Wednesday, May 9, 2012

The land of the rising sun...

Ek is mal oor Japan! My nag in Osaka in die Washington Kansai Airport Hotel was so lekker dat ek nog 'n nag daar bespreek het vir 16 Mei net voordat ek VSA toe vlieg die volgende oggend. Die ontbyt was Japanees en Westers en ek het als probeer. Tofu is vir my vreemd, maar die macaroni slaai vir ontbyt saam met vele ander vars vrugte en yogurt was 'n seen.

Dankie vir almal se briewe na my gmail adres terwyl ek aflyn was. Dit is so lekker om te weet julle dink aan my en bid vir my. Ek en Lean het dit nodig gehad in China, maar is veilig anderkant uit. Lean vlieg op die oomblik terug en is vandag 16:30 SA tyd by die huis. Ek het vanoggend die gratis shuttle bus teruggevat lughawe toe vanaf die hotel en die 'express' trein gevat na Kyoto vir 2980 Yen. Dis omtrent R300.  Mens kan nie Japan toe kom en nie by Kyoto 'n draai maak nie. Maar voor ek julle van Kyoto vertel: Daar is so baie van julle wat kla omdat ek nie my detail dagboek oor China op die blog gesit het nie. Okay, okay! Ek het gedink my opsomming sal die ding doen, maar aangesien party van julle die blog gebruik om julle te help slaap in die aand, ander om te lees terwyl babas geborsvoed word, ander om iets lekkers te doen by die werk, of om 'n sondagmiddag koffietjie mee af te sluk, sit ek dit graag op. Ek sal fotos by werk soos ek kan.

Hier volg die dagboek van 25 April 2012 toe ek in Beijing China was en die Chinese regering nie wou toelaat dat ek in my blog inteken nie. Hulle weet seker hoe negatief ek hulle beskryf in hierdie blog:


25 April 2012

Hong Kong na Beijing.

Ek was nog nooit in ‘n vliegtuig waar jy by die venster uitkyk en 3 – 4 ander vliegtuie in die lug sien nie. Hierdie hemelruim in die ooste is baie vol. Miskien gaan ons eendag kan lug-krieket speel soos ons nou doen in ‘n motor. China Air is ‘n 4, Hong Kong Air is uit! En so aan... Ek vlieg heerlik. Daar is gemeenskaplike skerms waarop hulle ‘n chinese fliek wys. Ek probeer engelse onderskrifte volg, maar dis te vinnig. Die ou langs my kyk ‘n 007 fliek op sy ipad met chinese onderskrifte. Alles verder in die vliegtuig is chinees. Ek kan nie een boek lees of iets verstaan nie. Ek sit langs die nooduitgang, maar as iets moet gebeur sal ek my eie storie moet opmaak. Ek doen dit met die cartoons in die koerant vanoggend en dis nogal snaaks.

Beijing is die 2de grootste passasiers lughawe in die wereld. Dis massief! Ons ry ver met ‘n bus vanaf die vliegtuig na die terminaal en toe weer met ‘n trein na die bagasie afhaal plek en immigrasie. Ek gaan staan langs die inligtingstoonbank by aankomste en wag vir Henko. Ek het nie sy telefoonnommer op my selfoon gelaai nie, want ek het mos my rekenaar byderhand, maar ek het nie rekening gehou met die chinese regering nie. Hulle blok alles van FB tot my blog en gmail op die lughawe, so ek kan nie by die nommer uitkom nie. Ek bid en vra dat die Here my en Henko na mekaar sal lei en toe ek omdraai kyk ek reg in hom vas aan die oorkant van die saal. Amen!

Ons wag  vir Vivian. Sy vlieg van Shanghai af en haar vlug is vertraag met twee ure. Sy sou ‘n uur voor my geland het. Ons drink tee en gesels afrikaans dat die spoeg spat. Henko is nou 4 maande in Beijing en beplan om langtermyn hier te bly. Hy kan selfs al tee bestel in Chinees en lyk baie goed. Ons vat ‘n taxi terug na hulle woonstel en sit vas in middagverkeer. Ons kom na 19:00 eers by die huis en gaan eet in die restaurant onder hulle woonstel. Hulle probeer disse bestel wat ek ook sal eet. Buite op die sypaadjie is iemand besig met die naaste wat Beijing sal kom aan 'n barbeque. Klein stukkies vleis word op stokkies gaargemaak en die mense in die naby gelee restaurante bestel ook daar. Vivian bestel skaapvleis vir my en Henko en vir haar donkerder vleis. Ek hoor ‘kitten’ en is geskok. Later hoor ek dit was darem kidney.

Ons stap en ry bus na Solana winkelsentrum en ry in ‘n oorvol bus. Vivian vertel vir ons die storie van die busse in Beijing wat so vol is dat iemand ‘n miskraam gehad het op die bus. Toe iemand van Shanghai dit hoor se sy dit is nog niks: In Shanghai is die busse so vol dat iemand swanger geraak het as gevolg daarvan!

Niemand in China mag gaste ontvang van buite die land sonder om hulle by die Polisie te registreer nie. Jy moet binne 24 uur vandat jy hier aangekom het, by die polisie gaan registreer. As jy in ‘n hotel bly, gebeur dit outomaties. Hier waar ek kuier, moet Vivian my vanoggend polisiestasie toe vat (blykbaar stapafstand) om my te gaan registreer. En more-oggend vat ons vir Lean. Vivian se generasie begin almal vrae vra oor die regering en Henko se dis sy grootste verskille met Vivian op die oomblik, dat hy haar probeer oortuig om dit net te los. Hulle poep teen ‘n tornado en dit maak haar en haar tydgenote baie ongelukkig. Aan die anderkant het mens sulke mense nodig om verandering teweeg te bring.


Ek en Vivain gaan doen inkopies in 'n plaaslike supermark en ek vergaap my aan alles. Hulle koop rys by die 'ton' en nie soos ons in 1kg of 2 kg sakkies nie. Hier skep Vivain vir ons rys in.


Lean se aankoms op die lughawe (26 April 2012)

Gisteraand in die 'mall' koop ons nagereg by twee verskillende plekke wat albei besig is om te sluit vir die dag (dit was 22:00). Toe gaan sit ons buite by die fontein op die bankies, maar dis koud en Vivian vra hoekom sit ons nie in Starbucks nie. Sy begin al opstaan en stap Starbucks toe. Ek en Henko vra onmiddellik die obvious vraag: Sal hulle ons toelaat om kos van buite af in te bring en by hulle tafel te sit as ons niks by hulle koop nie? Natuurlik nie! Dink ek. Natuurlik!, se Vivian. Ons stap in en gaan sit by ‘n Starbucks tafel en geniet ons roomys en mango nagereg van twee ander winkels. Niemand knip ‘n oog nie! By vele ander tafels in Starbucks is ander winkels se pakkies. Vivian se reaksie is bloot: Starbucks is te duur, niemand sal hier koop nie. Maar almal sit daar! Weird!

Hulle drink glad nie die kraanwater nie en maak nie eers kos van die water nie. Als gebeur met gefilterde water uit ‘n watertenk soos ons by die Munisipaliteit in die raadsaal gehad het. Hier gooi mens ook niks toiletpapier in die toilet af nie. Jou papier gaan in ‘n drommetjie langs die toilet. Dit help met die geur wat in China rondhang.

Ons trek ons skoene uit by die voordeur want die strate is net te vuil. Ek moet se net ons een trippie na die mall het ek gesien hoe vuil die strate is. Skoene buite! Van more af loop ek met toe tekkies met sokkies daarby. My plakkies is net te oop vir die vuil strate.


26 April 2012

China! Ek wil nou niks leliks van my gasheerland se nie, maar die regering hier glo nog vas in die groot gevaar en beheer als wat almal doen en nie doen nie. My eerste skok gisteraand kom toe ek voor my rekenaar gaan sit en wil begin vertel van die dag op facebook en my blog. Beide wil glad nie oopmaak nie en ek vra vir Henko wat aangaan. Ek het geweet FB sukkel in China. Die regering blog die sites doodeenvoudig om te keer dat te veel westerse invloed by chinese kom. Gmail sukkel ook, maar met ‘n ompad en baie geduld en gebed, kom ek op die site.

