Monday, October 3, 2016

Malaga Pas in die Sacret Valley

Nou is dit veel later op dag twee van ons Peru avontuur en ek en Lean lê op goeie beddens in 'n homestead in Santa Maria en oordink die dag wat verby is. Ons herinner mekaar dat ons nou maar eers 36 uur in Cuzco en omgewing is en dit voel soos 'n week oor alles wat ons al gesien en beleef het. 'n Avontuur duisend! 

Gisteraand na goeie focassia pizza en avocadoslaai by 'n piepklein pizzeria naby ons hotel, is ons dadelik bed toe. Ons moes 05:00 opstaan om te pak, want ons groot tasse bly by die hotel en alles wat ons vir die volgende vier dae sal benodig moet in ons nuwe first ascent 35 liter backpack gaan. Lean het die shopping gedoen en hulle werk baie goed. Halfvier is ek wawyd wakker en begin blog skryf oor dag 1 en die vlugte hierheen. Teen halfses is ons beide padvaardig en sit ons aan vir 'n baie goeie ontbyt met baie vrugte en graan. Aldredo kom op tyd en ons vertrek eers met n kleiner sedan taxi tot by die buitewyke van Cuzco. Daar wag Reuben vir ons met sy Red Bull Van. Die polisie hou nie van fietse in die middedorp nie, verduidelik hy. Ons wag vir 'n vriend van Alfredo by wie hy 'n go-pro kamera leen en dan durf ons die drie ure aan na die top van Malaga Pas op 4330meter bo seevlak. Vandaar sal ons fiets tot by 'n buurdorpie van Santa Maria op 2000 meter. Die rit is interessant en Alfredo verduidelik onophoudelik alles wat ons sien. Ons stop vinnig in Ollantaytambo vir reënponcho's en water en sien talle ander fietsry groepe met hope 18 jariges en ek is diep dankbaar vir ons privaattoer van net ek en Lean met ons gids Alfredo. Hy is omtrent 32 en getroud en opgewonde oor die lewe en sy zest is aansteeklik!

Oppad vertel hy ons van die oorspronklike Andiese tekstiel fabriek in Chinchero en net daar besluit ons om dit te gaan besoek. Wat 'n belewenis! Ons kon Alpakas vryf en presies sien hoe hulle skaap-, lama- en alpakawol bewerk, was en kleur met natuurlike plante en die bloed van 'n pes wat groei op kaktusse! Baie interessant. 

Oppad op teen die berg vergaap ons ons aan die pas en uitsigte maar moet klou want Reuben speel nie om die draaie nie. Hy bestuur vinnig maar veilig. By die bopunt neem ons talle fotos en Alfredo ruk drie duffelbags agter uit die kombi uit met ernstige fietsry gear! Ons kry full body armour en 'n full face helmet. Company policy. Hulle is ernstig oor veiligheid!  Ons toets die remme en saalhoogte en spring weg. Aanvanklik stadig om eers die fiets en die armour gewoond te raak en toe al vinniger. 61 km se pure pret! Pragtige uitsigte, rivier kruisings en pragtige plantegroei! Werklik die moeite werd. Alfredo het gisteraand baie diplomaties gevra wat ons fietsry vlak van vaardigheid is en ons het hom nie teleurgestel nie. Hy vertel hoe hy sukkel met Japanese groepe wat sê hulle kan fietsry en dan reguit aanry op elke draai! 

Wel, ek het lanklaas iets so baie geniet! Die aarde se aantrekkingskrag op my liggaammassa maak dat ek baie vinnig teen 'n afdraend beweeg en dit was fantasties!

Peru se kos is uitstekend. Vanmiddag kry ons 'n viergang maaltyd van blomkool quiche, groentesop, hoender met quinoa en nagereg. Te veel om op te eet. Na 'n middagslapie is ons gereed vir wat die aand ookal sal oplewer. Santa Maria het in 1998 heeltemal verdwyn toe daar twee avalanche was tydens hulle reënseisoen met 'n vloed daarna wat die hele dorp weggevee het. Baie mense is dood. Dit het 02:00 in die nag gebeur. Nou is hulle besig om die dorpie stuk-stuk te herbou. Ons blyplek het bv net koue water. Ja, dit was 'n baie vinnige stort!

Tot by volgende wifi! Groete















No comments:

Post a Comment