Saturday, April 21, 2012

Victoria Hawe en Lamma Eiland

Dis met absolute verbasing dat ek op my horlosie kyk net na ek my oe oopgemaak het en sien dit is 09:27! Ek slaap nooit so laat nie. My klein smartieboks kamertjie het heerlik geslaap. Ek stort en vat die pad. Voor my hare ordentlik droog is, het ek die hele Victoria hawe in Hong Kong van bo tot onder deurgeloop. Dis pragtig! Ek is mal oor HK. Daar is hoe geboue net waar jy kyk. HK is die tuiste van die 4de hoogste gebou in die wereld (die International Commerce Centre) wat 484 meter hoog staan met 118 vloere. Maar rondom hom staan daar 112 geboue hoer as 180 meter met 'n verdere 162 geboue hoer as 180 meter in aanbouing sedert Feb 2011. Net waar jy kyk is ontwikkeling! Die geboue is nie noodwendig so mooi soos die in Singapore nie. Net baie!

(Sien laaste drie fotos hieronder van die 4de hoogste gebou)

Victoria Hawe is die tuiste van die Kuns museum, die Ruimte museum, 'n Kultuur Sentrum en hulle eie weergawe van Hollowood met 'Avenue of Stars'.
 Kuns museum (bo)
 Space Museum


 Ek moes amper 20 minute wag om hierdie foto geneem te kry, want daar was duisende mense!

Ek het net vir Jacky Chan en Bruce Lee herken tussen 'n hele straat vol chinese sterre.


Ek doen 'n laat ontbyt by Starbucks en drink heerlike Earl Grey tee met 'n blueberry muffin. Terwyl ek ontbyt geniet neem ek fotos van mense in die straat voor my. Ek verkyk my. Dit reen glad nie vandag nie, maar elke oorsterling loop met 'n sambreel. Ek onthou dat Maggy by die Tam Coc rivier in Vietnam vir my vertel het dat die vrouens in die ooste baie gesteld is daarop om 'n ligte vel te he. Hulle wil glad nie 'tan' nie. Die sambreel is dus 'n sonvoorkomingsmiddel!





Dis baie moeilik om te verduidelik hoe 'n tipiese Hong Konger lyk! Maar as hierdie outjie groot is en 'n swart raam bril dra, sal hy so lyk!
Hierdie pragtige kloktoring staan in Victoria Hawe.


Om 12:20 is ek terug Space Museum toe om 'n fliek in die Omnimax te gaan kyk: 'Wired to win'. Die omnimax is 'n flieksaal waar jy op jou negende rugwerwel le en fliek teen 'n groot ronde koepeldak kyk. Dis amazing. Die fliek is oor Damon Cook, 'n Australiese fietsryer wat die Tour de France al 'n paar keer gery het. Hulle het sy brein getoets in sy voorbereiding en tydens die fietstoer en het gesien dat sy brein letterlik aanpassings maak soos hy aangaan. Dit was baie goed. Hy het op die ou end daardie jaar die groen trui gewen vir die beste sprinter. Lance Armstrong het die toer gewen. Ek het die fliek baie geniet. Die fliek was in twee tale. Cantonese met Putonghua onderskrifte. Ek het van beide tale nog nooit voor vandag gehoor nie. Cantonese is die meerderheidstaal in Hong Kong en word gebruik deur die Yue groepering Chinese. Putonghua is 'n ander naam vir Mandarin. (volgens google). Daar is oorfone vir ons abnormales en die oorfone verskaf Japanese en Engels. Na lang oorweging kies ek die engels!

Ek het baie keer deur die dag weer aan die fliek gedink. Dit wys dat 'n mens se brein hiper aanpasbaar is en werklik elke dag besig is om aan te pas na aanleiding van die seine wat jy gee en kry. Dis regtig 'mind over matter'. Ek besef dat dit presies is waarmee ek hierdie drie maande besig is. Ek is besig om dag na dag my brein te herprogrameer om anders te dink oor die lewe. Dis opwindend!

