Hanlie se storie oor die berg Kilimanjaro
20 Februarie 2005 tot 26 Februarie 2005
Saterdag 19 Februarie 2005
Na maande se beplanning en weke se inkopies is ons nou hier … op die vooraand! My sakke was Donderdagaand al gepak en die laaste twee dae was bloot frustrerend. Verlangend. Uitsien en nogmaals uitsien. Wonder wat wag! Dis nou al na 23:00 en ek sukkel om te slaap. Jo vat my more lughawe toe. Ulrich, Herman en Kallie gaan saam en Francois sal ons ook daar kry. Die Van der Merwes is reeds in Pretoria by vriende. Louis kom met ’n bietjie later vlug en die res kry ons op Johannesburg Internasionaal. Ons moet 05:40 op die lughawe wees. Ons vlieg 06:40 met 1Time. Iain en Nerine het saam met my gebid vanaand. Wat ’n voorreg om nie hierdie berg alleen hoef aan te durf nie. Mag dit ’n Godservaring wees. ’n Groot fisieke en geestelike ervaring en mylpaal. Here, ek vertrek met ’n verwagting van U. Moet nie dat ons van hierdie plek af weggaan of een tree gee sonder U nie.
Sondag 20 Februarie 2005
Ek het min geslaap. Ons ry met Jo se Uno lughawe toe en Herman en Francois bel my terwyl ons nog op pad is. Kennelik net so opgewonde soos ek! Die T-shirts lyk great. (Behalwe vir die komma wat op die verkeerde plek sit. Ek hoop nie ons gaan ’n denkbeeldige berg net langs Oos-Londen in die see klim nie.) Dis maklik om die groeplede orals uit te ken en dit werk baie goed.
1Time is toe glad nie sleg nie. Ons kom 08:40 op Johannesburg Lughawe aan en kry ons bagasie. Ons eet heerlik ontbyt by die SPUR by Binnelandse Aankomste. Almal doen hulle laaste dinge. Ons ontmoet vir Kallie, Barry, Willem en Alida daar. Nou nog net Magdel en Louis wat ons by Buitelande Vertrekke kry, dan is die groep voltallig.
Andries, Christa en Sunel kom vir my kuier op die lughawe. Dis heerlik om hulle weer te sien nadat ek hulle April 2004 laas met my verjaarsdag gesien het. Kallie se sussie en meisie kuier ook saam en ook familie en vriende van die Van der Merwes. Later groet ons die familie en vriende en beweeg deur na Internasionale Vertrekke. My bagasie weeg 28 kilogram. Ons vlug is vertraag en ons vertrek eers 15:00 in plaas van 14:25. Almal is in ’n goeie gees. Dis moeilik om te glo ons begin more al die berg klim. Daar is nog so baie wat moet gebeur.
Ek kan nie besluit waarna ek die meeste uitsien nie. Seker maar die “bo-op die top”-gevoel. Orals sien mense ons hemde en lewer kommentaar. Almal wat al daar was kom groet en gee raad. Ek voel skielik deel van iets groters. Ek gaan nou deel word van ’n klein groep mense oor die hele wêreld wat al hierdie berg aangedurf het.
Ons sukkel om te onthou watter pille ons wanneer moet drink. Ons moet mekaar maar help en probeer onthou. Ons drink ons eerste Kilimanjaro bier op die vliegtuig en identifiseer beide die Limpopo en die Zambesi riviere uit die lug uit. Dit werk soos volg: Hanlie sit by die venster en sien ’n groot rivier. Francois werk uit hoe lank ons al vlieg, hoe vinnig die vliegtuig beweeg, maak ’n sommetjie en verklaar watter rivier dit moet wees. Die Zambesi is geweldig groot.
Die “chicken of beef” aankondiging op die vlug was BAIE welkom en ons eet heerlik. Om oor Mosambiek te vlieg is interessant, want daar is net myle en myle se niks. Baie plat. Tanzanië is baie meer bergagtig met spitskoppies en ook baie groen met groot graniet rotse soos Paarlberg.
Ons land eers in Dar es Salaam om ongeveer 18:15 (Suid-Afrikaanse tyd) voordat ons sal vlieg na Kilimanjaro Internasionale Lughawe. Ons vlieg met dieselfde vliegtuig en moet bly sit. Die groep spot daaroor dat ons elkeen net vir hom/haarself het om voor uit te kyk in die volgende twee weke. Elkeen moet net hom/haarself bo kry. It’s all about me! Ek besluit dat hierdie my week is om selfsugtig te mag wees. Ek moet myself bo kry. Net myself. It’s all about me!
Francois sing ’n lied van Valiant Swart. “Daar is ’n lig aan die einde van alles. ’n Plek ver van hartseer of pyn ...” Mag daardie lig die volmaan op Kilimanjaro se Uhuru Peak wees die oggend as ons summit.
Die man van KPMG wat saam met ons vlieg sê Dar Es Salaam is net so groot soos Kaapstad, maar dit wil ek eers sien. Dit is nou 19:15 plaaslike tyd (Tanzanië is ’n uur voor Suid-Afrika) en dis reeds lankal donker hier. Die groep is onrustig. Gatvol gesit en ons oefen ons Swahili. Ons styg eers 20:15 op vanaf Dar es Salaam. Interessant genoeg is dit opmerklik dat Dar bitter min stadsbeplanning het. Die stad lyk baie deurmekaar vanuit die lug. Geen duidelike strate, woonbuurte, parke of rye liggies nie. Alle liggies rond en bont!
