Sunday, November 23, 2025

Dolfyne kyk suidwes van die eiland en laaste indrukke van die Saints

 

Ek en Elize oppad terug van St Helena af met Airlink. Oppad soontoe het ons by Walvisbaai gestop. Vandag vlieg ons reguit Johannesburg toe. 

Ons laaste twee dae op die eiland was heerlik. Sewe van ons 12 is saam met Keith op die see uit om dolfyne te soek en die kuslyn te fynkamp vir broeiende voëls. Ons sien al twee. Twee soorte dolfyne en vier soorte voëls naamlik die rooibekpylstert, black noddy, brown noddy en bril malgasse. 


Die kleur van die water is kobaltblou!

Hierdie gate is deur die Franse weermag geskiet met toestemming van die Britte in ‘n oefening. 

Keith in sy kantoor!

Ons sien talle pentropical dolfyne wat al langs die boot speel! 

Ook bottelneus dolfyne!

Ek kan ‘n St Helena vakansie vir enigeen aanbeveel! 


Thursday, November 20, 2025

St Helena Eiland: Jacob’s ladder en stap na die seepoele van Lot se vrou


 Gister kon ek nie een foto gelaai kry met die eiland se dataspoed nie. En die inwoners sê dis nou strate beter as wat dit was! Nou probeer ek weer!

Vanoggend het ek Jacob’s ladder gedoen in Jamestown. Dit is 699 trappe wat die bo-dorp (Half Tree Hollow) met die onderdorp verbind. Dis ‘n baken wat van ooraloor sigbaar is en die ding om te doen as jy hier is. My tyd is 27 minute. Mens kry ‘n sertifikaat by die museum vir 3 pond. 


Gisteraand was alles toe in die dorp (soos gewoonlik hier op ‘n Woensdag) en was ons aandete by die Yacht Club op die hawe. Vis en tjips. Tuna in ‘n kerrie-degie. Heerlik!


En ‘n pragtige sonsondergang oor die hawe om die lekker atmosfeer aan te vul. Die Saints is gawe, gulhartige mense. 



Die eiland is 15 km by 8 km en hier bly ongeveer 4000 mense. Daar is 200 kinders in die enigste skool op die eiland van Grd 1-12. Hulle enigste taal is Engels, maar ek was al drie dae hier voordat ek kon hoor dat dit wat die locals met mekaar praat, Engels is… die koningin sou dit nie herken het nie. 

Hier is 21 erkende “post box walks” en gister het ons Lot’s wife ponds gedoen vanaf Sandy Bay op die suidkus van die eiland. Moet nou asb nie wit sandstrande in jou geestesoog oproep nie. Hier is Sandy Bay:



Ons sien brilmalgasse broei langs die pad. Klim ‘n styl berg uit en oor tot by die posbus en dan is dit 60 meter afsak met ‘n tou - abseil!

Hier is ek oppad af! Dit was nie maklik nie!


Maar die prys is die moeite werd!



Die broeiende brilmalgas. 

Die touleer van onder af! En dis halfpad van dit wat gedoen moes word. 






St Helena is voorwaar ‘n fees!


Monday, November 17, 2025

Blue Point, boeregrafte en toer om eiland







Nee, ons het nog nie Jacob’s ladder tot bo geklim nie. Vanoggend vroeg het ek en Pieter ‘n kwart gedoen. 176 trappe! Môre doen ek hom tot bo!  Elkeen wat dit maak, kan ‘n sertifikaat kry met jou naam op. Vanaand wys Keith ons hoe die eilandkinders dit afgly! Angswekkend!




High Knoll Fort is in 1790 gebou en is een van die primêre beveiligingsplekke in St Helena. Dit is ook tydens die Anglo Boereoorlog gebruik om boere-gevangenes te huisves. 





Ons besoek ook vandag die boere-grafte. Die jongste kind wat hier begrawe is, was net 16. 





 

Napoleon Bonaparte se graf op die eiland. 

Die uitsigte stel nie teleur nie!




Die Governer’s House waar die 193 jarige Jonathan die Seyschelle reuse skilpad woon. Hy wou nie roer tydens ons besoek nie en soos ‘n ouer oompie was hy besig met sy middagslapie. 
Ons stap vir die dag is Blue Point. Ons sien die mooiste uitsigte aan die suidelike kant van die eiland en baie mooi blomme. 









Die nuwe pond note met Koning Charles op. 




As jy nog enigsens twyfel oor of jy St Helena Eiland moet besoek… moenie huiwer nie. Oor en oor en oor die moeite werd!








 

Sunday, November 16, 2025

Eerste indrukke van St Helena Eiland en Sugar Loaf Post Box Walk

 


St Helena Eiland is ‘n aangename verrassing op vele terreine! Dis pragtig!! Die landing was makliker as wat ons gevrees het. Ons bly by die Blue Lantern gastehuis wat deur ‘n Suid-Afrikaner, Keith, besit en bestuur word. Aandete van Chicken a la King is heerlik. Vanoggend stap ons Sugar Loaf Hill van Jamestown af. Dis 11 km vir my en Pieter en 15 km vir die res. Pragtige see uitsigte. Dis koelerig toe ons 08:45 vertrek, maar die 12 uur son druk ons vas teen die swart vulkaniese paadjies. 


Die Tannie by doeane was baie ernstig en deeglik in haar werk. Om hier in te kom het jy ernstige mediese versekering nodig met die opsie om per lug gered te word.  

Friday, November 14, 2025

St Helena Eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan



 






Daar gebeur iets in my wanneer ek deur lughawe sekuriteit gaan oppad na ‘n onverkende land! Dis asof my brein rek, my longe vryer asem haal. Ek voel 20 kg ligter, 20 cm langer, R20 biljoen ryker en die opwinding bruis in my. Dis iets waaraan ek oor die afgelope 32 jaar sedert my eerste keer amper bietjie verslaaf geraak het. Hierdie keer is die onbekende ‘n eiland. St Helena!

Donderdag kry ek oom Jesse Strauss van Piketberg vir koffie. Hy het sy skripsie geskryf oor St Helena. Ek hang aan sy lippe vir meer as ‘n uur. Net die lusmakertjie wat ek nodig gehad het…



Ek het hierdie trip meer nodig as wat meeste van julle weet. Prys die Here vir die geleentheid. Dis nou 05:50 en ek sit gereed in die Garden Court langs OR Thambo lughawe in Johannesburg. Ons vlieg vanoggend met Airlink! Ek ontmoet die groepie 07:00 aan die anderkant van doeane. Ek moet wikkel!