Maar laat ek by die begin begin...
Oor die jare heen was daar baie mense in my lewe wat 'n groot rol gespeel het in waaraan ek blootgestel is en wat ek geleer het. Ek het nog altyd soveel waardering gehad vir hulle en wou nog altyd 'n manier vind om hulle te vereer. Van hulle is al oorlede. Toe stap ek op 1 Mei 2015 in Franschhoek se hoofstraatjie as 'n toeris en kom af op presies wat ek nodig het vir 'n betekenisvolle reis saam met spesiale mense in my lewe.
En hier is dit:
Ek wens ek het geweet hoe om hierdie foto te draai. Draai maar jou rekenaarskerm of ipad. Dit is 'n pragtige teetafelboek vol tee. Voorop is 'n Afrikavrou wat 'n bak op haar regterskouer dra en "The Art of Tea" is gegrafeer daarop met die onderskrif: "Each cup of tea represents an imaginary voyage." Dit is 'n aanhaling van Catherine Douzel.
As mens die boek oopmaak is daar 'n hele laai van verskillende geure tee in die mooiste houertjies. Net daar besluit ek om hiervan 50 koppies tee te maak saam met 50 mense wat in my lewe vir my baie beteken het.
Vandag begin ek hierdie reis saam met een van my gunsteling mense. Haar naam is Audrey van Wijk. Sy is 87 jaar oud, maar gluur my aan as ek vir haar Tannie sê. Sy is Audrey. My mentor sedert ek in 2005 die Direkteur Sosiale Ontwikkelingsdienste geword het by Stellenbosch Munisipaliteit. Sy was my go-to persoon as ons enige nuwe idees wou implementeer. Audrey is 'n mediese dokter van beroep, maar ook soveel meer as dit. Sy hoor die Here se stem op 'n besondere manier en kan dit wat sy glo en by Hom hoor in presiese woorde formuleer. Sy het my al menigmale bevestig of in ander rigtings gestuur as ek oor iets gebid het. Vanmiddag is dit weer so.
Ek en Audrey met Kenia Malaika tee uit die teeboek.
My vraag aan Audrey toe ek haar nooi vir 'n koppie tee saam met middagete was dit: wat weet sy nou op 87 wat sy wens sy het reeds op 45 geweet?
Vanmiddag begin sy deur te sê dat dit 'n moeilike vraag is waaroor sy baie lank gedink het. Haar antwoord is klokhelder (soos altyd) en sonder enige skroom. Soos iemand wat lank hieroor gedink het en versigtig is vir die effek van die antwoord, maar nie skaam is daaroor nie, vertel sy: as sy op 45 geweet het wat sy nou weet, sou sy meer van 'n 'be'-er wou wees as 'n 'do'-er. Ek gryp dadelik my papierservet van die Katjiepiering Restaurant in die Botaniese Tuin in Stellenbosch en begin skryf. Want ek weet net dit is nie maar net 'n sinnetjie nie. Dit is profound. Iets wat ek soos 'n kosbare geskenk moet koester en daaroor nadink. Besluit wat dit in my situasie beteken. Sy verduidelik verder: Hanlie, ons is albei doeners. As ek nou terugdink wil ek net so baie doen, maar meer 'be' ook. 'n Balans vind. En my hart weet instinktief dat ek dit presies verstaan.
Toe ons vanmiddag by die tafeltjie plekke inneem, kom die eienaar van die restaurant na ons en groet vir Audrey. Sy ouers bly naby haar. Hy ken haar net van op 'n afstand sien, maar sy tweede sin is dat sy Pa die Here ken en altyd vir hom sê dat hy Jesus in Audrey kan sien. Toe hy wegstap deel Audrey met my wat dit vir haar beteken. Dat dit eintlik die niceste ding is wat enigiemand ooit van mens kan sê. En in lyn met my vraag aan haar voeg sy by: maar ek sou dit graag al op 45 wou kon wys. En ek hoor presies haar hart en sal nog baie lank hieroor dink en bid.
Ons gesels nog 'n paar honde uit 'n paar bosse uit en toe is dit tyd om te groet. Sy gaan haar kleinkinders se Eisteddfod kyk en ek gaan na my ouers toe in Wellington. Mag die volgende 49 teetjies net so insiggewend wees.
Sterkte met die tee-gesprekke in jou lewe. Geniet elke een en maak notas.