Tydens een van die baie langnaweke in April
kamp ek saam met vriende by Citrusdal warmbronne. “Hoekom skryf jy nie ‘n boek nie?” vra ‘n vriendin van my. “Oor als wat jy beleef in jou werk”. Ek
werk by ‘n Munisipaliteit en sien gereeld die beste en die slegste kant van ons
mensdom. En daar was al baie stories wat diep slote in my hart gelaat het.
Hierdie afgelope week beleef ek weer so ‘n
storie wat definitief in die boek sou wees.
Haar naam is Elizabeth Kayster. Sy is 78 jaar oud. Haar vriende noem haar Lizzie. Sy woon in
Daar bly vir haar net een ding oor wat sy
moet doen. Sy moet Laaiplek toe om te gaan regmaak met haar seun. Sy Pa
is drie jaar terug dood aan hartseer. Hy was nie by die begrafnis nie. Het ‘n
nota gestuur saam met sy voorman.
Dit is Maandagoggend nog donker toe sy in
die pad val. Mense met karre dink Aurora
en Laaiplek is naby mekaar. Vir haar is dit 35km te voet. Sy stap so flink as
wat haar jare en haar skoene haar toelaat, maar is bly toe sy laatmiddag ‘n
lift kry vir die laaste 12. Die son het al gesak toe die man haar aflaai by
Galjoenstraat 6 in Noordhoek. ‘n Vreemde vrou maak die deur oop. Vra nors wat
sy wil hê. Sy soek haar seun en sy familie, sê sy. Kan sy inkom? Die vrou lag skril en sê sy’t
hom lankal uitgesmyt. Sy weet nie waarheen hy is nie. Bly al jare nie daar nie.
Lizzie draai om en stap die nag in. Die
seewind waai yskoud. Sy hou hoofpad langs waar daar ligte is en soek ‘n plek om
te skuil. As sy net minder opsigtelik was; as haar blaas net minder vol was; maar
haar helder trui was al wat sy het en die public toilet kos geld. Sy val
verslae langs ‘n bos neer en treur oor haar seun.
Niksvermoedend sit ek Dinsdagoggend in ‘n
Raadsvergadering. Ons bespreek die finale insette vir ons begroting. Rozanne
laat roep my dringend. Daar is ‘n lid van die publiek wat NOU met my wil praat.
Ek kyk gesteurd op en skud my kop. Wat kan so dringend wees dat een van die
direkteure dit nie kan hanteer nie? Op die telefoon is mnr E d T. Hy is hoogs ontsteld
oor die ongerief wat hom aangedoen is. Daar is onwettige plakkers in Velddrif.
Ek skrik. Ons is seker die enigste Munisipaliteit wat nie ‘n plakkerskamp het
iewers in ons area nie en dit is my werk om dit so te hou. Mnr E is woedend. Hy
het onlangs van Blaauwberg af getrek Velddrif toe oor die ongemak wat hy en sy
gesin daar moes beleef met die bedelaars. Dit is sy grondwetlike reg, sê hy, om
vry van ongemak en ongerief te leef. Terwyl hy praat fynkam ek ‘google earth’
om te sien presies waar hy beduie. Ja, dit is munisipale grond. Nee, niemand
het toestemming om daar te bou nie. Ja, ons sal iets daaraan doen. Ja, ek sal
hom op hoogte hou. Ek verduidelik die prosedure, bedank hom vir die inligting
en sit die plan in plek. Ons behuisingsmense en wetstoepassers word ontplooi.
Binne twee ure het ek ‘n volledige verslag.
Die inligting is kort en bondig. Geen
onwettige strukture, geen uitsettingsbevel nodig. Net een vrou onder ‘n bos.
Haar naam is Elizabeth Kayster, ID no 3507201188089. Sy is op ons waglys. Het
‘n huis in Aurora. Sy sê sy het by haar kinders kom kuier.
Ek gee opdrag dat my mense haar terugvat
huis toe.
Ek bel mnr E d T om terugvoer te gee. Ek
vertel Lizzie se storie en verwag empatie, verligting, begrip. Toe my woorde
opraak is daar ‘n lang stilte. Hy haal diep asem. “En nou vertel jy my ‘n tranetrekker sodat sy onwettighede kan aanvang!”
“Magtig!” Skree hy, “Sy het toilet gemaak langs die pad!”
Daar is min kere in my lewe dat die
publiek my sprakeloos laat. Ek dink ek kon dit op twee vingers tel. Nou
drie.
Voordat die handstuk die telefoon raak, val
my eerste traan op die keybord voor my. Ek is verslae. Ontnugter. Nie oor Lizzie nie. Haar storie ken ek goed.
Vir drie dae loop en maal die gedagtes deur my kop. Waar presies het ons van
die wa afgeval? Wanneer het ons net vir onsself begin leef? ‘n Vrou in rou en
nood. Terminaal. Verskrik. Bang en sonder heenkome. Op soek na haar twee
verlore kleinkinders en ‘n seun wat lankal vergewe is, maar homself nie kan vergewe
nie.
En mnr E d T se enigste behoefte van gerief en
gemak.
Ek stap laatmiddag huis toe en loer
kort-kort of ek nie dalk vir Oom Gert iewers sien nie. Hy is ons bedelaar in Piketberg.
Ek wil hom roep en sê ek is jammer dat ek hom die laaste keer so afgejak het.
Vir hom vra hoe dit met sy kleinkinders gaan...