Saturday, December 6, 2014

5 Desember vervolg: Stadstoer van Boston en Arlington Kersliggiefees

Ek is nog steeds op SA tyd. Vanoggend 03:17 sit ek al kietsregop in my bed. Uitgeslaap! Maar opgewonde om julle te kan vertel van gister. Die hele groep het mekaar toe gekry om 09:30 by Apple Cinemas by die Fresh Pond Mall. Die vars kuil is n werklike groot meer net langs die Mall en dit is vasgevries en die mense ski daarop. Daar wag n luukse bus op ons en ons vertrek op n stadstoer van Boston. Een van die Sharing a New Song se lede is al n toergids in Boston vir 30 jaar en sy vat ons rond. Hulle betaal die bus ook. Ons is telkens verstom oor hulle gasvryheid. Dit is die mooiste dag en ons neem hordes fotos. Ek wil hulle so graag hier opsit maar kry dit nie reg om die foto kleiner te maak voordat ek dit doen nie. Sal aanhou probeer.

Ons besoek eers Cambridge en Harvard Universiteit. Dit laat my baie aan Stellenbosch dink met baksteen rooi ou geboue. Ons klim uit, stap rond, neem lekker fotos en hoor baie grappies. Almal is in n baie goeie gees vanoggend. Elke gasouer het vir elke koorlid middagete ingepak. Later is ons in die North End se kerk (oudste kerk in Boston) en toets die koor die akkostiek tot vermaak van toeriste. Dit klink regtig hemels. As ek net dink hoe ver hierdie koor gekom het sedert ek hulle huiwerig hoor sing het in Porterville se kerk in 2013, dan wil ek sommer huil! Ons stap terug bus toe op hulle welbekende Freedom Trail en eet middagete. Pieter deel een van sy broodjies met my. Nogal hoender kerrie! Te heerlik. Dankie Pieter!

Vanmiddag kry ons gratis kaartjies vir die Science Museum en wraggies vir n vertoning van die Omni Theater. Dis n skerm so groot soos n rugbyveld wat soos n reuse aardbol bo jou kop hang. Mens kan nie glo wat jy sien nie. Van die groepslede was nog nie eens in n gewone fliek nie en ek geniet hulle op en aanmerkings vreeslik. Wat n ervaring! Ek, Retha, Karin en Wiesie skraap genoeg moed bymekaar om die simulator aan te durf op n reis in die melkweg tussen al die planete. Mamma, n naarword pilletjie sou nie hier gehelp het nie. Ons lag te heerlik!

Daarna is dit vinnig bus toe om die Vrydagverkeer te probeer mis om by Arlington uit te kom. Vanaand is dit hulle liggiefees en Bergrivierkoor is die gaskunstenaars. Nou wil ek glad nie vermakerig wees nie, maar Sous se liggies in Piketberg was meer as Arlington s'n. Die koorlede van Sharing a New Song was self teleurgestel. Hier staan ons en met groot fanfare laat hulle Onder Byrgemeester, Robert Manzetti, ons aftel vir die groot reveal. Ten, nine, ..., three, two, one! En poef. Daar gaan een stringetjie wit liggies op een boom aan. Agter n standbeeld wat nog die helfde van die stringetjie verberg ook. Maar ons koor het dubbel en dwars opgemaak!

Na die koor sing die hele skare liedjies. Ek wou eers se kersliedere, maar dan sal julle dink aan geestelike liedere wat vertel van n Christusfees. Nee, hier het elke liedjie wat die skare sing net te doen met Rudolph die rooineus reindeer, jingle bells, santa and figgy pudding! Jene, ons het werk om te doen!

Joanne reel vir my n lift terug na die Fresh Pond Mall waar my huurkar staan en ek ry terug na my Red Roof Inn in Woburn. Dit reen en ek verdwaal twee keer, maar na gebed en diep asemhaal is ek veilig en warm tuis. 

Vanoggend het ons af voor vanaand se groot optrede. Ek vertel later verder. Ek gaan n Walmart Super Centre soek. Dis die beste inkopies ooit!

No comments:

Post a Comment