Maar verder is China baie lekker. Beijing is ‘n reuse, massiewe stad, maar is ontwikkel in zones wat elkeen alles het, so dit voel kleiner. Ons bly in Ring 4 Oos. (Dong Fung Chau) Die stad is ontwikkel in 6 ringe en die publieke vervoer is baie goedkoop, betroubaar en gereeld. Mens betaal 40 sent in Yuan (dis 50 SAse sent) om na enige ander ringe te ry. Ek het sommer vanoggend vir my en Lean elkeen ‘n kaart gekoop en Vivian se 20 Yuan (die locals se kuaui) se geld op die kaart sal genoeg wees vir alles wat ons ooit hier wil ry.

Lean kom vandag! Ek sien vreeslik uit om haar te sien en is bly my alleen toerdery is nou eers verby. Maar vanoggend moet ek en Vivian eers die polisie in die oe gaan kyk. Nee, ek het niks verkeerds gedoen nie. Nog nie! Maar chinese mag nie mense van die buiteland ontvang in hul huise sonder dat hulle by die polisie registreer binne 24 uur nie. Dis regtig belaglik, maar in Rome maak jy soos die Keiser se. Ons stap polisiestasie toe met my paspoort en vliegtuigkaartjie. Vivian sal al die praatwerk doen.  Hulle het my net een kyk gegee en gevra waar is ons brief van die gemeenskap wat toestemming gee dat ek hier is! Ja, mens moet so ‘n brief he anders kan ek nie registreer nie. Nou julle moet vir Vivian ken om hierdie te waardeer. Sy is ‘n nuwe generasie Chinees wat nie nee vat vir ‘n antwoord nie en wat alles bevraagteken. Hulle gaan daar in ‘n gesprek. Later praat die hele kamer saam. Ek staan soos ‘n waspop. Almal praat van my en oor my en ek het nie ‘n ‘cooking clue’ wat hulle se nie. Ek gee my mooiste glimlag en probeer lyk soos iemand wat ‘n aanwins sal wees vir hierdie land in my kort besigtigingstoer. Nee, ons moet ‘n brief he en ons moet more terugkom, maar dan is ek buite my 24 uur. Die tannie agter die toonbank gee vir Vivian ‘n spesiale kode wat ons kan gebruik om te se ons was wel binne tyd daar.

Toe gaan doen ons inkopies. Ek geniet altyd ‘n ander land se supermark! Als is anders en nuut. Hierdie mense eet baie rys en mens koop sit by die sak wat geweeg word. Daar staan vier grootmaat houers waaruit mense skep. Daar is lewendige visse, skilpaaie, alle ander seekos waaraan jy kan dink. Ek het gese ek sal vir ons vir vanaand ‘n kerriepot maak en ons soek die bestanddele. Of so na as moontlik daaraan. Ek wou vir skaapvleis gaan, maar het dit net een kyk gegee en die beessnitte gekies. Hul kerriepoeier is heel anders as ons s’n, maar ons sal ‘n plan kan maak. Op die ou end is dit heerlik.

Vivian koop salm en maak vir ons die heerlikste sushi voorgereg vir vanaand.

Lean land 15:02 en dit vat ongeveer ‘n uur om deur al die plekke te kom. Ek en Vivian ry met die bus tot by die lughawe shuttle bus optelpunt en ry vandaar af met die shuttlebus. Die chinese mans op die bus haal hul beste snorkgeluide uit! Dis regtig iets waaraan ek sal sukkel om gewoond te raak!

Dis heerlik om vir Lean te sien! Sy het al my fietsrygoed ook saamgebring en ‘n hele paar goed vir Henko en Vivian. Henko sukkel om goeie medikasie hier te kry en het ‘n wenslysie gestuur. Ook rooibostee sakkies en Lean bring die geskenke wat ons vir hulle wil gee vir die verblyf en kuier hier. In die Chinese tradisie is dit vir Vivian baie belangrik dat sy ons treat en ons vir niks betaal solank as wat ons by haar kuier nie. Ons sal maar die SAse tradisie met Henko bespreek en na die tyd ‘n oorbetaling maak.

Na ‘n heerlike ete, besluit ons dit is tyd dat ons drie van die argiteksgeboue op Lean se lysie gaan kyk. Lean is ‘n argitek en het ‘n lysie geprint van die tien bestes in Beijing wat ons moet sien. Vanaand sit ons af na die Olimpiese Stadion toe. Die ‘birds nest’ en die ‘water cube’ is twee geboue wat die chinese spesiaal opgerig het vir die 2008 Beijing Olimpiese Spele. Ons gaan per bus en moet baie ver stap om die regte voetgangers ingang te kry. Ek kan nie glo dat Lean nog wakker is nie, want sy het ‘n 14 uur vlug via Dubai gehad. As ons nou tuis kom, sal sy doodruk! En so is dit ook!


27 April 2012

Baie stap en baie eet!

Vandag was heerlik. Ons het amper half tien eers opgestaan en stadiger aan die gang gekom as wat ons beplan het. Wat ‘n vinnige roetine besoek aan die polisiestasie moes wees om my en Lean te gaan registreer as korttermyn besoekers in ‘n woongebied in China, het lank gevat, want die chinese regering is vol nonsens. Hulle is nie tevrede met die foto in my paspoort nie. Te dof beduie die vrou in Mandaryns vir Vivian. Ek moet ‘n ander foto bring! Nou ek het ander paspoort fototjies saamgebring, maar dit le in Henko en Vivian se woonstel 15 minute se stap van die polisiestasie af. Maar die vrou gaan op geen manier beweeg word nie en ons moet terughardloop en blitsvinnig maak, want die polisiestasie wat 09:00 eers oopgemaak het, maak toe tussen 11:30 en 14:30 sodat die personeel kan rus voordat hulle 16:30 toemaak vir die dag! Die soustrein hier is selfs dikker as in SA. Ons le die nuwe foto voor en mens kry so ‘n papier wat jy moet teken. Kyk my naam en van in Chinees!




Die foto regs wys Henko hulle se hysbak. Daar is geen vloer vier nie, maar wel 3 en 3A. Die chinese is baie bygelowig en die woord vir 4 beteken ook 'dood'. Nou gebruik hulle dit nie, want niemand sal op vloer 4 wil bly nie. Maar 14 is hier okay!
Die foto links wys my en Lean se kamer. Henko hulle het 'n groot woonstel en het 'n deel van die oopplan kombuis afgeskort vir ons. Ons het heerlik gekuier.

Toe mik ons Beijing Dieretuin toe. Ons wil ‘n regte panda sien en sien of hy kan Kang Fu doen. Ons ry met die bus en die hele ent na die dieretuin (dis heel aan die anderkant van die stad) kos 40 sent. Ons geniet die dieretuin baie. Daar is pragtige wilgerbome oral. Ons mik vir die pandas, die wit tier en die leeus. Die res wat ons sien is bonusse. Nee, die panda het nie toertjies uitgehaal nie. Hy het net sit en eet, maar lyk regtig soos ‘n opstop teddiebeertjie. 


Daar was heelwat groepe skoolkinders en ons dink Vrydae is die afslagdag vir skoolkinders.

Ons eet pasta en pizza by ‘n winkeltjie en haas ons na die winkels vir ‘shopping’. Die kos in China is spot goedkoop. Ons het elkeen vanmiddag ‘n halwe pizza, ‘chicken wings’, ‘n pasta, ‘n slaai en ‘n koeldrank gehad vir R25 elk. Die pizzas waaruit mens kon kies was vir ons baie snaaks. Die een het pepperoni, kaas en blueberry sous op. Die ander een het sjokolade en aarbeie op. Ek en Lean vat maar ‘n vervelige pepperoni en kaas pizza om te deel.

Die inkopies is iets ongeloofliks. As ons gesondheidsinspekteurs die plek sien, sou hulle lankal toegemaak gewees het. Hordes stalletjies in klein ruintes, maar spot goedkoop en heerlik om al die snaakse goed te sien. Vivian is baie goed daarmee om nog die pryse verder af te stry en as jy iets regtig wil he se jy net vir haar en sy onderhandel. Ek kry ‘n north face hemp vir R55 en ‘n paar persente. Henko moes ons verlaat na ete om by sy werk goed te gaan oplaai en kry ons weer later vanmiddag op die platform van die underground treine. Ons is oppad na die Summer Palace. Dit is ‘n ongelooflike stuk aarde van 290 hektaar wat die Emperor omskep het in ‘n geskenk vir sy ma. Daar is verskeie tempels en tradisionele chinese geboue. Hulle is besig om te restoureer aan ‘n paar van hulle en mens kan nie orals inkom nie, maar ons sien genoeg. Daar is ook ‘n massiewe mensgemaakte meer voor die grootste tempel. Hy moes of baie lief gewees het vir sy ma of baie bang. Ons is nie seker watse een nie. Die somer paleis is gebou tussen 1736 en 1795.

