Sunday, May 24, 2009

'n Sirkel is voltooi en 'n baie goeie hoofstuk is afgesluit







Ek het agt klippe in Everest Base Camp opgetel op 5 Mei 2009. Groottes en kleintjies. Een was vir Jan. Een was vir my Pa. Een was om op my kliphoop op Botmaskop te sit en die res wil ek hou as aandenkings. Nou weet ek wat julle dink en ja die arme porter het hom byna doodgedra oppad af. Gesamentlik het die klippe seker meer as 'n kilogram geweeg. Op Kathmandu, met die terugvlieg was ons bagasie ook ver oorgewig. (70 kg tussen 14 mense) Qatar Air was baie streng en wou ons 42US$ vra per kilogram ('n totaal van R26 800!!), maar Sean het gesmeek en die res van ons het gepaslik verwese gelyk en siedaar! Ons kan die goed laai.


Op Saterdagmiddag 23 Mei 2009 het ek en Jan weer Botmaskop uitgestap. Dit was besonder lekker om weer in Botmaskop te stap. Dis nou vyf weke sedert ek laas hier was. Die nuwe groen uitloopsels na die brand is pragtig! Ons het ons kliphoop besoek wat ons met die oefenry gepak het. Elke keer as ek daar was met stapmaats het elkeen van ons 'n klip op die hoop gesit. Die oefenry het uitstekend gewerk en baie gehelp in die Himalayas. Nou was dit tyd om dankie te se en fees te vier. Ek wil veral AL my stapmaats hier vereer: Esme, Yolanda, Azanda, Monica, Jan en Sulize. Ek en Jan het 'n Everest bier geknak nadat ek die Base Camp klip by sy Suid-Afrikaanse klipmaats gaan sit het. En julle sal my nie glo nie, maar terwyl ons daar sit en Everest bier geniet en Jan vir ons 'n gebed doen om dankie te se dat ek veilig terug is en dat die Here my so geseen het, lui my telefoon en daar is dit wraggies Lakpa Tamang, ons hoof gids van Nepal wat wil hallo se. Sy "timing" was perfek!
Dis die einde van iets waarna ek baie lank uitgesien het. Nou is die enigste vraag wat oorbly... Wat is volgende?

Ek dink en beplan en droom nog. Dis deel van die avontuur.

No comments:

Post a Comment