Saturday, October 8, 2016

Cusco

Vandag vat ons die strate van Cusco.  Dis 'n pragtige stad met kleurvolle patrone en interessante plekke en mense. Dis ons laaste dag in Peru. Ons vlieg vanaand via Lima en Cordaba na Argentinie. Cusco was die hoofstad van die totale Inka Empire. Dis baie hoog bo seevlak op 3400 meter. Maar ons is nou al mooi aangepas by die hoogte en is fiks na die Inka Jungle stap, so ons kan kilometers aflê. Na 'n lekker ontbyt in die Arnitrare Hotel, pak ons ons goed en los ons tasse in die hotel se stoorkamer. Ons besoek die Inka Museum, San Pedro plaaslike mark en unieke Peru winkels. By die mark kan jy alles koop van varkkoppe, hoenderpote, blomme, kaas, vrugte, snuisterye en vele meer. Ek is mal oor appelliefies en is altyd so ontsteld as ek R28 vir 'n klein bakkie moet betaal. Hier koop ek vandag reuse appelliefies en 'n hele sak vol vir 3 Sol of R12!  Cusco is 'n sintuig-sensasie!

Bo regs is een van die reuse appelliefies!

Gebraaide varkvleis op straat. Lean het die afgeneem en ek was toevallig besig om verby te stap. My gesig gee vir julle 'n goeie aanduiding van die higiene van die stalletjie😉


Die weefwerk is iets waarvoor Peruviaanse vroue bekend is. Geen van die pattone is opgeskryf nie en word van geslag tot geslag mondelings oorgedra en ingeoefen!

My geskenk aan myself. Dit is die Inka kalender. 

Mag elkeen wat hier lees ook vandag ten minste een nuwe ervaring hê. 

Thursday, October 6, 2016

Machu Picchu, Peru

Hoe beskryf 'n mens 'n onbeskryflike ervaring? Waar begin ek om iets in woorde te probeer omsit van wat ek die afgelope vyf dae en veral vanoggend beleef het. Dit is net nie moontlik nie. 


Machu Picchu is 'n Quecha woord wat beteken 'Old mountain' en huisves die 'Lost City' van die Inkas wat in 1911 ontdek is deur 'n Amerikaner wat 'n paar skoene geruil het vir 'n jong seun wat hom iets wou gaan wys. Beste ruiling ooit! Dit is in die Andesberge in die Cuzco streek en asemrowend mooi. Sit daarby Alfredo se vertelling van die Inka-tradisies en jy't 'n wenresep! Ek kan dit werklik vir enigeen aanbeveel. Dis vrek harde werk om hier uit te kom en baie klimwerk (2430 meter bo seevlak) en die muskiete vreet jou lewendig op! Maar elke sekonde die moeite werd. 





Terug in Macho Picchu dorp drink ons eers 'n Peruviaanse bier. Maak dit sommer dos (twee)


Tuesday, October 4, 2016

Santa Maria na Santa Thereza op Inka Trail

Ons moes na haar geluister het. En ons het nie! Op Lima lughawe het 'n Peruviaanse vrou in gebroke engels gevra waarheen ons oppad is. Toe ons verduidelik het sy net een vraag gevra. Het ons insekafweerder? Ja ons het, het ons gedink. Nee julle ken nie die Peru jungle nie, het sy geweet! Elke sport het sy beserings. Stap in Peru het miljuisende muskiete.  Hulle maak nie 'n geluid nie en is kleiner as ons s'n. Maar hulle vreet jou lewendig op.

Hierdie was teen middagete. Vanaand lyk ons veel erger, maar ons gaan nie toelaat dat 'n paar muskiete ons onderkry nie. 

Dit is moeilik om vandag te beskryf. My fitbit sê ons het 21 km gestap en 175 vloere geklim. Maar ons het ook 'n splinternuwe kultuur leer ken, nuwe kosse geproe, nuwe voëls gesien (hier is meer as 1600 spesies in Peru), nuwe plantegroei leer ken en nuwe kante van onsself ontdek. Dit was fantasties! Ons gids is uitstekend. Dankie Alfredo!

Ons stap op die Inka Trail wat seshonderd jaar oud is. Hoogste punt vandag 1813 meter. 

Hier drink ons 'n shot slang mampoer! My gesig sê alles!



'n Pragtige wêreld met 'n baie ryk geskiedenis. 

Môre vertel ek verder. Buite ons hotel skiet hulle klappers. Dit klink soos 'n Spaanse inval! Maar nou gaan ek eers slaap. Lean is lankal droomland toe!