Ek en Henko het vanoggend ‘n baie interessante gesprek gehad oor die chinese kultuur en wetgewing. Sy indrukke van China in die afgelope 4 maande is dat die deursnee chinees so bang is vir die regering oor die wreedhede van die verlede, dat hulle niks buite lyne sal doen nie. Daar is oneindig baie reels en almal hou daarby. Dis aan die een kant. Aan die anderkant sit ons vanaand in ‘n restourant met drie bordjies wat groot in twee tale uitspel dat jy nie mag rook nie, maar by al die tafels rook almal. Niemand knip ‘n oog nie. So hulle kies ook maar waaraan hulle gehoorsaam is en waaraan nie.

Die chinese regering het een generasie gelede besluit dat elke gesin net een knd mag he. Die sogenaamde ‘one child rule’. Wat hulle nie bereken het met hulle sosiale herstrukturering nie, is dat chinese besighede uit familiebesighede bestaan wat deur die seuns verder gevat word. Wat nou gebeur is dat wanneer ‘n egpaar swanger word en hulle vind uit dis ‘n dogtertjie, vat hulle onmiddellik ‘n aborsie en probeer weer.  Oor 15 - 20 jaar gaan daar geen vrouens wees nie! Die reel geld nie vir ‘n chinese vrou wanneer sy met ‘n nie-chinees trou nie. Dit is daarom ‘n aanmoediging vir chinese vrouens om Europese mans te trou. Mens sien dit orals hier.

Vandag was ek in baie vuil toilette. Van daai tipe waar mens moet hurk. Dis groce en ons verstaan skielik hoekom Vivian en Henko vra dat mense hulle skoene uittrek as jy hulle huis binnekom. Jou sole is net te vuil na ‘n dag op straat. Die underground in Beijing is ook baie vuil en vol rommel. Hulle kan baie by Singapore en Malaysia leer.

Vanaand skiet Henko en Vivian ons vir ‘n Koreaanse braai restourant. Ons stap baie ver, maar dit is definitief die moeite werd! Elke tafel het sy eie bak kole en ‘n rooster en jy bestel verskillende soorte vleis. Die bykosse kom alles gratis. Die Koreane vat ‘n stuk blaaislaai en sit vleis en verskeie bykosse daarin en vou dit toe. Dan moet jy die hele bondeltjie met een slag in jou mond sit! Elke keer as Vivian net ‘n blaarslaai bondeltjie in haar mond het, dan kom die ‘Fuwuyuan’ (kelnerin) en dis net Vivian wat sinvol met haar kan praat. Een van die bykosse is ‘n baie lekker pampoensop wat net soos ons butternut sop smaak en lyk. Heerlik!

Die bier is baie lekker in China, veilig vir ons mae en baie goedkoop. Jy kan 600 ml bier koop vir minder as R5. Ek weet van baie studente op Stb wat permanent besope sou wees.



Die idee van die Koreaanse braai is dat jy 'n stukkie vleis, groente en als waarvan jy hou, in 'n blaarslaaitjie toedraai en gelyk in jou mond sit. Blykbaar heerlik!



28 April 2012

Toe ons vanaand half elf terugkom by Henko en Vivian se woonstel in Dong Fung Chau (Noordoostelike brug) hang daar ‘n reuk in die lug wat baie moeilik is om hier te beskryf. Dit kom uit my en Lean se kamer. Nee, dis nie ons ou sokkies of omdat ons dringend moet klere was nie. Ons slaap in die kombuis en die reuk kom uit die yskas. Dis Durian en baie daarvan. Durian is ‘n baie gesogte vrug in Suid-Oos Asie en kom van vrugtebome van die Durio familie. Dis ‘n massiewe ding en een vrug kan tot meer as 3 kg weeg. Vivian is mal daaroor en was so opgewonde toe die vrugtewinkel oor die straat goeie pryse vir Durian het. Dit kos 8,80 Kuaui per 500 gram en die hele vrug was 57,00 Kuaui. Die winkelassistent skil dit vir ‘n mens sodra jy betaal het. Die vrug breek self oop as dit ryp is en dan haal hulle sulke slymerige goed wat soos pasgebore muise lyk uit die skil en smul daaraan! Vir hierdie mense is dit ‘n koningsvrug en vir hulle ruik dit heerlik. Volgens google ruik dit soos ‘n kombinasie van amandels, vrot uie, turpentyn en ou gym sokkies! Dis erg hard en ongenaakbaar op ons westerse reuksintuie. Eintlik is ek nou net nice: dit stink! Verskriklik! Ek het dit in die vrugtewinkel geproe en dit smaak soos stroopsoet slakke. Dis slymerig. Nodeloos om te se net Vivian eet daarvan. Selfs Henko is nog nie Durian gewoond nie.



Die foto is van Vivian wat aan Durian smul.

Ons is baie opgewonde want vandag is die dag waarop ons die Great Wall of China gaan besoek. Een van Vivian se vriende was so oulik om ‘n taxi te huur vir die dag wat sewe mense kan vat bo en behalwe die drywer. Johan Horn is ook hier van SA af en vlieg vanaand terug. Johan is my swaer Braam se broer en dis so lekker om familie hier te sien. Hy toer vandag saam met ons. Hy is hier om opleiding te gee vir geestelike leiers in ‘n ander dorpie en het gister daarmee klaargemaak. Twee van Vivian se vriende gaan ook saam. Maggie is die wonderlike samaritaan met die taxi en Mingming is ‘n ou wat net so oud is soos Henko en baie suksesvol werk op die aandelebeurs. Hy wil toe ‘n SAse naam he wat ons kan uitspreek en ons besluit hy lyk soos ‘n Trevor. Dit was net die heel eerste naam wat by my opgekom het. Hy wil toe weet wat dit beteken en op die ingewing van die oomblik se ek: Powerful husband! Hy was uiters beindruk en ingenome met sy naam! Mag dit ‘n seen op sy lewe wees vorentoe.

Ons besoek die Mutianyu gedeelte van die muur. Die muur van China is 8851,8 km lank in totaal. Dit is gebou op die oos-wes lyn van die historiese noordelike grens van China en daarom baie naby aan Beijing. Bei beteken noord in Chinese.  Daarom is Beijing die naam van die noordelikste hoofstad. Nanjing is bv ‘n stad in die suide van China waar Lean se swaer en familie vir ‘n tyd gebly het. Nan beteken suid. As iemand vra waar ons vandaan kom se ons Nan Vy. Dis Suid Afrika. Maar hulle glo ons nie, want hulle kan nie glo daar bly wit mense in SA nie.

Die muur is reeds in 700 voor Christus begin bou, maar die grootste gedeelte en ook die gedeelte waar ons vandag was, is gebou in die 14de eeu na Christus tydens die Ming Dynasty in China. Die doel van die muur was beskerming en grensbeheer tydens die Sy Roete. Dis aangrypend. Ons neem talle fotos en stap meer as 3000 tree op die muur. Met die opgaanslag vat ons die kabelspoor wat soos ‘n ‘ski slope’ kabel lyk. Ek en Lean kom met die kabelkarretjie af terwyl die res afstap. Ek wou nie my knie op die growwe afdraendes toets nie. Terwyl ons vir die res wag, oefen ek en Lean ons onderhandelingsvaardighede met die verkopers in die straatjie by die einde en ons is al heelwat beter. Onder Vivian se toesig het ons goeie vaardighede aangeleer. Ons kry twee van die mooiste sy tafeldoeke waaraan jy kan dink vir R150 in totaal vir al twee saam en drie goeie kwaliteit T-shirts vir R60 gesamentlik! ‘n Winskoop!

 En daar loop ons Wellingtonners raak op die groot muur in China!