Maar ons almal se breine werk so, en jy het jou 'journey' waarmee jy tans besig is. Dit wat jy elke dag dink en jou brein toelaat om te glo, dit is waarmee jy op die ou end gemaklik sal wees. Dis 'n groot verantwoordelikheid. Ons breine is kragtig! En kan ons maak of breek! Die fliek wys so duidelik dat Cook se grootste faktor by verre nie sy bene of spiere is nie, maar sy brein. Dis waar die besluite namens jou spiere geneem word of hulle gaan aanhou of nie. Die beste was dat Cook dit kon regkry om die seer seine van sy bene af na sy brein toe te 'override'. En die wetenskaplike toetse wys dat sy brein begin het om meer endorfiene deur sy ruggraat te stuur om die pyn seine te verdoof wat sy bene na sy brein toe stuur. Omdat sy brein so besluit het!

My geliefde oud-skoolhoof, mnr Spekkop Chamberlain (hy weet ons noem hom so) het my op FB laat weet dat ek met die Ferrie na Lamma Eiland toe moet gaan en daar seekos eet. Dankie Meneer! Dit was heerlik! Lamma Eiland is suidwes van HK en maar net 13,5 vierkante kilometer. Die naam beteken 'suidelike skiereiland' en daar bly net 6000 mense. Dis baie rustiger as HK en ek het amper reg rondom die eiland geloop. Daar is geen motors op die eiland nie, behalwe een ambulans en een brandweervoertuig. Daar is 'n groot kragsentrale wat HK en Lamma eiland van krag bedien en hulle ekspirimenteer met windkrag op die eilandjie. Ek het 'n ferrie gevat vanaf Kowloon na HK eiland (sentraal) vir net 3 HKD (dit is dieselfde as 3 rand) en vandaar omgestap na pier 4 waar ek 'n ferrie gekry het na Lamma eiland. Dit is amper 'n halfuur se vaart en kos R16,10 enkel rit.

Daar is baie voels op Lamma en ook baie mooi blomme. Ook soorte wat ek glad nie ken nie.


Die taxi's in HK is rooi op HK eiland, blou op Lantau Eiland en groen in die nuwe gedeeltes van HK.
Jy weet dus altyd watse een om te vat.

HK word bemark as die wereldstad van Asie!


Op die ferrie tussen Victoria Hawe en HK eiland.


 Hulle gee nuwe betekenis aan die gesegte: Enigiets varser swem nog! By elke restaurant se ingang is 'n vistenk en jy kies jou kos terwyl hulle nog rondswem. Bietjie te 'real' vir my.

 Een van die pragtige blomme op die eiland wat ek nog nie gesien het nie.

Dit was regtig moeilik om die spyskaarte te lees!





My 'margaretha' by 'n hawe restaurant! Dit was stunning! Daarmee saam 'n 'sole fillet en chips'. Ek het maar gewag tot ek 'n bord kos sien uitkom het waarvan ek sal hou en beduie dat ek dieselfde wil he.


Pragtige klein hoofstraatjie vol winkeltjies.

Wraggies wyn van die Weskaap in SA!

 By die jettie sien ek twee vrouens inkom met hulle bootjie en ek staan nader. Hulle het 'n mandjie vol seepampoentjies en 'n mandjie vol oesters!

Omdat daar geen motors op die eiland is nie, ry almal fiets en hierdie is die fietswinkel wat baie aftrek kry.


Die restaurant waar ek geeet het.

Baie mense hier werk op HK eiland of op Kowloon en kom met hulle fietse hawe toe waar hulle 'n ferrie kry werk toe en terug. Nie een fiets is vasgesluit nie!

Twee goed wat mens dadelik opval van HK:
Al die winkels gebruik lewendige uithangborde. Dis skreeu snaaks. Op die sypaadjies staan horde mense en adverteer alles wat in die winkel aangaan, van tailor suites, kos, skoene en wat ookal. Hierdie groep adverteer die havanna plakkies.