Almal is moeg na ’n baie lang dag op drie vlugte, lughawens en vliegtuigkos. Ons voel soos die deelnemers aan The Amazing Race. So tussendeur kuier ons lekker, leer mekaar beter ken en geniet die grappies van veral Kallie. Hy is só skerp. Hierdie vlug is net 55 minute lank en ons kry “refreshments”. Die van ons wat aan die regterkant van die vliegtuig sit, kan die buitelyne van Kilimanjaro en Berg Meru se silhoeëtte in die maanlig uitmaak. Meru is die tweede hoogste berg in Tanzanië en is 4600 m hoog. Hy staan met sy voete in Arusha Nasionale Park. Voordat ons weet land ons op Kilimanjaro lughawe. Dit is min of meer so groot soos Polokwane se lughawe in Limpopo.
Ons kry ons bagasie, gaan deur paspoortbeheer en soek ons drywer vanTribe Safari. Dis alles ingesluit by die pakketbewys wat ons van Dawie gekry het. Hier in Tanzanië is almal uiters rustig en ons besef vinnig dat ons ons Westerse tydswaardering sal moet los en saam met die stroom sal met swem. Miskien is swem selfs te veel van ’n aktiewe werkwoord in hierdie omstandighede en moet mens eerder praat van saam-float!
Ons drywer het aanvanklik net een missie en dit is om ook so ’n blou t-hemp in die hande te kry. Ek het moeite om hom van my hemp af te hou. Sy naam is “Slim” en hy is baie beïndruk toe ons hom vertel wat dit in Afrikaans beteken. Hy ruik na drank en ons bid hardop in Afrikaans vir ons veiligheid. Na ongeveer 5 kilometer besluit ons mens moet maar ’n bietjie dronk wees om op hierdie paaie te bestuur. Hy is ’n joviale mens en leer ons vinnig die belangrikste Swahili-woorde soos Jambo, Habari, Mazuri en Hakuna Matata. Daai een ken ons van die Lion King fliek af. Dis iets wat hulle baie hier gebruik. No problem! Slim wys ons waar ons môre-oggend gaan afdraai na Machame Hek toe en laat ons goed voel as hy sê dat die roete wat ons gekies het (by die swahili’s bekend as die whisky roete) die meer “adventurous” roete is in vergelyking met die Coca-Cola roete van Marangu.
Nog ’n woord wat hy ons leer is “pole-pole”. Dit beteken stadig-stadig en gaan nog gereeld deel van ons woordeskat word oor die volgende paar dae. Dis net jammer Slim bestuur nie so nie. Dit vat ons ’n redelike tydjie voordat ons kan besluit aan watter kant van die pad die Tanzaniërs nou eintlik ry, want Slim ry meestal in die middel en verder net waar daar nie "potholes" is nie. Snaaks genoeg sit hy kort-kort gou die bus se ligte aan en later besef ons dis elke keer dat hy verby polisie ry, om vir hulle te wys daar is toeriste in die bus.
Ons ry tot in Moshi (ongeveer 55 minute vanaf die lughawe). Dis ’n klein dorpie en Slim gaan wys ons eers waar hy en sy Tietie (Swahili vir Darling) bly. Sy kom uit om ons te groet. In die ry kan ons weer Kilimanjaro se silhoeët in die maanlig sien. Van hier onder af, is dit ’n monster!
Die Springlands Hotel is verrassend netjies na Moshi se straatjies. Ons gaan deur ontvangs en word vertel wat om te doen. Ons deel in 4 kamers (2 dubbels vir Hanlie, Magdel en die Van der Merwes en 2 trippels vir die ses ouens) en begin beweeg. Die porters staan reg om ons bagasie te dra vir 1 dollar. Daar is muskietnette oor die beddens en ook nette voor die vensters. Hier is maar baie muskiete. Ek en Magdel pak in en uit en oor en probeer alles regkry vir more-oggend. Ons slaap maar min.
Maandag 21 Februarie 2005 – 1ste dag van stap
Ek raak vroeg wakker en kan nie verder slaap nie. Onthou van nog goed wat ek uit my sak wil haal om hier te los. Ons kan alles wat ons nie wil saamvat nie, in ’n stoorkamer inteken. Ons mag net 15 kilogram per persoon vir die porters gee om te dra. Ek staan op en kry vir Herman en Ulie op die balkon. Pragtige uitsig op ’n oop berg. Ons eet vanaf 06:30. Ons is honger.
Die koffie lyk nie net verdag nie, dit is! Vir ‘n land wat reg langs Kenia lê, is dit ’n skande! Ontbyt bestaan uit vrugte, roosterbrood, roereier en worsies met "bake beans" vir die brawes. Die sap is ’n tipe clifton. Ons pak klaar en weeg ons sakke. Barry moet sy "bootse" versprei in ander se sakke om onder 15 kg in te kom. Op aanbeveling van Vic Brink, stap party van ons vandag met ons tekkies vir ingeval dit gaan reën in die reënwoud. Blykbaar sal dit sukkel om jou bootse weer droog te kry as hulle eers nat is. Dit lyk egter nie na reën nie. Ons ontmoet vir Tom en die ouens help dat alles in die bussie gelaai word dat ons kan vertrek.
