Goed gebeur nie altyd soos mens hoop dit moet nie. Dit is 'n goeie les om vinnig in 'n mens se lewe te leer. Dit was eers by die tiende stroomversnelling ("rapid" genoem van hier af aan) dat die ongeluk gebeur het...
Ek is saam met 90 ander vreemdelinge ingeboek vir 'n dag van plesier en pret en baie opwinding op die Nylrivier by Jinja in Uganda. Ek was nou in Uganda en in Jinja wat die hoofstad van die wereld is vir "rafting" en kon nie regtig die kans laat verbygaan om die dag op die rivier te geniet nie. Daar is heelwat mense wat dieselfde idee gehad het en ons het 13 rafts volgemaak met 7 mense in elke raft plus 'n gids wat die agtste sitplek vul. Ek gaan saam met Nile River Enperience en hulle is baie goed georganiseerd. Die eienaar daarvan is 'n SAner, Deon, wat dit al vir 15 jaar doen. Op Jan se aanbeveling het ek geboek vir die Graad 3 uitstappie, maar hulle doen vandag net die graad 5 en 6 uitstappie. Teen my beter wete in gaan ek voort daarmee. As ek maar geweet het, sou ek na my vlakke van spanning geluister het en eerder gaan quadbike ry het langs die nyl. Dit was die ander ding op my to-do-list.
Ons is daar weg in trokke en het 'n volledige "briefing" gekry oor wat jy verkieslik moet aanhe en wat jy glad nie mag aanhe nie. Skoene, ringe, kameras en enigiets wat kan val of losraak word by die huis gelos. Die enigste ding wat jy in 'n waterdigte sak vir die guide gee is sonblok en baie daarvan. Vandag is eintlik koel op die Nyl, maar die wolke verklap nie die intensiteit van die ewenaarson nie. Ons deel op in groepies van 7. In ons groep is 'n Australier, twee van Engeland, drie van Amerika en ek van SA. Ons gids is van Uganda, Joman. Hy is baie ervare en vaar al die nyl se moeilikste stroomversnellings vir meer as ses jaar. Hy vat daagliks groepe. Nou vir die wat nie weet nie, stroomversnellings reg oor die wereld word ingedeel in graad 1 - 6 versnellings. Een is maklik en 6 is BAIE moeilik. Ons moet vandag twaalf rapids doen en een daarvan is 'n ses, drie is vywe en die res is dries en viers. Die Nyl is rof en die water vloei vinnig. Daar is min tyd vir opleiding vir ons sewe, maar Joman doen goed en vertel ons vinnig hoe om te roei en te reageer op bevele soos hold on, get down, up and paddle, forward right backwards left. Ons oefen selfs 'n paar flippe, want dit is angswekkend om onder die boot vasgedruk te word en mens moet weet hoe om uit te kom en jouself aan die tou op te hys en weer in die boot te kom. Ons is reg.
Ons gaan deur rapids 1 - 6 sonder enige probleme. Dit is groot en regtig scary en soos ek nou hier sit sal ek dit verseker nooit weer in my lewe waag nie. Ek het voor die tyd vir Jo gesms en erken dat ek regtig naar is van vrees vir die dag, maar steeds deurgedruk. Hoekom wonder ek nou nog!
Middagete gebeur op die rivier en hulle roei 'n restaurant boot nader wat 'n halwe pynappel vir elkeen vernuftig opkap en uitdeel. Dis heerlik. Ons kry ook water en glukose beskuitjies. Ons werk aan ons "tan" en geniet mekaar se geselskap. Joman is regtig 'n goeie gids. Ek sit agter langs hom en kan sien hoe hy die boot (14 voet rafter) manipuleer in elke rapid sodat ons nie flip nie. En ons is omtrent die enigste boot wat nooit geflip het nie. Joman is trots op ons en probeer meer waaghalsiger goed.
