Gistermiddag kry
ek die kort boodskap: Colla is dood.
Dit is haar
dogter Maryna wat bel. Albei van ons se stemme sukkel om uit te kom. Amper 93, maar steeds ’n groot skok.
My liefste Tannie Colla. Die res van gisteraand en vandag verkneukel ek my in onthou... En daar is so baie:
Ek het haar
ontmoet in 2013 toe sy al 82 was. Sy het
Munisipaliteit toe gebel en gevra dat ek haar moet kom sien. Ek het uitgevra waaroor, maar sy wou nie oor
die foon praat nie. Face to face is eerliker, het sy altyd gesê. Ek
het voorgestel dat ek haar daardie Vrydag vir tee kry by Tillies. Tillies is die saamkuierplek op ’n Vrydag by
die Ouetehuis. Sy het dit beleef dog
ferm van die hand gewys. Sy het nie tyd
vir tee nie, was die antwoord. Sy wil besigheid praat. En so het ek haar die volgende dag gaan
besoek en gehoor van haar bekommernis oor die ouermense wat nie meer genoeg
stap nie omdat Piketberg se bulte te steil is.
Die Munisipaliteit moet bankies opsit op al die kontoere rondom die
Ouetehuis en sy sal hulle aan die stap kry.
Ek wou nog verduidelik dat dit reg is, maar ons sal dit eers moet
adverteer op al die erfeienaars voor wie se huise die bankies moet staan, toe
het sy reeds die plan geteken, die toestemmings verkry en siedaar! Die bankies is twee weke later geinstalleer.
En so het my vriendskap
met Colla begin. Sy wou nooit Tannie wees nie. Ek kom uit ’n ordentlike huis en
kon nie vir iemand ’n dekade en meer ouer as my ouers op hul naam sê nie. Min het al met Colla verskil en gewen. So in
haar teenwoordigheid was dit Colla en as ek vir ander van haar vertel, was dit
Tannie.
Ons kon heerlik
sing... Sy het gehou van ’n uitstappie en avontuur en my soms gebel en gesê dis
tyd. Dan ry ons. Ons sit die cd-speler in my motor (ja ek het nog so ’n ding)
kliphard en dan sing ons. Jo Black was
ons gunsteling. “Voel jy die genade”. Piekenierskloof Lodge se stoep vir ’n
whiskey. Die vonkel in haar oog as sy ’n
dubbel bestel en ek ’n single. Citrusdal se koffiewinkel teen die bult, Piket
Boberg se mark of sommer net ’n kuierplek in Piketberg. Sy was altyd "game" vir
alles. Tydens ons laaste markdag op die
berg wil sy die toilet besoek en ek stap met haar oor baie ongelyke terrein na
die eco-toilet van saagsels. Oppad af
stap ek voetjie vir voetjie voor die rooiperd uit (die rooiperd is haar kombinasie
stapring en rolstoel wat sy die laaste 5 jaar gebruik). Op ’n stadium gaan sy staan en uiter
kliphard: Oeeee, as my kinders my nou moet sien, sal hulle verenig in
gebed... Ek het maar net gelag en gesê:
Colla, jy laat dit klink of ons iewers aan ’n yspiek in die Himalayas hang!
Sy kon ure oor
haar jare in Kamieskroon vertel en toe sy as jong meisie gewerk het in
Springbok by die Munisipaliteit. Haar baas het op ’n keer vir haar gesê: “Why
be difficult, when with a little more effort, you could be impossible.”
In 2017 word ek
summier ingeroep om haar te leer om haar tablet te kan gebruik. Toe was sy reeds 87 en steeds baie leerbaar. Sy wil kan whatsapp’e stuur met stemboodskappe,
fotos en die hele katoetie. Haar eerste
stemboodskap aan my as deel van ’n oefenlopie: "Hanlie, dit is die song wat die Danube
rivier in Wene blou gemaak het. Dit is al wat ek wil sê.” Niks aan Tannie Colla was ooit net gewoon of afgesaagd nie. Ek kon ure aan haar lippe hang.
Sy’t talle rympies uit
haar kop geken en dit tydig en ontydig in geselskap opgesê. “Good luck to the duck who swims in
the sea... and bugger all boys who don’t like me...” En dan lag sy haar lekker lag uit haar maag uit.
Een middag is ons op
Piket-Boberg toe. Ons wou net in die natuur kom. Ek het ’n piekniek gepak en
toestemming gevra by die grondeienaar. Ons het eers die lande vol sewejaartjies
gaan kyk. Sy met haar loopring. “Ek gaan gou heuweluit Colla, roep ek in die
drafstap.” Ek neem aan sy bly by die motor. Maar met Colla moes mens nooit
aanneem nie. Toe ek bo-op die bult staan en fotos neem is sy langs my. Koppigheid
gee krag in haar kort bene. Lewer nog
kommentaar ook oor die gehalte van die foto wat ek geneem het. As professionele fotograaf kon sy nooit net
na ’n foto kyk nie. Sy het dadelik begin evalueer oor komposisie, hoek van
fotograaf en wat nog alles. In al die jare het ek een tevrede kopknik
gekry. Haar standaarde is hoog.
Later staan ons by die dam en sing uit volle bors. Sy wou altyd "Doen slegs U wil Heer" sing. Ons bulder dit uit oor die dam en die vallei. Vorm my en maak my, net soos U wil. Op u bly wag ek, nederig stil...
Sy was oneindig lief vir
haar familie. Haar drie kinders en
skoonkinders. Haar kleinkinders en agter-kleinkinders. Ek moes talle fotos kyk van almal se
prestasies. Haar seun se dood in Covid
was ’n baie moeilike tyd. Sy het gevra dat ek vir haar Psalm 62 lees. Toe ek klaar is, sê sy: Nou doen jy dit oor.
Jy lees verkeerd. Ek moes die 1953
vertaling gelees het en nie die 1983 nie. Sy prewel elke woord saam. Ek het nooit die hart gehad om vir haar te
vertel van die 2020 vertaling nie.
Haar verhuising na die
Ouetehuis was nog ’n moeilike tyd. En
deur alles het haar verhouding met die Here bo-oor alles geskryf gestaan. Haar
dankbaarheid vooraan.
Collatjie, liefste
Collatjie... Ek sal nog ’n boek kan skryf met alles wat ek by jou geleer
het. Korrelkop, stunning korrelkop,
kaalvoetkind, koningskind. Ek hoor weer
Jo Black...
Jy's net 'n mens
Hy is God
Maar jy sal nooit uit sy hand uit val
Sê my, voel jy die genade?
Jy's vrygekoop
Die prys is reeds betaal
Jy's skoongewas, 'n Koningskind
Sê my, voel jy die genade?
En die water loop
Ja, die water stroom
Sê my, voel jy die genade?
Maak net jou arms oop
Laat die trane loop
Sê my, voel jy die genade?
Ons trane sal nog
baie lank loop. Ons voel die genade.