Die rit in die bussie na Machame Hek is ’n belewenis! ’n Oorvol bus en baie bagasie, baie stof en ’n baie rowwe pad is ’n wenresep vir Ulie se oorvol blaas. By die beginpunt vat dit omtrent 30 minute vir Tom, ons guide, om alles uit te sorteer. Vir ons is dit die begin van ’n ongelooflike vakansie, vir hom is dit ’n gewone blou Maandag by die werk. Hy lyk egter agtermekaar en ons is in ons skik. Vanuit Moshi het die berg eintlik teleurstellend minder hoog gelyk as die prentjie in my geestesoog. Nou, 36 km nader aan hom, vertoon hy majestieus. Ek sien uit na die stap. Een dag op ’n slag en een tree op ’n slag. So eet mens ’n olifant, een happie op ’n slag.
Praat van happie – dit is nou 10:00 in die oggend en Magdel eet nou reeds haar "lunch" pakkie voordat ons nog ’n tree gestap het.
Op die ou end het ons eers 12:30 begin stap. Daar was baie goed wat Tom moes reël en ons moes lank in die ry by registrasie staan om onsself in te teken vir die stap. ’n Mens het jou paspoort nodig vir jou nommer en ek dink sommer een uit. Ons het weer geleer wat dit beteken om te wag. Later stuur hy ons vooruit saam met die een assistentgids, Bonivas. Die arme man is meer Bonnyvale en Kajafas genoem as op sy regte naam. Ons stap pole-pole. Dis eintlik lekker om gedwing te word om so stadig te stap. Maak mens minder moeg. Die reënwoud is pragtig met baie varings, mos en blommetjies. Net jammer mens kan so min opkyk om dit te waardeer, want die pad is grof met baie boomwortels en slote.
Ons eet middagete langs die pad (of te wel, die wat dit nog nie vanoggend opgeëet het nie). Die pakkie bestaan uit ’n stuk hoender, ’n vleisdingetjie wat soos ’n langwerpige frikkadel lyk, ’n broodjie, ’n poeding (stuk koek), ’n baie klein piesankie en ’n klein suur lemoen. O ja, en ’n pakkie grondboontjies. Nie dat Ulie en Herman dit nodig het om die wind van agter te hê nie.
Die paadjie is baie steil op plekke vandag en dit vat lank om bo uit te kom. Gelukkig is die weer wonderlik en is dit nie te warm of bedompig nie. Ons kom 16:15 by Machame Hut aan na die eerste dag se stap. Ons moet almal inteken in ’n register. Ons is te moeg en lui om ons paspoorte uit te haal en dink sommer nommers vir almal uit en beroepe vir elkeen. Enigiets van ’n model tot by ’n wedding planner! Die groep het goed gejel en ons het baie grappies. Sover lyk en klink almal goed en fiks.
Ons kry ons tente en bagasie en sit huis op. Ons slaap soos volg: Die Van der Merwes in een tent, Hanlie en Magdel in ’n ander, dan Francois en Herman, Louis en Ulrich en Barry en Kallie. Dag een is op sy rug en ons is dankbaar. Ons het meer as tien kilometer gestap (geklim) en 1200 meter gestyg.
Dit is ongelooflik om hierdie porters dop te hou. Hulle dra elkeen 25 kilogram op hul kop of nek/rug. Party met gewone werkskoene. Hulle trippel by jou verby terwyl jy en jou stapmaats die bulte uitstoom. Vanaand moes elkeen van hulle inweeg by Machame Hut. Tom vertel ons dat dit vir veiligheid is dat hulle presies dieselfde gewig moet hê as waarmee hulle die oggend vertrek het.
Ons het nie reën gehad in die reënwoud nie. Dis ’n goeie seisoen en ons is baie geseënd. Herman het ’n gebed gedoen voordat ons geloop het en ons besef almal watter goddelike geleentheid hierdie is.
Aandete was ’n totale verrassing, of nee wag, daar was eers tea-time waarvoor Simon ons kom roep het nadat ons ons almal heerlik kon was in ’n skotteltjie wat ons twee-twee moes deel met lekker warm water. Daar was ’n keuse van milo, koffie of tee met popcorn en koekies. (As Louis hierdie lees: daar was nie koekies nie!)
Aandete het begin met sop. Hulle noem dit komkommersop, maar dit smaak meer na hoender en mushroom. Ons het maar net gehoop dat die oorskiet hoender van vanmiddag nog olraait was voordat hulle dit begin afkook het vir die sop. Nietemin baie lekker met ’n sny brood by. Toe kom daar gebraaide aartappels met ’n beef sous (’n bredie met vleis). Baie lekker. Met piesangs vir poeding.
Ons hou saam huisgodsdiens uit Hebreërs 12 en gaan slaap vroeg. Dis baie koud en ons wonder of ons genoeg warm klere het vir summit-aand. Ons is nou op 3000 m bo seevlak en moet omtrent net soveel nog styg.
