Saturday, October 8, 2016

Cusco

Vandag vat ons die strate van Cusco.  Dis 'n pragtige stad met kleurvolle patrone en interessante plekke en mense. Dis ons laaste dag in Peru. Ons vlieg vanaand via Lima en Cordaba na Argentinie. Cusco was die hoofstad van die totale Inka Empire. Dis baie hoog bo seevlak op 3400 meter. Maar ons is nou al mooi aangepas by die hoogte en is fiks na die Inka Jungle stap, so ons kan kilometers aflê. Na 'n lekker ontbyt in die Arnitrare Hotel, pak ons ons goed en los ons tasse in die hotel se stoorkamer. Ons besoek die Inka Museum, San Pedro plaaslike mark en unieke Peru winkels. By die mark kan jy alles koop van varkkoppe, hoenderpote, blomme, kaas, vrugte, snuisterye en vele meer. Ek is mal oor appelliefies en is altyd so ontsteld as ek R28 vir 'n klein bakkie moet betaal. Hier koop ek vandag reuse appelliefies en 'n hele sak vol vir 3 Sol of R12!  Cusco is 'n sintuig-sensasie!

Bo regs is een van die reuse appelliefies!

Gebraaide varkvleis op straat. Lean het die afgeneem en ek was toevallig besig om verby te stap. My gesig gee vir julle 'n goeie aanduiding van die higiene van die stalletjie😉


Die weefwerk is iets waarvoor Peruviaanse vroue bekend is. Geen van die pattone is opgeskryf nie en word van geslag tot geslag mondelings oorgedra en ingeoefen!

My geskenk aan myself. Dit is die Inka kalender. 

Mag elkeen wat hier lees ook vandag ten minste een nuwe ervaring hê. 

No comments:

Post a Comment