Thursday, October 14, 2010

Jinja en Mbale: 12 - 14 Oktober 2010




Van Kampala af is ons Dinsdag 12 Oktober 2010 na Jinja. Dit is die tweede grootste stedelike gebied in Uganda, maar dit het nog nie stadstatus nie. Hulle werk daaraan. Niemand is seker oor die getalle nie, maar volgens hulle struktuurplan by die Munisipaliteit van Jinja is daar 71 000 mense wat hier bly (slaap) maar meer as 100 000 mense kom in bedags na die gebied om daar te werk (lees: verkeersnagmerrie!). Ons bly in die Sunset International Hotel en dis heerlik. Die paaie in Jinja is regtig verskriklik sleg. Daar is meer "potholes" as pad en ons vorder baie stadig. Dit is hoekom die meeste mense in Uganda van skoetervervoer gebruik maak. Hulle noem dit bhoda bhodas en dit is klein motorfietsies wat tot drie passasiers agterop vervoer. Vrouens moet "side saddle" ry. Hulle kan maklik die gate misry en ry net waar hulle wil.

Ons besoek heel eerste 'n klein gemeenskap waar die Federation sterk in plek is met hulle "saving scheme". Die opheffing in Uganda word hoofsaaklik gedryf deur die gemeenskap self en alles begin by die Federation wat die mense help om elke dag geld te spaar. Hulle hou baie goed boek van wat elkeen gespaar het en jy kan jou geld of 'n lening by die skema terugvat onder sekere reels wat goed toegepas word. Dit word alles gebruik vir opheffing hetsy 'n huis, 'n besigheid of dergelike dinge. Hulle gesindheid rondom opheffing is fantasties en presies wat ons in SA so sukkel om reg te kry. Hulle begin elke vergadering en elke spreker se inset met Ekwegatta - gamanyi! Die spreker se Ekwegatta en dan se al die mense in die vergadering: Gamanyi. Dit beteken: Ons eenheid is ons sterkte. Dan se hulle: Savings is power. Information is power. We are the problem, but we are the solution! So inspireer hulle mekaar en hou momentum. Elke savings scheme het net vrywilligers wat al die werk doen en bestaan uit verskillende komitees wat die boeke oudit, die geld insamel, die dissipline handhaaf, die vergaderings hou (daagliks!). Op foto twee hierbo is ons by Buma, 'n slum net buite Jinja. Ons besoek ook 'n tweede slum, Masese 3, wat by die Victoria Meer gelee is. Hier by duisende mense wat 'n bestaan uit visvang maak. Hulle het ook verskeie saving schemes. Ons is deur die plaaslike leiers ontvang en rondgewys.


Die volgende oggend het ons die Munisipaliteit van Jinja gaan besoek en met die Stadsklerk, Hoof Gemeenskapsdienste en Stadsbeplanner vergader. Dit was baie interessant om hulle begrotingsiklus te verstaan en te sien hoe hulle publieke deelname doen. Stadsbeplanning is steeds feitlik in sy kinderskoene as gevolg van die oorlog. Die dorpe in die suide het baie van die land se kapasiteit moes verskaf en duisende mense het suid gevlug toe die oorlog in die noorde uitbreek. Die oorlog is eers drie jaar terug verby en hulle sukkel steeds om die effek daarvan op die suide uit te klaar. Foto 1 hierbo wys ons vergadering in die stadsklerk se kantoor. Interessant is die rol wat hul burgemeester speel. Die hele gang het vol mense gestaan wat die BM kom sien.


Toe is ons na 'n bouperseel waar die slum grond gekry het vanaf die Mun en nou besig is om die eerste van 280 huise op te sit. Hulel bou drie verdieping skakelhuise vir ses families. Daar is tans geld vir 24 huise wat hulle binne een jaar wil klaarbou. Hier is almal rustig met die stadige tempo.


Vandaar is ons na Mbale nog 138 km noord van Jinja. Die 138 km neem meer as 4 ure om te ry op hierdie paaie. Dis 'n baie meer landelike area. Hier besoek ons die Munisipaliteit en kry 'n tydjie met die Burgemeester. Sy is egter haastig want daar is 'n bedrogondersoek aan die gang en sy moet gaan verduidelik aan die Nasionale Regering hoekom sekere van die slum dwellers nie die uitbetaling gekry het wat die Nasionale Regering in grants gegee het nie. Die strate in Mbale lyk nog slegter as Jinja s'n.

Ons spandeer die grootste deel van die dag om terug te ry Kampala toe. Ons stop op Jinja by die River Nile Resort en dit is pragtig. Die Nyl ontspring by Jinja en vloei van hier af Egipte en Meditereense See toe. Hier noem hulle dit die wit nyl. Dis op hom waar ek Saterdag gaan River Rafting doen. Ons sien ook die plek waar hulle bungi jumping doen, maar dit lyk uiters shaky. Dit sal ek maar eers los.

Nou is ons terug in Kampala. Ek het soveel goed geleer van hierdie mense. Die gesindheid van die armstes word uitgebeeld in die T-hemde wat die federasie dra: We are homeless, not hopeless. Hulle het 'n stem, want hulle is energiek, besig met die regte goed, spaar elke moontlik sent wat hulle maak uit huis besighede en werk vir 'n toekoms. Feitlik niemand is werkloos nie, want die federasie help elkeen heel eerste om 'n klein besigheid te begin. Katana wat ons vergesel op ons toer, is bv 'n ma en bly in 'n slum, maar sy het 'n tweedehandse klerebesigheid wat sy begin het. Sy doen goed genoeg om elke dag te spaar deur die skema. Die afwesigheid van alkohol en dwelms is hier opmerklik! Selfs die armstes van die armstes het visie vir die toekoms. Hulle sit nie terug en verwag en kritiseer nie, hulle laat dinge gebeur.

Ons ontmoet vanoggend die leierskap van die Federation en ook die Nasionale Regering (Minister). Vanmiddag twee urr vertrek ek terug Jinja toe om vanaand daar te slaap en more die Nyl aan te durf op 'n rafter. Ek sien baie uit daarna. Dan kom ek terug Kampala toe en vlieg ek Sondagoggend terug SA toe.

Groete is SA!

No comments:

Post a Comment