Wednesday, December 11, 2013

Paul Klee Zentrum

Vanoggend ry ek gou in stad toe voordat ons mekaar kry by Thun tremstasie. Ek moet iets vir ontbyt kry en wou gou die internet-kafee besoek om hierdie op te sit, maar dit maak eers 10:00 oop. 09:10 is ek by die trem-stasie want Sherlock kry ons 09:17. Ek was in die weermag en doen nie laat nie. Dit verskyn nie in my verwysingsboek nie. Dit is -7 grade vanoggend en dit byt. Soos elke ander dag in hierdie week is die Diva’s laat en kom rustig 09:34 daar aangesuiker. Daar is min dinge waarvoor ek so min geduld het soos mense wat ander so min respekteer om laat te kom. Ons stap na die SAse ambassade twee blokke weg om almal die herinneringsregister te gaan teken vir Madiba. Dit is ‘n wonderlike ervaring. Ek het ook vanoggend die mooiste protea gekoop in die stad en kan dit langs die register plaas ter ere van ‘n baie groot siel wat die kleure van ons reenboognasie heelwat helderder gelaat het. As ek nou hier skryf wat die protea gekos het, sal ons blomme-tannie in Piketberg in haar tee stik. Ek koop gereeld by die stalletjie in Piketberg vir my ‘n hele bos proteas vir my huis. Sy vra R20 ‘n bos. Hier vanoggend betaal ek 30 CHF (R336!!) vir een. Dit is tyd dat ek huistoe gaan. My geld is op.

Vanoggend besoek ons die Paul Klee Zentrum. Dit is ‘n baie bekende landmerk in Bern wat in 2005 voltooi is. Paul Klee (1879 – 1940) was ‘n bekende kunstenaar, maar ook medikus, filosoof, wiskundige en musikus. Franciska is die baie vriendelike toergids wat ons by die deur ontvang. Sy het as kind in SA gebly en twee jaar in SA in ‘n afrikaanse skool skoolgegaan in Pretoria in 1968 – 1969. Die bekende Italiaanse argitek Renzo Piano het die indrukwekkende drie golwe gebou ontwerp. Die gebou huisves Paul Klee se belangrikste werke, maar ook ‘n baie indrukwekkende wereldklas konsertsaal en konferensie fasiliteite. Ek is mal oor sy werke. Regtig pragtig. Ons kyk ‘n video oor sy lewe. Daarna verstaan jy sy tekeninge en skilderye veel beter. Later eet ons almal saam op Franciska se rekening. Die lekkerste pampoensop met geroosterde pampoenpitte en growwe brood.








Ek stap terug gastehuis toe en val op my bed neer. Hierdie kultuurkant van my maak my moeg, maar vervul my ook geheel en al. Dis nogal ‘n kant wat ek baie afskeep ten gunste van sport en werk. Nadat ons die kunswerke gaan kyk het, wys hulle vir ons die kinder werkswinkels wat by die Zentrum aangebied word. Ons kyk na tientalle jillende gelukkige kinders wat met verf op papier kan mors en uitdrukking gee aan als wat hulle beleef het in die kunswerke van Paul Klee. En dadelik is ek terug in 1982 in my st 4 kunsklas in Hugenote Laerskool op Wellington. Die eerste gang links as jy van die saal af biblioteek toe geloop het. Mnr Hanekom het kuns gegee. Groot plastiek swart potte met wit dikseltjies vol helderkleurige poeierverf. Ons mors op swart papier en kan uiting gee aan ons ontluikende self! Ek onthou dit so duidelik dat dit my laat skrik vir ‘n oomblik. Skielik weet ek ek wil in 2014 weer kunsklasse neem.


Vanaand groet ek vir Sherlock. Ons het in so ‘n kort tydjie onafskeidbare kamerade geword. Hy vertrek more-oggend na Berlyn en dan Pole tot Maandag. Ek het lanklaas iemand ontmoet in wie die Here soveel verskillende talente so in oorvloed uitgestort het. Finominaal!


No comments:

Post a Comment