Oppad terug eet ons by ‘n winkel langs die pad. Met die stopslag sien ons visse in ‘n pragtige dam voor die winkel. Dit lyk soos kois en daar is drie helder geles. Vivian se dis ons middagete. Ek dog sy maak ‘n grap en se dadelik ek wil die geel een he. Binne twee sekondes is die kelnerin daar met die net om die geel een vir my te vang! Ek moes net keer of dit was koebaai met meraai! Ons het maar op ons vriendelikste dog fermste manier vir hulle laat verstaan dat ons nie vanmiddag daai visse sal kan eet nie. Hulle kon nie verstaan wat die probleem is nie, maar ons kry op die ou end sweet and sour pork, rys, hoender (die hele kop en pote in die bak) en groente met rys. Heel lekker en veral baie goedkoop. Ons al agt eet vir 368 kuaui. Dis minder as R50 per kop en ons het bier en ander drinkgoed ook gehad. Ek, Lean, Johan en Henko betaal vir hierdie ete, want Maggie en Trevor betaal vir die taxi. Die chinese is erg gasvry en wil vir alles betaal. Ons sal maar ‘n sommetjie maak aan die einde en reg maak met Henko agter Vivian se rug. Dankie Henko!

Met ons aankoms in Beijing gaan ons na die waterfront in die ou deel. Dit is naby die Hutong gedeelte wat die tradisionele stegies is waar die ou chinese quartyard huise gebou is. Deesdae word dit bewaar as gedenkwaardighede, want daar is nie baie oor in die stad nie. Ons moet vir Johan by Lisa aflaai, want sy vat hom lughawe toe. Toe ons daar kom verras Lisa ons met ‘n Nan Men Hotpot ete by een van die restaurante. Ons is eintlik nog baie vol, maar wil nie haar entoesiasme demp nie en sit aan. Dis tradisioneel Chinees en baie lekker. Dis baie die fondue gedagte waar elke persoon ‘n pragtige chinese pot kry. Dis gevul met kookwater en chinese speserye soos gemmer, dadels, chinese rooi boontjie, uie en sulke goed. Hulle sit ‘n brandende bakkie onderin (seker paraffin of so iets) en die water begin kook. Dan bring hulle als waaraan jy kan dink om daarin gaar te maak. Ons het lamsvleis, beesvleis, aartappels, patat, groen blare wat lyk soos koliander, wonderlike verskeidenheid mushrooms en vele meer. Dis regtig gesellig en baie lekker. Die grootste eer wat ‘n chinees jou kan aandoen, is om van hulle kos in jou pot te sit. Dis ‘n teken van guns. Later kom die kelner ook sulke seekatballetjies in ons potte maak. Dis fyngemaakte seekat in ‘n buis wat soos ‘n versiersuiker buis lyk en sy druk en knip dit af met chop sticks. As dit begin dryf is dit gaar. Ek probeer daarvan en dit is verbasend lekker.

Ons sukkel net hier om te se ons het nou regtig genoeg geeet. Die chinese woord klink baie soos ‘boude’. Ek het so terug gedink aan van die laaste kere wat ek by my Oumie op die plaas gaan kuier het toe ek in die weermag was. My Oumie kon glad nie meer korttermyn goed onthou nie en het minstens drie keer vir ons tee bestel van Maria af. Elke keer net sodra Maria die teekoppies kom weghaal het, dan se my Oumie vir my: Maar Hanlie, ons het dan nog nie nat of droog oor ons lippe gehad nie en dan roep sy: Marrrriiiaaaaaa! En bestel tee. Ek het te sleg gevoel om vir haar te se ons het nou net tee gehad en het maar te heerlik drie keer tee gedrink op dieselfde oggend. Later het my niggie Karien ingekom en gesnap wat aangaan en gese ek sal een of ander tyd vir Oumie moet se ons het al tee gedrink.  Hier gaan dit net so... Ons sal een of andertyd moet se ons kan nie meer eet nie!

Vanaand het ‘n heerlike einde gehad. Hulle het ook Groupons in China en Vivian het vier massages bespreek by ‘n baie nice plek nie te ver van hulle woonstel af nie. Ons is direk soontoe met die ‘subway’ na ons ete in die waterfront. Ons kry ‘n uur en ‘n half voet massering en refleksologie vir 58 kuaui. Dis ongelooflik lekker. Na die tyd is ons te lam om terug te stap huistoe en vat ‘n taxi.
Dit was ‘n wonderlike dag!

29 April 2012

Ek en Lean word vroeer wakker as wat nodig is en begin klere was. Ons wil so graag koffie en tee maak, maar is te bang om die yskas oop te maak. Ons sal nie die durian reuk kan hanteer op ‘n nugter maag nie. Ons spot met Vivian en het ‘n SAse vlag by ons kamerafskorting opgehang. Ons verklaar hierdie gedeelte ‘n SAse kolonie en is besig om vierkante meter per vierkante meter van Henko en Vivian se woonstel in ‘n SAse kolonie te verander. Hier eet of ruik ons nie Durian nie. Ons verklaar ook vandag ‘n westerse eetdag. Ek droom al oor ‘n bordjie slap chips of ‘n SPUR burger.

Vanoggend gaan ons kerk toe! Die diens wat ons gaan bywoon begin eers 11:30. Die kerk is ‘n internasionale kerk waarheen Henko en Vivian gaan. Dis een bus en ‘n bietjie stap ver. Die chinese kerk in Beijing is nie meer ondergronds nie, maar die plaaslike mense praat nog van die ondergrondse en die bogrondse kerk. Hierdie is ‘n kerk vir nie-chinese en geen chinese mag dit bywoon nie. Vivian mag, want sy is getroud met ‘n nie-chinees. Ons mag gaan, maar moet letterlik ons paspoort wys by die ingang. Dis regeringsbeleid. Ek waardeer weer die voorreg om in SA kerk by te woon sonder ‘n paspoort of ‘n regeringsbeampte by die deur.

Ek en Lean geniet die diens baie. Vanoggend is ‘n spesiale diens van verskillende kulture. Die Franssprekende kerk tree op, daarna die Indonesiese koor en daarna die geestelike dansers van die Philipyne. Die prediker is ‘n man van Singapore wat tans in Sydney Australie by ‘n kerk is. Sy naam is Benny Ho. Hy lewer ‘n skitterende preek uit Matteus 19 en 20. Ons praise en worship in Engels e meestal in mandaryns. Ek is seker die Here verstaan ons Mandaryns. Dis ‘n kykie van hoe die hemel sal lyk met baie nasies en tale. Hulle doop ook omtrent 15 mense en verwelkom hulle in die kerk. ‘n Aangrypende verhaal wat hy vertel is toe hy in Bybelskool was moes hulle ‘n baie moeilike eindeksamen skryf en hulle was baie bang hulle gaan dit nie maak nie. Hy het baie gestress en hom dood geleer. Toe die dosent die vraestelle uitdeel, het hy gese hulle mag dit nog nie oopmaak nie. Toe hulle dit oopmaak later is elke vraag se antwoord reeds 100% ingevul in die dosent se handskrif. Hulle het nie geweet wat aangaan nie. Toe se die dosent die toets is verby en elkeen van hulle slaag met ‘n A+. Hulle was uiters verlig. Toe vra die dosent vir hulle of dit hulle breinkrag was wat aan hulle ‘n A+ besorg het of hulle studies. Nee, dit was die dosent se genade aan hulle. Toe vertel die dosent vir hulle dat Jesus dit vir elkeen van ons gedoen het 2000 jaar gelede toe die wereld voor ‘n baie moeilike toets gestaan het en oppad was om te druip. Jesus het die toets namens ons ingevul en met vlieende vaendels geslaag! Dis genade! Dis ‘n storie wat my altyd sal by bly.

By die kerk ontmoet ons twee ander SAners wat Henko en Vivian ken. Hulle is Ettiene en Karla. Die chinese noem hom ATM en vir haar Colour. Hulle kom van Pretoria af en toer vir ‘n jaar deur die wereld. Hulle is al drie maande in China en gee klas by ‘n skool om geld in te samel vir verder toer. Dis heerlik om hulle te sien. Vandag maak ek en Lean kos en ons soek ‘n westerse restaurant om vanmiddag by te eet. Ons skiet die res vir ete. Die naaste wat ons kan kry in Solana winkelsentrum is ‘n pizza plek. Ons bestel vyf pizzas wat ons  deel en twee bordjies slapchips met baie tamatiesous. Ons drink Stella bier en almal is happy! Almal sluit Vivian se verteringsstelsel uit! Sy kan nie baie westerse kos eet nie, maar vandag sal sy moet sterk wees. Ons is onstuitbaar!