Dinsdag 22 Februarie 2005 – 2de dag van stap
Ons word wakker met ’n pragtige oop uitsig op Kibo Peak. Die son kom van agter die berg af op. Ons kry weer skotteltjies om in te was en pak in, want die porters wil 07:30 ons sakke hê om te begin stap. Van hulle stap vroeg want hulle moet gaan middagete voorberei en tafel dek vir ons langs die pad. Ons eet ’n heerlike ontbyt met papaja, toast, kaas, pap, worsies, eier en tamatie. Baie lekker. Dis lekker koud en ons kan nie besluit of ons met baadjies aan of baadjies af moet stap nie. Ons stap 08:30. Vandag stap Tom voor en hy stap heelwat stadiger as Bonivas. Ons sukkel aanvanklik om daarby aan te pas. Dis regtig STADIG maar vinnig is ons bly daaroor, want dis baie steil maar heerlik. Vandag is blatant FANTASTIES! Ons klim 800 meter op ’n riffie en kry heerlike middagete by ’n gedekte tafel op een van die plato’tjies. Ete bestaan uit eier, avokado, piesang, koekies, ’n muffin en tee. Regtig lekker. O ja, daar was hoender ook. Bietjie droog sonder die mayonnaise wat Ulie aanbied maar nie het nie. Orals het ons baie mooi uitsigte en veral Meru Berg is besonders.
Tom is ’n goeie leier. Hy sorg vir die tegniese en los die res vir onsself. Hy praat min genoeg maar is baie vriendelik. Elke keer as ons vra vir ’n kans om ’n foto te neem, is daar net een antwoord: Hakuna Matata: No problem!
Ons buurspan is baie uitputtend. Hulle kom van Amerika af met twee Kanadese en ons skinder lekker in Afrikaans as hulle verbykom. Ons noem hulle die Verenigdes sodat hulle nie moet weet dat ons van hulle skinder nie. Hulle praat onophoudelik kliphard. Very annoying!
Kallie is die snaaksste. Hy laat ons gedurig lag. Net hyself lag nie so baie nie, want dan sou sy lagspiere al sy maag kleiner gemaak het. Hy sê presies die regte ding op die regte tyd om ons almal op te beur! Viva Kallie!
Ons is vandag vroeg by die kampplek. Ongeveer 13:30. Dis Shira Kamp op die Shira Plato en dit lê op 3800 m. Ons het vandag net bietjie meer as 7 km gestap en dis die kortste dag. Ons was en maak ’n middagslapie en neem mooi foto’s van die Kibo Peak en die sonsondergang op Berg Meru. Ons het wonderlike weer en is opnuut weer vandag onder die indruk van presies hoe geseënd ons is. Dis voorwaar ’n voorreg om hier te wees.
As ek terugdink aan vandag is daar verskeie goed wat my altyd sal bybly: Ulie se blaas is baie klein. Tom het glad nie moeite om ons te laat pole-pole nie, want Ulie wil ongeveer elke 50 tree Piepie-Piepie en dan staan ons. Die Verenigdes dink ons stap baie stadig, maar dit is nie waar nie …! Ons piepie net so baie!
Hier waar ek nou sit en skryf kan ek die sneeubedekte pieke baie mooi sien. Ons kan egter nog nie vir Uhuru Peak sien nie, want die gletser wat ons nou sien is direk voor hom. Uhuru lê reg oos van die gletser en is tans nog buite sig. Die 3800 m bo seevlak waar ons nou is, is die hoogste wat ek nog was sonder beheerde lugdruk. Niemand van ons het nog koppyn nie en almal is nog gesond. Hier is ’n yswind wat waai en dis nou ongeveer 15:00 en ons het reeds “thermal” klere aan. Vannag gaan koud wees!
Nadat die meeste van ons middagslapies gemaak het, word daar rondgestaan en foto’s geneem. Simon kom soek vir Herman, wat op daardie stadium baie ver van ons af staan en foto’s neem. Ek probeer help en sê dat hy maar die boodskap vir my kan gee. Sy uitdrukking op sy gesig was ’n kodak-oomblik. Sy enigste reaksie: “No! I like to speak to Herman!” Women’s Lib is nog nie sterk in Tanzanië nie. Eintlik is dit dierbaar om te sien hoe al die porters jou aangluur. Hier is duidelik nie veel vrouens wat die berg klim nie en ook is die mans in ’n Moslemland nie gewoond om ’n vrou in shorts te sien nie.
Aandete is opnuut ’n verrassing met wortel- en selderysop met pannekoeke. Daarna volg ’n berg rys en lang boontjies met piesangkoekies en groentesous vir die rys. En twee bakke vleis ook. Ons eet regtig lekker. Kallie se maag is net nie lekker nie. Ons hou huisgodsdiens uit Psalm 121 en bid saam. Dis altyd lekker as ’n klomp Christene saam stap. Ons gaan slaap 19:30, nie omdat ons vaak is nie, maar ons voel sleg om te lank in die eet tent te sit en kuier, want die porters moet daar slaap. Verder is dit baie koud en die warmste plek is maar jou slaapsak in jou tent. Almal se grootste wens is dat dit nie vanaand nodig sal wees om op te staan om ’n draai te gaan loop nie. Min se droom het waar geword. Die diamox-pille wat ons drink teen hoogtesiekte maak dat mens baie meer moet piepie. Interessant genoeg het elkeen van ons ’n ander voorskrif en instruksies ontvang het oor die diamox. Ons het maar almal se raad in ag geneem en volg ’n veilige middeweg. Lala Salama!
