Friday, October 15, 2010

Kampala en Jinja 15 Oktober 2010

Ons slaap weer in die International 2000 Hotel in Kampala. Ek is weer in kamer 301 reg bo die swembad en restaurant. Na 'n lekker ontbyt kry Sarah ons vir 'n terugvoersessie. Sy is hoog op in ACTogether in Uganda. Sy wil als weet van ons ervarings in Mbale en Jinja. Hierna vertrek ons met die hotel se voertuig na die Ministerie van Land, Urban and Rural Development om die Commissioner van Urban Development te ontmoet. Sy naam is Samuel. Hy en 8 van sy amptenare staan ons te woord. Dit is baie interessant. Ons maak ook 'n aanbieding. Hierna vertrek die groep om Raadslede te gaan ontmoet en om 'n raadsvergadering by te woon in Kampala se stadsraad. Ek vang egter 'n tac\xi terug hotel toe want Samuel (ons drywer) het belowe hy laai my 14:00 op. Ek kry solank middagete by die hotel. Nou 14:00 het gekom en gegaan en drie uur het gekom en gegaan en geen Samuel het te voorskyn gekom nie. Toe moet ek Medie ('n bestuurder by ACTogether) se hulp inroep en hy maak 'n paar oproepe en kry 'n vriend se vriend se kleinneef se studie-kollega om my Jinja toe te vat. Medie se dis soos sy broer, hulle kom jare saam en ek kan hom vertrou. Die knaap se naam is Budru en hy is 25 jaar oud, klaar geswot as 'n maatskaplike werker en tans werkloos, maar besit sy eie besigheid wat maatskaplike projekte doen vir die vulnerable groepe. Baie oulike ou. Hy vat my met sy Toyota Carolla na die enigste shopping mall in Kampala en daar is wraggies 'n SPUR, 'n Woolworths, 'n Game en 'n Shoprite. Ek voe sommer tuis. By Barclays wil hulle my nie help nie en ek moet 900 000 shilling trek by die ATM en dit ruil vir dollars want ek moet more die river rafting in Jinja in dollars betaal. Ons vang die bank net voordat dit toemaak. Vandaar is ons oppad Jinja toe.

Die pad is sleg soos wat ons nou al gesien het, maar Budru ry veel versigtiger as Samuel. Hy is 'n goeie toergids en verduidelik so ver soos wat ons ry. In Jinja vat hy my na die oorsprong van die Nyl en ons doen 'n sunset cruise op Lake Victoria. Dit is PRAGTIG! Daar is heelwat inheemse stalletjies en dit is net ongelooflik om te sien hoe sterk hierdie land se informale sektor is. Elkeen maak en verkoop iets. Ek koop oorbelle gemaak van piesangblare, krale van boontjies en 'n string klare van papier. Julle moet dit sien om te glo. Ook baie houtwerk. Ek koop 'n krokodil en 'n bootjie met twee roeiers in. Ek sal dit in my kantoor sit.

Ek nooi vir Budru vir ete by die hotel en hy is so beindruk hy bel 'n rits van sy vriende en ek moet met elkeen praat en my storie vertel. Almal was al in SA of het 'n droom om soontoe te kom. Ek nooi wild en wakker mense. Ons eet voorgereg en hoofgereg (regtig lekker) vir die finominale totale bedrag van R90 vir alles saam. Ons rand is lekker sterk hier in Uganda. Ek slaap weer in die Sunset Hotel en Jinja en kry weer presies dieselfde kamer (62). Dit kos 72000 shillings. Dit is R216 en sluit ontbyt in.

Nou is dit 16 Oktober 2010, en ek sit en wag dat die river rafting company my kom haal. Ek is erg opgewonde... Natuurlik is dit gevaarlik ook, so as ek dit miskien nie maak nie, weet dat ek dit baie geniet het! Dankie Teuns vir die aanbeveling.

Mag elkeen van julle wat hierdie lees die geleentheid kry om buite julle normale grense te beweeg. Dit is regtig die moeite werd. Ek het al so baie dinge hierdie afgelope week geleer oor myself en oor ander en sommer oor die wereld in die algemeen. Die ugandese is rustige, vriendelike, baie geduldige mense wat baie opgewonde is oor die lewe. Hulle gun mekaar die son wat op elkeen skyn en lag maklik en lekker. Hulle jaag nerens heen nie en is heel gemaklik om jou te laat wag. "You are most welcome" is die frase wat ek die meeste gehoor het.

No comments:

Post a Comment