Monday, February 17, 2014

Was ek al in Oos-Londen?

Ek ken nie die antwoord op hierdie vraag nie. Toe ek in Standerd 5 was het ons kom netbal speel aan die Ooskus, maar ek dink dit was Port Elizabeth. Ek het ook al die Transkei Kus gestap op Universiteit, maar ons het anderkant omgery. Ek het my brein gerek gisteraand om te weet of ek al ooit in my lewe in Oos-Londen was. Ek dink nie so nie. Ons het in 2001 die Amatola Voetslaanpad kom stap, maar ons het King William's Town omgery. Niks hier lyk vir my bekend nie.

Ek het gistermiddag gevlieg vanaf Kaapstad na Oos-Londen, hier 'n motor gehuur en my gastehuis gaan soek. Die stad is redelik vuil en vervalle, maar my gastehuis is baie mooi en gerieflik. Dankie Rozanne! En die stad het eintlik alles wat in hul guns tel soos die see, inheemse woude, boomryke woongebiede en is klein genoeg om regtig 'n verskil te maak. Vir my is die geheim van 'n skoon plek dat daar altyd meer mense moet wees wat optel as wat neergooi! Mens gaan altyd morsjorse kry! Orals! Selfs in 'n klein dorpie soos Piketberg, maar in elke dorp moet daar goeie burgers wees wat genoeg omgee om die morsjorse teen te werk en op te tel saam met die Munisipaliteit. Waar die morsjorse meer is, lyk dit soos in Oos-Londen. Waar die optellers meer is, lyk dit soos Bergrivier!

Vanoggend begin ons vroeg. Ek is by die Nasionale Forum vir Munisipale Bestuurders. Dit vind jaarliks plaas sedert 2008 en elke jaar in 'n ander stad. Hierdie jaar is dit die beurt van Oos-Londen. Ons is by die International Convention Centre voor op die Esplanade by Orient Strand. Die prentjie van die ICC wat ek gisteraand op Google gaan soek het, is jammerlik ver van die werklikheid af. Die wentel voordeur van die ICC is stukkend en ons klim trappe en glip by 'n sydeur in. Die groot glasvensters is vuil en lyk gehawend. Die pragtige strandgebied is rommelbestrooid en die gras staan heuphoogte op al die middelmannetjies regdeur die stad. As ek nou die Munisipale Bestuurder hier was en al my ewe kniee van regoor die land kom vir my kuier, sal ek darem my tuin en voorstoep skrop en buitekrane blink vryf vir die okasie! Blykbaar nie hier nie!

Oos-Londen se Xhosa naam is eMonti en dit was altyd Port Rex genoem toe dit in 1836 gestig is. Dit is die tuiste van Buffalo City Metro Municipality en gelee tussen die Buffels Rivier en Nahoon Rivier. Interessant genoeg is Oos-Londen ook ons land se enigste rivierhawe (River Port). Oos-Londen het 'n bevolking van net 267 000 (klein huislike stad) en die motor industrie is groot hier. Veral Daimler wat Mercedes Benze maak vir die plaaslike mark en uitvoere na die VSA en Brazil. Wat vir my veral interessant is, is dat die Oos-Londen se IDZ (Industrial Development Zone) reeds in 2004 gestig is en hoe dit gegroei het. In my werk is ons daagliks besig om te beplan rondom die IDZ in Saldanha en hierdie IDZ sal 'n goeie aanduiding wees oor waar ons oor tien jaar kan wees in die Weskus. Ek sal vanmiddag tyd maak en bietjie daar gaan rondry. 'n IDZ word deur die kabinet afgekondig en gee dan "duty free development zones" in areas waar die Regering industriee wil vestig om werksgeleenthede te skep. Saldanha is die nuutste IDZ en laat verlede jaar geopen.

Oos-Londen was ook die naweek die gasheer-stad vir die Afrika Gholf Toernooi wat deur die SAner Darren Fichardt gewen is. Die lughawe hier is klein en was baie vol. Ek was ook baie bly dat ons 'n motor bespreek het, want al die Verhuur-huise was uit voertuie uit. Dit lyk vir my Oos-Londen doen nogal heel goed op Toerisme, ten spyte daarvan dat die plek nie mooi skoon is nie.

Die Nasionale Minister van COGTA gaan nou eers praat en ek moet luister. Ja, dit is 'n les wat ek graag vir myself elke dag leer: Be fully present! So nou moet ek dit toepas.

Groete. Lekker dag vir almal. Geniet julle skoon stede en as dit nie skoon is nie, bel jou Munisipaliteit. Ons kan veel beter doen!

H

No comments:

Post a Comment