23 Februarie 2005 – 3de dag van stap
Ons is vroeg op. Nie om enige ander rede as dat ons deurgelê is nie. Die dag skop af met ’n geskiedkundige oomblik: Die Van der Merwes se duffelsakke is eerste klaar gepak en reg vir wegvat deur die porters. Ons doen die nou al normale oggendroetine van was en eet (Kallie sit uit op hierdie een want sy maag loop vandag vinniger as hy).
Ons begin stiptelik 08:30 stap. Die grond is vasgevries soos ons loop. Vandag styg ons van 3800 m bo seevlak na 4600 m en dan weer af na 3950 meter in de Barranco Vallei by Barranco Kamp.
Die groep is aansienlik stiller. Die lug is dun en ons snak plek-plek na asem. Tom is op ’n missie en moes op een kol selfs hard met die groep praat omdat ons so baie wil stop. Eers wil ons meer klere aantrek, dan raak die yswind stil en wil ons weer van die warm klere ontslae raak. Tussen-in volg die P’s: Piepies en Pictures! Tom se geduld is merkwaardig. Ons eet net so ’n halfuur se stap onder die Lava Tower by 4400m. Die wind waai kwaai en hulle dek ons tafel in ’n tent. Ons kry dieselfde middagete as gister, behalwe vir suspisieuse vetkoeke wat vir party van die groep lekker was.
Tom gee instruksies dat ons nou warm langmougoed moet aantrek en ons vertrek na ’n hoogte van 4600 m by die voet van die Lava Tower. Sy bopunt is op 4800 m, maar Tom wil hê dat ons minstens 30 minute aan die voet moet sit om gewoond te raak aan hierdie hoogte, want môre-aand slaap ons by 4600 m. Hoe nader ons aan die berg kom, hoe meer kom ons onder die indruk van hoe groot God werklik is en hoe klein ons is. Dis prentjiemooi om op te kyk na die reuse stukke ys wat teen die berg vassit. Die hele gesig is effens meer as wat mens sommer so op ’n gewone Woensdagmiddag kan inneem. Ons sal die prentjie met ons saam moet neem en onsself gereeld moet herinner aan presies hoeveel van ’n “once-in-a-lifetime” geleentheid hierdie is.
Na 30 minute se akklimatisasie by Lava Tower kamp (daar is mense wat daar kamp om die Western Breach van hierdie punt af te begin klim) is dit tyd vir die afdraende. Ons moet 650 m sak. Die Barrancu Vallei is pragtig met interessante plante wat hulle senecio’s noem. Ons beleef verskillende ervarings van ysreën en reën tot baie koue!
Toe gebeur iets waarop nie een van ons ooit voorbereid kon wees nie. So byna-byna het ons ons eerste ernstige besering in die groep met Alida wat amper vir Willem reg agteroor poep. Herman, wat net voor haar in die ry geloop het, vlieg om en skud haar blad en bied ’n halfdosyn aandele vir haar aan in sy en Ulie se baie vooruitstrewende maatskappy. Hulle vervaardig wind op aanvraag. Alida, ons is trots op jou! Die eintlike rede vir hierdie gedrag is dat jou lyf begin de-flate van die hoogte.
Ons kom 16:30 by die kamp aan. Die uitsig op die berg is Mazuri-mooi! Ons stap vandag lang ente sonder die Amerikaners. Dis heerlik stil. Ons tente is op en ons neem ons intrek. Ons bad, drink tee met popcorn en grondboontjies en net toe ons trommeldik is, kom soek Simon vir Herman om aandete aan te kondig. Ons kan nie meer eet nie en Magdel probeer aandete skiep maar Simon het ander planne. Hy sorg dat ons genoeg en gereeld eet. Dis interessant hoe ons eetlus afgeneem het hoe hoër ons styg. Mens is ook niks lus vir soetgoed nie, maar gereeld baie dors en lus vir game.
Die groep “moan” definitief baie meer as twee dae gelede. Francois is die hoof “moaner”. Twee dae terug het ons soos ’n koor gesing: “Aaahhh! Matrasse!” Nou is hulle so dun soos papier. Die komkommersop was die eerste aand “uit die hemel uit”. Vanaand is die komkommer in die sop definitief bietjie af.
Ons het vroeër vandag vir Tom gevra om vir ons ’n Swahili liedjie te leer. Hy skryf vir ons die woorde neer:
JAMBO, JAMBO BWANA
HABARI GANI, NZURI SANA
WAGENI MWAKARIBISHWA
KILIMANJARO, HAKUNA MATATA
Vanaand oefen ons dit. Louis is vol inisiatief en neem vir Tom op ’n bandmasjientjie op toe hy vir ons kom instruksies gee oor môre. Later luister Louis daarna via oorfone en gee die regte ritme vir ons deur. Ons leer die vier reëls maklik danksy Kallie se kar wat ’n bus is. (Mwakaribishwa)
Vanaand se stiltetyd is great. Ons sing en loof net die Here dat Hy vir Kallie gesond gemaak het. “Our God is an awesome God! He reigns from heaven above.” Ons gaan slaap weer vroeg want môre moet ons 07:00 al stap.