Monday, October 3, 2016

Malaga Pas in die Sacret Valley

Nou is dit veel later op dag twee van ons Peru avontuur en ek en Lean lê op goeie beddens in 'n homestead in Santa Maria en oordink die dag wat verby is. Ons herinner mekaar dat ons nou maar eers 36 uur in Cuzco en omgewing is en dit voel soos 'n week oor alles wat ons al gesien en beleef het. 'n Avontuur duisend! 

Gisteraand na goeie focassia pizza en avocadoslaai by 'n piepklein pizzeria naby ons hotel, is ons dadelik bed toe. Ons moes 05:00 opstaan om te pak, want ons groot tasse bly by die hotel en alles wat ons vir die volgende vier dae sal benodig moet in ons nuwe first ascent 35 liter backpack gaan. Lean het die shopping gedoen en hulle werk baie goed. Halfvier is ek wawyd wakker en begin blog skryf oor dag 1 en die vlugte hierheen. Teen halfses is ons beide padvaardig en sit ons aan vir 'n baie goeie ontbyt met baie vrugte en graan. Aldredo kom op tyd en ons vertrek eers met n kleiner sedan taxi tot by die buitewyke van Cuzco. Daar wag Reuben vir ons met sy Red Bull Van. Die polisie hou nie van fietse in die middedorp nie, verduidelik hy. Ons wag vir 'n vriend van Alfredo by wie hy 'n go-pro kamera leen en dan durf ons die drie ure aan na die top van Malaga Pas op 4330meter bo seevlak. Vandaar sal ons fiets tot by 'n buurdorpie van Santa Maria op 2000 meter. Die rit is interessant en Alfredo verduidelik onophoudelik alles wat ons sien. Ons stop vinnig in Ollantaytambo vir reënponcho's en water en sien talle ander fietsry groepe met hope 18 jariges en ek is diep dankbaar vir ons privaattoer van net ek en Lean met ons gids Alfredo. Hy is omtrent 32 en getroud en opgewonde oor die lewe en sy zest is aansteeklik!

Oppad vertel hy ons van die oorspronklike Andiese tekstiel fabriek in Chinchero en net daar besluit ons om dit te gaan besoek. Wat 'n belewenis! Ons kon Alpakas vryf en presies sien hoe hulle skaap-, lama- en alpakawol bewerk, was en kleur met natuurlike plante en die bloed van 'n pes wat groei op kaktusse! Baie interessant. 

Oppad op teen die berg vergaap ons ons aan die pas en uitsigte maar moet klou want Reuben speel nie om die draaie nie. Hy bestuur vinnig maar veilig. By die bopunt neem ons talle fotos en Alfredo ruk drie duffelbags agter uit die kombi uit met ernstige fietsry gear! Ons kry full body armour en 'n full face helmet. Company policy. Hulle is ernstig oor veiligheid!  Ons toets die remme en saalhoogte en spring weg. Aanvanklik stadig om eers die fiets en die armour gewoond te raak en toe al vinniger. 61 km se pure pret! Pragtige uitsigte, rivier kruisings en pragtige plantegroei! Werklik die moeite werd. Alfredo het gisteraand baie diplomaties gevra wat ons fietsry vlak van vaardigheid is en ons het hom nie teleurgestel nie. Hy vertel hoe hy sukkel met Japanese groepe wat sê hulle kan fietsry en dan reguit aanry op elke draai! 

Wel, ek het lanklaas iets so baie geniet! Die aarde se aantrekkingskrag op my liggaammassa maak dat ek baie vinnig teen 'n afdraend beweeg en dit was fantasties!

Peru se kos is uitstekend. Vanmiddag kry ons 'n viergang maaltyd van blomkool quiche, groentesop, hoender met quinoa en nagereg. Te veel om op te eet. Na 'n middagslapie is ons gereed vir wat die aand ookal sal oplewer. Santa Maria het in 1998 heeltemal verdwyn toe daar twee avalanche was tydens hulle reënseisoen met 'n vloed daarna wat die hele dorp weggevee het. Baie mense is dood. Dit het 02:00 in die nag gebeur. Nou is hulle besig om die dorpie stuk-stuk te herbou. Ons blyplek het bv net koue water. Ja, dit was 'n baie vinnige stort!

