Thursday, December 12, 2013

Totsiens Switserland

Ek sit in die besigheids-sitkamer van Star Alliance (Swiss Air) op Zurich Lughawe of Flughafen soos hulle hier se. Dis ongelooflik hoeveel meer ek verstaan van die Swiss-Duits na net 10 dae. Ek dink ek sal dit maklik kan aanleer. So baie woorde het presies dieselfde Germaanse oorsprong en mens vang maklik die spreker se intensie. Al vang jy nie alles nie.

Gisteraand was so 'n 'lost in translation' geleentheid. Ek was genooi vir ete deur 'n Arabier uit Thunesie wat al 20 jaar in Switserland bly en werk by die Franse Ambassade. Ek het hom ontmoet tydens ons twee konserte in Bern verlede Woensdag en Vrydag. Natuurlik was ek ongemaklik om aan huis van 'n wildvreemde man te gaan kuier en het ingestem indien Roger (die seun van Charles en Rosemarie - die gasouers van Sherlock) ook saamkom. Hy en die Arabier (Sadok) is groot vriende oor baie jare en hy is maar te bly om genooi te wees as my 'bodyguard'. Ek is vooraf verseker dat Sadok 'n man van statuur is en geen slegte bedoelings sal he nie. Ek het seker 20 keer met Sherlock gecheck of dit regtig okay sal wees en net weer besef in hoe 'n mate ons in SA geindoktroneer is om altyd die heel slegste te verwag. Sherlock het my verseker dit sal goed wees en hy was reg. Dit was 'n lieflike rustige, baie gesellige aand met klomp nuwe smake en tale. Ek het dit baie geniet. (Selfs aan 'n Arabiese pyp gepuff ook!)

Roger het my kom oplaai. Nou moet ek darem eers bietjie oor hom vertel: hy is 'n regsgeleerde en 'n predikant en doen tans die regsake van die kerk in Switserland. Hy is in Switserland gebore en getoe, maar het al die hele wereld gesien en ken al wat 'n kultuur is. Hy is 41 met 'n baie stoute seunsgesig en het 'n baie goeie sin vir humor wat hy op alle maniere uitdeel en nie bang is om terug te ontvang nie. Hy trek sy hele gesig in kneukels as hy praat en is 'n groot teddiebeer met baie goeie maniere. Sadok is 'n Thunesier met twee seuns. Sy oe lag lank voordat dit by sy mond uitkom. En hy kan baie lekker kos maak. Hy praat verskeie tale vlot (onder andere Arabies, Swiss Duits en Frans) en Engels bietjie swakker. Roger se Engels is effens beter. En daar kuier ons drie. Oor vier gange vir 'n uitstekende maaltyd en met 'n mengelmoes van klomp verskillende tale en baie verskillende humorsinne. Wat 'n leerskool en heerlike affere. Ek hou van nuwe opwindende dinge en hierdie was beslis een.

Sadok is 'n Moslem en drink geen alkohol nie. Ons drink Schimp Schamp (ek dink dis wat hulle dit noem). Dit is 'n produk van Coca Cola wat jy in Switserland kry. 'n Mengsel van Coke en Lemoensap en verbasend lekker. Hy bring voorgereggies van tarentaal eiertjies met shrimps op soutkoekies. Daarna skuif ons eetkamer toe na 'n pragtige gedekte tafel vir die volgende drie gange. Die fotos sal meer se as wat ek kan, maar ek kry dit nou nie van my iphone af hier opgelaai nie. Die eerste was 'n baie geurige, effens branderige sop met wortels en vars koljander en 'n tamatiebasis, maar nie soos tamatiesop nie, want dit is my fiemie. Daarna Bregg - dit is aartappel, tuna en kruie in filodeeg wat in 'n driehoek gevou is en in olie gebak is. Met slaai. Daar is granaat slaaisous wat hy wraggies self gemaak het. Ek moet se, sover was ek erg beindruk en was alles heerlik. En toe kom die hoofgereg. Ek tel mos nou! Daar was wraggies vyf geregte al te saam! Vis en gestoomde groente met gegeurde rys. Ek was teen die tyd al so versadig, maar wou nie aanstoot gee nie en het aan alles geproe. Die nagereg was by verre die beste: 'n gebakte vrugte poeding met rooswater, appel, bonjour koekies, granaatpitte enpiesang. Ja, ek weet, dit klink nou baie slegter as wat dit was. Dit was die hoogtepunt van die feesmaal, maar alles was lekker. Die geselskap ook. Dit is altyd die moeite werd om nuwe situasies te trotseer en nuwe vriende te ontmoet. Ons kuier tot ek nie meer my oe kan oophou nie. Ek het nog nie gepak nie en moes vanoggend 06:00 reeds vertrek lughawe toe. Ons sluit die aand af deurdat Sadok vir my en Roger wys hoe 'n arabiese suigpyp werk. Hulle noem dit chicha en al wat ek daarvan weet is dat ek altyd gril in Stellenbosch as die studente dit sit en rook by die restaurant langs die poskantoor. Almal suig aan dieselfde pyp. Siesa! Miskien is dit presies wat die naam beteken! Wie weet! Chicha!

Sadok het 'n versameling van tee-koppies in 'n uitstalkas in sy huis en ek word genooi om vir my enige een van die versameling te kies. Dis moeilik om te weet of weier aanstoot sal gee en ek kies 'n mooi een. Op die oomblik is dit in my rugsak. Ek hoop van harte dit oorleef die twee vlugte.
Die rede hoekom ek vandag so vroeg moes lughawe toe kom, is sodat ek die Rheinvalle kan gaan kyk by Schaffhausen. Dit is 45 minute se trein vanaf Zurich Internasionaal en ek gee my tas en rugsakkie in op die lughawe. Verbasend goedkoop (slegs 9 CHF vir meer as 5 ure) en ek is weg. Schaffhausen is 'n wonderlike verrassing. Baie mooi outydse dorpie met die mooiste geboue en mooi markplein. Ek vat 'n bus na die Rheinvalle en stap van die bushalte deur 'n bos na die valle. Heerlik! Dis regtig pragtig. Vandag is die lug grou en grys en ek besef net weer hoe geseend ek gister was in Zermatt.

Nou wag ek vir my vlug. Laat ek eers ietsie eet in hierdie ruskamer.

Dankie vir almal wat saamgetoer het. Mag julle ook elke geleentheid in julle lewens gebruik om eerder ervarings na te jaag as goed. Dit is 'n besluit wat ek reeds baie jare gelede geneem het vir my eie lewe en sover was ek nog nooit spyt nie. Ek hou van toer! Mag daar nog vele nuwe mense en nuwe plekke in my toekoms wees.

Mis julle
Hanlie




No comments:

Post a Comment