24 Februarie 2005 – 4de dag van stap
Dis snaaks hoe nie een nag verbygaan sonder mannewales nie. Vannag het ons toilet se tent weggewaai die vlakte in en het die toilet “topless” gestaan. Alida het maar oë toegeknyp en die toilet dakloos aangedurf. Ulrich en Louis het dit ook ontdek en eers foto’s geneem van die affêre. Hanlie is later dieselfde rigting in en nadat sy die veld aangedurf het vir ’n draai, het sy die tent gaan haal en teruggesleep toilet toe en met klippe vasgepak. Ulie slaan hom later weer op.
Ons begin 07:00 stap en klim die Barranco Wall. Dis 250 m reguit die lug in op. Hanlie tel 2616 treë!
Vir die korrektheid van die anale en onder groot groepsdruk en dreigemente van dagboek-editing sal ek nou maar vertel wat vanoggend vroeg gebeur het. Ek het my oë oopgemaak in ’n vrolike luim en die eerste klank wat my regteroor opgetel het was Francois wat ons betower het met sy sangnommer: “Daar’s ’n lig aan die einde van alles! Daar’s ’n plek ver van hartseer en pyn!” Ek wou vir hom sê watse inspirasie hy vir almal van ons is, maar met ’n Freudian “slip of the tongue” kom dit toe per ongeluk uit as: “Ag Francois shut-up!” Die hele tent 1 was stomgeskok. Nodeloos om te sê moes ek ongeveer 300 allesomvattende komplimente uitdink voor middagete net om weer op “par” te kom. Nou is ons weer onafskeidbaar. Laasgenoemde is ’n term met ’n plofbare betekenis bo 3000 meter.
Dit was baie ure se intensiewe stap na die middagete plek toe. Francois wens vir slaptjips en niemand wat nie self daar was nie, sal ons nou glo dat ons toe op 4200 m bo seevlak slaptjips met tamatiesous kry vir middagete nie. Verder was daar nou al die alomteenwoordige sop. Die twee wat daarvan geëet het, het dit mushroomsop genoem, maar ons ander was net te moeg vir eet. Saam met dit was daar oliebolle met piesang en brood in.
Na middagete en ’n plassie of twee in die Kili-hokkie met die kleinste gaatjie denkbaar, klim ons verder. Ons mik vir 4600 m by die “base-camp” Barafu.
Ons stap deur ’n klip begraafplaas met ’n klokkespel van ysreën op leiklippe. Dis aandoenlik en ons voel baie spesiaal. Tom is weer op ’n missie en toe ons smeek vir ’n ruskansie is sy enigste kommentaar: “Too early to rest!”
Toe ons uiteindelik kan rus, kan mens vir die eerste keer Uhuru-peak net-net deur die wolke sien. Ons is opgewonde en neem foto’s maar Kallie is net te moeg en laat val: Uhuru se moer-u!
Ons bereik Barafu om 15:00. Ons het vandag ’n verplasing gehad van net 650 m. Vannag moet ons dubbel dit uit ons bene pers. Mag die Here vir ons vlerke soos arende gee. By 3800 m by die tweede nag se slaapplek by Shira Kamp was dit ’n fisieke uitdaging om van die eet-tent na die toilet te stap en terug. Hier by 4600 m is dit ’n geweldige fisieke inspanning om om te draai in jou slaapsak. Alles word pole-pole gedoen en selfs net om jou bootse aan te trek vat lank en maak mens uit asem.
Ons eet vroeg want ons moet vroeg gaan slaap. As gevolg van ’n water tekort op Barafu moet die hele groep uit een oranje skotteltjie was. Daar word nie veel gewas nie.
Tom se praatjie tydens aandete was short en sweet. Ons gaan nie meer 24:00 stap soos die gebruiklike is nie, maar wel 23:00. Dus moet ons 22:00 opstaan. Hy het die rede daarvoor baie diplomaties en met ’n groot smile gegee, maar dit kom basies daarop neer dat ons ’n pole-pole span is. Die slaap het die meeste van ons ontwyk. Ek het die stuk in die Kili-boek vir my en Magdel gelees en dit het ons goed opgesyc en gemaak dat ons nie kon slaap nie. Niks wat Tom gesê het kon ons voorberei op wat ons sou beleef nie. Van 22:00 af tot 22:30 het ons alles aangetrek wat ons saamgebring het vir summit-nag. Die lug hier is regtig dun en alles vat lank en maak jou moeg. Daarna het ons tee gedrink en ons flesse gekry en laaste voorbereidings getref om 23:00 te kan stap. Herman het vir ons en die vyf gidse (Tom, Bonivas, Simon, John en Stutten) ’n gebed in Engels gedoen en ons is daar weg! Pole-pole!