Tot by volgende wifi! Groete















Yuncipata met 'n fiets tot by San Sebastian

Om Cuzco vanaf 'n fiets te besigtig is net ongelooflik. Mens beleef alles. Veral die mooi uitsigte, rowwe los downhill op vreemde fietse sonder toe clips, die honde wat jou bestorm as jy deur die klein dorpies trap, hoenders, varke, alpakas, lamas en selfs 'n plaaslike sondagmiddag sokkerwedstryd in San Sebastian. Ons besoek ook oppad die Pumamarka. Dis reunes uit die pre-Inca tyd. Pragtig! Ons fietsgids vir die dag is Elias. Hy ry self saam. Dis regtig lekker om so 'n klein groepie te wees. Ons kan baie vrae vra en leer baie oor hierdie land en sy mense. Môre doen ons die lang verwagte Malaga Pas wat op 4200 meter bo seevlak begin langs n glasier. Daarna gaan ons af in die Sacret Valley om ons stap na Machu Picchu te begin. Ons gids vir hierdie deel is Alfredo en hy het 'n lang briefing met ons gehad. Dit klink ongelooflik. Maar ongelukkig is daar nie wifi nie en sal ek eers weer oor drie dae kan vertel. Geniet elke afdraend in jou eie lewe. Onthou om rond te kyk en baie herinneringe saam met jou te neem vir die toekoms.







Tot in Cuzco, Peru

Omdat SAL meer as n uur en 'n kwart laat uit Johannesburg gevlieg het, is ons tyd op Sao Paulo in Brazilie net te kort om gemaklik te wees. Ons besef dit en hardloop soos gesoute Amazing Race deelnemers deur die onbekende lughawe. Ons spanwerk sou Alister Coetzee tot vreugdetrane kon dryf. Ons moet ons bagasie kry (dis net hoe hulle dit hier doen en ons vra nie te veel vrae nie - hoofsaaklik omdat alle antwoorde in Portugees is). Ons hardloop met ons groot en klein tasse na Latam Air om te gaan inboek vir 'n vyf ure vlug na Lima in Peru. Dit is op die Weskus van Suid-Amerika. Die personeel by Latam is nie lam of tam nie en ons vorder goed. Ons storm deur die hekke en is net betyds om heel agter in ons boarding ry in te val. Ons het dit gemaak! Moet nie dat Latam Aur se naam julle flous om aan lam en tam te dink nie. Hulle het ons net beindruk. Ons sit heel agter op bree gemaklike stoele wat amper heeltemal kan terugslaan. So begin 'n vyf uur vlug waarvan ek 4:45 slaap en Lean selfs meer.

Op Lima luggawe het ons baie tyd en poog eers om op 'n vervalde Priority Pass by die VIP lounge in te kom. Natuurlik sonder sukses. Toe drink ons maar 'n earl grey teetjie by Starbucks en val plat op lughawe banke vir nog 'n slapie totdat die tannie oor die lughawe interkom vier keer aankondig dat Lima lughawe geen aankondigings maak nie en jy self by jou hek moet kom. Ons doen dit en bestyg ons vieede vlug vir die dag om vir 75 minute Cuzco toe te vlieg. Cuzco lê in die Andesgebergtes op 3400 meter bo seevlak. Ons is nou 31 uur in transit en hou uit. Die vlig is sonder opwinding en om 05:04 plaaslike tyd (SA monus 7 ure) stryk ons neer op die enigste kort stukkie gelykte vanwaar ons avonture begin.

Cuzco is iets tussen derdewêrelds en ouwêrelds. Moeilik om te beskryf. Die lug is dun, die mense is vriendelik (hoofsaaklik as gevolg van die hoeveelhede coca-tee wat hulle verorber. Ja dit is presies wat julle dink).

Ons kry ons hotel en spring deur die stort en dadelik in die bed. 'n Sagte spierwit kussing en dik matras gaan baie goed af. Later stap ons treetjie vir treetjie deur die dorp om iets te soek om te eet en te akklimatiseer. Pole Pole.






Vir ons eerste fietry ekskursie kry

Saturday, October 1, 2016

Oppad na Peru vir pret en plesier

En so sit ek en Lean op Johannesburg Internasionaal. Ons SAL vlug is vertraag en ons wag vir inligting. 'n Vurige rooikop het gaan aandring op beter kommunikasie en teruggekom met die nuus dat die personeel staak en daar nie 'n vlieënier en personeel is nie. Die vliegtuig staan verlate aan die anderkant van groot glasvensters en ons sit en wonder wanneer dit in Gauteng gaan reën. 15 jaar terug sou ek nou lankal in die CEO se kantoor gestaan het en aangedring het op diens. Ouderdom bring 'n gelatenheid. Lean lees Lust for Life van Irving Stone en is maar op bladsy 17, so daars genoeg om ons besig te hou. 