Die tweede ding is dat maklik 80% van alle couples en families in HK bestaan uit 'n westerse man en 'n oosterse vrou. Of so lyk dit vir my. Dis erg opvallend. Miskien is dit makliker vir so 'n gesin om in HK te bly.

Hieronder is die fotos van die 4de hoogste gebou in die wereld. Gelee op HK eiland.



Hierdie is die 2de hoogste gebou in HK en hy staan op Kowloon. Was net vir my 'n baie mooi foto.



Dit was 'n heerlike wonderlike dag! Ek hou van HK!

Lekker naweek vir elkeen!
Liefde
Hanlie

Friday, April 20, 2012

Hong Kong!

Ek sit nou kliphard en lag vir myself op my bed in die USA hostel in die grootte stad HK. Dis 20:20 in HK. Ek het nog 'n uur aangeskuif en is nou 6 ure voor julle. Toe ek vir my verblyf gesoek het hier was alles peperduur en regtig ver buite my prysklas. Ek wil nie baie vir verblyf betaal nie, want ek is byna nooit in die kamer nie. Toe kom ek af op die USA Hostel in Hong Kong. Dis nog steeds redelik 'pricy' gemeet aan die res van Asie, maar dit lyk skoon op die internet en ek bespreek. Dis wonderlik sentraal gelee reg langs Tsim Sha Tsui MTR stasie in Kowloon. Vir die wat nog nooit hier was nie, dis presies in die middel van alles en stapafstand van die meeste goed of van die goed wat jou by die meeste goed kan bring.

Hier is 15 vloere en op elke vloer is oneindig baie woonstelle. En is elke woonstel is 30 kamers! Ek is in 501 in F1 op vloer 5.

Hierdie is my hele kamer:

 As mens op die toilet sit, sit jou voete langs jou bed in die kamer!
Dis nie eers 2 meter breed nie.

Maar dis skoon en netjies en ek gaan lekker bly. Terwyl ek nou hier sit en tik, gaan my toilet se flush elke keer af as iemand anders op 'n ander vloer dieselfde lyn gebruik! Ek sal miskien maar 'n slaappilletjie moet vat vanaand of heelwat drank!

My laaste sien van Vietnam was vroegoggend toe 'n taxi my kom haal het om lughawe toe te gaan. Ek het vandag vir my bybelstudiegroep gese ek gaan dit nie hier se nie, want ek is bang my familie en vriende 'worry', maar vir volledigheid van my blog en eerlikheid deel ek maar dat ek in 'n klein motorongeluk was vanoggend. Ek het eintlik nie regtig gedink mens kan in Vietnam wees en nie in 'n ongeluk betrokke wees nie. Hulle ry net te verskriklik. Die taxi bestuurder het 'n vrou bo van haar motorfiets afgery en ek en hy en sy het baie groot geskrik. Hy het my belet om uit te klim om te kyk of sy okay is en het sowaar net aangery. Daar was 'n man in uniform langs die pad, maar hy het ook nie gelyk of dit hom raak nie, so toe ry ons aan. Ek het net weer besef hoe groot 'n toeris se behoefte is om veilig te voel in 'n vreemde land. Bid asb vir my veiligheid en die veiligheid van my goed. Ek het 'n paar duisend engele nodig elke dag! Ek is seker die engele skaar is erg dankbaar dat ek klaar is met Vietnam se verkeer.

Die twee vlugte was baie lekker met Thai Air. Hulle is baie goed. Corne, daar was wraggies 'n aardbewing in Phuket tien dae nadat ons daar uit is. Ek lees dit vandag in 'n Bangkok koerant. Dit het 4,3 op die rigterskaal gehaal. Ek het langs 'n baie oulike man in die vliegtuig gesit en baie lekker gesels. Hy woon in Bangkok, maar kom van Hong Kong af. Hy het my lysie aangevul van goed wat ek hier moet sien.

Thai Air se veelkleurige sitplekke.