Vrydag 25 Februarie 2005 – 5de dag van stap
Dis onmoontlik vir een mens om ’n groep se belewing weer te gee. Ek kan maar net sê wat ek beleef het:
Dit was BAIE erger as wat enige iemand my vertel het. Van 23:00 Donderdagaand tot 05:30 Vrydagoggend het ons geklim en geklim en geklim. Reguit die lug in op. Tom voor met Magdel, Ek, Herman, Ulie, Kallie, Francois, Louis, Barry en die Van der Merwes. Aanvanklik het alles goedgegaan. Tot ons baie lang treë oor rotse moes gee. My bene doen nie daai nie en my hart het teen trippel-beat begin gons. Pole-pole! Toe wil Hanlie en Herman stop om lip-ice uit te haal en aan te sit, tot groot ontsteltenis van die vier assistant-gidse wat langs die paadjie loop weerskante van die ry om te kyk dat jy in jou ry en direk agter die een voor jou bly. Ons kry na twee ure se uitmergelende stap ons eerste kans om vinnig te sit en iets te drink. Die groep is stil. Miskien is almal net so geskok soos ek oor wat besig is om met ons te gebeur.
Ons beur voort! Die zig-zags met los gruis waarteen mens telkens terugsak, is hartbrekend en hou vir ure aan. Kap jou stok in, skuif jou voete tot by jou stok! Kap jou stok in, skuif jou voete tot by jou stok! Kap jou stok in, skuif jou voete tot by jou stok! Dit hou vir nog meer as vier ure aan. Die assistant-gidse hou jou met arendsoë dop en as jy stop om drie keer hard asem te haal, is Simon langs jou, skyn hy die lig in jou oë en vra met baie assertiwiteit: What is your problem? Tom stop nooit! In meer as ses ure se moordende opdraende in baie dun lug, het ons twee keer die luukse gehad om vinnig te sit. Met die tweede sitslag het ek begin verstaan hoekom ons MOET aan die beweeg bly: Dis só koud waar ons nou loop dat jou liggaamstemperatuur só vinnig sak as jy staan dat dit baie gou gevaarlik raak.
Stella’s Point wil net nie kom nie! My ervarings wissel tussen geïrriteerdheid met Tom wat net loop en loop en later ’n totale aanvaarding van alles wat kom. Ek sing oor en oor dieselfde versie: “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok. Op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” Die volmaan is pragtig helder en ons sien dat die grond aan weerskante van die uitgetrapte paadjie vasgevries is. Ulie word verbygedra deur een van die gidse tot reg agter Tom. Hy het tekens van hoogtesiekte. Ek skrik! Here, sal U asseblief in u groot genade ons tien veilig bo uitbring! Uiteindelik om ongeveer 05:15 bereik ons Stella’s Point in die nek voor Uhuru Peak op ’n hoogte van 5755 m bo seevlak. Nou nog net 140 meter vertikaal styg na Uhuru Peak. Vryheid! Magdel wil ophou, maar Tom oorreed haar om aan te gaan. Ons kry kans om vinnig te sit, maar eintlik raak mens net lui en koud. Tom moet twee keer hard Herman se naam noem, want die groep beweeg nie. Eintlik is ons ook baie vaak en sit en slaap. Hoe graag wil ons hierdie doen? Genoeg om nog ’n uur of meer opdraende voort te beur? Ek het myself nie eens kans gegee om te antwoord nie. Het onder reeds besluit dat ek nie op die nek ’n keuse sou hê nie, want mens kan nie rasioneel daaroor dink nie. Beur op en beur voort. Daar is net een opsie en dis om bo te kom! Ons kry Krag van Iewers en begin stap. Die steilte is nou meer genadig en die paadjie stap beter, maar die hoogste punt in Afrika lê op die heel verste punt. As dit maklik was, was dit nie so ’n groot prestasie nie. Elkeen loop met sy eie gedagtes. Pragtige ysgletsers en yswalle verskyn aan ons linkerkant. Dis ontsettend koud. Ons moet aanhou beweeg. Daar kom mense van voor af wat jou moed inpraat. Hulle was reeds daar. Ons beur voort. Na nog ’n uur en ’n half se pole-pole en sweet bereik ons Uhuru-Peak op ’n hoogte van 5895 m bo seevlak om ongeveer 06:45 op Vrydagoggend, 26 Februarie 2005 op ons vyfde dag van stap.
Die hoogste punt in Afrika en die hoogste losstaande berg in die wêreld. Dankie, Here! Die weer is spesiaal vir ons gekies. Mens kan die ronding van die aarde sien op ’n pragtige sonsopkoms. Ons neem foto’s maar van die National Anthem sing is daar nie sprake nie. Die verkeer is bietjie dik en ander wil ook foto’s neem en ons moet so gou as moontlik berg afgaan om meer suurstof te kan kry.
Ons drink ons tee by Stella’s Point en begin die aftog. In die volgende paar uur van hierdie dag sal ons sak vanaf 5895 m tot op 3100 m by Mweka se oornagplek. ’n Ongelooflike 2795 m! Ons bene voel dit. Vanaf Stella’s Point tot terug by ons tente op Barafu vat ongeveer twee ure en dis baie vergelykbaar met ’n ski-ekspidisie in die Switserse Alpe. Die enigste verskille is dat hierdie ski-slope bestaan uit lava rotse van alle groottes en dat jy net een ski-pole in jou hand het. Party kry dit beter reg as ander. Herman, Willem en Barry doen goed. Een ding is seker en Willem verwoord dit seker die beste as hy vir Bun Booyens aanhaal uit Desember 2004 se Wegbreek: “Ons neuk van daai berg af!”