Na ete moet Henko en Vivian ‘n vergadering bywoon by die kerk en ek en Lean sit af na die Silk Market. Dis baie bekend vir alle produkte, maar jy moet erg aggressief onderhandel oor pryse. Ons kry weer die Wellingtonners wat ons gister ook by die Great Wall gekry het. Vir die Lindes wat hulle ken, dis Tannie Elsabe du Plessis, Tannie Cillie (haar suster) en drie van hulle kinders wat saam in China toer. Hulle was saam met Lean op die vliegtuig. Wat is die kans dat Lean hulle drie keer sien tussen ‘n paar biljoen mense?

Die ‘silk market’ maak ons baie moeg. Dis nie moontlik om net rond te loop en te kyk nie, want almal wil als aan jou afsmeer. Hulle begin met belaglike pryse. Vivian het vir ons mooi riglyne gegee en ons probeer ons beste om te onderhandel. Ons maak minstens twee vyande, maar stap darem weg met twee baie goeie Columbia baadjies vir R300 elk. Iets wat R1700 elk in SA sal kos. Maar na ‘n uur is ons doodmoeg. Ons ry terug met die ‘subway’ op ons eie en kry vir Henko en Vivian by die busstop. Vivian vat ons inkopies huis toe en Henko gaan saam met ons na ‘n internasionale supermark waar ons goed koop om vanaand vir Vivian te leer lasagna maak. Henko is mal daaroor en Vivian het al probeer, maar dit het soos ‘n pizza uitgekom. Ons koop rooiwyn, Amarula, mint roomys en ‘n heerlike ciabata brood. Net om ons SAse dag af te sluit.

Ons het nou so heerlik gelag, want die mint roomys wat ek gekoop het, is toe nooit mint nie maar groentee roomys! En dit op ons westerse dag! Nee! Ons gooi dit toe met Amarula en verbeel ons dit is mint. Ons vlieg more-aand 22:10 vanaf Terminaal 2 na Guilin in Suid-Wes China. More is ons laaste dag en ons wil die Forbidden City en Tiananmen Square besoek. Laasgenoemde is die wereld se grootste publieke plein en ook waar Mao Tsetung se graf is. Die ‘locals’ se dis ‘n wasbeeld wat daar le, maar ons wil dit graag sien. Ek sal maar bietjie oplees op google voordat ons gaan.

Vandag was heerlik! Dit was so goed om in die kerk te kom! Ek het vandag net 11366 tree gegee en dit steek sleg af teen gister se 18914 en Vrydag se 21513 tree. Ek is nou gesamentlik op 351 885 tree na 32 dae! Ek het bietjie ingehaal en moet nou net 10 800 tree per dag gee vir die res van die 60 dae!

30 April 2012

Ek en Lean sit op die lughawe in Beijing by binnelandse vertrekke. Dis 20:30. Ons vlug na Guilin vertrek eers 22:10, maar ons wou betyds wees. Die wifi in die lughawe wil nie vir ons toegang gee om mails te stuur nie. ‘n Bitter klein seuntjie het nou die instruksies  vir die wifi by ons tafel kom haal en duidelik weet hy iets wat ons nie weet nie. Hy het ‘n klein rekenaartjie onder sy arm. Hy is seker drie. Ek wens hy wil vir hierdie tannie kom wys hoe dit werk.

Vandag was baie lekker. Ons het beplan om die Forbidden City en Tianamen Square te besoek. Gisteraand soek ons inligting op google daaroor en veral oor die geskiedenis van die opstande wat op Tianamen plaasgevind het, maar China se regring blok alles. Ons wonder vir hoe lank hulle nog die vloed van inligting kan beheer. Die buitelanders wat hier bly gebruik VPN (Virtual Private Networks) en kan daarmee die verbode virtuele stede bereik. Ons soek vandag die verbode stad en al vir vier dae die verbode virtuele stede.
Ons trek 10:00 weg by die huis en vat die bus en daarna die subway na Tianamen Square. Ek het nie geweet daar bestaan soveel mense in die wereld nie. Dis hulle lente vakansie en almal wat leef en beef is vandag by die plein en oppad Verbode stad toe. Ons bestyg die besigste trein waarin ek nog was in my lewe. Ons druk en druk om by die deur in te kom en Lean klim agter my op. Net toe ons dink ons moet nou die laaste deur die deur wees klim daar nog minstens ses mense agter Lean op. Hier sal mens maklik engte vrees kry.

Die plein is die grootste publieke plein in die wereld en is baie mooi versier met verskillende vars blom beddings. As ek en Lean vandag kon geld vra vir elke foto wat die oosterlinge saam met ons wil neem, sou ons skatryk gewees het. Ek weet nou hoe dit voel om ‘n minderheidsgroep te wees wat op en af uitgekyk word en bespreek word. Elke ma kom vra of sy asb haar dogtertjie saam met een van ons kan afneem. Mense wat verbystap neem skelm fotos van ons op hul selfone. Mens kan dit nie glo nie. Dis ons hare wat hulle so fasineer! Hulle ken nie lang ligter hare nie. Ons het maar net geglimlag en keer op keer gebuk by die kindertjies vir nog ‘n foto. Ons het immers ook skelm ‘n paar eienaardige mense afgeneem.

Voordat ons nog uitgevind het wat dit kos om by die Verbode Stad in te gaan, het ons al besluit dat ons dit nie gaan doen nie. Ons was op die plein, deur die poorte, oor die brug, op die binneplein en het gesien wat ons wou. Die skare is oorweldigend en om ‘n kaartjie te kry sal 3 ure neem en dan gaan ons papgedruk word binne. Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie, want ek het nog nooit so baie mense gesien nie. Miskien was die world cup se 80 000 mense in die stadium ‘n goeie begin. Verdubbel dit en verklein die area dan het julle ons belewing vandag. Lean se skoonsuster het ons gewaarsku om altyd toe skoene hier te dra om die goed waarop jy moet trap meer aanvaarbaar te maak. Vandag dra ek my oop fit flops want ek kan baie verder op hulle stap en ek besef ‘n verdere rede hoekom mens hier toe skoene dra: sodat mense nie op jou tone trap nie. Ek het blou tone vanaand!

Die ander rede is die gemors wat op hul strate is. Die snaakste verskynsel wat ek hier beleef het (behalwe die mense se eetgewoontes en spoeg gebruike) is dat hul babas glad nie doeke dra nie, maar oop broeke. Daar is letterlik net ‘n spleet in die kind se broek en als wat hy in ‘n doek sou doen land nou op die straat. Ons loop agter so ‘n gevalletjie en Vivain verduidelik vir ons die gebruik. Ek vra bloot onskuldig: Nou wie maak skoon agter die kind? En Vivian antwoord: Niemand nie! Dis die wonder daarvan! Hoe kon ek so stupid wees?

Fotos

Vanmiddag sien ons die mooiste gebou in China. Dis die Beijing National Centre for Performing Arts. Vir Lean se argiteksbrein was dit net te wonderlik! Sy het verskeie fotos geneem van alles, aan alles gevoel en gevat en was soos ‘n kind in Disneyland. Ek moet saamstem. Dit is iets besonders. Dit is ‘n koepelvormige struktuur. Sy dakplate is als titaan. Binne is daar 5489 sitplekke verdeel in drie groot lokale naamlik die operahuis, die konserthuis en ‘n teater. Die hele koepelgebou staan in ‘n mensgemaakte meer en die totale koepel is struktureel los van die grond sodat hy kan beweeg tydens aardbewings of termiese skommelinge (julle kan hoor ek toer saam met ‘n argitek!) Daar is 5 verdiepings binne die koepel en ‘n Franse argitek het dit ontwerp. Hier is alles ontwerp deur buitelandse argitekte. 






Ons het nou in 5 dae niks van ‘n chinese argitek gesien nie. Al die vlakke is met roltrappe verbind. Daar is fantastiese marmerteels in alle kleure van groen, bruin, swart, wit , geel en vele meer. Die heel beste ‘feature’ van die gebou is die skonerige sit toilette met toiletpapier! Hier is die meeste publieke toilette net gate in die grond waar jy moet squad (‘n redelike uitdaging vir my gebreekte knie) en dit is uiters vuil. Nee, ek bedoel nie die gatkant-toilet-in-SA-vuil nie. Julle sal julle standaarde ver moet laat sak om julle hierdie in te dink. Dis VUIL!

