Thursday, October 7, 2010

'n Fees van familie 24 - 26 September 2010





Hulle se 'n mens kan nie jou familie kies nie. Wel, as ek kon, sou ek hulle maar weer kies, of ten minste die meeste van hulle. Die Lindebond (waarvan ek 'n permanente lewenslid is) het lankal die begeerte gehad om op Leeukraal naby Riviersonderend (Lindeshof) 'n grafsteen te sit ter ere aan die stamvader Hans Jurgen Linde(r) wat in 1753 na SA toe gekom het vanaf Duitsland. Hy het christenskap in ons familie ingebring. Hy het op Ganzekraal daarnaby geboer en was deel van die Kaapse seinstelsel deurdat hy die kanon afgevuur het op Kleinberg as die boere in die distrik die Kaap moes kom verdedig teen bose invalle van die Engelse en andere.

Ek het lanklaas 'n naweek so geniet. Ek het so baie familie ontmoet wat ek glad nie geken het nie en kon heerlik met elkeen kuier. My Pa het alles gereel en getrou aan sy styl was alles perfek georganiseer. Daar was ongeveer 60 familielede by die graf die Vrydagoggend (erfenisdag) en dit was 'n besonderse geleentheid.

Die Saterdag het ons die kanon gaan afvuur waarmee ons voorvader geskiet het. Na 200 jaar is die kanon gerestoureer en teruggesit op Kleinberg by Riviersonderend waar dit vermoedelik gestaan het. Ons het drie skote afgevuur en dit was indrukwekkend. Ons het maar 350 gram plofstof gebruik waar hulle 250 jaar terug meer as drie kilogram gebruik het. Dit was steeds baie hard met 'n bolling rook! Dit was veral lekker om die ervaringsgoed te doen saam met die familie. Dit maak geskiedenis lewendig en 'n besoek aan die Swellendam Museum baie opwindend.

Ek is trots om 'n Linde te wees!

No comments:

Post a Comment