Toe ek haar aflaai by haar huis in Sandstraat 21, Piketberg
het ek ‘n groot glimlag op my gesig en ‘n diep vreugde wat deur my hele wese
strek. Haar naam is Gracie Basson. Sy is
92 jaar oud. Ek het vanoggend die ongekende voorreg gehad om ‘n koppie tee saam
met haar te drink. In Mei 2015 het ek ‘n laai vol buisies tee in Franschhoek
gekoop en besluit om oor tyd 50 koppies tee te drink saam met fenominale mense en
hulle wysheid op te skryf. Ek het vir
Tannie Grace in November 2015 ontmoet by ‘n vriendin se verjaarsdag. Sy het
oorkant my gesit en binne tien minute het ek geweet hierdie is ‘n
50-koppies-tee-tannie. En so was dit ook.
Toe ek haar drie dae terug voor die munisipaliteit kry, waarheen sy
gestap het om haar water en ligte-rekening te betaal, nooi ek haar vir tee en
waarsku dat ek haar gaan vra wat sy nou op 92 weet wat sy wens sy reeds op 46
geweet het. Sy vra of sy my dadelik moet antwoord, want sy weet! Ek lag en halt
haar tot ons drie dae later sit met ons koppies tee…
Haar huis is pynlik netjies met vars Elsie-blomme in elke
kamer. Sy is geklee in swart en wit. Met die stop voor Corner Stone vra sy wie
my leer bestuur het. Sy sal ook nog graag wil leer. In die agterste teekamer
vang haar oog dadelik die rooi geruite skotse handsak en sy begin vertel. Dat
sy reeds drie keer oorsee was. Twee keer Engeland en een keer Skotland ook.
Twee keer as gas van Miss Nancy en haar suster Margaret by wie sy gewerk het in
Kenilworth en een keer op uitnodiging van haar penvriendin Mary. Een keer per
boot; twee keer per vliegtuig.
Ons sukkel om iets te kry op die spyskaart wat sy mag eet.
Sy eet nie hoendereiers nie en trek weg met die storie wat dit verduidelik. Ook
nie wit brood of suiker nie. Sy kies earl grey tee uit die tee laai van dosyne
soorte en ek “like” haar sommer nog meer.
Sy het ‘n ooglopende heldeverering vir haar Ma wat op 86
oorlede is. ‘n Merkwaardige vrou wat baie swaar gehad het in haar lewe. Hulle
is vier susters waarvan Tannie Gracie die oudste is. Toe sy ses was het die
oudste drie saam met Oompie Mentoor Piketberg toe gekom. Oompie Mentoor was
haar ma se broer. Sy vrou was Tannie Treintjie, maar sy was nie gaaf nie. Toe
Oompie Mentoor die eerste keer in Kenilworth kom van Piketberg af het hy sy
hoed gelig vir al die mooi vrouens in die winkel. Tannie Gracie se hele lyf lag
as sy vertel hoe hulle hom gespot het, omdat dit winkelpoppe was wat hy so
plegtig groet!
Die vriendelike kelner bring ons tee en ontbyt en Tannie
Gracie vertel hoe geirriteerd sy is met vandag se jongmense wat so maklik kla.
Self moes hulle beesmusvloere smeer en op hul knieë skrop. Vandag se kinders is
so bederf sê sy… hulle druk net knoppies. Sy klik haar tong.
Tannie Grace was nooit getroud nie en het geen kinders nie.
Haar Ma het gesê ‘n mens trou eers en dan slaap jy. Daar was ‘n Skot met ‘n
kielt wat vlerk gesleep het, maar hy wou eers slaap en moes vort. Ek vra of sy kinders mis en sy antwoord
dadelik: “Ek is baie lief vir kinders en het maar die wit mense se kinders
behandel soos my eie. En hulle is dit vandag nog”. Sy wou nooit iets doen om
haar Ma seer te maak nie. Sy’t van jongs af gesien hoe swaar haar Ma kry. Dan onthou sy kere dat haar Ma koerantpapier
voor in haar skoene moes sit om papnat tekkies kerkgereed te maak.
Sy vertel: op haar 90ste verjaarsdag was byna die hele
Piketberg deur haar huis om gelukwensings te bring. ‘n Klein "klonkie" kom staan
langs haar en vra hoe sy dit reggekry het om so oud te word. Sy sê hy moet net
gehoorsaam wees aan sy ouers en geen vuil tale gebruik nie. Ooee! sê hy. Is dit
al? En hardloop by die deur uit.
Ek vra of sy iets berou uit haar lewe. Ja, sê sy. Dat sy
nooit ‘n boek geskryf het oor haar Ma se lewe nie. Ek moedig haar aan om dit
steeds te doen. Sy eet een van die vier
bruin toebroodjies en vra ‘n “doggy bag” vir die res. Ja, die slaaitjie ook. Sy
vra uit oor my ouers en ek wys haar foto’s van my 75 jarige Pa en 73 jarige Ma
se 50ste huweliksherdenking. So jonk! sê sy. Sy wys vir my ‘n geel gevatte
swart en wit fototjie van haar Ma en suster in ‘n silwer raampie op ‘n
gehekelde lappie langs haar bed. Miss Nancy het die lappie gehekel.
Ek vra wat sy uit die lewe geleer het. Haar antwoord is
eenvoudig: Dien die Here met dankbaarheid; werk hard en gee blomme vir jou
ouers terwyl hulle nog lewe. Sy sê haar Ma het hulle kerk toe gedra toe hulle
nog klein was… en dit is glashelder dat die Here haar hele lewe is.
Tannie Grace spandeer haar tyd om mense wat swaar kry te
bemoedig. Sy kuier veral by drie “ou mense” in Piketberg (sekerlik jonger as
sy). Een in ‘n rolstoel. Tannie Miena wat onlangs oorlede is. Sy vat vrugte en
lag ‘n bietjie saam met hulle.
Toe ek groet vra sy waarvoor sy vir my kan bid. Ek is onkant
gevang en sê sy kan vir my bid vir ‘n man. Sy tree nader en met haar gesig 10
cm van myne af sê sy ernstig: Net as ek belowe om vir haar ook te bid vir ‘n
man!
Wat ‘n vrou! Wat ‘n vreugdevolle siel! Wat ‘n belewenis! Net
soos haar naam ‘n toonbeeld van God en Sy genade. Mag baie van ons nog die
voorreg hê om talle teetjies te geniet saam met die Tannie Gracies in ons
lewens.