Ons gaan vroegerig huis toe om te gaan pak en stort. Vanaand vat Henko en Vivian vir ons vir ete by hulle ‘downstairs kitchen’ waar ek ook die eerste aand saam met hulle geeet het. Dis baie lekker. Teen hierdie tyd is ons die oosterse kos gewoond en smul ons. Ons vergaap ons egter steeds aan die etiket van die gaste by die ander tafels. Hier is tafel etiket heeltemal iets anders as in SA. Die Britte sal ‘n koriner skiet as hulle hierdie moet sien. Ek is amper seker my ma ook! By ‘n tafel langs ons sit 5 mans in netjiese werksklere. Hulle rook almal in die restaurant. Maggy het vir ons vertel daar is wetgewing hier wat dit verbied, maar dit het eers twee jaar terug ingekom en die mense is nog nie gewoond daaraan nie. Ek kan net nie my oe afhaal van hierdie vyf nie. Goeie genade! Sou Vuyo van Morning Life gese het! Hulle slurp, spoeg bene op die tafel uit, snuif, nies kliphard, skree op mekaar en hou hul bakkies voor hul monde en krap die inhoud daarvan in hul monde uit met die chop sticks. Emsie Schoeman moet eerder nie China besoek nie.

Ons fietstoer gaan baie interessant wees. Ons vlieg nou Guilin toe en die Bike Asia groep kry ons op die lughawe 00:40. Dan word ons dadelik vervoer na Longji Rice Terraces (3 – 4 ure vanaf Guilin) waar ons inboek in ons gastehuis in die dorpie Pingan. As ons daar aankom gaan ons sekerlik eers ‘n bietjie slaap en dan die dorpie verken. Ons toer begin eers more. Dag 2 is ‘n hiking day (en julle het gedink dis ‘n fietstoer). Ons klim die rys terasse. Dis 885 meter klim oor ‘n paar kilometer. Dis alles in die dorpie Pingan. Dag 3 begin ons fietsry en ry 58 km na Hudie Gu. Dag 4 is 69 km na Guilin. Dag 5 is 74 km na Xingping en op Dag 6 ry ons 54 km na Yangshuo. Dag 1 en 3 het die bulte. Van Yangshuo word ons per motor vervoer na Guilin. Dan slaap ons nog ‘n nag in Yangshuo voordat ons op 8 Mei 2012 vertrek.

Ons sien baie uit na die fietstoer. Dis nou vakansie in China en lente. Dis ook die hoogseisoen van hul toerisme en orals sal baie mense wees, maar die platteland behoort beter te wees as Beijing!

Liefde en groete





Tuesday, May 8, 2012

Osaka, Japan! Vrye toegang tot my blog!

Viva Japan Viva! Ek het 20:10 geland op Osaka lughawe en sommer dadelik van Japan gehou. En nie net omdat hulle regering internet vriendelik is nie. Die mense is soft spoken, gaaf, kan engels praat, glimlag vir 'n mens! Selfs die oom wat my hele tas uitgepak het by doeane was so gaaf en geintereseerd in my toer dat ek hom amper my blog adres gegee het!

Nee kyk! Teen vanoggend was ek redelik op-gechinees! Jinne, dis 'n vreemde land met baie vreemde mense. Ek het net 13 dae in China spandeer en kan glad nie 'n wetenskaplike indruk gee nie, maar hier kom my eie persoonlike indruk na my ervarings:

Ek vertel dit graag aan die hand van 'n paar fotos:

Ons het heerlik gekuier by Henko en Vivian in Beijing! Henko is 'n vriend van my wat in Desember 2011 getroud is met 'n chinese vrou, Vivian en hulle bly in Beijing sedert Januarie 2012. Dit was baie goed en lekker om met Henko te gesels oor sy aanpassings hierdie kant. Ek haal my hoed vir hom af!


Vivian het ons leer sushi maak en in ruil het ek en Lean vir haar gewys hoe om Kerrie pot en lasagna te maak. Twee van Henko se gunstelinge wat sy nou kan maak.

Ons besoek die 2008 Beijing Olimpiese Spele gronde. Dis verlate, behalwe vir 'n paar toeriste. Die bekende Bird's Nest en die "Fish Bowl" soos ek dit noem. Ek kan nou nie onthou wat mens eintlik die blou ding noem nie. Dis pragtig verlig in die aand en definitief 'n beter attraksie in die aand as deur die dag.




Ons besoek die Beijing Dieretuin sodat ek, Lean en Henko 'n panda in lewende lywe kan sien! Behalwe die 'Great Wall', was die Panda definitief 'n hoogtepunt vir my!


En toe is ons na die Great Wall of China! Iets wat ek so baie lankal wou sien met my eie oe en in lewende lywe. Wow! Dis ongelooflik! Ons klim die muur en gee meer as 3000 tree op die muur. Die muur is meer as 8000 km lank, maar ons doen die stuk naaste aan Beijing. Dis so twee ure se ry van Beijing af. Dit was 'n heerlike daguitstappie. My swaer, Braam, se broer Johan Horn was ook by en dit was baie lekker om familie in Beijing te kon sien!



Dit is hoe dit lyk as dit met jou broekskeur gaan! Nou moet ek hierdie 'broekskeur' in meer detail verduidelik: Geen baba in China dra doeke nie. Dit bestaan nie hier nie. Maar elke baba en peuter dra broeke met 'n spleet in. Wanneer daar 'n vuil doek sou wees, val al die vuil dood eenvoudig op die straat. Vivian wys ons dit en ek neem die foto. Wie maak agter hulle skoon, vra ek (ek was nie verniet verantwoordelik vir die netheid van Stellenbosch nie!). Niemand nie! Se Vivian opgewonde. Dis die wonder daarvan!! Nou sal julle verstaan hoekom ek na dag 1 in China my plakkies verruil het vir tekkies. Die strate is net te vuil om met oop skoene te loop.


Ons besoek ook die Summer Palace in Beijing en geniet dit baie. Pragtige groot gronde wat een van die ou Emperors vir sy Ma as verjaarsdaggeskenk gegee het. Hy was of baie lief vir haar, of baie bang!


Op 30 April 2012 besoek ons Tianamen Square saam met 100 000 ander chinese. Dis hul Golden Week van 1 - 7 Mei 2012 en dis baie besig hier. Ons wou die Lost City besoek, maar vorder net tot by die ingang. Daar is net te veel mense en ons sal ure in 'n ry staan.

Die aand van 30 April 2012 vlieg ek en Lean Heunes ('n vriendin van my van Stellenbosch) na Guilin om die Mountains and Minorities Fietstoer te gaan doen. Ons ry 220 km in 4 dae en besoek Pingan, Hudie Du, Guilin, Xing Ping en Yangshuo.
Hier is ek by een van die minderheidsgroepe wat hulle Zangshuo mense noem. China se grootste deel van hulle bevolking (92 persent) is Han. Die res bestaan uit 6 minderheidsgroepe.
 Jip! Dit is gedroogde akkedisse wat hulle te koop aanbied langs die trappe in Pingan!


Die eerste middag vat die gids, Farmer Tang, my vir 'n twee ure stappie na twee uitkykpunte in Pingan. Lean se maag is deurmekaar en sy het pille gevat en in die bed geklim. Gelukkig was sy gou beter.


Oeps! Die volgende twee fotos is uit plek uit. Dis ons groep wat na die Great Wall 'n chinese hotpot gaan eet het in die waterfront in Beijing! (Seker eerder 'n river front)

Vivian het vir ons vier 'n voetmassering geboek. Hier modelleer Henko die ontspanningspakkie wat ons moes aantrek as deel van die ervaring.

In China is engels nie groot nie! Kyk die spelling op ons hotel se bord in Pingan. Goeie genugtig!


Een van die minderheidsgroepe sny nooit hulle hare nie. Mens betaal hulle om saam met hulle fotos te neem. My mond staan op 'n skrefie, want ek skree vir Lean wat die foto neem: Maak gou! Haar hare is baie vuil!