Ys teen die vliegtuig ruit. Ek kon niks afneem van HK nie, want toe ons land toe reen dit katte en honde. Ek was papnat toe ek by my hostel aankom. Dit reen nou nog.

Toe ons wag om te 'board' op Bangkok lughawe, sit daar twee tannies langs my en ons begin gesels. Hulle is van Asie. Hulle het die plek se naam gese, maar dis onbekend aan my. Toe die tannie direk langs my hoor ek kom van SA af, vra sy of ons plaas ook afgevat is deur ons President. Nee, verduidelik ek, dis ons buurland Zimbabwe. O ja se die ander tannie, sy weet van SA, ons het seerowers langs ons kus! Is my familie darem okay! Ek probeer verduidelik dat Somalie redelik ver van ons af is, maar hulle frons net. Ek vertel van die World Cup, van Nelson Mandela en Desmond Tutu. Hulle kyk vir my deur glaserige oe en ek besef hulle dink ek is te skaam om te erken my plaas is afgevat en my familie is deur seerowers aangeval. Vir mense in Asie is SA en selfs Afrika baie onbekend. Daar is werklik min wat 'n sweem van erkenning wys as jy se jy kom van SA af.

Hier spoel my toilet nou net weer!

'n Vriendin van my, Kojanna, het die storie oor die skilpad in Lake Hoa Kiem in Hanoi so geniet dat sy vir ons fotos op die internet gaan soek het. Dankie Kojanna! Dit help. Nou het ons haar ook gesien! Ja, soos Kojanna se, sy is werklik nie 'n 'oil painting' nie, maar darem al eeue oud. Die mense in Hanoi dink sy is 600 jaar oud, maar wetenskaplikes stry daarmee.




My eerste indrukke van Hong Kong is baie goed. Die stadsliggies is aangrypend en ek kan nie wag dat dit ophou reen dat ek dit kan afneem nie. Dis amper soos Las Vegas en New York gemeng, maar baie Chinese lettertjies. Sondag is ek genooi om by Choppie en Dina te gaan kuier. Choppie was 'n jaar voor my op skool en hulle bly al 7 jaar hier. Hulle bly op HK Eiland en ek sal die MTR vat soontoe. Hy se ek hoef niks te bring nie, maar ek is voorbarig genoeg en vra of ek asb iets kan bring: my wasgoed! Nou wag ek om te hoor of dit okay sal wees. Ek was elke aand my dag se klere uit en hang dit op, maar hier sal ek dit nie kan doen nie, dis net te klein en handwas maak dit nie so skoon soos 'n masjien nie.

Groete uit Hong Kong! Nou gaan ek eers die strate vat! Dis 20:45 en die aand het hier pas begin!

Thursday, April 19, 2012

Good night Vietnam!

Dis met baie groot verligting dat ek vir die taxi bestuurder se: Internasionale terminaal asb. Nie plaaslik nie, dankie.

Dis nie dat ek vol fiemies is nie. Die van julle wat my ken sal weet ek is game vir alles. Ek sal  vir dae vuil gaan en hoe morsiger hoe beter. Maar Vietnam is 'n perd van 'n ander kleur. Dis VUIL! Vanoggend eet ek ontbyt met twee groot kokkerotte onder die tafel. Ek gril en wonder hoe lyk die kombuis as die voorkamer so lyk!

Dis nie dat Vietnam nie wonderlike plekke het om te sien nie. Halong Baai en Tam Coc rivier is twee wonderlike plekke, maar dit word verskriklik sleg bestuur. Hier is 'n algemene 'traak-my-nie-agtigheid' oor alles. Hulle is definitief op die afdraende pad.

My toeragentskap vra gisteraand terugvoer en ek vertel van die besoedeling in Halong Bay en die roekelose taxi bestuurder oppad en terug van Tam Coc. Sy se baie dankie vir die terugvoer. Sy sal dit definitief deurgee aan die bestuur.

