Friday, June 28, 2013

Die engel langs my



Tannie Joan.

Dit voel soos gister toe ek haar 17 jaar terug ontmoet het. Sy was die verversings-assistent op ons 2de vloer in die Munisipaliteit van Stellenbosch. Tot haar aftrede klomp jare later was my kantoor drie deure van haar kombuis af. Daar was altyd lewe, heerlike reuke, baie lag, baie mense en altyd 'n innige mens wat reg gestaan het om na hartelus mense te bedien. Enige een vir enige rede. Dis Joan.

Dis eintlik onmoontlik om nie vir haar lief te wees nie. Sy is die naaste aan ons Here Jesus Christus wat ek nog ontmoet het. Sy is nederig, altyd dankbaar, altyd vergenoegd, altyd tevrede. Sy het 'n goeie woord en goeie gedagte oor elkeen wat sy ken en ook die wat sy nog nie ken nie.

Ons het deur al die jare vriende gebly. Hierdie naweek kuier sy by my op Piketberg. Ek het haar vanmiddag gaan haal. Sy was nog nooit verder langs die N7 as Malmesbury nie, maar het al van Moorreesburg en Hopefield gehoor. Piketberg is vir haar 'n verrassing en dis so lekker om ons mooi dorp deur haar vars oe te sien.  Sy babbel vandag onophoudelik. 'n Paar jaar terug het sy 'n beroerte gehad en het die gebruik van haar linkerhand verloor. Sy is al bietjie doof ook. Die tye wat sy so helder is soos vandag, spits ek my ore en wens ek ek kan elke woord wat sy vertel opneem en dit woord vir woord neerskryf. Dit is Afrikana. Vandag onthou sy baie van haar tienerjare. Sy is die oudste dogter in die familie en moes op 12 uit die skool uit om te gaan werk in Soutrivier by Mr Lord se Cape Underwear klerefabriek. Hy en sy vrou was Jode en skatryk. Hul seun is later vir dwelms gevang. Sy onthou snaakse en hartseer stories.

12! Dis hoe oud my jongste sussie se oudste dogtertjie nou is. Ons laat haar nie eens alleen die drie blokke skool toe stap nie. Joanie moes die 5 km stasie toe donkervroeg winter en somer stap en dan 'n derde-klas trein klim Soutrivier toe. Sy het daar gewerk vir 27 jaar en R500 pensioen gekry toe sy weg is. Hulle moes onderklere en nagklere maak en sy onthou hoe die teikens per uur net elke jaar meer en meer geword het. En die straf as hulle dit nie maak nie, meer en meer. Dan weer laatmiddag hardloop trein toe, lang ure treinry tot op Stellenbosch om donker laat aand tuis te kom om more-oggend dou voor dag terug te hardloop trein toe. Niks in Joan se stem is verwytend of bitter nie. Sy lag lekker as sy dit vertel, maar ek wonder telkens wie en wat sy vandag sou wees as sy die helfte van die geleenthede gehad het wat ek het.

Soms vat ek haar om te gaan inkopies doen. Ek doen dit meer vir my as vir haar. Sy skryf die 11 of 12 goedjies wat sy nodig het onder mekaar op 'n herwinde advertensie. Sy is 'n diabeet en moet gesond eet. Dit is duur. Specko rys, ontvelde hoender, slaai. Langs die goedjies is kolomme van wat elke item by verskillende winkels kos. As iets 13 sent goedkoper is by Shoprite as by SPAR, koop sy dit by Shoprite. Ek is meestal haastig (julle ken my mos) en betaal graag duurder as ek net een winkel kan besoek. Dis vir haar onverstaanbaar, ondenkbaar. En as ons by die kasregister kom en ek betaal haar maand se goedjies, is ek elke keer skaam as my mandjie maklik vier keer meer kos as hare. Sy meet en pas en dink en dink weer oor elke ding wat sy vat. Verlede week probeer ek 'n bietjie haar-kleursel in haar mandjie smokkel. Sy vang my uit. Dit is nog nie tyd nie, se sy. Nog vier maande. Dan koop sy weer kleur. Ek teken 'n kredietkaartstrokie sonder om selfs een keer na die bedrag te kyk.

Ek vat laat vanaand vir haar 'n warmwatersak om onder die donsduvet te druk. Dis vrek koud hier. Sy is skaam oor ek haar so bederf. Sy gaan badkamer toe en haal haar vals tande uit. Dan kniel sy langs haar bed. Ek is al klaar in die badkamer en deur die huis om alles te sluit toe sy stywerig opstaan van haar kniee af. Sy het die lang ligpienk nagrok aan wat sy by haar ma geerf het toe die tannie dertien jaar terug oorlede is.

Sy lyk vanaand presies soos die engel wat ek weet sy is.

Thursday, June 20, 2013

Wolf skaapwagter

As ek vier dae terug geweet het wat ek nou weet, het ek dit nooit gedoen nie. Hoe kan 'n goeie bedoeling so skeef uitdraai? Ek is nou al 96 uur lank besig om die gebeure oor en oor in my kop te laat afspeel en elke keer wens ek 'n ander einde. Maar die werklikheid ruk my telkens na die hede terug.

