Sunday, May 27, 2012

Disappointment, destruction, deception...

Vandag is anders...

Anti-depressante is onlangs eers uitgevind in Amerika, want toe die ontdekkers in die vroee 18de en 19de eeu hierdie deel ontdek en benoem het, was die gemoedere maar laag. Ons sien die mooiste plekke met die lelikste name denkbaar!

Ons eerste stop vanoggend is by Cape Disappointment. Die arme plek. Sal nooit weer nie 'n teleurstelling wees nie. Dis aan die noordelike oewer van die uitmonding van die groot Columbia Rivier in die Stille Oseaan. Dis ongelooflik mooi, maar vir Mnr Meares was dit 'n groot teleurstelling, want hy en sy ekspidisie het 'n noordelike waterweg gesoek om van die Stille Oseaan direk in die Atlantiese Oseaan te kom sonder om onder om Suid-Amerika te vaar. Hy het kuslangs gehou en gesien dat die Columbia rivier nie diep genoeg was vir 'n groot boot nie. Dit was vir hulle 'n massiewe teleurstelling en net daar noem hy die mooiste plek denkbaar: Cape Disappointment.

Die Columbia Black Tail Dear. Ons sien hom sommer vroegoggend wei net buite die dorp.


Die museum wat ons besoek het.


Cape Disappointment!



Ons kyk 'n 16 minute video by die museum. Dis ongelooflik om te sien deur watse wedervaringe die ondekkingsreisigers gegaan het. Die video gaan veral oor Lewis en Clark se tog vanaf 1803 - 1805 toe President Jefferson hulle gestuur het om die land na die weste te gaan verken en inligting, kaarte en voorbeelde saam te bring. Jefferson het self 'n paar verkenningsveldtogte gedoen, maar toe hy president word wou hulle nie vir hom 3 jaar verlof gee nie. Toe stuur hy ander mense. Hierdie manne het eers met groot bote gevaar tot waar hulle nie meer kon nie en het toe bome gevel en kano's gemaak wat 5 man elk kon vat. Daar was 5 kano's. Daarmee is hulle die wildernis in. Hulle het perde en kos by die indiane gekoop/geruil. Op 'n stadium het hulle 6 dae vasgevries gesit sonder enige kos langs die Columbia rivier. Die indiane het hulle gered deur vir hulle vars salmon te bring. Hulle was nie sissies nie. En dit alles sonder winddigte baadjies, klim skoene, GPS, selfone ens. Wil gedoen wees!

Ons kry Mount Deception noord-oos van ons oppad boontoe en Destruction Island sien ons uitsteek in die see.  Shame, was seker nie 'n goeie dag vir die ontdekkers nie.

Mount Deception is die tweede hoogste piek in die Olympia Bergreeks en meer as 2300 meter hoog. Hy het tans sneeu op soos baie van die ander pieke hierrond. Hy word Deception Mountain genoem omdat bergklimmers dit moeilik vind om die bergklimroetes te vind en omdat hy bykans altyd onder wolke toe is. Sy naam was altyd Groenberg.

Destruction Eiland is maar 12 hektaar groot en 6 km van die weskus van Washington af. Die Spaanse het in 1775 daar anker gegooi en 'n ekspidisie land toe gestuur om vir hulle hout en water te gaan haal. Die ekspidisie is uitgemoor deur die plaaslike Indiane. 12 jaar later land nog 'n Spaanse skip en stuur hulle nog 'n ekspidisie met dieselfde eindresultaat (en ons dog net 'n donkie stamp sy kop twee keer...).  En daar kry die eiland die skuld en word verdoem om lewenslank bekend te staan as destruction island. What is in a name?


Die Rhodadendrons is orals nog steeds baie mooi. Kyk net die verskillende kleure!


Natuurlik het Amerika ook die grootste 'Spruce' Boom ter wereld! Ek moet se hy is massief! Hier is my ma by sy stam. Hy staan 191 voet in die lug (dis twee keer die hoogte van 'n kerktoring!)



