Saturday, May 9, 2009

Lukla: 'n wonderwerk nodig om te kan uitvlieg more

9 Mei 2009: Ons het vanmiddag twaalf uur in Lukla aangekom nadat ons omtrent 8 uur vanoggend in Phakding vertrek het. Vanoggend was die weer baie goed en alles was so groen na gistermiddag se donderweer en heerlike reen. Ons was skaars in Lukla toe begin die donderweer en val die reen kliphard. Nou is ons bietjie op ons senuwees dat die weer asb moet opklaar anders kan ons nie more-oggend uitvlieg Kathmandu toe nie. Dit sal baie sleg wees want hier is bitter min om te doen in Lukla. Die hele dorp is so groot soos die helfte van Brandvlei. Die vertreksaal van die lughawe is 2 meter (letterlik - ek het 'n foto om dit te bewys) van ons lodge se voordeur af. Ons moet sewe uur more-oggend op die lughawe wees sodat ons die eerste vlug kan probeer haal. Hier is 'n baie groot groep Japanese wat ook hier bly, so ons sal hulle moet probeer voorspring.

Die afgelope twee dae was baie lekker. Ons het gestap van Namche Bazar na Phakding en toe van Phakding na Lukla. Elke dag was omtrent vier ure se stap. Dis korter as die res van ons toer (dis immers afdreand in dik lug en ons is fikser) so ons het tyd gehad om die plaaslike gemeenskap dop te hou en te geniet. Namche Bazar le op 'n baie groot berg en vandaar was steil afdraande wat omtrent twee ure geneem het. Ons het skaars begin met die afdraende toe sien ons rook in die bos langs ons en sowaar daar is die porters besig met 'n tipiese SAse braai. Hulle het 'n groot dier net daar afgeslag en gebraai. Ons sherpa/gids 2de in bevel (Dawa) beduie dat dit 'n "water buffalo" is, maar vir my lyk dit meer na 'n lui, ou Yak. Nou het ek julle nog nie baie van 'n Yak vertel nie, en voordat ek hierheen gekom het, het ek nog nooit van 'n Yak gehoor nie. 'n Yak is 'n baie groot trekdier en hoe hoer jy opgaan teen die berg hoe langer is hul hare. Hulle is eintlik pragtig. Hier is die paadjie waarop mens stap ongeveer 1 meter wyd en mens deel dit met enige iets wat kan beweeg en wat kan goedere vervoer. Daarvan is die Yaks die beste en sterkste diere.

Ons is vroeg in die stap al gewaarsku dat Yaks gevaarlik is (hoofsaaklik omdat hulle bietjie klein breintjies het en jou onderste bo sal stap sonder om dit te bedoel) en dus wanneer enige groeplid 'n yak gewaar skreeu ons "yak attack" en dan vlei jy jouself oor die naaste rots aan die berg se kant en laat die yak aan die afgrond se kant by jou verbykom. Die Yaks dra BAIE goed op hulle rug. Alles wat Basecamp toe moet gaan vir al die ekspidisies word deur die Yaks gedra. Alles! Die wyfie/koei van 'n Yak is 'n Nak en mens kry Nak kaas, nak melk en nak botter. Mens kry ook Yak steak, maar ons is ernstig gewaarsku teen vleis eet op die berg, want die afgeslagte vleis word deur die porters gedra en is erg ryp as mens dit eet. So ek is nou twee weke sonder enige vleis (behalwe die 100gram biltong wat ek ingepak het). Ek sal baie gee om een steak met slaai/groente te kan eet.

Op die oomblik is agt van ons in 'n Duitse bakkery in Lukla. Langs my by die tafel sit die ander sewe en bespiegel of hulle hierdie uitstappie weer sal doen. Die oorwegende gevoel is: nee!

Ons moet nou eers gaan, want ons hou ons afskeidseremonie met ons porters. Ons moes elkeen 80 US dollars vir Sean gee vanmiddag wat onder die gidse en porters verdeel word as "tips". Elke porter word 15 US dollars betaal per dag en elke gids kry tussen 40 - 60 US dollars per dag. Nogal goeie geld om saam met aangename mense te toer. Lakpa kry 65US$ per dag. Hy is die hoofgids.

Ek het vanoggend loop en dink wat ek geleer het op hierdie toer. My grootste wens en doel vir die stap was om oorweldig te word deur die grootheid van God. Dit het ek elke liewe dag ervaar. Ek het 'n dvd geneem in Basecamp en is eintlik skaam dat iemand dit sien, want ek was so emosioneel... Hierdie skaal van berge is net ongelooflik en ek kon nie anders as om die grootheid van God en God te sien nie. Ek sou baie graag meer christene rondom my wou he wat weet waaroor die lewe gaan. Ek het swaar gekry in die groep, want 17 van die 19 het geen geloof in enige God nie en dink Christene is uiters naief en "narrow minded".

Ek groet eers! Mag dit met elkeen van julle baie goed gaan. My antwoord verskil van die van die groep. Ek het die Himalayas en die Khumbu Vallei ongelooflik geniet. Ek sal enige tyd terugkom, maar dan met vriende/familie (net 'n grappie julle Lindes) met wie ek graag hierdie sal wil deel.

Baie geluk aan Lizel Kok wat vandag verjaar. Jammer dat ek vanoggend die sms so vroeg gestuur het. Eers toe ek "send" druk het ek onthou ons is 4 ure voor SA. Maar ek hoop die dag was baie spesiaal en geseend en dat die jaar wat voorle baie spesiaal sal wees.

Liefde vir almal

No comments:

Post a Comment