Sunday, December 14, 2014

Van Boston na Belgie via New York

Ek was in 1997 saam met my familie in New York. Toe was ons daar vir n paar dae en kon alles bekyk. Selfs die World Trade Centre was toe nog staande. Gister moes ons die mense van Boston groet. Ons was half hartseer want Boston se gasouers was vir ons besonder goed en het uit hul pad gegaan vir ons. Maar ons is daar weg op n blitsbesoek aan New York om later vanuit JFK lughawe te vlieg met Delta tot in Brussels. Die vlug was ses ure en 56 minute, waarvan ek ses ure en 20 minute geslaap het. Ek was moeg, want ek het weer binne n week vergeet hoe stresvol n lughawe is met n baie groot groep waarvan die meeste nog nooit gevlieg het of selfs roltrap gery het nie. Dit gee aanleiding tot groot grappies maar ook groot frustrasie wat my geduld ver strek. Die een tannie het n hele bottel koorwyn van Org de Rac in haar handsak tot groot opgewondenheid van die sekuriteitspersoneel wat nou ook die voorreg sal he om goeie SAse rooiwyn te geniet. Die ander een het n sigaretaansteker! Wel nadat vele goed in die slag gebly het, is ons deur. Die tannie wat agter my sit kry haar oorfone van die lugwaardin en se vir haar vriendin langsaan: hulle gee nou vir ons hierdie, maar my ore slaan nog steeds toe!😃

Uiteindelik is ons in Brussels. Daar wag Frank Judo ons in. Hy is van die Vlaamse Afrikaanse stigting en het baie moeite vir ons gedoen. Hier verloor ons amper vir Frances. Die oor en oor verduidelik aan almal hoe n lughawe werk en wat jy moet en nie moet doen nie, het steeds n paar ore nie bereik nie. Iemand (natuurlik nou morsdood) wou baie gaaf wees en haal toe sommer ook Frances se tas van die wenteltassebaan af en stap doodluiters daarmee deur doeane en anderkant uit sonder om vir Frances daarvan te se. Toe wag Frances binne en ons en haar tas buite sonder enige manier om met haar te praat. Ek storm info toe en vra dat hulle n afkondiging binne maak, maar weet sy sal nie eers haar naam se uitspraak hier herken nie. Sy sal ook nie kom sonder haar tas nie. Uit desperaatheid probeer ek teen die stroom terugloop deur doeane. Jy hoor net alarms afgaan! Toe vat dit my die Naam van ons Here Jesus Christus uitspreek om haar te laat deurkom. Wel soos ek en julle weet, werk dit elke keer. Dankie Here!

Ons vertrek met n baie vol bus met tasse in elke paadjie na die klooster waarin ons almal bly. Dit is pragtig en word deesdae as n kunskonferensie sentrum bedryf. Ons kry ons kamers, draf deur die storte, eet heerlik en spring terug op die bus oppad na Aalst vir vanaand se optrede in die Liedekerk. Vandag is dit koud. Daai wat deur jou sny en waarvoor geen jas of serp help nie. 

Die koor is nou besig om op te warm en ek en die koordokter Pieter Bruwer warm op in die kafee oor die straat wat wifi het. 

Ons program vir vanaand


Pieter Bruwer en ek by die wifi kafee oor die straat. Die tee is myne. Dubbel Earl Grey wat ek en Hannalie gekoop het by die Christmas Tree in Augusta. Dis heerlik!

Die pragtige Liedekerk waar ons vanaand optree












No comments:

Post a Comment