Saturday, April 26, 2025

Eerste indrukke van Malta

 



Op Dubai-lughawe kry ons die res van ons stapgroep. Nes ek verwag het: goeie lekker mense! Ons vlug land eers op Siprus (‘n eerste vir my). Daar vertoef ons 90 min en gesels met ons lugwaardin wat van Malta af kom. Sy moet die Maltese aankondiging in die vliegtuig lees oor die luidspreker, maar sê sy sukkel want Maltees bestaan eintlik nie meer nie. Of is sy nou soos Charlize Theron? Haar aanbeveling is om haas te eet en al wat seekos is. So gesê, so gemaak. 




My kamermaat vir die staptoer is Ronel van Tonder. Sy is van Reitz.  Ek het gevra Mamma, dis nie familie van ons Van Tonders nie. Maar sy trek op Lizelle, so dalk. ‘n Pragtige kind van die Here uit ‘n groot gelukkige gesin. Wat meer kan mens vra? Ons kliek soos kerrie en rys. 






My henna kunswerk uit Dubai het nou mooi gesettle. Ek skrik nog elke keer as ek afkyk. 

Malta Internasionale lughawe. Malta bestaan uit drie eilande. Malta, Gozo en Comino. Ons staptoer begin in Gozo. Ons slaap drie nagte in die Calypso Hotel in Malferform. Daarna skuif ons Valletta toe. Dit is die hoofstad (grootste bedrywigheid) in Malta. 


Die ferrie vat ons tussen die eilande. Ons bus ry tot in die ferrie se maag en ons klim tot op die dek. Kry tot ‘n bier vir die fantastiese prys van net R120 elk. Smaak vorentoe!







Die Paulus kerk in Malferforn. Ek en Ronel hoor die klokke lui gisteraand en gaan kyk en woon ‘n stukkie by van die Pous se begrafnis. 









Friday, April 25, 2025

Die Arabiese Woestyn, benoude oomblikke, nuwe kulture en vele nuwe ervarings

 



Nee, kyk hier julle! Die Arabiere speel nie as dit by ‘n woestyn kom nie. Die Desert Safari wat ons vanmiddag en vanaand beleef het, was puik!

14:30 was opteltyd by ons hotel. Inan is ons gids. Hy is 34 jaar oud en verjaar vandag. Ons sing vir hom in Afrikaans. Ons ry noordwes van Dubai die woestyn in. 7000 voertuie per dag. Ja, die nulle is reg! En tog voel dit nie oorvol of ingedruk nie. Elke maatskappy het hul eie stukkie sand. Ons ry eers pypkar (die ander 4) en quadbike (ek) en sit dan af vir dune bashing (hoofsaaklik Inan). Dis rof! Ek het net my veiligheidsgordel vaster getrek, my linkerhand om die ekstra staalversterking binne gesit, my regterhand om die handvatsel uit die dak, my oë toegemaak en gebid. Alles het goedgegaan totdat daar sand tot halfpad teen my venster is en die regter agter band se rubber die spoor byster raak en van die rim afklim. En daar staan ons. Inan het dit goed en kalm hanteer. ‘n Ander voertuig het kom help en so 15 min later was ons weer al springende oor die sand. Toyota Land Cruiser. Krag galore! Jinne! Dit was ‘n ondervinding!


Toe sit ons af na hulle kamp waar ‘n buffet tradisionele ete, sterre kyk deur teleskope, vuurdansers, henna kunswerke en so baie meer op ons wag. Ek het vir die eerste keer in my lewe Jupiter en vier van sy mane gesien deur die teleskoop. 


Foto krediet: Pieter Bruwer

Ons henna kunswerke. Dit hou ‘n week en is ‘n teken van vreugde vir die mense hier. When in Rome…



Ek hou van quadbike ry!




Ons het die klein kamele gevoer. 





‘n Dag duisend in Dubai!
Nou moet ek vinnig slaap. Ons moet 04:20 in die hotel se voorportaal wees. Ons vlieg 08:00 Malta toe. Met ‘n stop in Siprus. 
Dubai sien my definitief weer. 


Thursday, April 24, 2025

Dubai Dag 1: 24 April 2025

Bo in die hoogste gebou in die wêreld!




Ek weet nie eers waar om te begin nie! Dubai is iets heel anders. Amper ‘n mengsel van Hong Kong, Singapore en bietjie Las Vegas. Jinne, dis aangrypend! Ons het meer as 25 000 treë gestap in 18 ure en vandat ons 05:50 in Dubai geland het, was ons twee ure later op die 124ste vloer van die Burj Kalifa. Die hoogste gebou in die wêreld. 
Ons besoek die Dubai Mall, verkyk ons aan die tekstiel, goud en speserye markte. Vang ‘n middagslapie en sit af Dubai Marina toe vir aandete en ‘n seiljagvaart. Wat ‘n voorreg!

Dis asof die argitekte hier nie kan wag om te beindruk nie. 






Dubai is hoofsaaklik alkohol vry (en daarom silwerskoon), maar vanaand klink ons ‘n glasie Marakesh oh Marakesh met Pistachio Whiskey. Heerlik!








Dubai is werklik die rykmense se agterplaas. 

Hierdie stukkie strand is reg langs een van die bekende palm-uitbreiding van Dubai. Met ons voete in die Persiese Golf. 


My voete in die Arabiese Gholf. 




Ons bly in die LEVA Hotel. 

Burj Kalifa in agtergrond.













 

Nou ja toe. Laat ek hardloop. Daars nuwe plekke om te sien!