Gisteraand gebruik ek die hotel se komplimentere tandeborsel en skrop als van my wat ek kan. My nuwe crocs waarmee ek Halong Bay toe is en op Tam Coc gedra het, is modderbruin. Ek moes omtrent elmboog inle om dit weer min of meer skoon te kry.

Ek dink Amerika het die oorlog aspris verloor net om hier weg te kom. As ek hier moet bly, sal ek binne 'n paar weke depressief wees. Ja, julle hoor my reg, haal maar Vietnam van julle 'bucket' lysies af. Dis jammer dat 'n 'stunning' plek soos Halong Bay deur Vietnam bestuur moet word. Hulle kan baie by Singapore leer.

Nou is ek oppad na Hong Kong. Ek sien baie uit daarna. Dit lyk op google of daar net te veel goed is om te sien in net 5 dae. Ek sal moet fyn beplan en beweeg! My verblyf is in die USA hostel. Dis blykbaar baie sentraal en reg langs die MRT. Ek board oor 'n uur. Nou eers 'n lekker koppietjie tee!

Mag daar vandag min Vietnams oor jou pad kom en baie Singapores!

Lief vir julle

Hanlie


Waar is Hanoi?

Ek kry sulke verwarde kommentaar van sommige van julle. Toemaar, moenie sleg voel nie. Drie maande terug het ek ook vir die eerste keer van Ha Noi gehoor. Vir die van julle wat soos ek hou van die groter prentjie, sit ek graag twee google earth kaarte op sodat julle beter sal verstaan. Dis ook vir Elna en Braam se kinders wat nie weet waar hulle Tannie Hanlie is nie. Ek praat met hulle op skype en Melindie (4 jr oud) wil weet wat maak Tannie Hanlie in die rekenaar!

Ek en Corne het in Phuket, Thailand begin (links onder op die kaart) en vandaar Bangkok toe gevlieg. Corne is terug SA toe van daar af en ek is na Kuala Lumpur en Singapore. (Nie op hierdie kaart nie) Vietnam is die lang dun landjie wat soos 'n 'S' krul oos van Cambodia en Laos en SW van China. Ha Noi is die hoofstad van Vietnam en le in die noordelike deel.

Guangxi, net noordoos van Ha Noi is die provinsie in China waar ek en Lean van 1 - 8 Mei gaan fietsry. Nogal naby aan Vietnam.









Die vliegtuigie noord van Ha Noi is die Internasionale lughawe waar ek geland het en waarheen ek more-oggend 07:00 weer gaan. Ek het gevra dat hulle vroeer kom as afgespreek, want in hierdie verkeer wil ek nie my vliegtuig mis nie.

Op hierdie lugfoto kan julle mooi sien waar ek die afgelope 6 dae was. Halong Baai is direk oos van Ha Noi en die Tam Coc rivier waar ons gister was, is by Nam Dinh suid oos van Ha Noi.

Google Earth is darem maar ongelooflik!

Wednesday, April 18, 2012

Hanoi se strate

Vandag is my laaste dag in Vietnam. More vlieg ek na Hong Kong via Bangkok. Ja, ek weet dis heeltemal 'n ompad, maar dis hoe die wereld hop kaartjie werk. Thai Air is deel van Star Alliance en ek moet terug Bangkok toe. Die vlug na Bangkok is 1 uur en 15 minute en dan vandaar na Hong Kong in 2 uur en 15 minute.

Maar vanoggend moes ek vroeg in die ry kom om 'n kaartjie te kry om vanaand die Thang Long Water Puppets te sien. Dis baie gewild met tradisionele Vietnamese musiek. My kaartjie is vir 18:30.

Ek stap reg rondom die Hoan Kiem meer in die middel van Hanoi. In die noordelike hoek van die meer is die baie bekende rooi brug na die Ngoc Son Tempel. Die rooi hout brug is in 1885 gebou en word ook The Huc genoem. Dit beteken: brug van die opkomende son. Dis regtig pragtig.