Na ete is daar net 4 rapids oor. No 9 is rof, maar gaan goed en toe is dit ons in tien! Joman het nou so baie geloof in ons roeivermoe dat hy besluit om die graad 6 rapid se waterval met ons aan te durf. As ek van sy plannetjie geweet het sou ek hom probeer uitpraat het, want ons was reeds moeg en ons konsentrasie min, maar daar was nie tyd vir dink nie. Ons het gedink ons gaan dieselfde roete afgaan as al die bote voor ons en toe verander die instruksie en ons roei na die gevaarlikste kant van die rapid en gaan oor 'n 5 - 6 meter waterval. Reguit vertikaal! Ek sit agter langs Joman en besef net ons is nie gereed hiervoor nie. Toe ons die watervlak onder tref val ek op my knie en enkel en val dit heel skeef. Onmiddellik krul ek van die pyn en kan nie regop kom nie, maar Joman bulder dat ons moet "up and forward" want ons moet nog twee branders in die rapid doen. Daar is nie tyd vir bestekopname maak nie en ek roei. Toe ons tot bedaring kom bewe ek soos 'n riet van die skok en besef my knie is af of net baie erg verstuit. Ek stel ondersoek in en sien nie 'n fraktuur of bloed nie. Gelukkig nie. Joman hoor my gekerm en is erg bekommerd, maar probeer my motiveer om net uit te hou en aan te hou. Ons is twee rapids ver van die einde af. Daar is 'n hospitaal boot op die rivier saam met ons en vele klein kayaks met ervare roeiers om die stukke op te tel na elke groot rapid. Maar die probleem is dat die hospitaal ook oor al die rapids moet gaan. Ek bly dus in ons boot tot by die einde, maar elke sekonde voel soos ure. Ek lag nou glad nie meer nie en die res van my groep is bekommerd. Ons was 'n heerlike groep met baie grappies. Baie van hulle is studente wat in Uganda by die Universiteit studeer.
Toe ek uit die boot moet klim besef ek hier is moeilikheid. Ek kan glad nie op my knie trap nie en huil sommer van frustrasie en baie pyn. Twee gidse help my die bult op na die voertuig en ons vertrek kamp toe. Daar het hulle 'n heerlike braai voorberei vir almal wat reeds gereed is. Ek kan nie eet nie. Ek wil net pynpille drink en wegkom van die rivier af. 'n Drywer vat my terug Jinja toe waar ek vir Badru kry by die Sunset Hotel. Ek sal in my lewe nooit genoeg vir Badru Senkuba kan bedank vir wat hy in die volgende 6 ure vir my beteken het nie. 'n Ugandees wat ek vir minder as 24 uur geken het. Ons ry terug Kampala toe en hy bel 'n vriend van hom wat 'n dokter is en die help my om Voltarens 100 mg pille by die noodapteek te kry. Dis reeds 22:00 toe ons in Kampala aankom en al die ander apteke is toe. Badru en 'n joernalis vriend van hom, Egris, vat my na my hotel toe en help my om na my kamer te sukkel. Hulle dra my letterlik, want die hotel het nie kamers op grondvloer nie en glad nie 'n hysbak nie. Ek het in die hele week geen hysbakke in Kampala gesien nie. Ek groet vir Badru en nooi hom SA toe. Hy het letterlik uit die hemel geval die afgelope twee dae en my so goed behandel, dit is net van die Here af.
Ek klim na twaalf in die bed. Bad is onmoontlik en gelukkig het ek wet wipes. Ek moet drie uur begin regmaak om my taxi 4 uur te kry lughawe toe. Ek wil my hare was en weet nog nie hoe ek dit gaan regkry nie, maar 'n boer maak 'n plan en ek skuifel agter 'n stoel in die kamer tot by die badkamer en kniel op my gesonde knie en was my hare en myself oor die bad. Teen 4 uur kom twee porters en help my teen die trappe uit ontvangs toe. Henry is die taxi man en hy is ook net die goedheid vanself. Op die lughawe gaan soek hy 'n rolstoel en is ek oppad na die vliegtuig.
Soos ek hier sit en tik op Johannesburg Internasionaal weet ek nou daar is 'n lewe agter die normale skerms van die lughawe wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Ek sit nou in SAL se kamer vir kliente met spesiale behoeftes. Meestal regtig ou mense wat in rolstoele vervoer word en 'n gestremde man. Ons word op die hande gedra. Hier is 'n hele afdeling wat net na ons omsien. Ek het die laaste halfuur van die vlug vanaf Entebbe na Johannesburg in Besigheidsklas gesit, want ek was badkamer toe en die hoof lugwaardin kon dit nie oor haar hart kry om te sien hoe ek sukkel om te beweeg nie. Plaas dat ek vroeer haar aandag getrek het! :-)
Ek word by 'n ander spesiale uitgang by die vliegtuig uitgevat en laat sak in 'n karretjie. Daar kry 'n uniformdraer my en laai my in 'n rolstoel en doen van daar af alles, van my bagasie kry, my deur customs sit, my bring tot by binnelandse vertrekke en oppad nog vir my 'n bottel water ook koop.
Ek kan net se dat ek dankbaar is en beindruk is met elkeen wat in die laaste 18 uur my pad gekruis het. Dankie, dankie, dankie. Mag julle baie geseend wees.
Nou is ek oppad huistoe.
Sunday, October 17, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment