Jy sit op die polisiestoep in Piketberg. Jys skaars hoër as die trappie. Jou voetjies skop skop na die blare en klippies op die trap. Daar lê ‘n vrou langs jou. Jonk maar stukkend geslaan. Daar’s bloed by haar oog. Sy’t haar kamerjas aan. Dis 10:06. Jou ogies is wakker, maar waaksaam. En toe is ek verby. Ek wonder wie jy is, waar jy bly en of daar iemand anders as jou dronk Ma is wat na jou kan kyk. Jys drie, moontlik vier. Waar’s jou Pa? Almal van ons het ‘n kromosoom van ‘n man gekry, maar het jy ‘n Pappa? Ek het lankal om die hoek by die poskantoor parkeer, toe my kop nog nie by die poskantoor is nie. Een uit elke vyf babas wat in ons munisipale gebied gebore word, word gebore uit ‘n vrou jonger as 18. Is jy een van hulle? Wat is jou kans op oorlewing? Of meer nog... jou kans op sukses. It takes a village kap my hart terug. Daar sal iewers ‘n omgee-tannie wees. En toe ek uitklim weet ek: ek is ‘n Tannie. Die enigste uitstaande vraag is: gee ek genoeg om?
Jy’t Munisipaliteit toe gebel en gevra dat ek terugskakel. Jy wil met niemand anders praat nie. Ek bel terug en jy vra dat ek jou kom sien. Dis dringend. Nee jy gaan nie oor die telefoon sê waaroor dit gaan nie. Dis te sensitief. Bedrog, dink ek en waarsku solank ons Interne Ouditeur. Ek slaan my dagboek oop en weet ek moet nog berge versit voordat ek oor twee dae met vakansie gaan. Ek beduie na die eerste moontlike datum na my terugkoms, maar jy wil niks weet nie. Vandag!
Ek skuif een vergadering, stel ‘n ander af, laat middagete oorstaan en sit af na jou huis toe. Ek was nog nooit daar nie. Julle ingang is van die boonste punt op die steil erf af. ‘n Netjiese rolstoel-ingang lyk nuterig. Ek wou dadelik kyk hoekom jy in ‘n rolstoel is, maar jou helder, blink, vriendelike oë laat nie los nie. Ek vra sommer reguit. Jy weet mos ek weet. Diabetes beduie jy. Vyf tone af in regtervoet en die linkerbeen af bo die knie. Niks aan jou vra vir jammerte nie. Jys vierregop, trots en lus vir die lewe. Ek sak in die rusbank neer en vra verder uit. Haastig om by die bedrog te kom en terug te kom in my kantoor. Jou plan is anders. Jy vertel rustig jou lewensverhaal tot jou vrou tuis kom. Ons drink tee en gesels kopstukke. Later kan my nuuskierigheid nie hou nie en ek vra na die rede vir my besoek. Jys merkbaar ontsteld as jy jou krisis met my deel. Oor disrespek, vervallende waardes en jeugverwaandheid. Eks dankbaar daars nie nuwe bedrog nie. Ons is altyd net so sterk soos ons heel swakste skakel... Daai aand lê ek dankbaar en dink oor jou soort wat die gom is wat gemeenskappe bymekaar hou. Ek sal weer kom kuier. Ongenooid.
Haar naam is Lucy. Sy is lank en waardig in haar lounge uniform. Sy kom haal my half-ge-ete bakkie groen kerrie met rys. Smaak laf toe los ek dit. Dankie Lucy, sê ek sag en jou oë luier op my gesig. Hoe lank werk jy al op die lughawe, vra ek. Sestien jaar mevrou. Maar in die pandemie was ons ‘n tyd weg. Het jy al gevlieg Lucy? vra ek die eerste vraag wat in my kop opkom. Nee mevrou, daai kan ek nie. Jys al terug in die kombuis toe ek nog wonder wat jy bedoel. Het jy hoogtevrees dat jy nooit sal wil vlieg nie, of is vlieg net iets wat jy nog nooit binne jou bereik bedink het nie. Sestien jaar van vliegtuie sien land en opstyg. En ek vang myself droom daaroor om elke werker op Kaapstad Internasionaal wat nog nooit kon nie, te laat vlieg. Selfs sonder ‘n vliegtuig. Hoogtes bereik omdat jy kan!