'n Nuwe manier om jou motor te sluit: 'n Kombinasie-slot. Sal seker binnekort by ons wees.

 Lake Crecent: pragtig!

Ons huurmotor is 'n Chev Impala. Hy het net 1800 myl opgehad toe my Pa hom gaan haal het. Ons ry in luxury.


Ek was nog nie op hierdie toer by 'n Wendy's nie. En dis my gunsteling! Vanaand is Wendy's stapafstand van ons hotel af.

'n Gebakte patat met kaneelbotter en 'n bakkie chilli. Dis die lekkerste boontjie stew!

Ons wil so graag more na Hurrican Ridge ry in die Olympic Berge. Op die oomblik se die weerberig dit gaan daar sneeu. Ons het mooi vir die Here gevra om asb so gaaf te wees, om die weer te verander sodat ons dit kan sien. Dit sal groot genade wees.

Saturday, May 26, 2012

Daars 'n skiereiland in die hooimied!

M-a-g-i-s-t-r-a-a-t-s-k-a-n-t-o-r-e ! Dis wat my Oumie sou gese het as sy hier was vandag!

En ek het gedink gister se landskappe was pragtig! Vandag sien ons die een mooiste ding op die ander. Aanhoudend! Ons ry van Lincoln City noord langs die Oregon weskus tot by Astoria.


Die rooi roset is 'Rand McNally' (die uitgewers van die kaartboek) se manier om te se die kus is iets besonders!

Baie dankie vir die mense wat gereageer het op die raaisel. Julle is baie slim. Vir die wat gister se pos gemis het: Ons het in 'n restaurant in Newport geeet en die volgende inskrywing teen die muur gesien:Yisdersomenimororsisasisdenderisorsis?! Ek het gese die een wat vir my eerste kan se wat presies daar staan, sal 'n geskenk van Amerika af kry. Vir party antwoorde het ek lekker gelag en die res was reg of sommiges amper reg. Die regte antwoord is: Why is there so many more horses asses than there is horses?! Die een wat die vinnigste die regte antwoord terug laat weet het, was my sussie Elna Horn, met Tannie Jean van Zyl tweede en my ander sussie Christa Schreuder in 'n kortkop derde plek. Ek sal vir al drie van julle iets bring! Baie geluk. Julle is slimmer as wat ons in die restaurant was. Ons moes die kelner vra vir leidrade.

Vandag was ons by die Three Capes. Dis drie pragtige skiereilandjies lands die weskus van Oregon tussen Pacific City en Tillamook. Mens ry op 'n kleiner paadjie wes van die 101 Noord en sien die mooiste goed. Ek het ook vandag baie voels gesien wat ek nog nooit gesien het nie, soos die Acorn Woodpecker en die hummingbird. Ons sien ook baie seevoels. Ons soek nog die Puffin. Die 'hummingbird' is van die kleinste voeltjies wat mens kry en hy gaan sit nooit nerens nie, maar hang voor die blom en klap sy vlerkies so vinnig dat dit soos 'n waaiertjie lyk. Hy is blou kleurig.

Hierdie is die Acorn Woodpecker. Pragtig!


Ek was net na 05:00 wakker en het twee grys ryers in die water voor ons kamervenster gesien. Toe ek die skuifdeur probeer oopstoot om 'n foto te neem, het hulle gevlieg. Maar die oggendstont was steeds blou-goud in die mond.


Ons ry vanaf Lincoln City noord en die eerste strand waar ons stop is Cape Kiwanda. Ek en my ma stap teen die strand af terwyl my pa die motor omvat en ons by die hoofstrand kry. Dis pragtig hier. Omtrent al die strande het sulke groot klippe wat uit die water verrys. Hulle noem dit 'haystacks'. Hier is my ma tussen 'n stompe-monument wat iemand gebou het. Dit lyk soos 'survivor'.