So kom ons groepie vir groepie terug by Barafu. Na ’n poging tot ’n slapie, pak ons in en eet middagete. Die koeldrank kry veel meer aftrek as die aartappel-stew. Alhoewel laasgenoemde baie lekker lyk, is ons net nie honger nie. Ons lywe is seer en nog in skok. Ons begin 13:00 stap na Mweka Kamp. Daar val swaar ysreën maar ons is in ’n goeie gees en is dankbaar dat ons nog almal in een stuk is nadat ons tot bo kon gaan. Ons vorder fluks met die afdraend. By Mlinga verkoop hulle Kilimanjaro bier en Coke teen 3 dollar vir die koeldrank en 4 dollar elk vir die bier, maar ons is lankal lus daarvoor en gee nie om om duur te betaal nie. Dis baie lekker en ons stap verder. Dis ongeveer vier ure se stap.
Die omgewing rondom en op pad na Mweka Kamp is baie mooi. Skielik lyk die natuur en plantegroei weer heel anders. Hier is blomme, fynbos (proteas, heide en elke ding) en baie mooi groen valleie. Teen Kilimanjaro van omtrent 4000 m af, groei daar niks. Daar is net klip, lawarotse en sneeugletsers. Ek het gisteraand herhaaldelik gedink hoe uit sy plek die mens daar bo teen die berg lyk.
Francois loop ’n draai in die veld voordat ons by die kamp aankom en los sy stapstok daar. Toe hy dit die volgende oggend ontdek, is dit net te ver om terug te stap om dit te gaan haal. By Mweka kry ons kans om ordentlik te bad en lekker te eet met rys, lang groenbone en ’n groente- en bone-sous. Die pannekoek by die sop omskep ons in poeding met gouestroop, milo en suiker bo-oor. Simon skud net sy kop. Ons sit later buite in ’n kring (dis veel warmer hier as wat ons die laaste paar aande gekry het) en hou saam huisgodsdiens. Willem lees een vers uit Ps 86:9. Hier word ons aangemoedig om dit wat ons baie graag wil hê, van God te smeek. Elkeen kry ’n kans om sy/haar belewing van die summit-nag in woorde om te sit. Dis ongelooflik lekker om elkeen se storie te hoor en heerlik om te hoor hoe die Here voorsien het, hoe wonderwerke gebeur het en elkeen op sy/haar eie manier sy/haar grense getoets het en oorwin het! Veni, vidi, vici! Ons het gekom, ons het die majestieuse berg gesien en ons het dit en baie ander aspekte van onsself, oorwin!
Sal ons weer gaan? Nooit nie! Soos Barry dit opsom: Hy sal dit nie eens vir sy grootste vyand toewens nie, maar ons is bly dat ons dit gedoen het. Baie bly oor die ongelooflike grootse ervaring wat ons kon meemaak.
Elke volgende berg in my lewe, sal ek beslis anders hanteer. Ons is almal anders as sewe dae terug!
Saterdag 26 Februarie 2005 – 6de en laaste dag van stap
Vandag is alles laid-back. Ons staan rustig op, eet 07:00 eers en Tom sê ons kan self besluit hoe laat ons wil stap. Miskien kry ons tot vandag ’n waterbreuk! Ons stap deur ’n reënwoud met pragtige tonele en blommetjies. Ons neem baie foto’s en neem ook die Impatiens Kilimanjari af. Dis ’n tipe impatiens wat mens net hier kry. Tom is hiper-rustig en wag geduldig dat ons elke blommetjie van naby afneem. Ons sak vandag ’n verdere 1600 m vanaf 3100 m tot op 1500 m by Mweka Hek by die eindpunt. Die einde vat lank om te kom. Ons teken uit by reception en Tom kry ons sertifikate wat hy later by Springlands Hotel aan Herman oorhandig. Ons stap van die einde af nog vyf minute na waar ons bus wag met ons eie “Slim” agter die stuur. Die plaaslike bevolking oorval ons om t-shirts, houtwerk, batikwerk en wat nog alles aan ons te verkoop. Hulle is eintlik lastig, verstaan nie nee vir ’n antwoord nie en Magdel se stapstok word uit haar rugsak gesteel.
Genadiglik begin dit reën om ’n einde te maak aan die verkoping en ons en BAIE porters spring in dieselfde bus met al ons bagasie op die dak. Ek weet nie wie van ons in die bus stink die meeste nie!
By Springlands Hotel kry ons heerlike middagete nadat ons skoongewas is. ’n Ongelooflike ervaring is verby. In die voorportaal kry ons nuwe groepe wat inkom om Kili te gaan stap. “There’s a sucker born every minute!” As hulle maar weet waarvoor hulle in is. Na alles moet ek sê dat ek gekom het vir “me-time”, maar dat hierdie baie ver daarvan verwyderd was. Sonder die hulp en ondersteuning van ’n fantastiese groep mense sou ek dit nie wou maak nie. Ons het in sewe dae meer gelag as in ’n lang tyd! Baie, baie, baie dankie aan elkeen wat dit meegemaak het, vir alles!!!! Julle is die tipe saam met wie mens kan oorlog toe gaan of sommer net saam vakansie kan hou. Mag ons die swaarkry altyd onthou, die lekker tye altyd koester en uitsien na nog baie sulkes!
Baie liefde
Hanlie