaar. As jy moeg is, sal ek jou dra.”  Ek sing dit en weet dat ek en jy gedra word deur die groot Ek is. Altyd en in alle omstandighede.  Ons moet Hoop wees vir mekaar. Ons hande uitsteek en dit versprei waar ons ookal gaan.  Ons kan! Want Jesus het reeds!

As jy ook in hierdie tyd wonder oor Hoop.  Wees die Hoop want jy ken die Hoop.

 

Monday, September 28, 2020

Laat my nooit die grond verlaat nie... laat my in U skadu bly



"My oë sal nooit hiervoor kan moeg word nie", verklaar neef Gert met ‘n diep tevrede sug. Ons is pas by Kardou verby, oppad Soebatsfontein se afdraai toe. Ons gaan roller meel optel by ‘n vriend.  Die meel is nie gerol nie, sê die boer self later, hulle is so gebliksem.  Die mense van die Namakwaland is reguit praters. Sonder omhaal.

My siel is stil tevrede. Ek vergaap my aan die wêreld waar mens, plant, grond en oopheid almal pasmaats is. So gemaak en so laat staan. Onpretensieus. Geloofwaardig. Perfek.

Ek sien meer nuwe goed hierdie naweek binne 400 km van my huis af as op baie oorsese toere. Ek kan nie glo ek was nog nooit aan die agterkant van die Kamiesberg nie. Wat het ek nie gemis nie!  As jy een van daai mense is wat net op die N7 hou oppad Namibië toe en selde afdraai, nooi ek jou nou. Kom reis saam...



Die syferpond op Karas. Hy was verlede jaar nog droog.  Nou staan die katsterte weer geil.

Dit het Vrydagnag 'n volle duim gereën in die Langkloof.


Swaer Andries en Neef Gert by die Letterklip by Garies.  Was jy al daar?

Die Letterklip in Garies waar die Engelse 'n wagpos gehad het om die dorp Garies te probeer beveilig teen die boere in die Anglo Boere-Oorlog van 1901 - 1903.  Die name van die Engelse soldate is hier uitgekrap op die klippe. As jy in Garies inry, hou regs tot by die laaste huis aan die linkerkant. Daar bly neef Thys (hierdie mense is almal familie van mekaar en almal familie van Andries - Gert verduidelik dat die ouer geslag sou gesê het: Trou eerder met jou niggie, dan weet jy wat jy kry).

Groet en ry verby sy huis en op met die bultjie tot by die Letterklip.  Nee, daar is nie aanwysings nie. Ek gee dit mos nou vir jou.

Wie is oud genoeg om te weet wat hierdie is?  Ek kry dit in die veld by Bowesdorp voor die ou kerk.


Dit is verseker die moeite werd om af te draai van die N7 af by Bowesdorp.  Daar boer Isak van Niekerk.  Bowesdorp is 7 km van Kamieskroon af aan Springbok se kant.   Dit is vernoem na Henry Bowe wat 'n dokter was in Namakwaland. Die "eerste Kamieskroon" is hier gebou, maar die klein vallei tussen die berge het in 1924 te klein geword en die dorp is verskuif na waar Kamieskroon vandag is.  Die kerk se hoeksteen en ander skatte is verskuif en al wat oorgebly het is hierdie pragtige ruïne. Dis prentjiemooi!








Wat google nie weet van Bowesdorp nie, vul Tannie Colla aan per whatsapp uit Piketberg. Haar ouers is in hierdie kerk getrou.
Hierdie rotspoel met 'n klein geboude reservoir is deur Britse soldate gebou in die Anglo Boere-Oorlog.  Dit is afgekordon met die enigste staal wat hulle tot hul beskikking gehad het: geweerlope! Stop gerus daar. Dit is langs die N7. Nog 'n plek waar ek al talle kere verbygesnel het op die snelweg...


Ons talm nie lank nie. Ons is oppad Garies toe en moet nog deur die Langkloof Karas gaan kyk en dan Leliefontein om tot weer by Springbok waar Rene kerrie-afval bedien.



Ek en Gert het lekker gelag toe ons uiteindelik uitmaak dat die gastehuis op Nuwerus reg is vir 'n koningin!

Roosterkoeke wat ek geknie het op Landplaas.

Skaapribbetjie! Geil, maar onverbeterlik!


Bad van Betesda by Brand se baai.



Brand se baai


Die skatte in Namakwaland is dik gesaai, maar mens moet stop-stop ry en fyn kyk. Net soos die mense...


Oppad terug sing ons: eenvoud is die vreugde van die lewe... dis gee en neem net wat daar is. Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.

Vanaand weet ek tevrede en vervuld: 

Ek het gesien wat ek moes, 

Ek het gevoel wat ek moes, 

Ek het geleer wat ek moes. 

Ek kan weer wees wat ek moes...