Die haystack by Pacific City. Dit is die enigste strand waar die platboom skuite (hulle praat van die dory fleet) maklik op die sand kan uitkom en opgelaai word na hul visvangs-eksidisie. Daar is ook baie surfers, swemmers, stappers en sandduin-klimmers. Daar is 'n baie hoe duin wat mense gebruik om af te gly en om die uitsigte van bo af te gaan bewonder.


Die sandduin.


Van halfpad teen die sandduin af geneem.



Die Earl Grey tee by die klein restaurantjie oor die straat was baie besonders. Dis 'n sterker Earl Grey wat nog meer met Bergamot gegeur is as die wat ons ken.

Anna-Louise! Ons was baie trots op jou dorp vandag en baie verras om Clanwillian Rooibos tee hier te kry. Hulle drink dit met heuning en suurlemoen.


Interessante fietsrak buite die koffiewinkeltjie.


Cape Lookout State Park. Kyk die baie kleure en skakerings van groen! Dit is pragtig! Ek en my Pa stap 'n baie ver end om uitsigte oor die see te kry. Ons sien baie voels.


Die 'lookout' (een van baie) van die state park!


Die seevoel by Oceanside het presies in die foto ingevlieg asof hy geroep is!


Hierdie boom is besonders! Hulle noem dit die Octopus Boom. Dit staan by Cape Meares.


Die uitsig vanaf Cape Meares. Hulle noem die klippe regs in die see die three archers.



Ons eet vanmiddag by die Rondevouz Restaurant in Tillamook.


Die grootste attraksie in Tillamook is die kaasfabriek. Dit is ongelooflik. Ons gaan op 'n toer deur die fabriek. Hulle maak net Chedder kaas en daar is baie verskillende geure ook (peper, knoffel en ander). Die fabriek lewer 167 000 pond se kaas per dag en 78 000 000 pond kaas per jaar!! Hulle lewer reg oor die wereld. Hulle maak ook roomys en ander melk produkte. Ons sien orals beesplase langs die pad wat die kaasfabriek van melk voorsien.




Kyk al die verskillende soorte roomys! Ek het Grandma's Cookie dough probeer.


Herken julle die koei en die plaasjapie?


Ek en my ma in die Tillamook Kaasfabriek se afleweringswaentjie.
Kaas vir iemand?


Astoria is 'n baie mooi dorp met pragtige ou huise. Dit lyk soos San Francisco (se die boeke). Hierdie is die brug wat Astoria verbind met Washington State oor die magtige Columbia Rivier. Die pienk blomme in die voorgrond is nog van die Rhodadendrons wat hier so vollop is. Die brug is die Astoria-Megler brug en is meer as 6,5 km lank. Dit is reeds in 1962 gebou en word tans geverf. Daar word geen voetgangers op die brug toegelaat nie, maar fietse wel. Dit is behalwe die een keer per jaar in die somer wat hulle 'n 'bridge walk' het en die brug gesluit word vir voertuie so lank as wat die stap aan die gang is.



Toe ek vanaand stort en my hare was geniet ek die hotel shampoo baie. Dis goeie shampoo en nie soos die onskuimbare gemorsies wat ons in China in die gastehuise gekry het op die fietstoer nie. Net toe ek wonder wat Amerika anders doen om goeie shampoo in hul hotelle te sit, lees ek agter op die pakkie: Made in China! Nou vra ek vir julle met trane in my oe! Dis seker die water wat die verskil maak.

Ons het ver gestap vandag. Ek het meer as 16 km op die klok gesit. Maar ons moes stap om al die mooi te kan sien en bewonder.



Friday, May 25, 2012

Die weskus van Oregon is pragtig!

105 fotos later is ons 80 myl verder van Florence na Lincoln City. Hierdie weskus van Oregon is regtig pragtig! Dis groen en boomryk en waterryk met baie gawe mense tussendeur.

