Monday, October 11, 2010

Uganda Exchange Programme 11 - 17 October 2010

Ek het die ongelooflike voorreg om deel te wees van 'n uitruilprogram tussen SA en Uganda asook ander Afrika lande. Hier is mense van Kenya, Ghana, Uganda en ons.

Ons het gister ingevlieg na Entebbe waar die internasionale lughawe van Uganda is. Dit is 40 km buite Kampala (hoofstad van Uganda). Ons bly in die International 2000 Hotel in Kampala. Heel lekker. Die rit per taxi vanaf Entebbe het 90 minute gevat in baie druk verkeer en interessante padgebruikers. My eerste indrukke van Uganda is baie positief. Die mense is uitermatig vriendelik met die mooiste glimlagte permanent op hulle gesigte. Al wat jy die heeltyd hoor is lekker lag en "Welcome to Uganda".

Langs die pad besef ons 'n paar goed. 1. Hier is geen rommelstrooiery nie. Dis ongelooflik vir 'n stad met 1 miljoen inwoners. Nerens sien jy papiere of sakke le nie. Natuurlik verkoop hulle nie hul goed in plastieksakke nie, maar nogtans. Dis ooglopend skoon. 2. Hier is geen verkeersligte of enige vorm van verkeersregulering nie, maar die verkeer vloei vry. Elkeen ry net soos hy wil. Die meeste is groot 4x4's, taxi's (mini busse) en boda boda's (klein skoetertjies soos in Nepal) En dan is daar duisende stappende mense. Hier is nie sypaadjies nie en die mense stap in die pad, maar die bestuurders is geduldig en dit lyk nie of daar baie ongelukke is nie. Samual is ons drywer en lag net vir al die geluide wat ons maak elke keer as iemand skerp voor ons inry. Hy is nie bekommerd nie. Duidelik gewoond daaraan.

Vanoggend begin ons konferensie. Die organisasie wat ons genooi het is ACT Together en hier is ook verteenwoordigers van Urban Poor Federation and Slums Developement Institute. Ons gaan almal koppe bymekaar sit vir Urban Renewal.
3. Die plaaslike besighede is indrukwekkend. Vir die hele 40 km vanaf Entebbe tot by die hotel in Kampala, was daar plaaslike besighede langs die pad wat enigiets verkoop van kos, klere, selfoontyd, petrol, grondboontjies, elektriese toebehore en wat nog alles. Ons is half nege in die aand by hulle verby (plaaslike tyd) en hulle was in volle swang. Samuel se hulle is 24 uur per dag oop. Lyk of elkeen iets verkoop en 'n lewe maak. Die energie in die stad is opmerklik.

Ons aandete was ook interessant. Hulle braai piesang en sit 'n grondboontjiesous oor. Ek het dit probeer, maar nie ver gekom nie. Dis regtig nie lekker nie. Daar was groente en vis ook. Dit was lekker.

Nou ja, laat ek gaan werk! Daar is baie om te sien en te beleef. Ek skryf later weer.

Lekker dag vir almal in SA. Waardeer die voorregte wat ons daar het!

No comments:

Post a Comment