Dit het so gebeur: Ek het nuwe vriende op Piketberg gemaak. Vir ons almal se beterskap noem ek hulle Inge en M. Inge het na my op die dorp aangekom en ons het dadelik gekliek en is heerlike vriende. Sy het 'n pleegkind wat sy al het vandat hy 2 is. M het verlede week 9 geword. Ek is baie lief vir beide van hulle. Ek het ook vriende geword met 'n boer in die omgewing. Hier noem ek hom Gawie. Gawie boer met skape, koring en beeste, maar nie in daardie volgorde nie. Hy is eerstens 'n saaier en dan 'n beesboer wat skape ook het. Hierdie jaar is 'n besonderse goeie jaar vir skape. Wat ek nooit geweet het nie, is dat saaiboere hul skape se lamtyd manipuleer om later in die jaar te val sodat hulle eers kan klaar saai voordat lamtyd begin. Met vandag se genetika en mediese wonders kry baie skape twee en drielinge en het gereeld hulp nodig met die geboorteproses. So die twee hoofaktiwiteite kan nie saamval nie. Dan is dit chaos. Gawie is 'n baie goeie boer en was erg verras dat hierdie jaar amper 165% lammers opgelewer het. Wel, dit was voordat ek vir M plaas toe geneem het.

Die afgelope twee weke het Gawie ook twee hanslammers wat hy grootmaak. Die mooiste goed! Ek het die voorreg gehad om ook 'n handjie te kon bysit en het die ervaring baie geniet. Toe dink ek dit sal wonderlik wees om ook vir M en Inge die hanslammers te wys dat hulle ook in die ervaring kan deel. Na lang beplanning en tye koordineer wat almal pas, is ons toe op Jeugdag se vakansiedag plaas toe. Gawie was skepties oor die besoek, maar het ingewillig.

Die eerste deel van die middag het baie goed verloop. Ons was rivier toe (die Bergrivier loop tussen die plase deur), het ons verkyk aan die flaminke op die dam, M het quadbike gery saam met Gawie en ons kon die beeste en hoenders van naby bekyk. Selfs die besoek aan die hanslammers was uit die boonste rakke. Later steek Gawie vuur op en ons kuier heerlik. Maar die vrede sou nie lank hou nie...

Nou moet ek myself onderbreek en verduidelik wat ek die afgelope tyd oor skape geleer het. Ek het altyd geweet om iemand 'n skaap te noem is 'n redelike belediging, maar nou weet ek: 'n skaap is vrek dom. Hulle word in klein kampies gehou vir die kraamproses en elke lammertjie word gemerk vir die eerste paar dae, want 'n skaap kan nie tel nie en weet nie self sy het 'n drieling nie en gooi sommer haar lammertjies weg. Daarom beweeg hulle glad nie. Solank as wat die lammertjie langs sy ma bly, lewe hy. As hy haar verloor, vrek hulle maklik. Na 'n week of wat word hulle uitgeplaas na die veldkamp met groot sorg en versigtigheid sodat die skape naby hul lammers kan bly en heeltyd weet wie is wie se lammers. Gawie en sy werkers is erg versigtig om nie die trop te versteur nie, want dit kan grootskaalse lamvrektes tot gevolg he.

In retrospek kan ek nie presies onthou hoe dit gebeur het nie. Ek en Inge het nog by die vuur gesit en gesels en M was by ons. Die volgende oomblik kom Gawie om die hoek en skree dat ons asb dadelik die kind uit sy ooie kamp moet kom verwyder, want hy is besig om groot probleme te veroorsaak. (die taal het definitief meer kruie bygehad!) Ek en Inge het voorhek toe gehardloop en net gesien hoe M tussen die skape deur hardloop en hulle aanjaag dam se kant toe. Selfs 'n paar klippe optel en agter hulle aangooi. Ek kan nie vir julle die skrik in my lyf verduidelik nie! Hoe het hy daar gekom? Hoekom doen hy dit? Wie het gese hy kan deur twee hekke op sy eie op die plaas wees?! Ek en Inge hardloop agterna en skree ons longe uit op M, maar sonder enige sukses. Ek gaan haal later my kar en ry nader. Toe ons by M kom is hy baie trots op sy prestasie en vra net of ons gesien het hoe vinnig hy is? Ek was stom van woede en skok.

Gawie was onheilspellend stil en op die oog af kalm. M het huilend omverskoning kom vra. Die res van die aand was styf en ongemaklik.

Baie lammers sal vrek. Dit was vir baie van hulle die eerste dag in die veldkamp en skape en lammers ken nog nie mekaar nie. Iemand sal hiervoor moet betaal.

In 'n whatsapp later die aand skryf Gawie: "Ek is jammer oor jou ervaring vanaand. M het baie plaashekke vir hom en ander vandag toegemaak."

Ek is nog besig om te dink wat ek alles hieruit geleer het. Onvoorsiene gevolge van 'n goeie bedoeling...

Hier is ek die vorige week met die grootste van die hanslamme. Sy naam is Soetraak en hy sukkel maar daarmee. Die tweede hanslam is heelwat kleiner. Sy naam is Kastig.