Toe ons vir Farmer Tang vra of ons hierdie oom kan afneem, verduidelik hy dat die oom baie arm is en sal geld vra. Ons betaal met graagte 5 kuaui. Die oom se hy wil graag 5 kuaui he om sigarette mee te koop. 10 uit 10 vir eerlikheid!

Nog 'n broekskeur kind! Die storie van die one-child-policy in China is baie groot en orals waar ons met Chinese praat vra hulle vir ons hoeveel kinders mag ons he in SA. Die 'social engineering' wat China doen sedert 1979 gaan hulle nog baie sosiale probleme op die hals haal. Vandag in hul koerant lees ek dat die mense in opstand kom omdat hulle nie weet wat die regering doen met die boetes wat hulle insamel nie. 'n Couple wat per ongeluk of bepland meer as een kind het betaal die som van hul jaarlikse salaris aan die plaaslike regering as 'n Social Maintenance Fund. In die platteland mag jy na 10 jaar nog 'n baba he as jou eerste een 'n seun was en na 4 jaar as jou eerste een 'n dogter was.


Na 'n lang dag van stap deur die villages is ons hoofgids uitgeput! Dis Farmer Tang.

Ons het op 'n bamboo boot gevaar vir twee ure na Xing Ping. Dit was pragtig!

 Die karst berge waarvoor Guilin so bekend is. Daar is 2600 van hulle in hierdie omgewing waar ons gefiets het.

'n Groepie chinese mans sit en dobbel en rook. Dit sien mens orals.
 Die Yulong rivier is die skoonste een in China.

'n Bamboo boot kom vernuftig deur 'n stroomversnelling.



Nou gaan ek eers slaap! Dis reeds half elf in Osaka. Ons is 7 ure voor SA. More vertrek ek per bus of trein na Kyoto.

Heerlike dag vir elkeen van julle. As iets in SA jou pla, wees verseker die toestande in China is erger!

Saturday, May 5, 2012




Dag 3 van fietsry is suksesvol verby. Ons het nou al 173 km en minstens 18 ure in die saal deurgebring. Ons is vanaand in Xingping. Ons het vanoggend in Guilin weggespring en deur die dikste verkeer gekom wat jy jou kan indink. Hier vleg almal verkeer. Dis Lean se eerste ondervinding met oosterse verkeer en dis lekker om dit weer deur haar oe te sien en te sien hoe vreesaanjaend dit die eerste keer is. Daar is fietslyne, maar almal ry daarin. Tot motors ook en kinderwaentjies, motorfietse,mense wat stap en almal kom en gaan in twee rigtings in dieselfde eenrigting smal paadjie. Ons moes kophou om bo te bly!

Ons stop 'n paar keer langs die pad. Hoofsaaklik wanneer Farmer Tang honger is en goedkoop noedels wil he. Hulle eet noedels morning, noon and night. Aanvanklik het ek en Lean nee gese, toe probeer en nou is ons uitgeeet en het ons genoeg familiariteit met Tang om sommer net nee te se.

Na 45 km vandag klim ons op 'n bamboo boot en vaar twee ure (met ons fietse ook op die boot) na Xingping. Dis 'n pragtige dorpie langs die Li rivier. Die fotos wat julle hierbo sien is die bekende karst berge wat hierdie area so bekend maak. Ons het presies die prentjie vandag gesien wat op hul 20 Kuaui noot is. Op die noot staan Yuan, maar die plaaslike mense praat van Kuaui.

Ek en Lean het nou so in ons kamer gelag, want daar is derduisende muskiete langs hierdie rivier. Ons moes omtrent oefeninge uithaal om almal dood te kry. Twee aande terug in die Butterfly Valley het die opsigter sommer so klap klap die kamer ingekom. Ons dog hy probeer ons aandag aftrek van die muwwerige mat of vuil mure, maar besef later hy slaan muskiete dood soos hy beduie waar die badkamer en aircon is. Gelukkig het hulle muskietmatjies.

Gister langs die pad fiets ons verby 'n tea garden. Voor die tyd se ons gids ons kan daar stop en tee drink. Ek is al so lus vir tee (het eers opgegee op Earl Grey want China doen dit glad nie) en vra nou niks meer as 'n gewone koppetjie black tea nie.Ek sien visioene van 'n lekker beker tee soos net my Pa dit 23:00 in die aand kan maak. Toe ons op die tee plaas aankom, vra ons dadelik vir die gids wat ons die plaas wys of hulle black tea het. Natuurlik! beduie sy. Great! My mond water. Later bied sy vir ons die tee aan en dit is getrou aan hulle tee tradisie koppetjies so groot soos 'n 50 sent stuk met flou black tee wat met Litchi gegeur is. Verder green tea en alles word op die tradisionele tee seremonie manier bedien. Sonder melk en suiker! Nou ja! So leer ons.

Vanmiddag vaar ons verby 'n polisieboot. Ons meneer in beheer van die bamboo boot moet 'n lisensie gaan koop om drie nie-chinese op die rivier te vat. Tang gaan gratis as toergids. Ons parkeer langs die polisieboot en sien dat 'n hele groep van hulle om 'n tafel sit en dobbel met hopies geld voor elkeen. Ons het ook 'n tweede interaksie met die polisie gehad wat vir ons boekdele vertel het van die chinese kultuur. Ons ry met 'n skerp afdraend. Ek ry voor (swaartekrag op 'n afdraend is baie goed vir my), met Cheche net agter my. Om 'n skerp draai le 'n chinese man langs die pad.Hy lyk lights out. Ek slaan remme aan en Cheche ook. Ons wil eers kyk of die man okay is. Toe Tang daar aankom, is hy baie vies vir ons. Hy het eers gedink ek of Cheche het die man omgery. Hy skel ons sommer. Cheche het hom gou reggehelp. Toe wil hy glad nie he ons moet 'n ambulans bel of die polisie laat weet nie.Hy is letterlik vreesbevange en se ons sal in die moeilikheid kom en hulle sal dink ons het hom doodgemaak. Op die ou end swig ons onder sy druk en ry aan. Gelukkig kry ons 'n polisiestasie baie naby en gaan rapporteer die bewustelose man. Dis hoe die meeste Chinese is. Hulle is vrek bang vir die owerheid en onthou nog baie goed die wreedhede van die verlede.

Ons keuses van kos deur die dag is baie moeilik, want Tang gaan na baie shaky plekke om so goedkoop as moontlik te eet. Hy kry 'n kostoelaag, maar spaar die meeste vir sy familie. Nou stop ons by uiters vuil plekke waar hy 2 kuaui kan betaal vir noedels. Ek en Lean het hom ferm dog vriendelik laat verstaan dat as hy wil he ons moet iets eet, moet hy 'n skoner plek soek. Ons kan net die bekostig om siek te raak nie. En siek sal jy raak van hierdie onhigieniese toestande. Vandag se Cheche "the chinese will only be clean if you force them to be clean."

Twee nagte terug word ek wakker in ons kamer met iets wat klink soos 'n mot wat homself te pletter vlieg teen die muur. Ek luister en besef dit is druppels wat val. Ons kamer lek! En nie net op een plek nie, maar baie! Ek vlieg op om seker te maak dis nie op ons beddens nie. Lean word wakker in die geskarrel en maak 'n baie skerp opmerking: Ons het nou baie gesien dat China baie kan maak, ons wil nou sien dat hulle iets goeds kan maak. Dit sien 'n mens nerens nie. Die kwaliteit van alles is shaky! Alles!

Gister was ek baie kwaad vir die chinese. Hulle ken glad nie vrouens in fietsryklere nie en veral nie 'n vrou van my 'size' op 'n fiets nie. Oral maak hulle onsmaaklike opmerkings en probeer skelm fotos neem. Vanmiddag stap 'n chinese man reguit op my af en voel aan my bo-arm spier! Nou moet julle vir Tang sien om dit te waardeer. Die gemiddelde chinese vrou weeg seker tussen 35 en 42 kilogram. Tang is 1,2 meter lank en dra 'n klein nommer 13 skoentjie. Sy plakkies lyk soos iets wat ek voor in my motor wil ophou oor die spieeltjie. So in hulle konteks is ek en Lean soos 'n sirkus op wiele! Ek sal nie verbaas wees as daar 'n foto van ons op 'n chinese poskaart verskyn nie! Dis erg irriterend. Ek praat maar kliphard in afrikaans terug na hulle toe en dis nie altyd die vleiendste opmerkings nie. Ek is eintlik net redelik keelvol vir hulle ombeskoftheid en kan nie wag vir Amerika dat ek weer soos 'n 'midget'kan voel nie.

