Juniemaande is bekend vir mis in ons vallei... en op die N7 oppad Kaap toe. Ry versigtig.
Ek het lanklaas geskryf... Ek is jammer daaroor. Dit is nie asof my dae onopskryfbaar geword
het nie. Vra my hoekom wanneer ons weer iewers langs ‘n kampvuur sit met ‘n
earl grey tee of iets dergeliks in die hand. Op volspoed!
Teen hierdie tyd is ons almal min of meer gewoond aan ons
nuwe normaal van wegskrum van mekaar. Die moeilikste is seker as mens se eie
familie afstand hou... dit raak my dieper as wat woorde kan beskryf en ek sal nog lank dink oor die effek daarvan op ons almal.
Ek en my uitsig is steeds onafskeidbaar en ek is verbaas oor
hoe jaloers ek geraak het op my eie spasie.
Noudat my huishulp en my tuinman terug is, verbaas ek my dat ek redes
soek vir hulle om nie te kom nie. Natuurlik betaal ek hulle steeds. Dit is die
regte ding om te doen.
Bergrivier is werklik in alle seisoene vir my mooi, maar die
helder groen koringlande wat kop uitsteek en die pragtige wintersmiddae is
ekstra mooi met die laat herfs wat die blare nog deel van die prentje laat
wees. Dis asof ek net nie kan ophou kyk
nie. En dan kom die geel kanolalande en die blommetjies nog.
Daar is baie tyd vir refleksie. Ek is seker elkeen van julle
doen dieselfde. Dit bring tyd om klaar te maak met onafgehandelde verhoudings,
maar ook nuwe ontdekkings. Ek word weer
herinner dat die woord “entoesiasme” afgelei is van twee Griekse woorde naamlik
en theos.
Dit beteken “deur God geinspireer”.
Ek lees dit op dieselfde dag wat ‘n dekade lange verhouding eindig. Ek en my hartsvriendin in Kanada besef weer
hoeveel van ons wat die Here ken se kapasiteit kom van God se wysheid, insig,
krag en energie in ons lewens. En ek is opnuut dankbaar daarvoor. Mag ons elke dag genoeg krag hê om entoesiasties te leef omdat ons deur God daartoe geinspireer is.
Tussendeur kyk ek Fynskrif op KykNet soos iemand wat bang is
dit raak op. Werklik een van die beste Suid-Afrikaanse reekse ooit.
Vanoggend kry ek drie ryp bessies aan my ry bessiebome suid
van my huis. Ek bly nou net langer as drie jaar in hierdie huis en hulle het nog nooit bessies
gedra nie. Skielik is ons ses jaar lange droogte gebreek met goeie reën
in Mei en weer in Junie en siedaar! Bessies. Nog nie vir Afrika nie, maar die
drie is genoeg om my onmiddellik te verplaas na my grootwordjare in Disastraat in
Wellington. Ons was amper te veel jong kinders vir die kort doodloop straat,
maar hoeveel van my gelukkige kinderjare het nie daar afgespeel nie. Skelulu
(wat die kinders in Kayelitsha dibeke
noem), bok in die hok, touspring, wegkruipertjie, oom Johan se stoepbakstene
verf vir 1 sent per steen en ure se bessies pluk vir Paula wat in gips lê na
vele beenoperasies. Sakke vol bessies en herinneringe om ‘n leeftyd te hou.
Intussen is Tannie Colla 90.
Een van my gunsteling mense op Piketberg. Wysheid en ervaring kom
afwisselend in haar stories na vore en ek kan behoorlik aan haar lippe hang. Ek
moes omtrent bontstaan om ‘n foto te neem wat goed genoeg is, want sy is ‘n professionele
fotograaf wat die wêreld deurkruis het. Net nadat ek haar ontmoet het, vra ek
eendag watter plek in die wêreld vir haar die mooiste is en sonder
om te skroom antwoord sy: die noordkus van Ierland en summier kom dit op my
bucket list.
Op ons COVID-front het ons kerk drie weke terug weer
oopgemaak vir maksimum 50 nie-singende lidmate per week, terwyl ons virtuele
youtube kerk ook voortgaan. Is julle laf, hoor ek julle al snak na asem. Wel,
voordat julle te hard oordeel, onthou dat baie mense op die platteland nie data
het om dienste elektronies te volg nie. Ek is die “compliance officer” en neem
almal se koors voordat hulle mag ingaan.
Ons hou by die boek. Die kerk moet die evangelie versprei, nie die virus
nie.
Hierdie twee brode het ek self gebak en beide persent gegee vir mense aan wie ek baie dank verskuldig is. Ek is mal oor kosmaak en bak en dankbaar dat hierdie so mooi gekom het. Daar is baie mense in Piketberg wat baie goed kan bak en ek maak resepte bymekaar sover ek gaan. Maar hierdie vaardigheid kom direk van my Ma af. Baie van ons het kosmaak en bak opgeneem as 'n stokperdjie tydens Inperking. Miskien moet ons 'n nuwe resepteboek uitgee. Perk In en Geniet!
Een van die aangrypendste facebook videos wat ek hierdie week sien kom uit my vorige gemeente (Stellenbosch Moederkerk) waar Ds Richard van Wyk persoonlikhede uit die Bybel gaan navors het wat ook almal in Inperking was en wat die Here deur hulle lewens gedoen het daarna. Ek deel dit hier met erkenning aan Richard: Soek dit gerus op Facebook. Dit is die moeite werd:
Die volgende bybelse karakters was almal ingeperk en wat God gedoen het met hulle: Noag en sy familie vir 'n hele jaar lank in die Ark - hy word die vader van alle nasies; Jakob was gegrendel by Laban - 20 jaar later is hy terug as Israel - Josef van 17 - 30 jaar oud - dit word die skool waar hy voorberei word vir leierskapsposisies; Moses in die woestyn vir 40 jaar en verlos sy volk; Naomi in Moab; Dawid 15 jaar nadat hy koning geword het en word hy 'n man na God se hart; Elia by die spruit Krit en daarna staan Elia alleen voor die Baalpriesters; Jona word ingeperk in die maag van 'n vis en as Jona daar uitkom dan preek hy onophoudelik; Daniel - 70 jaar in Babilonie; Ester in paleis en red haar volk van uitwissing; die dissipels in die bokamer en hulle ontvang die Heilige Gees en die Kerk word gebore, Paulus in gevangenisskap - hy skryf talle briewe aan gemeentes wat in die Bybel opgeneem word in hierdie tyd; Johannes word ingeperk op die eiland Patmos en daar skryf hy Openbaring - die grootste profetiese boek van alle tye. God grendel vir Jesus vir drie dae in 'n klip graf voordat Hy opstaan en verlossing bewerk vir 'n ganse wereld!
Aangrypend dankie Richard! Sal my altyd bybly. Nou is die vraag: wat gaan God doen na ons inperking? Ek kan nie wag om te sien hoe Hy ons gaan gebruik nie.
Die snaakste, maar waarste whatsapp grappie hierdie week was:
,
Mag ons elkeen die Krag van Bo kry om aan te hou, met entoesiasme te leef en te bereik wat ons moes deur hierdie grendeltyd.