Geskryf op 19 Februarie 2014:
Gisteraand vlieg ek terug vanaf Oos-Londen na Kaapstad met 'n SA Express klein vliegtuigie. Ek land eers 21:45 in die Kaap en moet nog daarna my bagasie kry en terugry Piketberg toe. Dit is 140 km ver en ek funksioneer swak na 21:00 in die aand. Terwyl ons wag vir die vliegtuig "whatsapp" ek en vriendin Marietha en ek deel met haar hoe moeg ek is na twee uitputtende dae vol veeleisende gesprekke. Heel naief verklaar ek: "Ek gaan lekker slaap op die vliegtuig." Marietha is meer realisties en antwoord dat dit net sal gebeur as die sitplek langs my oop is of 'n geswore introvert het of iemand wat nie belangstel in 'n gesprek of ook wil slaap...
As ek toe geweet het wat ek nou weet het ek my slapie in die vertrekslokaal ingekry. Ek spot nog terug met Marietha dat ek soms oombliklik 'n introvert kan raak wat net my kop venster toe draai en niks se nie. Wel, goeie plan! Maar totaal onuitvoerbaar! Want toe was daar Dave...
Ek klim 19:40 niksvermoedend op die klein vliegtuigie en mik vir sitplek 9A. Dis 'n venster-sitplek aan die linkerkant net agter die nooduitgang. Reeds van voor af tel ek die rye en is verlig dat daar nog niemand op 9B is nie. Hier is minder mense as stoele en miskien, net miskien, is ek vanaand gelukkig. Nie dat my geluk in vorige ervarings 'n aanduiding kan wees nie. Ek land feitlik altyd langs 'n skreeuende baba of 'n bemoeisieke ou oom. Maar die hoop beskaam nie, want op die stadium het ek nog niks geweet van Dave nie.
Ek bere my rekenaar en handsak in die "overhead compartment", kry my sit en gordel my vas. Angstig hou ek die gangetjie dop. Wie sal 9B wees? Ek sien 'n ouer man wat ook die rye tel en sy oe kom tot stilstand by 9B. Ek val plat teen die venster en maak vinnig my oe toe. Moenie oogkontak maak nie! Sekondes later skud 'n ferm hand my oe oop en ek kyk gesteurd op. Dave steek sy hand uit en stel homself luidrugtig voor. Hy werk by 'n gasmaatskappy wie se naam ek bo sy linkersak lees, maar nie hier wil noem nie. Binne 5 minute weet ek alles van hom af. Hoekom deel vreemdelinge so maklik! Hy het twee volwasse kinders, drie tattoos en 'n "soon-to-be-X-wife." Na 26 jaar het sy hom net gelos! Dis "sad" se ek. Ek eindig die gesprek ferm met "geniet die vlug" en lees verder aan "Swart op Wit" van Annelie Botes op my e-leser. "Wat lees jy?" vra Dave. Ek se hom. Hy vra waaroor die boek gaan. Ek beduie dat dit ingewikkeld is. Die van julle wat al die boek gelees het sal weet - dit is. "Waar bly jy?" "Waar werk jy?" Piketberg? Hy ken dit goed. Hy werk gereeld by PPC op Piketberg en daar trek hy weg en verduidelik hoekom PPC 'n gastoestel het wat eintlik "onwettig" is volgens hulle reels en eerder deur 'n myninspekteur ge-evalueer moet word. Hy deel onophoudelik elke interaksie wat hy al ooit met Piketberg gehad het. Ek sien net lippe beweeg. Ek verseg enige deelname aan sy gesprek. Ek wil slaap op hierdie vlug. Ek moet slaap op die vlug om veilig vanaand tuis te kom. Telkens draai ek my rug op 9B en val plat teen die venster.
Vir 3 minute werk dit. Dan skud Dave aan my en vrae meer sinnelose vrae: Is ek getroud? Het ek kinders? Wat ry ek? Wat?! Hoekom wil mans altyd weet wat ons ry? As ek geweet het wat ek nou weet, sou ek nie toe al geirriteerd gewees het nie. Dave se beste was definitief nog oppad. Hy het al verskeie goedjies gedrink in die SAL Premium Lounge, want hy was nie in ons s'n nie. Ek ruik sy drank. Dit maak hom braaf en dominerend. Hy raak een van daai passasiers met wie die bemanning hul hande vol het. Hy vra een van elke soort rooiwyn wat hulle beskikbaar het en bestel sommer vir my ook. Nee dankie. Ek vra sparkling water. Ek moet immers nog 140km bestuur vanaand. Die lugwaardin vergeet 'n glas vir my en Dave spring ongevraagd tot my redding. Hy fluit kliphard agter haar aan en roep haar terug van 3 rye ver af. Ek skaam my morsdood!
Tydens die vlug is daar drie skerp klapgeluide. Dit klink of dit uit die vliegtuig se dak kom. Ek skrik! Dave sit sy hand op my regterknie en se gerusstellend: Dit sal okay wees! Haal jou hand van my been af as jy ooit weer okay wil wees, dink ek, maar se niks nie. Hy doen wat ek dink en ons vlieg verder.
Ek is moeg gelees op my klein kindle op vliegtuig mode en maak my oe toe...
Het jy 'n visite kaartjie by jou? vra Dave. Ek het. Nee se ek, dis in my tas agterin. Hy wil kom kuier as hy weer op Piketberg kom! Ek sal moet trek, dink ek.
Ons land veilig, dog stamperig. Later wag hy langs my by die bagasie-vervoerband vir sy gereedskapsak. Ek laat my tas twee keer in die rondte verbygaan en se hy hoef nie vir my te wag nie.
Nooit nie!
Thursday, February 27, 2014
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment