Thursday, October 7, 2010

Fietsry in Nieuwoudtville 1 - 3 Oktober 2010


'n Groep van 23 van ons het opgetree as proefkonyne vir mense in Nieuwoudtville wat graag 'n fietsry roete daar wil begin. So gese so gedaan! Amanda de Villiers het alles gereel en ons is Nieuwoudtville toe op Donderdag 1 Oktober 2010 om die Vrydag en Saterdag fiets te ry. Ons het gebly in die rooidak gastehuis in Voortrekkerstraat in Nieuwoudtville. Dis ook die enigste straat in die dorp waar die pragtige kerk en die enigste winkeltjies is. Ons aandete was 'n verrassing as mens in ag neem dat die hele naweek met drie nagte se slaap en twee volledige etes per dag ons R690 per persoon gekos het. Hierdie mense ken van gasvryheid!
Die volgende oggend vertrek ons half agt met die slag van Tielman se swaer se sweep! Hy kan 'n sweep swaai en ons is weg. Hulle besluit sommer daar en dan om dit die sweepslagroete te noem. Ons beplan om tussen 70 - 75 km te ry, maar dit word 92 km op die ou end. Die pad is lekker maar uitdagend. Die skerp afdraend na die knersvlakte is heerlik en gee vlerke aan diegene wat hou van tegnies ry. Ek geniet afdraends omdat die krag van Newton se aantrekkingskrag wat die aarde op my het groter is as wat dit op die normale fietsryer is. Dit beteken spoed teen 'n afdraend wat skrik vir niks. Ek is grieperig en probeer kalm ry, maar besluit na die Vrydag dat dit onverantwoordelik sal wees om Saterdag ook te ry. Ek gaan kuier toe eerder by Boetie en Magdaleen op Vredendal en geniet hul eerste plaasmark saam met hulle. Daarna skiet Boetie ons vir ete by die Keldery en dit is heerlik! Ek ry half vier terug om weer by die groep aan te sluit en ons kyk die rugby in Van Zyls Restaurant op Nieuwoudtville. Die WP verloor teen die Bulle tot almal se ontsteltenis. Saterdagaand kuier ons heerlik om potjiekos en ry Sondag terug. Cornelie ry saam met my. Michiel is oorsee vir werk.
Ons sal hierdie definitief 'n jaarlikse instelling maak.

No comments:

Post a Comment