More is ons laaste dag van fiets. Ons moet 42 km doen vanaf Xingping na Yangshuo. Daar is 'n baie goeie lig vertoning wat ons wil gaan kyk en oulike markte. Tang het vir ons drie moontlike opsies van roetes gegee en ons sal more die weer bekyk en dan besluit. By die een is 20 hillies.(sy beskrywing van 'n bult).Die ander ene is plat en die ander een baie lank. Ek het klaar besluit watse een my sal sien, maar ons sal more kyk wat die res wil doen.

Mag elkeen van julle die "hillies" in julle eie lewens met mening pak! Hier is ons gelukkig! Ons weet min of meer wat kom (as ons Tang gereeld vra, want informasie gee is nie sy sterkste eienskap nie). In die werklike lewe kom die hillies sonder dat mens dit weet of verwag. Mens weet ook nie hoe lank hulle gaan aanhou nie. Ons spot baie met Farmer Tang want gister het hy my verseker dis die laaste hillie vir die dag en toe kom daar nog 9! Vandag voel hy baie sleg daaroor en was spot-on met sy skattings vandag!

Baie liefde

Hanlie en Lean

NS. Bid asb nog steeds vir ons veiligheid in hierdie vreemde land.

Wednesday, May 2, 2012

Terug op die lug!!!

So bevark mens n beherende regering wie se naam ek nou nie hier kan noem nie! Ons Italiaanse gids wat al n rukkie in die land sonder naam bly, het al n paar trieks geleer en my vanmiddag gewys! Jippie!! Ek verlang sommer na ons regering. Ons is terug in ons gastehuiskamer in Pingan na n wonderlike stapdag. Ons begin more fietsry. Vanoggend 09:00 is ons hier weg en het meer as 15km gestap na 3 klein villages toe waar minderheidsgroepe bly. Ek vermy nou doelbewus name want die kortpad wat ek nou gebruik om hier te tik word deur die menere in beheer gemonitor. Dit voel of ek terug is in uniform. Dit gaan goed met my en Lean. Ons toer heerlik. Ons gidse is baie goed en die wereld hier is besonder mooi. Dele vandag het soos die knysna bos gelyk en ander dele soos die switserse alpe. Ons is versigtig vir die kos. Lean se maag was gister nie lekker nie. Ons drink maar bier vir energie en vat in die aand iets sterkers om die kieme dood te maak. Hulle het Jack Daniels met coke op die spyskaart. Hier maak die mense die mooiste goed en bied dit baie goedkoop aan, maar ons moet als wat ons by ons het met fietse vervoer so ons koop niks. Net n voetmassage. Ek het my rekenaar saam met al ons bagasie in Guilin gelos, want ek wil dit nie op die fiets vat nie. Nou tik ek op my selfoon en kan nie fotos aanheg nie. So baie dankie vir elkeen van julle wat die blog so geniet en erg ontsteld was oor die onderbreking. Ek het dit selfs meer gemis as julle! Die wereld hier is erg bergagtig. Toe ons gisteroggend vyfuur in die donker hier aangekom het, kon ons nie mooi sien hoe dit lyk nie en ons was baie moeg na drie ure se vlieg uit die hoofstad van hierdie land. Vanmiddag toe ons terugkom sien ons die pad in die lig. Mens klim 798 trappe van waar die taxi jou aflaai tot by ons kamerdeur. Ons het vandag minstens 20 keer dit gedoen op die roete. Fietsry gaan heerlik wees. Nou se ek eers baai. Dis so heerlik om met julle te kan kommunikeer! Dankie vir elkeen wat laat weet het dat julle ook nou Earl Grey tee drink. Twinings behoort vir my kommissie te betaal. Ek sal nou al my voortande gee vir n koppietjie. Hier is black tea n rariteit en drink hulle slegte groen tee. Ek hou getrou dagboek en sal dit opsit sodra ek in die buurland na die ooste kom (waar die tsunami was). Mis julle!! Groete. Wees goed vir jouself en vir mekaar!!

Thursday, April 26, 2012

Stilte in China

Nou is dit Elna aan die woord.  Hanlie het gevra dat ek laat weet dat die blog nou vir twee weke stil gaan wees.  China laat nie Facebook of blog toe nie.  Ons sal maar alles aan die einde moet lees.  As julle so lekker soos ek gelees het, gaan dit 'n lang twee weke wees.

Tuesday, April 24, 2012

Groot, groter, grootste!

Nou het ek als gesien! Of so dink ek op hierdie stadium! Ek is een van 54 miljoen passasiers wat in 2012 deur die Chek Lap Kok Lughawe in Hong Kong sal gaan. Dis die 10de besigste lughawe in die wereld met Atlanta in die VSA no 1 met 92,3 miljoen passasiers 'n jaar. Net om dit in perspektief te plaas... Kaapstad doen 8,7 miljoen 'n jaar en Johannesburg se Oliver Thambo het 17,6 miljoen gehaal in 2010/2011. (Soccer World Cup het die getalle gerek). Beijing Lughawe waarheen ek oppad is, is no 2 in die wereld en doen ook meer as 90 miljoen passasiers 'n jaar. 1 - 7 Mei is die Golden Week in China en dit sal baie besig wees! Deur die Here se genade moet ek en Henko mekaar asb iewers raakloop. Gelukkig lyk nie ek of hy soos die normale passasier in die ooste nie.

Hong Kong Internasionaal is die heel besigste lughawe in die wereld wat 'cargo' betref en het in 2011 besiger as Memphis in die VSA geraak, wat sy grootste kompetisie is. Nou asof dit nie groot genoeg is nie, is hier oral borde op wat verduidelik dat die Hong Kong regering op 20 Maart 2012 die nuwe 2030 visie plan vir Hong Kong Lughawe aanvaar het. Die Chek Lap Kok Lughawe het in 1998 eers oopgemaak en was dadelik te klein.

Oral waar ons op die bus gery het die afgelope twee dae hoor ek van 'reclamation land' en uit my SAse perspektief dink ek hulle het dit teruggevat van iemand af. Moontlik van die Britte. Nee! Dis alles grond wat hulle droogle en vat van die see soos hulle groei. Die lughawe is gebou op 'n nagemaakte eiland wat geskep is deur twee kleiner eilande naamlik Chek Lap Kok en Lam Chau doodeenvoudig plat te stoot met die grond. Vir plan 2030 gaan hulle nog 650 hektaar eiland bou in die see. Ek ruik 'n oorstroming!! Die plan vir vergroting gaan 186,2 biljoen HKD kos en die regering het dit 'n maand terug goedgekeur. As ek net dink hoe ek gesukkel het om 'n R10 miljoen projek deur ons raad te kry!

Ek het met die Express Trein lughawe toe gekom en vroeg gekom sodat ek die maksimum voordele uit die Priority Pass Lounge kan kry. Hier is heerlike ontbyt, gratis wifi, storte en Earl Grey Tee!

Dit was baie maklik vanoggend. Die K3 bus tel my op by die Holiday Inn reg langs my USA Hotel en vat my Kowloon stasie toe onder die hoogste gebou. Daar is 'n K3 bus elke 15 minute. Ek sien vanoggend eers dis waar ek Vrydagaand ook was, maar toe het dit so gereen en was dit al donker, so ek het nie waardeer dat ek onder die hoogste gebou in HK is nie. Vanaf Kowloon stasie vertrek die Airport Express elke 8 minute. Dan is dit 20 minute tot op die lughawe. Ek boek in by China Air en gaan deur paspoort beheer. My tas is vanoggend 26 kg en ek word bietjie aangespreek deur die lugdiensdame. Ek gee my mooiste glimlag en verduidelik dat ek bietjie inkopies gedoen het in HK. Sy lyk tevrede en vat die tas. Wat eintlik gebeur het, is dat ek al my skoene ook in my tas gesit het om so lig as moontlik handbagasie te he.

My rugsak. In elke land werk ek die 'badge' op van die land wat kom!


My hele keboedel!

Ek kon net lag toe ek hierdie sien! Hong Kong Internasionale lughawe het 530 boarding gates! Dis massief!


Die vlug na Beijing is 3 ure en 20 minute. Bon Voyage.