Sunday, May 31, 2009

'n Kruin van 'n ander kleur


Dis met 'n baie dankbare hart wat ek hierdie week teruggekyk het oor die afgelope drie jaar se studies. Ek het graad gevang! UNISA se Kaapse gradeplegtigheid is in die Cape Town Convention Centre gehou. Hulle is so goed georganiseerd. My Pa en Ma was saam en soos my Pa se: Hy vermoed dis sy laaste kind se laaste graad, so hy wou dit graag bywoon. Hy se hy dink nie hy gaan sy kleinkinders se grade haal nie.


Ek het my MBL graad verwerf. Dis Masters in Business Leadership. Ek het in totaal 16de geeindig uit ons hele groep van meer as 400. Ek is uiters dankbaar teenoor die Here wat my deur baie eksamens en vele ure se studeer gehelp en gelei het. Aan al my familie en vriende wat gehelp het deur gebede, bemoediging en daar wees: Baie dankie! Dis julle wat die lewe die moeite werd maak. Die Munisipaliteit het ook 'n groot rol gespeel. Die eerste twee jaar het ek van 06:00 - 08:00 elke oggend in my kantoor gaan studeer en hulle het ook terugwerkend 'n gedeelte van my studies betaal. Daarvoor is ek baie dankbaar. My PA, Madeleine du Plessis, verdien 'n spesiale woordjie. Haar ondersteuning was van onskatbare waarde.


Ek weet julle wat my ken sit en wag dat ek die volgende graad begin... Vir eers is ek regtig klaar. Ek sien uit na 'n ander/volgende hoofstuk in my lewe.
Vir almal wat besig is met studies en wonder of dit die moeite werd is om so te swoeg... Go for it! 'n Graad is die een ding wat niemand van jou kan wegvat nie. Dit rek jou siening van die wereld. Ek het nou al by drie verskillende Universiteite studeer en dis werklik die moeite werd om diversiteit in jou studies in te bou. Elkeen se uitkyk op die lewe verskil en elke Universiteit bestudeer dieselfde vak uit heeltemal 'n ander hoek. Ek sal lewenslank 'n student van die lewe wees. Mens is werklik nooit te oud om te leer nie. My leuse is: Dare to know! Ek wil werklik elke dag leef met waagmoed om meer te weet en nader aan die waarheid te kom. Hoe meer mens weet, hoe meer weet mens jy weet nog niks nie en dat jou waarheid maar net 'n kant van die waarheid is. Dis die lewe!

No comments:

Post a Comment