Saturday, December 27, 2014

Kersfees 2014

Ek weet nie of jy van jou familie hou nie? Ek hou van myne. En dis anders as lief wees vir hulle. Ek dink mens is 'by default' lief vir jou eie bloed, maar dis nie te se jy hou van hulle en verlang na hulle teenwoordigheid nie. Gister ry ek weg by my ouers se huis in Wellington en my Christa sussie staan op die stoep en waai my goodbye. Sy en haar familie bly in Pretoria en ons sien mekaar hopeloos te min. Ek kry trane in my oe en wil stop en terugdraai. Vir haar se dat ek nie net vir hulle lief is nie, maar regtig egtig van hulle hou! Ek weet dit is raar en moenie dink dat ons nie ook vassit nie. Ons het almal groot persoonlikhede en kan mekaar goed opvryf van tyd tot tyd, maar ek hou van hulle almal.

En so was 17 van ons bymekaar op Kersdag. Seker by julle ook. Die kleinkinders het n kersspel opgevoer en dit was minder heilig en minder korrek as normaalweg, maar vir hulle beteken dit die wereld. Ek staar na engel Gabriel Melindie wat maar ses is en al haar woorde uit haar kop uit ken en wonder waar die tyd heen vlieg. Dit voel soos gister dat Melindie n klein kleuter was en Janko nog nerens en nou is hy halfpad gepotty train en Melindie se skoolklere hang gestryk in die kas. Die lekkerste is die bekendheid van alles. My mense! Ons manier van doen! Ons gebruikies. En die seker wete dat familie konstant is. Hierdie verhoudings kan nie sommer ophou nie. Ons sal volgende jaar weer DV saam Kersfees vier. Daar sal weer tong wees met tuisgemaakte mosterd en n gestolde komkommerring. Die kleinkinders sal groter en groter word, en ons sal jaar na jaar meer en meer van mekaar hou.


Tong met tuisgemaakte mosterd soos net my Ma dit kan maak.


Corne is een van my kreatiewe sussies en bring altyd iets moois en lekker tafel toe. Hierdie jaar het sy en die kleinkinders die tafelversierings gemaak.



Hierdie jaar kon ek die komkommerring maak. Geen kerstafel behoort daarsonder te wees nie. 

Ons jongste kleinkind in die familie. Janko Horn. Julle! Hy is cute!

Ongelukkig kry ek nie hierdie foto hier gedraai nie, so bekyk maar die kersversierings onderstebo. 

Marna het vir elke Tannie n engel uit n papierbord gemaak. Sy word tien in Januarie. 

Geniet julle families. Moenie net vir hulle lief wees nie. Hou van hulle! Elke jaar meer en meer!

No comments:

Post a Comment