Hier is 'n foto van die voorblad: (ek sien nou eers die agtergrond is my pajamas en my breiwerk! maar so ken julle my mos)
Dis vir my so lekker om Madeleine weer te sien en ons gesels 'n hond uit 'n bos uit. Sy het vir 7 jaar tussen 2005 en 2012 elke dag skouer aan skouer saam met my gewerk en ken my seker beter as die meeste mense. Skielik vra sy: Hanlie, hoekom skryf jy nie meer blog nie? Die waarheid is: ek weet nie eintlik nie. Het net lanklaas die tyd gemaak om vir julle te vertel wat in my lewe aangaan. En daar gaan duisende goed aan, so eintlik het ek baie om te vertel.
Laat ek begin deur te se: Ek is baie gelukkig in my werk en in Piketberg. Verlede naweek was van die lede van my professionele vrouegroep in Stellenbosch by my en Christa Domesle het dit so mooi opgesom: Sy se sy het gehoor ek se vir hulle dat ek regtig gelukkig is op die platteland, maar sy wou vir haarself kom kyk. Nou weet sy: Ek is regtig gelukkig. Minder stress, meer satisfaksie, meer erkenning en meer geleentheid om 'n groot impak te he op die omgewing. Heerlik!
Die kuier met my vroue-groep was uit die boeke uit. Ek het oor die afgelope 12 jaar so lief geraak vir hierdie mense. Ek gee eers 'n paar fotos en verduidelik dan.
By die mark op Kruistement-vlei op Piketberg Boberg kan jy enigiets koop van 'n heksie-besem (vir net R20 elk) tot heuning, blomme, vleis, groente, vetkoek en noem maar op. As jy nog nie daar was nie, maak 'n plan! Dit is so die moeite werd. Hier is Christa besig om te vlieg op haar nuut aangeskafde besem. Ek kan nie onthou of sy besig was om op te styg of besig was om te land nie.
Johann is Irmi Hoffmann se man en hy het die vroue naweek trotseer en so lekker saam gekuier. Op sy skoot is hulle jongste, Cara.
Ons ken mekaar al so goed dat Lizette 'n hoed gebring het vir Christa wat haar kleurskema en persoonlikheid 100% gepas het.
Die aand het ons 'n "gestewel en gehoed" geleentheid gehou by die Bio-Cafe in Piketberg. Sir Cobis Wilson was ons gasheer en het ons bederf met 'n viergang maaltyd uit die boonste gestoeltes. Ons het sy fleurklavier goed gebruik en onder die begeleiding van die plaaslike orrelis, Alison, ons longe uitgesing op Laurika Rauch Classics en natuurlik ABBA se bestes! Girls, julle mag maar!
Sondagoggend het ons gaan piekniek maak. Ek mag nie se waar nie, want dit is privaatgrond en ons het onwettig betree. Maar die uitsig en die geselskap het ons gewetes gesus.
Een van die lekkerste dinge van my huidige status van op die platteland bly is die kuiertjies van so baie van my familie en pelle oor naweke. Ek is eintlik angstig dat die tyd te min is, want die jaar hardloop uit en ek is nog nie eens deur die eerste rondte van kuiers nie. Daar is altyd genoeg plek vir almal, so laat weet net as jy in die geweste is!
Hierdie naweek kom pelle uit Thailand en Vredendal. Boek vroegtydig!