Laat die fotos vir hulself praat:

Ontbyt in die Old Town Inn is tipies aan baie Amerikaanse hotelle: vrugte en soet gebak saam met koffie of tee. Ons gaan haal dit by die kantoor en eet in ons kamer. Ons skype lekker met Braam, Elna en die kinders en begin pak om te ry. Vandag gaan ons net 80 myl verder, maar die kus beloof om baie mooi te wees en ons wil orals stop, so ons moet wikkel.


Die dorpie, Florence, waar ons geslaap het is teen die weskus van Oregon. Dis 'n pragtige klein see-dorpie met 'n groot rivier ook. Dis die Siuslaw (word baie snaaks uitegspreek soos die first nation Indiana dit uitgespreek het as Sa-oes-la) rivier wat hier in die see uitmond. Daar is 'n redelike groot hawe en 'n baie mooi brug oor die rivier.






Ons vind vanoggend uit dat die kombersies om die bome wat ons gister gesien het, deel is van hul Rhody fees in Florence. Dit is hulle lente-fees en hulle vier al die Rhododendrons wat in blom is. Dit is pragtig. Hierdie vlieer het ek afgeneem voor 'n vlieer-winkeltjie.


Oregon is veral bekend vir sy sandduine. Ons ry eers suid vanaf Florence om die duine te gaan kyk. Ons het Oom Bob se GPS geleen vir die toer en die arme man op die masjientjie het al sy dae om ons op die regte pad te hou, want ons stop orals en ry ompaaitjies. Die "turn around when you can" het gou bekend geraak.


Amerika het die grootste en beste van alles en al is dit nie so nie, verklaar hulle dit om elke hoek en draai. Vandag besoek ons die Sea Lion Caves wat die grootste seewater grotte in die wereld is. Onthou julle dat ek julle gister vertel het dat hulle van enige natuurbesoek 'n belewenis maak. Vandag vat hulle ons 200 voet af in 'n hysbak tot net langs die grot met die see leeus in. Ons vind uit wat nou eintlik die verskil is tussen 'n 'seal and a sea lion'. Die grot het ook 'n 'web cam' in so julle kan dit op google volg.


Die uitsig in die grot in.


Die see leeus op die klip in die grot. Hier is ook al orkas, california walvisse gesien (maar ongelukkig nie vandag nie) en verskeie voels wat goed is om te sien.


Die kus!






Newport is 'n pragtige dorp! Ons het by Mo's geeet. Hulle is bekend vir hulle seekos en veral clam chouder. Vandag (25 Mei) is nasionale 'fish and chips day' in Ierland. Mo's vier dit ook en ons kry 'n ekstra stuk kabeljou saam met mash, clam chouder, brood en slaai. Die bier smaak ook vorentoe.
Hierdie brug verdeel Newport en vat mens oor die Big Elk River wat by Newport in die see uitmond. Oregan se weskus het 17 binnelandse mere. Hier is water galore!


Mo's:

Daar is allerhande snaakse goed in die restaurant opgeplak.


Die eerste een wat vir my kan laat weet wat hier geskryf staan, kry 'n persent uit Amerika. Die letters is:
Yisdersomenimororsisasisdenderisorsis?! Ek hoor graag van die slimmes onder julle!


Ons slaap vanaand in Stiletz Bay Lodge in Lincoln City. Hierdie is die uitsig uit ons kamervenster. Toe ons vanmiddag hier inboek, se die ou by die voordeur hulle het vandag 'n nuwe fliek sisteem begin en ons kry 15 $ op ons kamerrekening om 'n fliek te kyk. Al wat ons moet doen is om more vir hulle te se hoe die sisteem werk. Ons kyk New Year's Eve. 'n Baie voorspelbare romantiese komedie, maar dis nou nie die sisteem se skuld nie. Die sisteem werk goed.

More ry ons tot by Astoria. Dis so 95 myl ver. Daar is baie om te sien en ek moet nog vanaand 'n bietjie navorsing doen oor Cannon Beach en ander besienswaardighede.


Mag al die uitsigte in julle lewens ook so mooi wees soos hierdie!