Die brug lei na die Ngoc Son Tempel. Ek het nie ingegaan nie. Het nou eers genoeg tempels gesien. Die Hoan Kiem Lake is veral bekend vir die eeu oue skilpad wat in die meer bly. Dit is nie net 'n legende nie. Die laaste kere wat die skilpad gesien is, was in 1998, 2000 en toe sommer gereeld sedert 2010. Die mense in Hanoi was toe bekommerd dat sy siek is en het die Vietnamese weermag ingeroep om haar te help vang en medisyne te gee. Dit was hoofnuus in Hanoi op die TV vir drie dae lank. Hulle het baie gesukkel om haar te vang, maar op 3 April 2011 dit reggekry. Sy weeg 200 kg en is 1,9 meter lank. Daar is net 4 van haar soort oor in die wereld. 3 daarvan is in Chinese dieretuine en die een in Hoan Kiem meer in Hanoi.

Ek het orals gekyk, maar haar nie gesien nie.

Ek was ook vanoggend by die St Joseph's Cathedral in Hanoi.




In Vietnamees is die katedraal bekend as: Nhà thờ Lớn Hà Nội, Nhà thờ Chính tòa Thánh Giuse. Dit is 'n Katolieke kerk en die hoofkwartier van die Katolieke kerk in Vietnam. Die kerk is gebou in 1886. Daar word verskeie dienste gehou op 'n Sondag en is blykbaar heeltemal vol. Vanoggend was daar vier mense in die kerk toe ek in is en dit was heerlik rustig.

Ek kon nie hierdie foto weerstaan nie. Motorfiets parkeerplek. Hoe jy ooit weer jou eie uitkry, weet ek nie.



Hallo noem hierdie die Hanoi Towers.


Als hier word op fietse en motorfietse vervoer. Hierdie vrou het haar hele winkel op haar fiets.


Van al my voorbereiding vir my toer is ek in Vietnam die heel dankbaarste vir my Hepatitus A en B inspuitings. Hier word vis voorberei, geweeg en verkoop op die straat. Hierdie is vis en seekat.


Lekker oggend in die son langs die meer.


Beter as 'n gym!

Hanoi het mooi plekke ook. Hierdie is die stadshorlosie in die park langs die meer.


Die Ly dynasty het regeer vanaf die laat 10de eeu tot middel elfde eeu. Hier is die koning van die Ly dynasty.

So parkeer mens in Hanoi!


Vanoggend is ek ook verras deur 'n baie mooi kunsuitstalling in een van die parke. Dis regtig baie mooi. Die kunsuitstalling word gehou deur 'n NGO iSee (Institute for Society, Economy and Environment) en wys die wereld soos gesien deur minderheidsgroepe van oor die hele wereld.

Die ouma van die Hmong minderheidsgroep kyk na haar kleindogter en maak terselfdertyd 'brocade'. Die vrouens leer borduur as hulle 6 - 7 jaar oud is. So bewaar hulle die kultuur van hierdie minderheidsgroep.


Die Pako mense het 'n gebruik dat 'n ma een keer per jaar 'n mandjie rys vir haar dogter vat om haar liefde en dankbaarheid te wys. Hierdie vrou van 43 jaar oud is 'n ma wat besig is om haar mandjie rys voor te berei.



Dit is 'n vaardigheid wat die mense op die platteland in Vietnam baie goed ken: om sy te kleur en mooi klere daarvan te maak. Hierdie vroue is van die Yao groep in Sapa. Die vaardigheid word oorgedra van generasie na generasie. Die sy word drie keer gekleur en in die skaduwee gedroog.


Al drie vrouens in hierdie foto is meer as 80 jaar oud en is oppad na 'n troue. Vrouens in die Ta Oi groep dra slegs juwele en krale as hulle 'n besonderse geleentheid bywoon.




Hierdie foto is van die Hmong groep in Sapa, Vietnam. Die grond op die terasse word in water gedompel om doe grond sag te maak. Dit word gedoen van Oktober tot April voordat die nuwe oes geplant word.


Die bekendstellingsbord van die kunsuitstalling. Ek het dit baie geniet.