Friday, December 26, 2014

Na dae se stilte en onvertelde gedagtes en gebeure

Ja ek weet! Ek is jammer! Daar het soveel van julle al verneem waar ek is en wat het gebeur na Parys. Wel, eers het ek geslaap vir ure en ure aaneen. My ma het later kom kyk of ek nog lewe... toe was dit Kersfees en nou is ek by my ouers en het ek 'n tydjie om op my Pa se rekenaar vir julle verder te vertel. Ek hoop elkeen van julle het 'n baie geseende Kerstyd gehad gister. Ons was almal bymekaar en ek het weereens besef watse groot voorreg dit is om familie te he vir wie 'n mens lief is en by wie mens kan wees tydens die groot dae. Geniet jou familie. Hou maar uit. Dit is kosbare tye.

Dit blyk toe dat die vyf tannies se tasse wel gesteel is en dat ons dit nooit weer sal sien nie. Jislaaik, ek was omgekrap hieroor. Dit kon nie met vyf beter en "nicer" mense gebeur het nie. En al hulle persentjies vir hul kinders en kleinkinders is iewers in 'n sakkeroller se besit. As ek se dit was drama om die tasse te soek sal julle nooit die intensie besef van wat op 17 Desember 2014 op Parys stasie en lughawe afgespeel het nie. En nou hoor ons dat dit maar algemene praktyk daar is en dat daar vele mense se tasse daar wegraak. So wees gewaarsku as jy daar verbygaan. Ons was almal in twee trokke. No 12 en 13. Dit lyk beter as 'n vliegtuig op daardie trein en ons het van 10:10 tot 11:49 heerlik agteroor gesit. Ons bagasie was waar dit moes wees. Op en in die bagasieruimte langs trokke 12 en 13 en in die bagasie-trok. Daar was 'n bagasie-assistent wat ons gehelp het om die tasse te stoor. In retrospek dink ek en die tannies dat hy dalk self instrumenteel was tot die diefstal. Ons het net so 'n gevoel. Wel, toe ons afklim, laai ons almal se bagasie uit. Die assistent pak die tasse uit die bagasie trok en pak dit op die perron. Die toeriste staan in 'n bondel agter 'n versperring en wag vir hulle tasse. Ons maak seker dat die trokke leeg is. Net voor die trein moet vertrek, meld vyf tannies by my aan dat hulle tasse nie daar is nie. Ons roep die trein beampte en vra dat hulle die trein stop dat ons weer kyk. Ons kyk weer en daar is niks. Tannie Frances wil weer opklim, maar ek is so bang die trein ry as sy nog nie weer af is nie en ons los dit. Ons gaan dadelik na die beampte in beheer en meld dit alles aan. Haar Engels is min of meer so swak soos ons Frans en dit knor. Maar ons druk deur. Almal in die groep praat gelyk en beduie en skreeu en daar is algehele chaos. Ek en die beampte staan eenkant toe en sy verduidelik wat moet gebeur.

Die trein is oppad Marseille toe in die suide van Frankryk. Via Leon. Ek moet net 'n verklaring gaan afle by die info toonbank en dan deursoek hulle weer die trein op Leon. As dit op die trein vergeet is, sal ons dit kry. Met elke woord wat sy in Engels stotter besef ek my dag in Parys is iets van die verlede. Ons vliegtuig vertrek 23:30 en ons moet 22:40 aan boord gaan. My plan was een voudig. Ekk gaan die groep deur die lughawe kry en die underground vat om 'n heerlike dag in Parys te he. Ek was lanklaas hier.
Ons beskrywing van ons tasse vir die trein beampte.

My verklaring in Frans! Jy moet nou nie dink dat jy op Parys lughawe 'n verklaring in Engels kan afle nie. Ek wonder nou nog wat ek verklaar het. En hierdie verklaring moet nou aangeheg word by ons eis vir die versekering in Kaapstad. Hulle moet maar google-translate.

Ons verplaas die groep met groot moeite na die boonste verdieping se info kantoor. Meeste van die tannies was nog nooit op 'n roltrap nie en steek vas soos net 'n donkie kan. Hull ekan ook nie hul eie bagasie karwei nie en om 'n groep van 31 met 'n klein hysbak na bo te kry vat die beste deel van 45 minute. Later is ons bo en staan ons voor die info-toonbank. Ek begin weer die hele storie verduidelik vir die beampte en hy roep die trein-beampte. Nou het sy 'n heel ander storie. Hulle kan nie die bagasie terugstuur Parys toe nie. Ons moet dit gaan haal in Marseille. Ek gesels met die groep en ons besluit dat ek sal gaan uitvind wat 'n kaartjie kos marseille toe en hoe lank die trein sal vat. Op hierdie stadium hoop ons nog dat die tasse nie gesteel is nie, maar net iewers anders op die trein beland het waar ons dit nie gekry het met die afklim nie. Tot my verbasing kos 'n enkel kaartjie 130 Euro. Dit is R1800! Maar kry moet ons die tasse kry en ek koop die kaartjie. Gelukkig vra ek hoe laat die volgende trein sal kom en hoe lank dit vat tot in Marseille. Wel, dit is toe veel verder as wat ek gedink het en dit is net onmoontlik om tot daar en terug te gaan en weer betyds terug te wees vir die vliegtuig. En ons weet nie eers of die bagasie daar is nie. En ek moet die groep op die lughawe kry en ingeboek kry en dit gaan minstens twee ure vat! Ek slaan vir 'n oomblik in paniek uit en weet nie hoe om hierdie te doen nie. Ek is kwaad. Het nie opgesign hiervoor nie en voel slegter as 'n hond oor die tannies se tasse wat weg is. Magtig! En dit in 'n eerste wereld land! En dan dink ons ons het misdaad!