Ons is oppad Peru toe via Sao Paulo en Lima. Ons tyd is min op Sao Paulo en as Dudu en haar span nog langer voete sleep, gaan ons ons aansluitings mis. En wraggies hier roep hulle ons en kan ons begin board! Bon voyage!! Hier gaan ons. Macchu Pichu hier kom ons!!!


Wednesday, September 14, 2016

Genadige wysheid




 
 
Toe ek haar aflaai by haar huis in Sandstraat 21, Piketberg het ek ‘n groot glimlag op my gesig en ‘n diep vreugde wat deur my hele wese strek.  Haar naam is Gracie Basson. Sy is 92 jaar oud. Ek het vanoggend die ongekende voorreg gehad om ‘n koppie tee saam met haar te drink. In Mei 2015 het ek ‘n laai vol buisies tee in Franschhoek gekoop en besluit om oor tyd 50 koppies tee te drink saam met fenominale mense en hulle wysheid op te skryf.  Ek het vir Tannie Grace in November 2015 ontmoet by ‘n vriendin se verjaarsdag. Sy het oorkant my gesit en binne tien minute het ek geweet hierdie is ‘n 50-koppies-tee-tannie. En so was dit ook.  Toe ek haar drie dae terug voor die munisipaliteit kry, waarheen sy gestap het om haar water en ligte-rekening te betaal, nooi ek haar vir tee en waarsku dat ek haar gaan vra wat sy nou op 92 weet wat sy wens sy reeds op 46 geweet het. Sy vra of sy my dadelik moet antwoord, want sy weet! Ek lag en halt haar tot ons drie dae later sit met ons koppies tee…
Haar huis is pynlik netjies met vars Elsie-blomme in elke kamer. Sy is geklee in swart en wit. Met die stop voor Corner Stone vra sy wie my leer bestuur het. Sy sal ook nog graag wil leer. In die agterste teekamer vang haar oog dadelik die rooi geruite skotse handsak en sy begin vertel. Dat sy reeds drie keer oorsee was. Twee keer Engeland en een keer Skotland ook. Twee keer as gas van Miss Nancy en haar suster Margaret by wie sy gewerk het in Kenilworth en een keer op uitnodiging van haar penvriendin Mary. Een keer per boot; twee keer per vliegtuig.
Ons sukkel om iets te kry op die spyskaart wat sy mag eet. Sy eet nie hoendereiers nie en trek weg met die storie wat dit verduidelik. Ook nie wit brood of suiker nie. Sy kies earl grey tee uit die tee laai van dosyne soorte en ek “like” haar sommer nog meer.
Sy het ‘n ooglopende heldeverering vir haar Ma wat op 86 oorlede is. ‘n Merkwaardige vrou wat baie swaar gehad het in haar lewe. Hulle is vier susters waarvan Tannie Gracie die oudste is. Toe sy ses was het die oudste drie saam met Oompie Mentoor Piketberg toe gekom. Oompie Mentoor was haar ma se broer. Sy vrou was Tannie Treintjie, maar sy was nie gaaf nie. Toe Oompie Mentoor die eerste keer in Kenilworth kom van Piketberg af het hy sy hoed gelig vir al die mooi vrouens in die winkel. Tannie Gracie se hele lyf lag as sy vertel hoe hulle hom gespot het, omdat dit winkelpoppe was wat hy so plegtig groet!
Die vriendelike kelner bring ons tee en ontbyt en Tannie Gracie vertel hoe geirriteerd sy is met vandag se jongmense wat so maklik kla. Self moes hulle beesmusvloere smeer en op hul knieë skrop. Vandag se kinders is so bederf sê sy… hulle druk net knoppies. Sy klik haar tong.
Tannie Grace was nooit getroud nie en het geen kinders nie. Haar Ma het gesê ‘n mens trou eers en dan slaap jy. Daar was ‘n Skot met ‘n kielt wat vlerk gesleep het, maar hy wou eers slaap en moes vort.  Ek vra of sy kinders mis en sy antwoord dadelik: “Ek is baie lief vir kinders en het maar die wit mense se kinders behandel soos my eie. En hulle is dit vandag nog”. Sy wou nooit iets doen om haar Ma seer te maak nie. Sy’t van jongs af gesien hoe swaar haar Ma kry.  Dan onthou sy kere dat haar Ma koerantpapier voor in haar skoene moes sit om papnat tekkies kerkgereed te maak.
Sy vertel: op haar 90ste verjaarsdag was byna die hele Piketberg deur haar huis om gelukwensings te bring. ‘n Klein "klonkie" kom staan langs haar en vra hoe sy dit reggekry het om so oud te word. Sy sê hy moet net gehoorsaam wees aan sy ouers en geen vuil tale gebruik nie. Ooee! sê hy. Is dit al? En hardloop by die deur uit.
Ek vra of sy iets berou uit haar lewe. Ja, sê sy. Dat sy nooit ‘n boek geskryf het oor haar Ma se lewe nie. Ek moedig haar aan om dit steeds te doen.  Sy eet een van die vier bruin toebroodjies en vra ‘n “doggy bag” vir die res. Ja, die slaaitjie ook. Sy vra uit oor my ouers en ek wys haar foto’s van my 75 jarige Pa en 73 jarige Ma se 50ste huweliksherdenking. So jonk! sê sy. Sy wys vir my ‘n geel gevatte swart en wit fototjie van haar Ma en suster in ‘n silwer raampie op ‘n gehekelde lappie langs haar bed. Miss Nancy het die lappie gehekel.
Ek vra wat sy uit die lewe geleer het. Haar antwoord is eenvoudig: Dien die Here met dankbaarheid; werk hard en gee blomme vir jou ouers terwyl hulle nog lewe. Sy sê haar Ma het hulle kerk toe gedra toe hulle nog klein was… en dit is glashelder dat die Here haar hele lewe is.
Tannie Grace spandeer haar tyd om mense wat swaar kry te bemoedig. Sy kuier veral by drie “ou mense” in Piketberg (sekerlik jonger as sy). Een in ‘n rolstoel. Tannie Miena wat onlangs oorlede is. Sy vat vrugte en lag ‘n bietjie saam met hulle.
Toe ek groet vra sy waarvoor sy vir my kan bid. Ek is onkant gevang en sê sy kan vir my bid vir ‘n man. Sy tree nader en met haar gesig 10 cm van myne af sê sy ernstig: Net as ek belowe om vir haar ook te bid vir ‘n man!
Wat ‘n vrou! Wat ‘n vreugdevolle siel! Wat ‘n belewenis! Net soos haar naam ‘n toonbeeld van God en Sy genade. Mag baie van ons nog die voorreg hê om talle teetjies te geniet saam met die Tannie Gracies in ons lewens.

