Thursday, May 7, 2009

Terug in redelike beskawing: Namche Bazar 3440m

Vanmiddag net na twee het ons in Namche Bazar aangekom waar ons sewe dae terug ook was. Toe het ons glad nie geweet wat voorle nie, nou wil ons graag elke prentjie perfek onthou van wat agter ons le. Ongelooflike tye: Moeilike tye, baie steil, baie dun lug, baie klim en klim, maar ongelooflike gesigte! Soos wat ek nog nooit gesien het nie. Ek wens so elkeen van julle wat hierdie lees kan sien wat ek kon sien die afgelope tien dae. Dis ongelooflik mooi en net mooi ongelooflik.

Maar ek weet nou waar die ou/vrou wat die bekende liedjie geskryf het "all I need is the air that I breath ..." sy/haar inspirasie vandaan gekry het. Dis so lekker om weer te kan asem haal. Op 5380m bo seevlak is daar net niks om in te neem en vir jou longe te gee nie.

Ek mis drie goed uit die beskawing en kan nie wag om dit weer te he nie: 1) Om te kan sit as jy toilet toe gaan. Verskoon die goary detail, maar hier is alle toilette net 'n gaatjie in die grond met hout oor en jy sit op jou hurke (met seer bene en al) 2) om 'n knoppie te kan druk nadat jy by die toilet was en woeps daar flush dit. Hier moet jy 'n beker water self agterna in die gaatjie gooi. en 3) ek mis dit dat mens 'n kraan kan oopdraai en daar kom water uit. Sjoe! Dis drie goed waaroor ek nooit eers in SA dink nie en hier is miljoene mense wat nooit eers daaraan dink dat daar so iets kan wees nie. Oja! En ek sou baie graag my hande wou was. Net een keer. Hier is drinkwater en warm water so skaars soos hoendertande. Alles word kilometers ver gedra en daarom is daar nie gas/brandstof om water warm te maak nie. Hulle enigste vorm van hitte is die Yak-dung wat hulle brand.

Verder gaan dit baie goed. More stap ons na Phakding en dan na Lukla en dan wag ons om te sien of die weer goed genoeg is om uit te vlieg vanaf Lukla na Kathmandu Sondagoggend. Bid asb saam met my vir mooi weer. So ver was die Here uiters getrou. Ons het vandag vanaf Tengboche die mooiste weer gehad en kon Everest vir oulaas van alle kante bekyk. Dit was voorwaar pragtig! Karma se woordeskat in Afrikaans groei. Hy kan nou al "pragtig" en "bakgat" se en 'n hele paar ander nie sulke mooi woorde nie wat die klomp op die span vir hom leer. Sy beste uitdrukking het hy by my geleer: "Jo! Baie mooi!"

Dis nogal interessant om te hoor hoe die klomp nie-christene na ons kyk. Hulle sien christene as uiters eng denkend en baie konserwatief. Ek bid maar net vir hulle en hou myself uit die argumente uit. Vanoggend vroeg stap Nikki langs my vir 'n hele ent en sy vra of sy vir my iets kan se, maar ek moet dit nie verkeerd opvat nie: Ek se toe: ja, go for it! Sy se sy kan Jesus in my sien! Wow! Ek was baie dankbaar en prys die Here dat Hy slegs mens se lewenswyse as getuienis kan gebruik.

Hoop dit gaan goed met almal. Dankie vir Corne, Jan, Barend en almal wat sms'e stuur. Dit help regtig!

Groete uit Namche Bazar, Nepal.

No comments:

Post a Comment