Monday, October 25, 2010

Operasie gedoen!


Na my val in Uganda het ek teruggevlieg op Sondag 17 Oktober 2010 en het om 15:10 geland in Kaapstad. My ouers het my op die lughawe gekry. Ek was in 'n rolstoel met baie pynpille agter die blad, maar erg dankbaar om op SAse bodem te wees.
Ons is dadelik Stellenbosch Medi-Kliniek toe en het Dr Potgieter gesien wat aan diens was by ongevalle. Hy is baie goed en plesierig en het my opgebeur. Die vrou wat die x-strale moes neem moes uit Kraaifontein kom en na ses plate is ons ingelig dat niks gebreek is nie en ons kon huistoegaan. Net om die volgende oggend 'n sms te kry om dadelik in te kom hospitaal toe want die laaste plaat het 'n fraktuur gewys op die punt van die tibia. Ons is dadelik hospitaal toe en ek is opgeneem. Die swelsel op my voet was te veel en die dokter kon nie dadelik opereer nie. Dr Dillon sou die operasie doen. 'n CT scan en sonar later om seker te maak daar is nie 'n bloedklont na die vlieg nie, is ek twee dae later geopereer. Twee ure onder die mes en gelukkig onder narkose het Dr Dillon 'n baie suksesvolle operasie uitgevoer en 'n titanium plaat en ses skroewe in my knie gesit.
Die hospitaalverblyf was heel aangenaam. Die personeel is briljant en ek het baie vriende, familie en kollegas wat kom inloer het. Daarvoor is ek baie dankbaar. Vyf dae later is ek ontslaan en oppad na my ouers in Wellington om aan te sterk. Ek is afgeboek tot 5 Jan 2011! Dit is drie maande! Ek ervaar hierdie is 'n nuwe hoofstuk en geniet dit nog. Ek probeer rustig wees en brei, lees, kyk tv en kuier met my ouers.
Ek het 'n lys gemaak van goed waaroor ek intens dankbaar is. Onder andere dat ek baie goeie plaasvervangers by die werk het wat kan instaan en aangaan. Dit help baie. Hierdie is 'n ander hoofstuk in my lewe. Dis amper soos 'n rapid: Mens sal nie weet hoe groot dit is totdat mens daardeur is nie, maar al wat jy kan doen is oorgee, vertrou en glo. Dis wat ek nou doen. Ek "surrender", ek glo en ek vertrou!
Geniet die rapids in julle lewens! Ons elkeen het dit. Hoe ons daardeur kom bepaal ons toekoms.

2 comments:

  1. Hey hey!! ja ek stem saam. Dis verseker hoe mens die rapids hanteer wat maak hoe jy ander kant gaan uitkom, want kom kom hulle! En dit help die meeste as jy die regte mense saam met jou in die bootjie het. Ek like die laaste deel van hierdie post. Ek wens darem vir jou net die regte rapids op die regte tyd!!

    ReplyDelete
  2. Hoe gaan dit daar in Hotel Linde ?

    ReplyDelete