Ek haal diep asem (die honderdste keer vandag) en maak planne. Ek sal nie Marseille toe gaan nie. Niemand sal nie. Ons gee die volledige beskrywing van die tasse aan die maatskappy en hulle deursoek weer die trokke in leon. Daar is niks. Die tasse is gesteel. Die beampte se daar is 'n sindikaat wat daar opereer en ouer tannies teiken wat juwele in hul tasse kan he. My moed sak in my skoene. Ek weet net: ons gaan daai tasse nooit weer sien nie.

Ek los die vyf tannies op die stasie en begin die groep beweeg na die lughawe om te gaan inboek. Van hulle wil nog Paryd toe gaan vir die dag. Dis 'n pynlike proses soos op elke ander lughawe hierdie hele toer. Wat ek in retrospek geleer het, is dat dit onmoontllik is om 'n groep van 31 te hanteer as daar mense in die groep is wat nog nooit gevlieg het nie. Hulle lees nie borde nie, kyk nie op nie, is nie bewus van waar hulle is nie, kan nie hul eie bagasie hanteer nie, is bang vir roltrappe en bewegende loopvlakke en ons vorder stadig. Lank na 16:00 is hulle veilig anderkant doeane en by ons boarding gate. Ek los hulle by Suzette Fouche en gaan terug na die vyf tannies. Hulle gemoedere is besig. Ek haal my hoed af vir hulle. Dit het my nog net een keer oorgekom. My tas het weggeraak in Chicago oppad Kanada toe (ook 'n eerste wereld land!) en ek was verslae. Nou weet ek hoe hulle moet voel. Ons tasse is wel verseker en ons sal die proses aan die gang sit om te eis.

Na 18:00 besluit ons 6 dat ons niks verder van die tasse gaan hoor nie en ons verkas lughawe toe. Dit gaan vinniger want hulle het nie tasse nie. Terwyl ons wag vir die tyd om verby te gaan sodat ons kan aanboord gaan op die A380 (grootste vliegtuig tans in die lug) kom die ander groep terug van hulle fantastiese dag in parys. Hulle borrel en vertel en wys fotos en ek wil niks daarvan hoor of sien nie. Ek voel ingedoen!

Maar daar is niks wat ons daaraan kan doen nie en ek is dankbaar dat dit ek was wat by die Tannies was toe dit gebeur het.

Ons eindig nietemin ons toer op 'n hoogtepunt in Kaapstad. Dit was 'n baie suksesvolle toer en ek moenie dat een insident toelaat dat my vreugde oor die toer gesteel word nie.

Maandagoggend terug by die werk kom groepies van die koorlede onverwags by my kantoor in om te kom dankie se. Hulle bring blomme en geskenke en my gemoed is vol. Hulle waardeer die moeite. Wat is een dag in Parys nou! Ek sal weer gaan in die somer en sonder 'n groep waarvoor ek verantwoordelik is.

Piketberg en Porterville sal nooit weer dieselfde wees nie. Hier is nou mense wat nooit eers voorheen mekaar in 'n winkel sou groet nie omdat hulle mekaar nie geken of verstaan het nie, wat familie geraak het oorsee. Wat nie sonder mekaar kan asemhaal of bestaan nie. Ek kon dadelik die verskil opmerk en sien uit na die rimpeleffek as dit uitkring na hulle familie en vriende. Ek daag elke koorlid uit om 'n veranderings-agent te bly wees. Julle het nou die wereld gesien. Deel dit!





Op 22 Desember 2014 kom kuier koorlede by my op kantoor en bring persente en blomme. En dadelik weet ek: ek sal dit weer doen! Dit was alles die moeite werd. Ek kan die wereld in hul oe sien!

Die Airbus 380 het die langste vlerk wat ek nog ooit op enige vliegtuig gesien het. Dit is 'n wondermasjien en kos blykbaar 47 miljoen dollar!

Kyk hoe ver is marseille toe van Parys af!

Groep 2 neem afskeid op die lughawe in Kaapstad! Almal in 'n goeie gees en veilig tuis.

Airbus 380 van Air France. Wat 'n belewenis. 'n Mens voel nie eers dat jy opstyg nie. Seepglad!


 
Hierdie foto wys twee goed: Hoe groot die vensters is in die Airbus 380, maar ook die "aan Hanlie van Hanlie" geskenk aan my ringvinger op 'n Belgiese kersmark in Antwerpen.

Hou lekker vakansie almal. Ek is amper oppad om te gaan kamp in die Sederberge saam met hartsvriende. Ekk sien baie uit daarna. Mag 2015 vir almal van ons geseend wees. Ek groet tot volgende jaar! Gaan groot!

No comments:

Post a Comment