 
 

Saturday, May 21, 2016

Die aartappel op Doha

Ek kan duidelik sien hoe Hendrik se oë rek toe ek nonchalant 'n middelslag aartappel op die tafeltjie tussen ons neersit saam met my paspoort, tandeborsel en selfoon. Die vraag stol op sy lippe en hy kyk my vraend aan. 'n Aartappel?

Ons sit in die Al Maha Lounge op Doha lughawe. Hendrik is 'n kollega van my. Ons stadsingenieur. Ons is oppad Brussels toe vir 'n konferensie saam met ons Stedeband munisipaliteit van Heist-op-den-Berg. Maar alle paaie lei na die Emirate. Veral as jy verbonde is aan supply chain regulasies en die goedkoopste opsie moet vat. Dan vra niemand of jy 8 ure moet oorsit op Doha nie.

Nou weet julle hoekom ek op Doha sit. Maar die aartappel toer saam vir 'n heel ander rede. Eintlik is daar net een rede: desperaatheid. Benoude katte maak benoude spronge en toe ek in Maart vanjaar radeloos vaak by my werk sit omdat ek nie kan slaap snags van rustelose bene nie, toe spring ek!!

In ons huis noem ons dit sommer kriewels. Minstens twee van ons vyf dogters kry dit erg. Ek en Christa. Baie raad en tref en trap later onthou ek Amoré se gesprek een middag op RSG met suster Nettie of Antoinette Pienaar. Sy sweer by aartappels in jou bed sit om rustelose bene te heel. In 'n whatsapp gesprek met my familie spekuleer ons oor die belaglike kuur. Hoeveel het jy nodig? Waar in die bed? Hoe lank? Hoeveel keer kan jy hulle gebruik? Ons raak selfs belaglik en my ma bied aan om vir my bedsokkies te brei met sakkies op die sole waarin ek my aartappels kan sit. Maar eks desperaat en sal letterlik enigiets probeer! Enigiets!!

Nou twee maande later toer my aartappels orals saam met my. Was Woensdag en Donderdagaand in PE, vrydagaand in Piketberg, vanaand in Doha en moreaand in Brussels. En my kriewels? Spoorloos! Nog nie weer n teken van nie. Dankie nurse Nettie! Jy het my lewe gered.